• No results found

Oorsig oor die sosio-ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika gister en vandag

2.5 Voorspellers/aanwysers van armoede

2.5.2 Demografie en geografie

Armoede in die nege provinsies van Suid-Afrika is oneweredig versprei. Provinsiale armoedesyfers is die hoogste in die Oos-Kaap (71%), gevolg deur die Vrystaat (63%), Noordwes (62%), Noordelike Provinsie (59%) en Mpumalanga (57%) en die laagste in Gauteng (17%) en die Wes-Kaap (28%) (Sacha 2007). Die ergste armoede kom dus voor in die Oos-Kaap, Vrystaat en Noordelike Provinsie wat saam 36% van die land se bevolking uitmaak (Sacha 2007:np).

Armoede is grootliks ‟n plattelandse probleem. Vroeër reeds is in ‟n verslag van 1990 beraam dat driekwart van die armes in die plattelandse gebiede woon, terwyl die meerderheid van hierdie armes swart is (Burger et al. 2010:64). Geleenthede om goeie kwalifikasies en uiteindelik goeie werkgeleenthede in hierdie gebiede te kry is geweldig skaars. Die werkloosheidsyfer in plattelandse gebiede was in 2004 om en by 53% wat dramaties hoër is as die vergelykende syfer in stedelike gebiede, naamlik 36% (Burger et al. 2010:64).

Burger et al. (2010:64) wys daarop dat armoede- en werkloosheidsyfers nie alleen swakker daaraan toe is in plattelandse gebiede nie, maar dat ook die toegang tot en verkryging van basiese dienste swak is. Ter stawing hiervan word onderstaande statistieke insake basiese dienste verskaf.

36

Tabel 2.2 – Toegang tot basiese dienste in 2004

Basiese dienste Plattelandse

gebiede %

Stedelike gebiede %

Lopende water op perseel 29,31 91,19

Binnenshuise spoeltoilette 5,79 56,89

Elektrisiteit in huis 64,59 91,45

Telefoon (landlyn of sellulêr) 45,65 95,07

(Burger et al. 2010:65). 2.5.3 Geslag

Huishoudings waarvan vroue aan die hoof is, het ‟n laer inkomste as dié waarvan mans aan die hoof is. Studies gebaseer op die 1995-sensusopname toon dat die gemiddelde inkomste (per kapita) van huishoudings 27% laer is waar ‟n vrou die hoof van die huis is terwyl dit 17% laer is waar die vrou weg van die huis af werk (Le Bruyns & Pauw 2004:205; Leibbrandt & Woolard 2001:142). Anders gestel, beteken dit dat in die geval van ‟n armoedelyn van R3 000 per kapita inkomste 40% van huishoudings met mans aan die hoof en 60% van huishoudings met vroue aan die hoof onder die armoedelyn val (Le Bruyns & Pauw 2004:205; Van der Berg 2003:12).

Burger et al. (2010:64) is verder van mening dat geslag ‟n groot rol in die armoedegesprek speel en dat vroue histories grootliks benadeel is.

While South African women and men obtain roughly similar education levels within race groups, there are important differences in the types of work they do. In 2001, 21% of black female workers were self-employed in the informal sector, with a further 25% employed as domestic workers. The participation of black men in similar employment was much lower, with negligible employment in domestic work and 14% being self-employed in the informal sector. In fact, gender discrimination in the labour market appears to be a generalised problem: within each race group, women earn significantly lower returns to education than do men for every level of formal education, employment and occupation.

37 2.5.4 Opvoeding / Onderrig

Soos reeds onder 2.5.1 bespreek, huldig Burger et al. (2010:62) die mening dat die ongelykheid van opvoeding ‟n groot invloed op die armoedesituasie in Suid-Afrika het. Hierdie ongelykheid duur eenvoudig voort, aangesien wittes wat die arbeidsmark betree steeds ‟n voordeel het vanweë die ongelyke skolestelsel van die apartheidsera. Daar is steeds ‟n groot getal individue in Suid-Afrika wat nie geskikte onderrig ontvang nie (Burger et al. 2010:62). Sonder die geskikte onderrig of opleiding is werkgeleenthede baie beperk. Soos die land ontwikkel, verwag werkgewers van hulle werknemers hoër vlakke van onderrig en opleiding terwyl persone sonder geskikte onderrig en opleiding net verder agtergelaat word (Le Bruyns & Pauw 2004:206).

