• No results found

Kreatiwiteit vereis indagtigheid, wat uiteindelik weer kreatiewe probleemoplossing op verskeie maniere bevorder

SELFREGULERING VANUIT ‘N KREATIWITEITSPERSPEKTIEF

KREATIEWE SELFREGULERING BY ‘N GROEP SKILDERS

4.3 RESULTATE EN BESPREKING

4.3.4 Kreatiwiteit vereis indagtigheid, wat uiteindelik weer kreatiewe probleemoplossing op verskeie maniere bevorder

Die skilders probeer intensioneel om gewoontegedrag te vermy [vraag 9] en hul poog ook om hulself oop hou vir verskillende kontekste. Hul is van mening dat dit daar geen enkele korrekte benadering tot hul werk bestaan nie, maar dat daar wel sterk riglyne is ten opsigte van goeie vorm, tegnieke en kleurgebruik. Ten spyte hiervan handhaaf al die skilders hul eie standaarde wat, in die woorde van een skilder, “... taamlik streng en hoog is”. Al die skilders erken egter dat dit nie moontlik is om weg te kom van algemene kunsbeginsels nie, veral wat die analisering en bespreking daarvan betref, maar hul volg wel steeds hul eie oortuiginge en kriteria. Soos een dit stel: “As jy die reëls ken, kan jy hulle verbreek”. Ses van die skilders meld ook dat hul slegs hul werk sal voorlê vir uitstalling of kritiek wanneer hulself daarmee tevrede is. Die huiwerigheid waarmee die groep skilders hierdie vraag benader terwyl ander aspekte van outonomiteit onomwonde ondersteun word, laat die vermoede ontstaan dat

kreatiwiteit in die skilderkuns nie bloot omskryf kan word as vernuwend en oorspronklik nie, maar dat dit moontlik eerder funksioneer as „n kollektiewe entiteit met „n

gemeenskaplike doelwit, naamlik die skep van goeie kuns. Soos een skilder dit stel: “... ons kan nie wegkom van die invloede wat van oral af na ons toe deursyfer nie –

bewustelik en onbewustelik”.

Die antwoorde op die vraag of hulle ooit outomaties aan „n skildery werk [vraag 10], was verdeeld. „n Klein meerderheid het aangetoon dat hulle altyd bewustheid en beheer probeer behou. Soos een skilder dit stel: “Nee, ek bevind eerder „n intense konsentrasie waar niks saakmaak behalwe wat ek besig is om te doen nie”, of die meer lakoniese “ ... nee, miskien het ek na 300 skilderye nog net nie daar uitgekom nie”. Die ander skilders meld wel dat hulle al outomaties aan „n skildery gewerk het, maar by verdere navraag blyk dit dat die belewenis nie soseer „n gebrek aan indagtigheid is nie, maar eerder met „n gevoel van flow gepaardgaan, veral met inbegrip van die

genotbeginsel wat steeds ter sprake is. Toevallig is hierdie groepie ook diegene wat voltyds uit skilder hul brood verdien. Dit blyk dus wel dat die skilders geneig is om onbewustelik stereotiperend en gekondisioneer deur vorige ervaring en geheue-

assosiasies, te werk te gaan, maar daar moet ingedagte gehou word dat hierdie skilders reeds baie vermoënde kunstenaars is en dat hul ook reeds bewys gelewer het van hul kreatiewe kapasiteit in hierdie spesifieke domein. Die vorige ervaring en bestaande skemas is waarskynlik van hoogstaande gehalte en dus maklik om outomaties weer te gee, wat eintlik „n bevestiging van kundigheid kan wees. Alhoewel hierdie soort

benadering vir hierdie skilders dus „n aangename gevolg het, val dit egter nie binne die spektrum van indagtigheid nie, omdat indagtigheid juis afwyk van bestaande kognitiewe skemas – synde dit kan veroorsaak dat konsepte en idees outomaties afgedwing word. Die afleiding kan hier gemaak word dat „n outomatiese proses wel soms by bewese

skilders voorkom, maar dat die bydrae daarvan tot „n verhoging in kreatiwiteit eerder afhang van die genotsbeginsel van flow wat mense motiveer om kreatiewe aktiwiteite op te soek.

Die helfte van die deelnemers meld dat hul soms na perfeksionisme streef [vraag 11]. Dit is ook hierdie groep wat meld dat hierdie strewe die meeste frustrasie in hul kreatiwiteit veroorsaak, byvoorbeeld: “... baie frustrerend en dit temper definitief my kreatiwiteit ...”, asook “... baie keer het ek „n helder beeld van „n ongelooflike skildery, maar daar is net nie „n manier waarop ek daarby kan uitkom nie”. Van diegene wat meld dat hul nie na perfeksie streef nie, meld twee dat hulle op “die harde manier” geleer het dat perfekte skilderye nie bestaan nie. Dit kom dus voor asof hulle soms probleme ondervind om „n afstand te verkry vanaf hierdie fantasie, wat moontlik aanduidend is van gebrekkige nie-konseptuele en nie-diskriminerende bewustheid. Hierdie skilders is egter deeglik bewus van die fout wat hul maak, byvoorbeeld: “... om nie die absolute resultaat te bereik nie, veroorsaak dat ek „n ewigheid skenk aan „n skildery en steeds nie

tevredenheid ervaar nie... and then I simply abandon the painting in the end.”

Nog inligting oor hulle indagtigheid kom na vore op die vraag met betrekking tot die struikelblokke wat hulle ervaar [vraag 7]. Een van die deelnemers noem byvoorbeeld dat: “... die skoon wit doek is intimiderend”, terwyl „n ander aandui dat: “... om te dink aan my persoonlike issues laat my kreatiwiteit opdroog”, en “soms raak die baie wat ek wil doen te veel in my kop en dan kan my hande niks doen nie”. Dit impliseer dat die

skilders bewus is dat hulle onvermoë om bewustelik aandag te gee aan „n saak, soms „n probleem is.

Dit blyk uit die bogenoemde dat indagtigheid in „n wisselende mate by hierdie groep skilders manifesteer. Almal is van mening dat gefokusde aandag essensieel tot die kreatiewe proses is, in aansluiting by die beskouing van Langer (2005b) dat kreatiwiteit verweefd is met indagtigheid, en dat „n kreatiewe ingesteldheid pertinent ontwikkel word deur die beginsels van indagtigheid in geheel toe te pas. Langer (2005b) dui ook aan dat gebrekkige indagtigheid „n afname in die kreatiewe belewenis tot gevolg het, soos wat ook by hierdie groep gevind is. Die afwesigheid van outomatiese

belewenisse, en die vermyding van geykte en korrekte benaderings by die skilders in hierdie studie dui op algehele betrokkenheid by die proses – en dus op „n algemene indagtigheid-ingsteldheid, wat ooreenkom met Shapiro en Schwartz (2000) se beskrywing van indagtigheid as bewuste en onpartydig selfregulering. Alhoewel die skilders oor die algemeen nie met die term indagtigheid vertroud is nie, weerspieël die behoefte aan sekere eienskappe wat hul benodig om hul kreatiwiteitsdoelwitte te bereik, juis daardie aspekte wat met indagtigheid geassosieer word. Die gebrek aan tyd word byvoorbeeld as „n algemene probleem beskou en die skilders is bewus daarvan dat hierdie faktor hanteer kan word deur meer te fokus op die taak waarmee hul besig is, en deur bedag te wees op aandagafleibare gedagtes en aktiwiteite.