• No results found

Die Belydenis van Belhar as ’n kerklik-teologiese respons

4.5 Betekenis van Artikel 4 van die Belydenis van Belhar

4.5.3 Die diskoers oor regstellende geregtigheid, armoede en bevrydingsteologie

Artikel 4 verwys onder andere daarna dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ‟n wêreld vol onreg en vyandskap op ‟n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg. In die diskoers oor die Belydenis van

129 Belhar word konsepte soos regstellende geregtigheid, armoede en bevrydingsteologie sterk beklemtoon. Smit (2011) lewer ‟n toespraak by die opening van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Vrystaat met die titel, “Ontfermende geregtigheid” en noem dat Karl Barth self by geleentheid hom verwonder het oor die wyse waarop die Westerse kerklike en teologiese tradisie ook dikwels die fundamentele Bybelse oortuiging misgekyk het. “„Hoe is dit moontlik,‟ vra hy, „dat die Reformasie en feitlik die hele vroeë en onlangse Protestantisme, hierdie dimensie van die evangelie kon miskyk wat tog so duidelik in die Nuwe Testament betuig word‟” (Smit 2011:10)? Hiermee bedoel hy die insig dat die evangelie óók ‟n boodskap is van genadige en barmhartige bevryding uit die bande van dood en kwaad en uit die mag van boosheid.

Daarom meen Smit (2011:10) dat dit juis om dié rede vir baie gelowiges in hierdie tradisies ook dalk aanvanklik vreemd was, toe die NGSK bely het dat die Bybelse God op ‟n besondere wyse die Hulp van die hulpeloses is. Die Vader van die wees en die Eggenoot van die weduwee is in die woorde van Guido de Brés, die ontfermende God van noodlydendes, armes en verontregtes (2011:10). Smit (2011:9) aanvaar dat God se geregtigheid in die Bybel ‟n reddende geregtigheid en ‟n ontfermende geregtigheid is, wat bevry uit nood en reg laat geskied aan die wat verontreg word. Dit is die Bybelse God se trou aan sy eie verbond, aan sy beloftes en aan sy ewige liefde (Smit 2011:9). Volgens die Bybelse tradisies hoor God die gebede van hulle in nood, sien God die lot van hulle wat verslaaf is deur sonde en swaarkry, en gee God om, gryp in, regverdig en heilig, vergewe en aanvaar, help en troos, uit ontfermende geregtigheid, aldus Smit (2011:9). Vir Smit (2011:9) onderskei dit die Bybelse siening van geregtigheid van dié van filosofiese teorieë oor geregtigheid.

In die hantering van armoede kom geregtigheid en versoening waarna Belhar verwys baie sterk na vore en is dan juis om hierdie rede waarom armoede nie alleen deur armes aangespreek kan word nie. Armoede moet deur die breë samelewing, deur gelowiges gesamentlik, aangespreek word. Die motivering daaragter is ‟n teologiese verstaan van die kerk wat “vir mekaar” sorg dra en gevolglik spreek Belhar die sisteme wat armoede in stand hou, aan. Smit (2011) is oortuig dat God aan die kant van die arme is in soverre die arme ‟n stryd voer teen ongeregtigheid.

Volgens Botha en Naudé (2010:192) word die volgende vraag gereeld gevra (cf. De Beer 2008:129), naamlik: Is dit so dat Belhar eintlik bedekte bevrydingsteologie is wat verkondig dat God spesiaal aan die kant van die armes staan? De Beer en Van Niekerk (2009:52) gaan

130 van die verondersteling uit dat die belydenis bevrydingsteologie is en noem dit die produk van die “struggle”-politiek. Die bevrydingsteologie het as konsep sedert die 1950s-1960s groot aandag begin geniet met armoedeverligting wat binne die Latyns-Amerikaanse konteks sterk op die voorgrond gekom het (Jansen 2007:16). Armoede in die Latyns-Amerikaanse konteks is volgens Brown (1990:50) hoofsaaklik verstaan as ‟n gevolg van politieke onderdrukking en daarom is bevryding vanuit sodanige onderdrukking bepleit. Volgens Brown (1990:50) het die bevrydingsteologie vanuit ‟n Latyns Amerikaanse perspektief veral sy ontstaan te danke aan ‟n posisiekeuse vir en toewyding aan die armes. Die bevrydingsteologie reageer teen strukture en praktyke wat die menswaardigheid van die mens en persoon aantas (cf. Spoelstra 1988:32) en het hoofsaaklik ontstaan as ‟n morele reaksie op armoede wat veroorsaak is deur sosiale onreg in die Latyns-Amerikaanse streek. Die term en gedagte is in lesings van Gustavo Gutiérrez, ‟n Peruaanse priester, in Montreal (1967) en Chimbote (1968) stadig maar seker ontwikkel (Murray 2003:118). Murray (2003:118) vertel:

Na die konferensie in Chimbote het die belangrike konferensie van Medéllin (24 Augustus tot 6 September 1968) plaasgevind. Die konsep van Bevrydingsteologie het in Medéllin klerikale status verkry. Die raamwerk vir ‟n gesistematiseerde bevrydingsteologie is daarna deur Gutiérrez op ‟n kongres in Cartigny (Switzerland 1969) in ‟n lesing getiteld: “Towards a Theology of Liberation” aangebied. Hierdie raamwerk is verder deur Gutiérrez uitgewerk en verdiep tot die eerste sistematiese uiteensetting van Bevrydingsteologie in sy boek “A Theology of Liberation”.

Gutierrez is ook bekend vir die frase “voorkeur opsie vir die armes”, wat ‟n slagspreuk van bevrydingsteologie geword het (cf. Murray 2003, 2005; Jansen 2007; Gutierrez 1988). Gutierrez beweer ook dat God 'n voorkeur het vir die mense wat "onbeduidend," "gemarginaliseer," "onbelangrik" "behoeftige," "verag" en "weerloos" is (cf. Murray 2003, 2005; Jansen 2007; Gutierrez 1988). Die term “voorkeur opsie” impliseer die universaliteit van God se liefde, wat niemand uitsluit nie (cf. Murray 2003, 2005; Jansen 2007; Gutierrez 1988). Dit is slegs binne die raamwerk van die universaliteit wat ons die voorkeur kan verstaan. Bevrydingsteologie stel voor om armoede te beveg deur die aanspreek van sy oorspronkilike bron sonde (Jansen 2007:82). Aangesien die fokus op die sonde is wat in strukture gevind word, word die mens se persoonlike sonde nagelaat (Jansen 2007:82).

131 Botha en Naudé (2010:192) antwoord ontkennend op die vraag of die Belhar-Belydenis bevrydingsteologie is. Hulle noem dat die Belhar-Belydenis in die Artikel oor geregtigheid duidelik bely dat God, in ‟n situasie van onreg in die wêreld, op ‟n besondere manier staan by die wat hierdie onreg ly, soos Hy in die Ou Testament op spesiale wetgewing aangedring het vir weduwees, wese en vreemdelinge (Botha & Naudé 2010:192). Hier is dus ooreenkomstig Botha en Naudé (2010:193) geen oorname van die klassestryd en God se voorkeursopsie vir die armes soos veral deur Latyns-Amerikaanse bevrydingsteoloë in die 1970‟s voorgestel is nie. Hulle (Botha en Naudé 2010:192) is verder van mening dat die Belhar-Belydenis ‟n ryk inhoud het en dat dit die geloof in die drie-enige God bely wat sy kerk saambring, beskerm en tot die einde sal bewaar. Daarna bely Belhar oor sigbare kerkeenheid, versoening in Christus, en geregtigheid in die wêreld en word dit afgesluit deur die gehoorsaamheid aan Christus voorop te stel (Botha & Naudé 2010:192). Tog erken hierdie twee bestudeerders van die Belhar belydenis dat daar wel – soos by alle teologieë van bevryding – ‟n duidelike meespreek met God is, wat nie onreg duld nie en as hulp van die hulpeloses intree. Laasgenoemde is egter ‟n diep Bybelse tema in die Ou Testament en word in Jesus se bediening keer op keer bewys (Botha & Naudé 2010:192). Dus betwis hierdie twee dit ten sterkste en stel hulle dit nadruklik dat,

Belhar as “bevrydingsteologie” afgemaak word, is om die minste te sê ‟n strooihalm van kritiek om die hele belydenis verdag te maak. Wie sê dat regstellende aksie en die afneem van grond deur die staat nie vir baie mense vorentoe na hierdie einste Artikel sal laat gryp nie? En selfs al sou hierdie Artikel anders geformuleer kon word, is die rigting daarvan gewoon eg Bybels (Botha & Naudé 2010:193).

