• No results found

SELFREGULERING VANUIT ‘N KREATIWITEITSPERSPEKTIEF

EVALUERING VAN DIE SKILDERKUNSPROGRAM

6.1 INLEIDING

In hierdie hoofstuk word die skilderkunsprogram wat in hoofstuk vyf omskryf is, kwantitatief en kwalitatief geëvalueer om te bepaal hoe effektief dit daarin kon slaag om selfregulering by „n groep volwassenes te bevorder. Eerstens word die metode van navorsing beskryf, waarna die resultate en bespreking volg. Ten slotte word die gevolgtrekking, leemtes en aanbevelings voorgehou.

6.2 METODE

6.2.1 Navorsingsontwerp

Daar is in hierdie fase van evaluasienavorsing gebruik gemaak, en spesifiek van „n gemengde voor-natoets eksperimentele-kontrolegroepontwerp. Aangesien toedeling aan die eksperimentele- en kontrolegroep nie ewekansig gedoen kon word nie, kan die ontwerp as kwasi-eksperimenteel beskou word (Bryman, 2012). Om dié rede is daar in hierdie navorsing statistiese metodes gebruik om voorsiening te maak vir moontlike verskille wat mag opduik weens nie-ewekansigheid; verder is „n addisionele kwalitatiewe metode ook gebruik om die geldigheid van die resultate te verseker. Kwantitatiewe data is gebruik om binne- en tussengroepverskille te bepaal, terwyl kwalitatiewe data gebruik is om deelnemers in die eksperimentele groep se vordering tydens die sessies te verken.

6.2.2 Deelnemers

„n Studiepopulasie van 18 pasiënte wat behandeling in „n privaat psigiatriese kliniek in Klerksdorp ontvang, het aan die studie deelgeneem. Die groep word as „n studiepopulasie eerder as „n steekproef beskou omdat al die lede van „n geïdentifiseerde groep gebruik is vir die doeleindes van data-insameling (kyk Neuman, 1994). Die

deelnemers se diagnoses wissel, maar almal voldoen aan die kriteria vir „n

gemoedsversteuring, waaronder major depressie en bipolêre gemoedsversteuring soos gedefineer deur die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (American Psychiatric Association, 1994). Hierdie diagnoses word sterk geassosieer met

gebrekkige selfregulering, wat veral onrealistiese verwagtinge tydens doelwitbeplanning, swak selfevaluering, en vermydingsgedrag insluit (Endler & Kocovski, 2000;Trice, 2006; Briones, et al., 2008). Enkele van die deelnemers is ook met komorbiede

grenslynpersoonlikheidsversteuring gediagnoseer, wat ook met swak affekregulering geassosieer word (Miller & Byrnes, 2001).

Pasiënte met „n psigotiese beeld, asook diegene wie se algemene funksionering weens erge simptome in so mate ingekort is dat hul die proses met moeite sou volg, is nie by die groep ingesluit nie. Pasiënte met „n GAF-telling van laer as 41 is ook nie ingesluit nie, met ander woorde diegene met aangetaste realiteitskontak en

kommunikasie, of ernstige inkorting in algemene funksionering, denke en oordeel - daar is besluit op hierdie uitsluiting om te verhoed dat hulle die vraelyste verkeerd sou

interpreteer. Die ingeslote groep het die vraelyste onder toesig van die navorser voltooi nadat die vrae aan hulle verduidelik is en hulle gemotiveer is om dit so akkuraat as moontlik te voltooi. Die navorser was ook deurentyd beskikbaar om onduidelikhede op te klaar.

Die toewysing aan „n eksperimentele- en kontrolegroep het etiese probleme

veroorsaak omdat pasiënte, weens kliniekbeleid, nie van die program weerhou kon word nie. Dit was egter noodsaaklik om „n kontrolegroep te gebruik om die program te

evalueer, en daarom is „n beskikbare groep pasiënte (n=5), wat nie die program kon bywoon nie omdat hulle elders betrokke was (byvoorbeeld huweliksterapie, fisioterapie, x-strale, EEG, en breinskanderings) geselekteer as kontrolegroep. Hiervan was twee manlik en drie vroulik, met ouderdomme wat gewissel het tussen 38 en 50, met „n gemiddelde ouderdom van 41 jaar. Die eksperimentele groep het uit die res van die pasiënte (n=13) bestaan, waarvan vyf manlik en agt vroulik was. Ouderdomme het gewissel van 18 tot 64, met „n gemiddelde ouderdom van 39 jaar. Die totale groep was van verskillende etniese en taal herkoms, 12 wit pasiënte waarvan 10 Afrikaans- en twee Engelssprekend was, en ses swart pasiënte, waarvan vyf Tswana en een

Xhosasprekend was. Al die deelnemers is egter Engels goed magtig en die program is dus in hierdie taal aangebied.

