• No results found

Oorsig oor die sosio-ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika gister en vandag

2.7 Kritiese evaluering

Die GEAR-strategie het ‟n neoliberale benadering aangeneem wat beteken dat die staat se rol afgeneem het met die veronderstelling dat die privaatsektor die leiding moes neem. “The role of the state is relegated to that of creating an enabling environment for the business community to play its leading role” (Lesufi 2005:23). Die privaatsektor word gedryf deur winsmotiewe wat beteken dat winsgewendheid die bepalende faktor van heropbou en ontwikkeling is. Met ander woorde, GEAR is ‟n winsgedrewe strategie vir ekonomiese groei en volg ‟n “trickle-down” benadering ten opsigte van inkomste en die herverdeling van rykdom (Lesufi 2005:23). Lesufi (2005:25) stel dit soos volg:

As a neoliberal program, the GEAR strategy represents a social, economic, and political program aimed at resolving the capitalist crisis in association with international capital. The primary aim is to restructure the role of the state so as to ease the amount of pressure on profits and open new avenues for profitable investment for capital. An examination of the specific policy measures adopted by the strategy will reveal the orientation and the interests it promotes.

In kontras met die voorspelling van die GEAR-strategie van 400 000 werkgeleenthede teen die jaar 2000 het ‟n groot getal arbeidsplekke – na aan ‟n halfmiljoen – in der waarheid sedert 1996 verlore gegaan. Indiensneming het met 0,7% afgeneem in 1997, 3,7% in 1998, 2,0% in 1999 en 2,9% in 2000. ‟n Voortdurende toename in die werkloosheidsyfer het voortgeduur sedert die aanvaarding van GEAR. In die openbare sektor alleen het om en by 170 000 werkgeleenthede tussen 1995 en 2000 verlore gegaan terwyl die amptelike werkloosheidsyfer in 2001 op 39,5% gestaan het (Lesufi 2005:28).

Die bedoeling van GEAR was om die herverdeling van inkomste en die vloei van rykdom te fasiliteer vanuit die resultate van ekonomiese groei. Die afname in arbeidsplekke en

53 werkgeleenthede het egter wat die herverdeling van inkomste vir die meeste mense betref, mislukking geïmpliseer (Lesufi 2005:28).

Lesufi (2005:30) meen dat die vyf jaar wat GEAR in werking was dit niks anders as rampspoedig genoem kan word nie. Die GEAR-strategie het misluk in sy pogings om sy doelwitte te bereik. Nie net is die gewenste vlak van ekonomiese groei en werkskepping nie bereik nie, maar meer belangrik, dié strategie het skromelik gefaal om rykdom te herverdeel. Die groeiende inkomste-ongelykheid en toenemende armoede maak dit duidelik wat die ware betekenis van herverdeling is wat op neoliberale beginsels gebaseer is. Dié situasie dwing tot die kritiese gevolgtrekking dat die strategie nie net gefaal het om armoede uit te wis of te verlig nie, maar in der waarheid armoede geskep het. Dit het dus eerder ‟n “herverdeling” van rykdom van die armes na die rykes bewerkstellig (Lesufi 2005:31)!

Nogtans bied dit ‟n eensydige prentjie om die GEAR-strategie nét as ‟n totale mislukking te bestempel. Lesufi (2005:32) reken dat die volle waarheid van die neoliberale pad in Suid-Afrika is dat dit in sommige doelwitte gefaal het, maar ander doelwitte wel bereik het. Die belangrike is egter om in te sien dat die doelwitte met belang in die kapitaal bereik is en die doelwitte gemik op die belang van die armes, glad nie bereik is nie.

Daarom stel Swart (2008:259-260) dit in sy eie beoordeling soos volg:

As a whole … post-apartheid South African society has not achieved the outcomes of new-found opportunity, inclusiveness and people-centred commitment once envisioned by the Reconstruction and Development Programme (RDP), the document that constituted the core of the Election Manifesto of the African National Congress (ANC) in the first democratic elections in 1994.