Smit (2009) ondersteun ook Botha en Naudé se ontkennende antwoord op die bevrydingsteologie vraag en verduidelik dat die verwysing na God en in besonder die van die noodlydende, arme en verontregte, nie vanuit bevrydingsteologie verklaar moet word nie, maar vanuit die Skrif wat wel daarvan melding maak. Die boodskap van die Belhar-Belydenis is dat jy nie ‟n skeiding kan bring tussen uitreik en versorging nie (De Beer 2008:200). Mense moet die liefde van jou woorde kan sien. Smit (2012:194) verduidelik dat die Belhar-Belydenis bely dat hierdie God die kerk, die gelowiges, roep om ook hierin na te volg deur ‟n reeks Bybelse assosiasies wat herinner aan dié deurlopende Bybelse motief – deur die wet, die profete, die wysheid, die Evangelies, die Briewe. Geregtigheid,

132 barmhartigheid, aanbidding – dié drie hoort byeen, as samevatting van die wet (Matt 23:23). Daarom glo Smit (2012:194; cf. Boesak 2008) dat die kerk wat aan hierdie God behoort geroep is om te staan waar hierdie God staan. Dit hou in dat die kerk sal getuig teen onreg en teen alle magtiges wat uit selfsug slegs hulle eie belange sou soek al word ander daardeur benadeel. Dit beteken dat die kerk sal leer onderskei wanneer en hoe dit nodig is om teen onreg te getuig en vir geregtigheid te stry (Smit 2012:194).

Tog meen Naudé (2010:16) dat kritici van die Belhar-Belydenis steeds hierdie deel van die belydenis aan “bevrydingsteologie” koppel om daarmee die belydenis teen te staan en af te wys (2010:16). Hy voer aan dat dit om minstens twee redes bevraagteken kan word en meen dat so ‟n afwysing eerstens nie genoeg rekening hou met die Skrif se deurlopende getuienis oor God se instaan vir reg en regloses nie. Dit blyk duidelik uit die aangehaalde teksgedeeltes. Daarom kan tereg bely word dat God Homself so openbaar. Kritiek teen hierdie bewoording neem tweedens nie kennis dat die belydenis self hier oor God se “besonderheid” getuig in die konteks van ‟n wêreld vol onreg en vyandskap nie (Naudé 2010:16-17). God staan nie by armes oor hulle armoede of omdat Hy in klassestryd op ‟n besonderse manier die God van die proletariaat is nie, aldus Naudé (2010:16-17): “Omdat daar in God geen onreg is nie, staan hy in ‟n situasie van onreg by mense wat ly weens hierdie onreg. Met respek gesê, God kan nie anders nie, dit is hoe God is” (cf. Naudé 2010:16-17; Botha & Naudé 2010:184-185).

Ondanks verskeie kritici (cf. De Beer & Van Niekerk 2009; Cooper 2011; Strauss 2004; Eloff 1998; Conradie 2005) wat van mening is dat die Belhar-Belydenis as Bevrydingsteologie afgemaak moet word, kan die navorser nie saam met hierdie stroom kritici stem nie. Soos Smit (2004 en 2011) en Botha en Naudé (2010), argumenteer die navorser ook dat die frase “op ‟n besonderse wyse” juis die deurslaggewende faktor binne hierdie debat is. Dit is soos ‟n ouer met twee kinders waarvan een van die twee gebore is met een of ander gebrek en spesiale behoefte. Uit die aard van die saak is die ouer op ‟n besonderse wyse betrokke in omgee en liefde vir hierdie kind vanwëe die kind se spesiale behoefte. Daarmee word nie bedoel dat die ouer die ander kind minder lief het of minder vir hom omgee nie. Dit kan dus nie afgemaak word dat die ouer slegs aan die kant van die een kind is of doelbewus kant kies nie. Dieselfde geld met die Belydenis van Belhar en juis daarom is dit eerder ‟n Bybelse getuie van die ware karakter van God. Verder is dit ook onregverdig om die hele belydenis af te maak as Bevrydingsteologie as gevolg van hierdie gedeelte van Artikel 4: “… dat Hy in ‟n

133 wêreld vol onreg en vyandskap op ‟n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg …”

Hierdie frase verwys na die Bybelse karakter van God, eerder as na Bevrydingsteologie.