6.2.3 Prosedure

Die bestuur van die psigiatriese kliniek is genader om toestemming vir die projek te verkry, waarna toestemming ook van die onderskeie psigiaters wat verantwoordelik was vir die opname, behandeling en verdere verwysing van die pasiënte, verkry is. Die 18 pasiënte wat op daardie stadium opgeneem is het almal voldoen aan die vereiste kriteria soos hierbo uiteengesit; hulle is genader om aan die studie deel te neem. Dertien was beskikbaar en kon die program volledig bywoon en is daarom by die studie betrek, terwyl vyf ander pasiënte, soos hierbo verduidelik, in die kontrolegroep ingesluit is. Al die deelnemers het ook „n toestemmingsbrief ontvang waarin hulle hul bereidwilligheid verklaar het om op „n vrywillige grondslag aan die navorsing deel te neem.

Die program (vergelyk hoofstuk vyf) is voorafgegaan deur voortoetsing en aangebied oor vier middae (twee opeenvolgende Dinsdae en Donderdae). Die totale tydsduur van die program was agt ure lank. Die program is deur die navorser self, „n kliniese sielkundige, aangebied en terugvoer is gereeld aan die promotor gegee; hy is ook „n kliniese sielkundige. Natoetsing is drie weke na afloop van die laaste sessie van die program deur beide die eksperimentele- en kontrolegroep voltooi.

6.2.4 Data-generering en -ontleding

6.2.4.1 Kwantitatiewe data-generering

Drie meetinstrumente wat direk aansluit by die konstrukte wat met selfregulering geassosieer word en in hoofstuk twee bespreek is, is gebruik om kwantitatiewe data te genereer. Die instrumente is die Basic Psychological Needs Scale (General) (BPNS- Gen) (Ilardi et al., 1993); Die 14-item Freiburg Mindfulness Inventory (FMI) (Buchweld, et al., 2001) asook die Shortened Self Regulation Questionnaire (SSRQ) (Carey et al., 2004). Elk hiervan word vervolgens deeglik bespreek. Die betroubaarheid van die toetse soos in hierdie studie bevind word later as deel van die resultate rapporteer. Daar is besluit om nie ook veranderlikes soos depressie by die meting in te sluit nie, veral om twee redes: Aangesien al die deelnemers ook ander behandeling tydens die aanbieding van die program ontvang het, sou dit moeilik wees om te bepaal of verskille in hul

ervaring van depressie spesifiek aan die program toegeskryf sou kon word. Verskille wat in terme van selfregulering na vore sou kom, sou duideliker aan die program toegeskryf kon word omdat dit, in teenstelling met die ander behandelingsvorme, die hooffokus van die program was. Die tweede rede is dat, aangesien volgehoue konsentrasie reeds „n probleem by individue met „n gemoedsversteuring is, daar besluit is om so min as

moontlik vraelyste te gebruik wat in die kortste moontlike tyd afgeneem sou kon word ten einde groter betroubaarheid van die resultate te verseker.

Die Basic Psychological Needs Scale (General) (Ilardi et al., 1993)

Die BPNS-Gen (Ilardi et al., 1993) vorm deel van die Basic Psychological Needs Scale (BPNS), „n konstellasie van skale wat op die selfdetermineringsteorie gebaseer is. Die BPNS-Gen bestaan uit 21 items en meet die mate van bevrediging wat persone beleef ten opsigte van die behoefte aan outonomiteit (7 items), bekwaamheid (6 items), en verwantskap (8 items) in drie domeine, naamlik algemeen, werk, en persoonlike verhoudings. Die BNS-Gen is gebruik omdat hierdie drie veranderlikes sentraal tot doelwitbeplanning staan en ook reeds vroeër in hierdie navorsing omskryf word (vergelyk hoofstuk twee). Voorbeelde van items sluit in I feel like am free to decide for myself how to live my life (outonomiteit); People I know tell me I am good at what I do (bekwaamheid); en I really like the people I interact with (verwantskap). Deelnemers reageer op die items aan die hand van „n 7-punt Likertskaal wat strek van 1 (geensins waar nie) tot 7 (baie waar) in die mate waarmee hul met elke stelling saamstem. Tellings wissel tussen 7 en 49 (vir outonomiteit), 6 en 42 (bekwaamheid), 8 en 56 (verwantskap), en 21 en 147 (totaaltelling). Hoër tellings reflekteer „n groter mate van bevrediging ten opsigte van elk van hierdie behoeftes.

Cronbach alfa-betroubaarheidskoeffisiënte van 0.69, 0.71, en 0.86 is

onderskeidelik vir outonomiteit, bekwaamheid, en verwantskap deur Gagné (2003) rapporteer, terwyl Wei et al. (2005) koëffisiënte van onderskeidelik 0.68, 0.75, en 0.85 vir dieselfde veranderlikes, asook 0.90 vir die totaaltelling rapporteer.