2.5.5 Ouderdom

Volgens Burger et al. (2010:64) het die Wêreldbank reeds in 1995 kinders as een van die mees benadeelde groepe in die land geïdentifiseer. Daar is beraam dat 60% van kinders onder die ouderdom van 16 in arm huishoudings leef (Burger et al. 2010:64). Behalwe dat hierdie groep kinders arm is, is hulle terselfdertyd ook weerloos. Met die toename in sterfgevalle onder volwassenes (tussen die ouderdom van 22 en 44)12 as gevolg van MIV en VIGS13 is al hoe meer kinders wees gelaat en in die sorg van families agtergelaat. Waar die veiligheidsnet van uitgebreide families nie bestaan nie as gevolg van mishandeling of verwaarlosing van weeskinders, word hierdie kinders gewoonlik aan hulle eie sorg oorgelaat. Op die ouderdom van 15 en jonger kan hulle nie deel uitmaak van die arbeidsmark of vir kindertoelae kwalifiseer nie, met die gevolg dat hulle skool verlaat en by misdaad en ander onwettige bedrywighede betrokke raak om vir hulleself te probeer sorg (Burger et al. 2010:64).

Die werkloosheidsyfer tussen die ouderdom van 15 en 24 is steeds baie hoog. Burger et al. wys ook daarop dat meer as 50% van die 3,7 miljoen Suid-Afrikaners wat in Maart 2006 as “ontmoedigde werksoekers” geklassifiseer is, onder die ouderdom van 30 jaar was (Burger et al. 2010:64).

12 Die sterfgevalle onder persone tussen die ouderdom van 25 en 44 het tussen 1997 en 2002 meer as verdubbel (Burger et al. 2010:64).

38 Op sy beurt vestig Van der Berg (2003:10) die aandag op statistieke wat die inkomste van mense in verskillende ouderdomsgroepe aandui. Dit toon dat ‟n veel kleiner persentasie pensioenariss

e as kinders onder die armoedelyn val. Met ander woorde, die aantal armes onder bejaardes is veel minder as dié onder die res van die bevolking.

2.5.6 Werkloosheidsyfer

Du Toit (2004:990) noem dat armoede in Suid-Afrika veral in twee groepe gekonsentreerd is, naamlik die marginale werkersklas en ‟n “ander” klas wat bestaan uit die ontneemde werkloses wat nie aan die formele ekonomie kan deelneem nie.

Indiensnemingstatus word onder die volgende groepe gekategoriseer: die werkers, “broadly unemployed”, “narrowly unemployed” en die ontmoedigde werksoekers. In die algemeen verwys werkloosheid na sodanige persone wat bereid en geskik is om te werk, maar nie werk het nie. Dit sluit kinders onder 15 uit sowel as bejaardes en fisiek en psigies gestremde persone (Le Bruyns & Pauw 2004:206).

Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie se definisie vir werkloosheid val ontmoedigde werksoekers (diegene wat geskik is vir ‟n werk maar nie meer aktief na werk soek nie) buite die arbeidsmag en word hulle nie as werkloos geklassifiseer nie (Le Bruyns & Pauw 2004:206). Dit is die eng (in Engels “narrow”) definisie van werkloosheid. In ‟n ontwikkelende land soos Suid-Afrika is dit nie noodwendig ‟n geskikte definisie vir werkloosheid nie, aangesien die koste betrokke in die soeke na werk baie keer so hoog is dat die rasionele keuse uiteindelik is om op te hou werk soek. Dit kom veral in plattelandse gebiede voor waar werkgeleenthede uiters beperk is. Dit is dus meer geskik om ontmoedigde werksoekers by die werkloosheidsyfers in te sluit. Van den Berg (in Le Bruyns & Pauw 2004:206) noem dit die breë definisie van werkloosheid.

