• No results found

SELFREGULERING VANUIT ‘N KREATIWITEITSPERSPEKTIEF

3.4 SELFREGULERING AS ‘N KREATIEWE PROSES

3.4.2 Kreatiwiteit tydens doelwituitvoering

Die belangrikste fokus van selfregulering tydens doelwituitvoering is om, met behulp van die uitvoerende funksies, proaktief te verseker dat die individu op koers bly met sy of haar doelwitbereiking. Dit behels veral om diskrepanse tussen gestelde doelwitte en gedrag te voorkom, te antisipeer en betyds te wysig indien toepaslik. Die drie belangrikste hulpbronne in hierdie verband is monitering, selfbeheer en

Kreatiwiteit en monitering

Die funksie van monitering is om terugvoer te genereer ten opsigte van die mate waarin werklike gedrag ooreenstem met persoonlike doelwitte en standaarde, sodat gedrag of doelwitte dienooreenkomstig gewysig kan word. In hierdie sin is dit veral verifiëring, as een van die stappe in kreatiewe probleemoplossing (vergelyk Osche, 1990 onder punt 3.3.1), wat met monitering in die selfregulering-konteks geassosieer kan word. Guignard en Lubart (2006) beskryf verifiëring as „n doelbewuste

terugvoeringsproses waar die sterk- en swakpunte van kreatiewe idees geëvalueer word met die oog op verdere aanwending daarvan. Daar vind „n intensionele en rasionele proses plaas om sinvolle en oorspronklike idees van die bloot ontoepaslike te onderskei (Runco, 2006).

Dit blyk hieruit dat konstante monitering reeds fundamenteel tot kreatiwiteit is, en waarskynlik kreatiwiteit in die eerste plek moontlik maak. By die selfregulerende persoon fasiliteer veral affekbelewenis normaalweg hierdie monitering deurdat positiewe affek „n aanduiding is van doelwitbereiking in ooreenstemming met gestelde standaarde, in teenstelling met negatiewe affek wat aandui dat dit nie bereik word nie. Hoewel die kreatiewe persoon ook afhanklik is van affek as terugvoer, blyk dit tog asof hulle

bykomend hiertoe, ook van intuïsie gebruik maak. Eubanks, Murphy en Mumford (2010) het byvoorbeeld in „n eksperiment „n aantal voorgraadse studente gevra om aan

probleme te werk wat kreatiewe oplossings vereis. Studente wat oor kreatiewe intuïsie beskik, het aanvanklik „n beduidende voordeel in die oplossing van hierdie problem gehad, maar die algemene probleemoplossingsvermoë van al die studente het verbeter wanneer „n positiewe affekbelewenis doelbewus geskep word.

Dit is belangrik om weer eens te beklemtoon dat die intuïtiewe vaardighede van kreatiwiteit nie beteken dat vorige ondervinding en bestaande kognitiewe skemas buite rekening gelaat word nie (Root-Bernstein & Root-Bernstein, 2004). Soos in die geval van selfregulering het kreatiwiteit „n sterk kognitiewe komponent met betrekking tot

probleemoplossings, veral aangesien vorige kennis die probleemoplossingsproses bevorder (Nelson & Rawlings, 2007). Sir Frederick Grant Banting, „n skilder wie se werke tans uiters gesog is, maar wat meer bekend is aan die algemene publiek as die mede-ontdekker van insulien en mede-ontvanger van die Nobelprys vir mediese navorsing in 1923, beskryf hierdie selfgenererende kreatiwiteit as „n motiverende faktor in al sy werk wat hom tot die gevolgtrekking laat kom het dat, “if a man thinks hard enough, he can accomplish any rational task” (Fraser, 2010, p. 702).

Dit blyk dus dat monitering, soos wat dit tipies in die selfreguleringsliteratuur beskryf word, ooreenkom met maar ook aangevul kan word met besinning oor wyses waarop monitering deur „n kreatiewe persoon toegepas word. Dit is die geval omdat monitering tydens „n kreatiewe proses „n voorneme in optrede transformeer deur gebruik te maak van beide rasionele en intuïtiewe prosesse van selektiewe toewyding aan die onderwerp en die enkodering van toepaslike inligting. So „n benadering kan die kans dat kreatiewe idees toepaslik uitgevoer word, verbeter.

Kreatiwiteit en selfbeheer

Volgens Van Dierendonck et al. (2009) behels selfbeheer die vermoë om skielike impulse te beheer deur beperkinge op die aantal alternatiewe wat beskikbaar is, te plaas. Dit stel individue dus in staat om interne response op „n toepaslike wyse te reguleer en te verander (Muraven, Tice & Baumeister, 1998). Selfbeheer faal wanneer die persoon se kapasiteit om sy of haar eie response te wysig ontbreek, en daarom

behels goeie selfbeheer dat „n persoon „n doelbewuste poging aanwend om „n alternatiewe respons te vind wat ooreenstem met die ideale langtermyndoelwit (Baumeister et al., 2007; Peterson & Seligman, 2004). Aangesien „n belangrike

komponent van kreatiwiteit die generering van nuwe idees is, behoort kreatiwiteit juis te verseker dat selfbeheer nie maklik faal nie. Kuhl et al. (2006) dui spesifiek aan dat selfbeheer fasilitering en inhibering insluit, en dat dit onder meer afhang van „n persoon se vermoë om die alternatiewe response rakende doelwitte en voornemens te

visualiseer - kreatiwiteit impliseer reeds goeie visualiseringsvaardighede en help dus beter selfbeheer aan in hierdie opsig.

