• No results found

FASES FAKTORE

2.3.3 Fase 3: Aanpassing

Hierdie fase volg nie noodwendig op die vorige fase nie, maar vind gewoonlik terselfdertyd, en geïntegreerd daarmee plaas. Bilalic, McLeod en Gobert (2008)

definieer aanpasbaarheid as die vermoë om by probleme aan te pas wanneer dit nodig is om nuwe metodes, tegnieke, kennis of inligting toe te pas, of om die bestaande probleemoplossingsmetode te wysig. Soos wat die vorige fase pro-aktiewe

selfregulering behels, kan die aanpassingsfase as reaktiewe selfregulering beskou word. Aanpassing behels dus pogings om huidige gedrag of die doelwit self te wysig sodra daar „n diskrepansie tussen „n gestelde doelwit en gedragsuitkoms waargeneem word. Die sukses van wysiging hang af van verskeie faktore, wat probleemoplossing,

konflikhantering, en hoe belangrik die doelwit vir die persoon is, insluit. Carver (2004) dui aan dat negatiewe affek dikwels ervaar word wanneer „n diskrepansie waargeneem word, wat terugvoer aan die individu verskaf dat iets nie reg is nie en dat „n wysiging moet plaasvind. Die eerste respons op so „n situasie is gewoonlik om harder te probeer, maar gedrags- of doelwitwysiging is opsigself van die meer komplekse uitdagings tydens die hele selfreguleringsproses en behels dikwels „n uitgebreide hersiening en

aanpassing van huidige gedrag.

Karoly (1993) dui aan dat die implementering van diskrepansie-

verminderingsvaardighede wat aangeleer word, onderwerp is aan eksterne invloede en nie noodwendig outomaties aangeskakel word wanneer hulle benodig word nie.

Individue reageer verskillend op waargenome diskrepansies (vergelyk Bandura, 1996) – sommiges sal beter strategieë genereer en harder werk om hulle doelwitte te bereik, ander sal meer realistiese doelwitte stel, terwyl sommiges selfs hulle doelwitte verder verhoog en hulself sodoende motiveer om byvoorbeeld nog harder te werk. Peterson en

Seligman (2004) toon weer aan dat mense dikwels hulle gedagteprosesse oor „n

bepaalde saak verander, of hulle emosie verander, of selfbeheer toepas deur hulleself te weerhou van impulsiewe gedrag. In aansluiting hierby verwys Carver en Scheier (2000) na pogings van die individu om soms uit die proses te tree; dit versigtiger te evalueer; addisionele bronne te identifiseer of te genereer; of selfs om alternatiewe metodes te gebruik. Uiteindelik, volgens Bandura (1996), bepaal selfeffektiwiteit, affek en vermoë tot heraanpassing die mate waartoe diskrepansies die individu sal motiveer of demotiveer.

Een wyse waarop hierdie diskrepansie manifesteer, word geïllustreer deur die persoonlike verhoudings-ekwilibriummodel van Kumashiro, Rusbult en Finkel (2008). Dié model dui aan dat mense daarna streef om ekwilibrium te bewerkstellig in hul toewyding aan die persoonlike en verhoudingsaspekte van hul lewens, omdat hierdie twee behoeftes nie altyd terselfdertyd bevredig kan word nie. Die outeurs het bevind dat oortoewyding aan die een domein „n afname in motivering in daardie domein en „n toename in motivering in die teenoorgestelde domein veroorsaak. Hierdie gevoel van disekwilibrium veroorsaak „n verhoogde behoefte om die ekwilibrium te herstel, maar verminder terselfdertyd lewensbevrediging. Die onvermoë om „n sintese tussen die verskillende behoeftes te vind, word geassosieer met verminderde welstand.

