• No results found

Armoede: Bybelse fundering en sosiaal-teologiese verrekening

3.8 Kerk of geloofsgebaseerde organisasies?

3.8.1 Geloofsgebaseerde organisasies

Die konsep “geloofsgebaseerde organisasies” word deesdae algemeen gebruik sonder genoegsame verduideliking wat presies daarmee bedoel word. Daar is nie ‟n eenvormige

87 definisie van die term nie. Juis omdat die begrip tans so gewild is en algemeen gebruik word, kan die generiese wyse waarop dit gebruik word tot verwarring lei. In ‟n ongepubliseerde artikel, “Kerkgebaseerde organisasies: kompetisie, opposisie of vennote? Die rol en funksie van kerkgebaseerde organisasies in Suid-Afrika”, skryf Van der Merwe (2005; vgl. ook Van der Merwe & Swart 2010:75) oor die vrae wat in die maatskaplike sektor ontstaan insake die term “geloofsgebaseerde organisasies”.

Van die vrae is onder andere: Is dit kerke, is dit informele organisasies, of is dit geregistreerde organisasies? Is geloofsgebaseerde organisasies nie in elk geval deel van die burgerlike samelewing en nie-regeringsorganisasies of gemeenskapsorganisasies nie? Hy voer aan dat die rede vir die ontstaan van die vrae toegeskryf kan word aan die feit dat die term “geloofsgebaseerde organisasies” nog nie duidelik omskryf is nie. In die lig hiervan gee die navorser die volgende omskrywing: Die term geloofsgebaseerde organisasies verwys na geloofsgroepe of kerke wat deur geloofsoortuigings gedryf word en op ‟n informele wyse betrokke raak by die nood van mense en gemeenskappe. Dit is moontlik dat die kerk in haar verskillende gestaltes van gemeentes, denominasies of ekumeniese liggame spesifieke organisasies stig as ‟n voertuig waardeur ‟n bepaalde geloofsgroep vanuit hulle roeping die maatskaplike nood van individue en gemeenskappe op ‟n georganiseerde wyse wil aanpak. Sulke organisasies kan dan as geloofsgebaseerde organisasies geklassifiseer word. Dit wil sê, organisasies met ‟n geloofsbasis en met hulle geloofswaardes op ‟n bepaalde godsdiens gebaseer (Van der Merwe 2005; vgl. ook Van der Merwe & Swart 2010:75-89).

Van der Merwe en Swart (2010:78-79) is eweneens van mening dat daar met meer akkuraatheid van geloofsgebaseerde organisasies gepraat moet word. Hulle verwys ook na die verwarring wat daar bestaan oor wat presies met die term bedoel word. Volgens sommige se interpretasie van die term is dit ‟n breë (oorkoepelende) term wat alle organisasies insluit wat een of ander religieuse basis het. Die behoefte aan ‟n meer gedifferensieerde taalgebruik rakende die term word ook deur hierdie skrywers beklemtoon. Van der Merwe en Swart (2010:78-79) gebruik ‟n tipologie opgestel deur Sider en Unruh (vgl. Sider & Unruh 2004:116) van religieuse kenmerke en praktyke wat deur welsynsorganisasies geïnkorporeer behoort te word en waarin geloofsgebaseerde organisasies as hoog, medium of laag op ‟n religieuse praktykskaal geklassifiseer word.

Later het Sider en Unruh (in Van der Merwe & Swart 2010:75-89) hierdie skaal gebruik om te onderskei tussen geloofsgebaseerde geïntegreerde (faith-based/integrated) en

88 geloofsgebaseerde gesegmenteerde (faith-based/segmented) welsynsprogramme. Geloofsgebaseerde geïntegreerde programme inkorporeer religieuse elemente in hulle dienslewering, terwyl geloofsgebaseerde gesegmenteerde organisasies die religieuse aktiwiteite apart hou van hulle dienslewering (Sider & Unruh 2004:117). Hierdie elemente het ten doel om ‟n religieuse omgewing te skep, religieuse waardes bekend te stel, ‟n religieuse boodskap aan kliënte te kommunikeer, asook om kliënte by religieuse aktiwiteite te betrek (Van der Merwe & Swart 2010:75-89; vgl. ook Cloete 2007:56).

3.8.2 Kerk

Koegelenberg (2000:98) sê tereg: “Although there are many similarities on programme level between community-based NGO‟s and religious programmes  religious communities have a different self-understanding and want to be recognized as religious communities”. In aansluiting hierby skryf Van Gelder (2007:70-71) dat die kerk sewe verskillende betekenisse kan hê. Dit kan verwys na ‟n gebou, of ‟n gebeurtenis, ‟n beleidmakende liggaam, ‟n groep wat in ‟n bepaalde verhouding met mekaar staan, ‟n geïnstitusionaliseerde denominasie, ‟n organisatoriese styl, of die praktyk om ‟n sekere belydenis te bevestig.

Op sy beurt identifiseer Smit (2002:246) ses gestaltes van kerkwees. Dit kan verwys na ‟n gemeente of na die aanbidding of saamkom met ander gelowiges, die denominasie self, die ekumeniese kerk, individuele gelowiges, of vrywillige aksiegroepe, verenigings of inisatiewe waarin gelowiges hulleself organiseer vir spesifieke projekte. Cloete (2007:58-59) verwys na die klasieke werk van Dulles (1976) oor die gestaltes van die kerk om juis die onderskeie gestaltes van die kerk te probeer omskryf. Die term kerk kan dus as ‟n veelsinnige term gesien word omdat die kerk verskeie gesigte of gestaltes kan vertoon.