Verdere inligting van sensusopnames toon dat ontmoedigde werksoekers die mees kwesbare groep is. Volgens die 1995-sensusopname, waarin ‟n armoedelyn van R3 000 inkomste per kapita gebruik is, het die helfte van die “narrowly unemployed” onder die armoedelyn geval terwyl twee derdes van die ontmoedigde werksoekers onder die armoedelyn geval het (Le Bruyns & Pauw 2004:206).

39 In 2002 is die werkloosheidsyfer volgens die breë definisie (wat diegene wat nie werk soek nie insluit) gemeet as 41%, en volgens die meer verfynde definisie as 30% (Knight & Kingdon 2004:391). In die South Africa Human Development Report 2003 (UNDP 2003) identifiseer die UNDP werkloosheid as die grootste uitdaging vir Suid-Afrika. Erasmus (2010:378) is dit daarmee eens dat werkloosheid een van die grootste, indien nie die heel grootste nie, sosio-ekonomiese uitdagings is wat Suid-Afrika in die gesig staar. “This crisis is aided by the proliferation of insecure work, and starvation wages. Early in 2004, 4,6 million people had no jobs in South Africa. This translates into an unemployment rate of 27,8%, according to the results of the Labour Force Survey” (Erasmus 2010:378). Hierdie stand van sake word bevestig deur die statistieke dat 48,5% van die land se bevolking van 44 miljoen mense in volslae armoede leef, hoofsaaklik as gevolg van die hoë werkloosheidsyfer (Cloete 2007:33).

Daar bestaan redelike konsensus oor die verband tussen werkloosheid en armoede. Armoede het vele gesigte en kan verbind word met hongersnood, werkloosheid, uitbuiting en gebrek aan toegang tot skoon water, sanitasie, gesondheidsorg en skoolopvoeding. Tussen hierdie medewerkende faktore staan werkloosheid nogtans uit. Die gebrek aan of lae vlak van inkomste is meestal te wyte aan werkloosheid of ‟n laag besoldigde werk (Woolard 2002:2-5). Behalwe armoede word ook ongelykheid met werkloosheid verbind. Laasgenoemde bly dus ‟n kern uitdaging vir die regering (Cloete 2007:34; Triegaardt 2006:4).

Die volgende tabel bied ‟n samevatting van die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika in die periode 1994 tot 2005 volgens die streng definisie14 van werkloosheid (Barker 2007:179).

14 Volgens die streng definisie (the strict definition) van werkloosheid is iemand werkloos wat 15 jaar en ouer is; wat nie betaalde werk het nie; wat beskikbaar is vir betaalde werk of selfwerkskepping; wat werk soek; en wat ‟n begeerte het om te werk (Moller 1993:15).

40

Tabel 2.3 – Werkloosheid in Suid-Afrika: 1994-2005

Jaar % Werkloosheid 1994 20% 1995 16,9% 1996 21% 1997 22,9% 1998 25,2% 1999 23,3% 2000 25,8% 2001 29,4% 2002 30,4% 2003 28% 2004 26,2% 2005 26,7%

Uit bostaande tabel blyk dit dat die werkloosheidsyfer die afgelope tien jaar met byna 10% toegeneem het. Volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid was die werkloosheidsyfer vir 2005 in Suid-Afrika 38,8% teenoor die 26,7% van die streng definisie. Ongeveer 65% van die werkloses in Suid-Afrika het nog nooit voorheen gewerk nie. Dit is dus sonder meer duidelik dat die werkloosheidsprobleem steeds een van die grootste uitdagings in die land is, selfs na die demokratiese oorgang in 1994 (Cloete 2007:34).