In aansluiting by Benack et al. (1989) kan gestel word dat selfbeheer egter nie net gedrag moet kan inhibeer nie; dit moet ook „n nuwe, bruikbare uitkoms tot gevolg hê. Wanneer „n bepaalde behoefte van „n persoon byvoorbeeld geïnhibeer word omdat dit nie toepaslik of toelaatbaar binne „n bepaalde konteks is nie, kan doelwitbereiking negatief beinvloed word. Dit is veral hier waar kreatiwiteit krities belangrik raak,

byvoorbeeld om nie slegs die behoefte te inhibeer nie, maar dit moontlik om te skakel na iets wat binne die konteks toepaslik kan wees, en terselfdertyd doelwitbereiking te verseker. Kreatiwiteit impliseer selfbeheer, aangesien die kreatiewe persoon kritiese en outonome besluite moet neem veral indien die taak heelwat kompleksiteit vereis, dubbelsinnig is en in konteks wissel (Chang, Huang & Choi, 2012). Martindale (soos aangehaal deur Kaufman et al., 2006, p. 224) dui daarop dat dit „n wanopvatting is om kreatiwiteit te assosieer met disinhibering en „n gebrek aan selfbeheer – laasgenoemde verwys eerder na „n toestand van “unintentional inspiration” of toevallige insig as na kreatiwiteit.

Kreatiwiteit en indagtigheid

In hoofstuk twee is aangedui dat indagtigheid „n bewustheid impliseer wat gekenmerk word deur „n oop en ontvanklike prosessering van interne en eksterne gebeure, wat „n verhoogde sensitiwiteit teenoor konteks, „n oopheid vir nuwe inligting, sinvoller keuses, geïntegreerde optrede en die bewuswording van ander perspektiewe tot gevolg het (Ryan, Huta & Deci, 2008). Indagtigheid stel die persoon in staat om intensioneel „n ontvanklike gemoed te kweek sodat waarneming suiwer beleef en ook onpartydig geprosesseer word (Brown et al., 2007a; Shapiro & Schwartz, 2000). Hierdie stelling, asook die verwysing na indagtigheid as „n buigsame ingesteldheid (Shapiro & Schwartz, 2000), maak dit voor-die-hand-liggend dat kreatiwiteit en indagtigheid reeds geïntegreerde vaardighede moet wees.

Volgens Langer (2005a), wat hierdie verweefdheid tussen die twee terme bevestig, behels kreatiewe indagtigheid „n oop ingesteldheid; om dinge te sien asof vir die eerste maal en om die gevestigde wyse waarop na die wêreld gekyk word, op te gee sodat die individu verandering makliker waarneem. Dit behels dat geykte en vooropgelegde idees laat vaar word, en dat verskynsels en gebeure toegelaat word om te ontvou sonder dat daar die behoefte beleef word met die doel om dit te beheer.Langer (2005b) stel dat die persoon sodoende ook wegbeweeg van sosiaalgekonstrueerde struikelblokke wat hom of haar mag weerhou van sy/haar kreatiewe self, en daarom raak die wêreld onmiddellik vir die individu beskikbaar. Volgens Langer (2005) kan „n kreatiewe ingesteldheid

teenoor die wêreld juis ontwikkel word deur die beginsels van indagtigheid op

alledaagse aktiwiteite toe te pas, byvoorbeeld om „n tafel te dek op „n nuwe manier. Die beloning is „n meer ontvanklike en buigbare lewenswyse wat nie belemmer word deur die voortdurende vrees om foute te maak, of om in absoluuthede te glo, die werklikheid te stereotipeer of te aanvaar dat „n mens nie veranderinge kan aanbring aan jou lewe

nie. Langer (2005b) stel daarom voor dat indagtigheid aanvanklik ontwikkel word deur betrokke te raak by kreatiewe aktiwiteite en dit daarvandaan te veralgemeen na „n mens se daaglikse lewe.

Kreatiwiteit kan selfregulering tydens doelwituitvoering daarom bevorder omdat:

(i) dit kan help om beide rasionele en intuïtiewe prosesse te gebruik om gedrag te moniteer;

(ii) dit met selfbeheerprosesse kan help om nuwe idees te visualiseer en te fasiliteer wanneer die individu antisipeer dat doelwitte moontlik geblokkeer kan word, en ook om geïnhibeerde gedrag om te skakel na iets wat binne die spesifieke konteks toepaslik en bruikbaar kan wees, sodat doelwitte steeds bereik kan word;

(iii) indagtigheid grootliks afhanklik is van die kreatiewe vaardighede om buigbaar en nuut waar te neem, om absolute en stereotipe idees te laat vaar, en om ontvanklik te wees vir die moontlikheid om eie idees en teorieë gereeld met nuwes, na gelang van die konteks, te vervang.