In ‟n artikel getitel, “Management of volunteers in faith-based organisations”, definieer Claassens en Lombard (2005:4) geloofsgebaseerde organisasies as ‟n godsdienstig gebaseerde struktuur wat as ‟n nie-winsgewende organisasie funksioneer en effektiewe sosiale en gemeenskapdienste lewer. Hierdie definisie stem in ‟n groot mate ooreen met die definisie van kerk wat in hierdie studie gebruik word. Kerke funksioneer vandag nie bloot as religieuse instellings nie, maar toenemend as nie-winsgewende organisasies wat die plaaslike gemeenskap dien en deur hierdie diens bydra tot die holistiese ontwikkeling van mense. Daar blyk ‟n merkwaardige skuif te wees vanaf die bestuur van ‟n kerk as sodanig na die organisering van die kerk as ‟n geloofsgebaseerde organisasie wat as ‟n vennoot funksioneer

89 in die stryd om armoede in Suid-Afrika te bekamp (Claassens & Lombard 2005:2-3). Hierdie skuif in die bestuur en werksaamhede van die kerk met betrekking tot gemeenskapsbetrokkenheid korreleer met die doel van die kerk hier op aarde. Die verlossing wat deur Jesus Christus bewerkstellig is, is so omvangryk dat dit op verskillende maniere deur die kerk verkondig en uitgeleef moet word.

Daar blyk ‟n verband te wees tussen wat onder die kerk verstaan word en die betrokkenheid of onbetrokkenhied van die kerk op ‟n holistiese manier by die burgerlike samelewing. Die wyse waarop die rol en roeping van die kerk begryp word stem dikwels ooreen met die vorm of gestalte van die kerk waaraan daar vanuit ‟n bepaalde perspektief voorrang verleen word (Smith 2004:350). Die gevolgtrekking sou gemaak kan word dat ‟n meer holistiese (omvattende) siening van die kerk as entiteit aanleiding kan gee tot ‟n beter verstaan van die kerk se rol ten opsigte van die nood van die wêreld. Die teendeel is egter ook waar, naamlik dat ‟n beperkte of verskraalde siening van die kerk as entiteit tot passiwiteit, gebrekkige uitreik en selfs tot apatie ten opsigte van die sosiale uitdagings van die dag kan lei.

Alhoewel die kerk ook ‟n sosiale instellling is, verskil dit in baie opsigte van ander sosiale instellings. Teologies gesproke is die kerk die teenoorgestelde van ander sosiale instellings. Dit is nie ‟n gewone gemeenskap van gelykgesindes nie, maar deur God gekonstitueer deur die werk van Jesus Christus en sy Gees. Vanuit ‟n teologiese perspektief is die kerk betrokke in ‟n stryd teen sonde en boosheid wat ingebed is in immoraliteit, armoede, ongeregtigheid, lyding en geweld, gemotiveer deur haar eskatologiese perspektief van die nuwe skepping. Daar is reeds verwys na die feit dat daar vele gesigte van kerkwees is, maar volgens Burger (1999:12) is die bestaan van die kerk in die vorm van plaaslike gemeentes een van die belangrikste gestaltes van die kerk. Die kerk in die vorm van die plaaslike gemeente vertoon volgens Burger (1999:9-12) die volgende kenmerke:

 Die kerk het sy bestaan in gemeentes.

 ‟n Mens kan nie oor die kerk dink los van die bediening en van die gemeentelike praktyke nie.

 Gemeentes (en dus, die kerk) is menslike instansies wat nie totaal verhewe is bo die sosiale omgewing waarbinne hulle bestaan nie.

 Gemeentes is egter terselfdertyd meer as menslike instansies – hulle is geestelike werklikhede.

90  Die kerk leef uit sy verhouding met God.

 Gemeentes se identiteit lê in hulle verhouding met God: Hulle behoort aan Hom.

Alhoewel geloofsgebaseerde organisasies ‟n groot rol te speel het in die verligting van armoede en ontwikkeling van gemeenskappe, is dit egter van kardinale belang dat gemeentes nie agter hierdie organisasies skuil wanneer daar gepraat word van kerklike betrokkenheid in die wêreld nie. Hierdie studie huldig die tese dat die kerk in die vorm van plaaslike gemeentes ‟n effektiewe bydrae kan maak tot sosiale ontwikkeling in Suid-Afrika. Daarom is die bemagtiging van die plaaslike gemeente as vennoot by sosiale ontwikkeling in gemeenskappe so noodsaaklik. Die betrokkenheid van plaaslike gemeentes sal die sosiale ontwikkeling in gemeenskappe veel meer bevorder as wanneer hierdie taak net aan ontwikkelingsorganisasies oorgelaat word (August & Bowers 2004:420; vgl. ook Cloete 2007:59-60). ‟n Sterker vennootskap en aktiewe betrokkenheid van beide partye is noodsaaklik vir daadwerklike pogings tot verandering, veral in Suid-Afrika.