o Brandtstädter en Rothermund (2002) se dubbelproses-raamwerk

Brandtstädter en Rothermund (2002) stel „n dubbelproses-raamwerk voor om aan te dui hoe die selfsisteem die inherente konflik hanteer om aan die een kant doelwitte en planne stabiel na te volg, terwyl daar terselfdertyd by die veranderinge wat die

haalbaarheid daarvan bepaal, aangepas moet word. Die model stel twee basiese modusse voor om die diskrepansie tussen verlangde en huidige gedrag te verminder,

naamlik assimilatiewe en akkommodatiewe modusse. Albei prosesse het diskrepansievermindering ten doel, en word deur waargenome of verwagte doelwitdiskrepansies, of afwykings tussen gestelde doelwitte en huidige gedrag geaktiveer. Dit vind egter op teenoorgestelde wyses plaas, soos hieronder aangedui word:

Assimilasie

Die assimilatiewe modus behels eenvoudig dat die individu by gestelde doelwitte hou indien „n diskrepansie waargeneem word, en dat die individue gevolglik poog om die self of die fisiese konteks waarbinne die gedrag afspeel, te wysig. Volgens Brandtstädter (2006) behels dit intensionele pogings en aktiwiteite om groter kongruensie tussen die werklike situasie of rigting van persoonlike ontwikkeling en persoonlike doelwitte, asook lewenstemas, te bewerkstellig. Assimilasie kan daarom, in „n positiewe sin, met

doelgerigtheid en deursettingsvermoë geassosieer word. Wanneer die volgehoue navolg van spesifieke doelwitte egter op „n rigiede wyse plaasvind, kan assimilatiewe pogings egter mettertyd uitputtend raak, met die gevolg dat die persoon eerstens sy of haar reserwekapasiteite begin mobiliseer, en uiteindelik begin kompenseer vir funksionele tekortkominge. Volgens Brandtstädter (2006) handhaaf mense hulle doelwitte solank as wat dit uitvoerbaar is, en nie met disproporsionele pogings of kostes gepaardgaan nie. Hulle aspirasies, pogings of doelwitte verander slegs wanneer hulle nie meer glo dat die doelwitte bereik kan word nie, of indien dit reeds herhaalde kere misluk het. Dit kan die assimilatiewe fase eindig wanneer die beginsel van krimpende opbrengs „n beperking op hierdie pogings plaas, en dus gevoelens van hulpeloosheid of depressie veroorsaak. Dit is egter hier waar „n akkommoderende ingesteldheid in werking kan tree.

Akkommodasie

Die akkommoderende modus is die teenoorgestelde van assimilasie, en beteken eenvoudig dat die individu gestelde doelwitte sal wysig indien diskrepansies

waargeneem word. Volgens Brandtstädter (2006) sluit dit die beëindiging van

geblokkeerde doelwitte, die afgradering van ambisies, herskaling van selfevaluatiewe standaarde, en „n verandering in die perspektief waarmee vergelykings getref word, in. Die sleuteleienskap van die akkommoderende modus, in teenstelling met die

assimilatiewe modus, is die buigsame wyse waarmee voorheen aanvaarde doelwitte en standaarde gewysig word om by situasionele beperkinge en beskikbare hulpbronne aan te pas. Brandtstädter (2006) stel dat mense dit veral moeilik vind om doelwitte op te gee wat sentraal tot hulle identiteit en lewensplanne staan, en waar gelykwaardige

plaasvervangers nie maklik gevind kan word nie. „n Veelvlakkige selfstruktuur wat „n verskeidenheid doelwitte insluit, sal akkommodasie bevorder en sal ook tot

veerkragtigheid van die individu lei in gevalle van verlies en trauma. Die

akkommoderende proses sluit nie die situasionele proses in geheel af nie, en gaan wel soms gepaard met negatiewe gemoedstoestande soos rou, hartseer of depressie, waar dié toestande tog rigtinggewend na nuwe moontlikhede kan werk.