Die ander kant van die prentjie word deur Terreblanche (2002:27-28) gestel. Hy argumenteer dat die Suid-Afrikaanse regering sedert 1994 tog veel bereik het om die sosio-ekonomiese toestande in die land te verbeter. Die regering se uitgawes aan welsyn, gesondheid, opvoeding en behuising het van 50,8% in 1990/1 tot gemiddeld 60% in die periode 1995/6-2002/3 gestyg. Verder, sedert 1994 het ‟n bykomende 9 miljoen mense toegang tot skoon drinkwater gekry en 1,5 miljoen meer huishoudings toegang tot elektrisiteit. Ook is meer as 1,8 miljoen mense van telefoonverbindings voorsien en meer as

54 1 miljoen huise gebou vir mense wat voorheen geen formele huisvesting gehad het nie. Voorts is gratis mediese dienste vir swanger vroue en kinders onder 7 jaar ingestel en voedingsprogramme het nagenoeg 5 miljoen kinders bereik (Terreblanche 2002:27-28).

2.8 Slotopmerkings

Dit is inderdaad die post-apartheid Suid-Afrikaanse regering en mede-besluitnemers wat ‟n neoliberale makro-ekonomiese beleid vir die land aanvaar het wat die land se integrasie met die globale markekonomie gerig het. Dit word vandag deur baie kritiese kommentators gesien as die hart van die land se maatskaplike probleme. Volgens Swart is dit juis, en het dit ook sigself as ‟n fundamentele anti-armes beleid, bewys (Swart 2008:112-113).

Hierdie situasie van groeiende armoede en werkloosheidsyfers in Suid-Afrika bring dieper etiese en teologiese vrae na vore. Nie slegs oor die huidige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing nie, maar ook oor die gepaste response van alle rolspelers op die sosio-ekonomiese uitdagings in die land. Swart argumenteer dat hierdie tweeledige etiese en praktiese uitdagings rolspelers roep om hulle fokus te heroriënteer met ‟n gerigtheid op die ryk en bevooregte mense in ons samelewing, op hulle lewenstyl en rykdom en nie die minste nie, op hulle kerke (Swart 2008:117).

Menslike lyding het ‟n belangrike punt van besorgdheid in Praktiese Teologie geword. Swart (2008:104) redeneer dat ‟n teologiese werk oor die praktiese bediening van die kerk rakende armoede ontbreek.

Sedert 1990, toe die land verander het van ‟n apartheid- na ‟n ontwikkelingstaat, het ontwikkeling ‟n dominante metafoor in die Suid-Afrikaanse konteks geword. Hierdie verandering is amptelik geïllustreer in die vroeë geskiedenis van die land se oorgang, naamlik die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP). Soos die HOP-dokument dit duidelik artikuleer, het die gedagte van “ontwikkeling” en “heropbou/rekonstruksie” in die nuwe demokratiese Suid-Afrika die “struggle” metafoor van die apartheidsera vervang. In hierdie sin was ontwikkeling en heropbou vir miljoene arm Suid-Afrikaners ‟n belofteryke aanwysing van ‟n beter lewe vir almal in ‟n nuwe demokratiese Suid-Afrika. Verder het hierdie twee begrippe ook aanleiding gegee tot ‟n spesifieke en omvattende program van aksie om behoeftes van Suid-Afrikaners ter hand te neem, asook om die menslike hulpbronne van die land te ontwikkel en die ekonomie uit te bou (Swart 2008:108).

55 Die regering het al verskeie pogings aangewend om armoede in Suid-Afrika hok te slaan. Tog blyk dit dat armoede, ondanks verskeie programme en strategieë, steeds toeneem en steeds ‟n wesenlike knelpunt in Suid-Afrika bly. Alhoewel daar sedert 1994 ingrypende verandering op politieke gebied plaasgevind het, is daar van verandering in die grootskaalse armoede en ongeregtigheid nie veel sprake nie.

Daarom is die navorser diep daarvan oortuig dat in die huidige Suid-Afrikaanse konteks die kerk ‟n belangrike rol te speel het. Hoewel dit nie suksesvol was nie, was die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) baie meer as ‟n dokument oor ekonomiese ontwikkeling. Dit het die visie van ‟n totale transformasie vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap uitgespel waarin die kerk potensieel ‟n belangrike rol het om te speel deur as morele gewete van die HOP op te tree, bestaande magsverhoudinge uit te daag en die waardes van vrywillige dienslewering, versoening en sosiale geregtigheid te bevorder. Wat ekonomiese beleid betref, het dit die kerk opgeroep om ‟n suiwer ekonomiese groeiparadigma van ontwikkeling te weerstaan en eerder ekonomiese ontwikkelingstrategieë te ondersteun wat tot sosiale ontwikkeling en eweredige verspreiding van voordele en bronne sal lei (Swart 2006:5). Die HOP-visie van ‟n totale transformasie vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap behoort ook die visie van die kerk te wees.

56

Hoofstuk 3