Sintese / sinergie tussen assimilasie en akkommodasie

Dit is baie belangrik om te noem dat een van hierdie twee aanpassingsmodusse nie „beter‟ as die ander is nie. Die dinamika van assimilasie en akkommodasie hang van twee kritiese parameters af: eerstens, die graad van waargenome beheer oor die doel; en tweedens, die persoonlike waarde of belangrikheid van die doel. Wat uiteindelik moet gebeur is dat die individu aanpasbaar en buigbaar moet optree ten opsigte van beide moontlikhede, en in baie gevalle „n sintese sal moet bereik om effektief te kan

Volgens Brandtstädter en Rothermund (2002) hang aanpasbare buigsaamheid af van die interaksie tussen hierdie assimilatiewe en akkommoderende prosesse, wat terselfdertyd antagonisties en komplementerend funksioneer. „n Sintese tussen assimilasie en akkommodasie reflekteer dikwels suksesvolle selfregulering. Volgens Brandstädter (2006) kan die twee modusse, ten spyte van hul antagonistiese

verhouding, mekaar wel komplementeer wanneer hul terselfdertyd geaktiveer word in situasies waar „n ander, meer haalbare doelwit gefasiliteer word deur die besef dat die pogings om die bestaande doelwit te bereik nie meer sinvol is nie, omdat alle

hulpbronne „n uitputtingstadium bereik het. Op grond hiervan meen Brandtstädter en Rothermund (2002, p. 118) dat, “Wisdom seems to imply an integration of technical knowledge concerning the efficient pursuit of personal goals with an experience-based sensitivity as to which goals are feasible and worth pursuing and which should be given up for the sake of other, more valuable ones”.

Covey (1989) verwys na hierdie sintese as „n sinergie, oftewel die skep van nuwe alternatiewe, of dan iets wat nie vantevore daar was nie. Sinergie verwys daarna dat die geheel meer is as die som van die dele – die essensie van sinergie is om verskille te aanvaar en respekteer. Heckhausen et al. (2010) dui voorts aan dat aanpassende strategieë „n mate van betrokkenheid by doelwitte reflekteer wat realisties haalbaar is binne „n bepaalde konteks, en wat ook nie oormatig negatiewe gevolge vir ander domeine inhou nie. Volgens die outeurs is „n wysiging aanpassend indien daar aan drie vereistes voldoen word: (i) kongruensie moet tussen doel en geleentheid bestaan; (ii) gevolge vir ander domeine is voordelig; en (iii) „n minimum diversiteit van doelwitte word gepreserveer.

Ten slotte beteken hierdie sintese nie dat negatiewe aspekte buite rekening gelaat word nie, maar is die doel daarvan juis ook om die positiewe met die negatiewe te integreer. Dit sluit aan by Aspinwall en Staudinger (2003) se beskouing dat

selfregulerende gedrag nie noodwendig ten doel het om negatiewe ondervindings te vermy nie, maar eerder om alle ondervindings (positief en negatief) sinvol te integreer. Volgens Mischel en Ayduk (2004) hang selfregulering ook af van die vermoë om op „n baie subtiele wyse te diskrimineer tussen die verskillende vereistes en moontlikhede wat elke situasie bied, en dan op „n buigsame wyse daarby aan te pas.

o Coping as ‘n spesifieke manier van aanpassing op trauma en verlies

Lazarus en Folkman (1984) se klassieke definisie verwys na coping as, “constantly changing cognitive and behavioral efforts to manage specific external and/or internal demands that are appraised as taxing or exceeding the resources of a person” (p. 141). Vanuit selfreguleringsteorie word coping as „n spesifieke soort selfregulering gesien. Sniehotta (2009, p, 269) definieer coping as, “the self-regulatory strategy of linking situational cues contingently associated with undesired behaviours with cognitive or behavioural coping responses aimed at inhibiting the undesired, or prioritizing the desired, response.” Matthews, Schwean, Campbell, Saklofske en Mohamed (2000) dui ook aan dat coping verwant is aan selfregulering omdat die keuse van copingstrategie die evaluering van persoonlike vermoëns om „n bepaalde probleem aan te spreek, reflekteer.

Hoewel coping deur baie navorsers as soortgelyk aan selfregulering beskou word, is daar verskeie ander veranderlikes wat wel ook „n rol speel, byvoorbeeld die aard en intensiteit van die trauma of verlies en hiermee ook vorige ondervindings, terwyl faktore

soos monitering, selfbeheer en indagtigheid andersoortig aangewend en ervaar word tydens coping. Aangesien hierdie studie nie soseer fokus op coping (selfregulering in reaksie op trauma of verlies) as vaardigheid nie maar eerder op selfregulering in die daaglikse konteks, word dit nie verder hier bespreek nie.