• No results found

SELFREGULERING VANUIT ‘N KREATIWITEITSPERSPEKTIEF

3.4 SELFREGULERING AS ‘N KREATIEWE PROSES

3.4.3 Kreatiwiteit en aanpassing

In die vorige hoofstuk is aangedui dat aanpassing die vermoë reflekteer om toepaslike aanpassings te maak in reaksie op „n waargenome diskrepans tussen „n gestelde doelwit en „n gedragsuitkoms. Daar is voorts aangetoon dat effektiewe

aanpassing „n sintese tussen assimilasie – die wysiging van gedrag, en akkommodasie – die wysiging of opgee van doelwitte – behels, en dat die rigiede vashou aan

assimilasie óf akkommodasie gewoonlik nie suksesvol oor die langtermyn is nie. Tydens hierdie fase word selfregulering daarom dikwels beperk deur die idee dat daar net een

korrekte oplossing vir „n probleem moet wees. Selfregulering hang egter veral af van die vermoë om te diskrimineer tussen die verskillende vereistes en moontlikhede wat elke situasie bied, en dan op „n buigsame wyse daarby aan te pas (Mischel & Ayduk, 2004), soos die sinteseproses in Brandtstädter en Rothermund (2002) se

dubbelprosesraamwerk ook aandui. Die voorkoms van diskrepansies impliseer dissonansie omdat gedragsuitkomste teenstrydig met gestelde doelwitte is.

Vanuit die kontekstualisering van kreatiwiteit wil dit egter voorkom of hierdie tipe probleem juis die area is waar kreatiwiteit benut kan word, in aansluiting by Moran (2010, p. 82) wat benadruk dat, “discrepant and even opposing combinations hold the most potential for creativity”. Aangesien kreatiwiteit gekenmerk word aan die vermoë om ooglopende teenoorgesteldes op „n sinvolle manier te kan integreer (sintese), behoort die meer kreatiewe individu makliker toepaslike aanpassings te kan maak op grond van diskrepansies. „n Kreatiewe ingesteldheid behoort volgens Langer (2005b) daartoe te lei dat diskrepansies in doelwitbereiking nie as mislukkings beleef word nie, maar eerder dat daar bloot van „n bepaalde koers afgewyk is, en dat die diskrepansie self die vryheid bied om op „n kreatiewe wyse ander keuses uit te oefen. Kreatiwiteit help dus om

katastrofering te vermy wanneer bepaalde uitkomste nie realiseer nie, en verhoed dat individue verval in negatiewe introspeksie, byvoorbeeld waar „n kind moed opgee met „n moeilike taak en begin glo dat dit nie binne sy of haar vermoë is nie. Russ en Fiorelli (2010) toon dat die toenemende druk op kinders om byvoorbeeld akademies te presteer, hul van passie en liefde ontneem om kreatief betrokke te raak by enige taak. Indien die frustrasie hiervan – veral die moeite wat dit kos om nuwe vaardighede te bekom en te verfyn, en die spanning wat probleemoplossing skep egter in „n meer kreatiewe lig gesien word in terme van meer opsies en vryheid, kom dit voor of hierdie passie wel onderhou kan word. Sodra die teenwoordigheid van diskrepansies of die behoefte aan

wysigings dan opduik, skep „n kreatiewe ingesteldheid die omgewing waar

selfregulerende meganismes gemobiliseer word om op „n divergente en oorspronklike wyse alle moontlikhede te ondersoek. In hierdie opsig kom dit voor asof alle mense, in die hantering van die diskrepansies in hul alledaagse lewe en in hulle selfregulering van probleemoplossing, oor die vermoë beskik om kreatief te kan wees ten einde optimaal te funksioneer, mits hulle soos Langer (2005b, p. 97) dit stel, bereid is om te aanvaar dat, “mistakes symbolize our willingness to be in the present”.

Kreatiwiteit soos dit manifesteer tydens die aanpassingsfase benodig egter nie net kreatiwiteit in die algemene, of skeppende sin van die word nie, maar verwys ook daarna om kreatief met kognitiewe en emosionele prosesse om te gaan. In hierdie verband word verwys na Van Steenbergen, Band en Hommel (2009) (kyk vorige hoofstuk) se bevinding dat daar toenemende bewyse is dat emosie en kognisie dikwels saamwerk in die vorming van aanpasbare gedrag.

Kreatiwiteit kan selfregulering tydens die aanpassingsfase daarom bevorder omdat:

(i) diskrepansies tussen doelwitte en uitkomste nie as mislukkings ervaar sal word nie, maar eerder as vryheid om nuwe dinge te probeer; en

(ii) die sintese tussen assimilasie en akkommodasie gouer en makliker bereik kan word omdat meer (kreatiewe) alternatiewe beskikbaar raak vir die individu raak.

3.5 GEVOLGTREKKING

In hierdie hoofstuk is eerstens „n kort historiese oorsig van die konseptualisering van kreatiwiteit gebied. Daar is voorts aangedui dat verskillende benaderings tot kreatiwiteit in die literatuur voorkom, maar dat die konsep in essensie verwys na „n individuele en sosiale vaardigheid om nuwe, oorspronklike idees, wat ook toepaslik en bruikbaar is, deur middel van „n sistematiese proses te kan genereer. Daar is aangetoon dat kreatiwiteit psigologiese welstand bevorder, eerder as wat dit – soos dikwels geglo word – „n teken van disfunksionele eksentriekheid is. Kreatiwiteit as integrale deel van selfregulering is hierna gekonseptualiseer as die vermoë om oorspronklike, nuwe, toepaslike gedrag in elke fase van selfregulering te genereer; om ook gedrag te wysig en voortdurend aan te pas op so „n wyse dat doelwitbereiking en psigologiese welstand bevorder word.

Tydens doelwitbeplanning speel kreatiwiteit „n belangrike rol omdat dit die behoefte aan outonomie, bekwaamheid en verwantskap kan bevredig deur „n addisionele

vaardigheid wat die individu, of groep help om nuwe planne uit te dink, te visualiseer, en sodoende hulle selfeffektiwiteit verhoog. Kreatiwiteit skep ook kollektiewe outonomie wat meer geleenthede vir sosiale interaksie en betekenis daarstel. Tydens doelwituitvoering blyk kreatiwiteit belangrik te wees omdat dit rasionele en intuïtiewe prosesse gebruik om gedrag te moniteer, nuwe idees en oplossings te visualiseer en te fasiliteer, en ook om geïnhibeerde gedrag na iets toepaslik om te skakel sodat doelwitte steeds bereik kan word. Dit bevorder ook indagtigheid omdat dit buigbare denke, die vermoë om nuut te dink, asook om eie idees en teorieë met nuwes te vervang, wanneer toepaslik, behels. Laastens is kreatiwiteit belangrik tydens aanpassing omdat diskrepansies tussen doelwitte en uitkomste nie as mislukkings ervaar word nie, maar eerder as vryheid om

nuwe dinge te probeer; en die sintese tussen assimilasie en akkommodasie gouer en makliker bereik kan word omdat meer (kreatiewe) alternatiewe beskikbaar vir die individu raak.

Die gevolgtrekking wat gemaak word is dat, teoreties gesproke, kreatiwiteit

minstens „n belangrike maar selfs ook onontbeerlike aspek van selfregulering kan wees, in aansluiting by Langer (2005, p. 4) wat meen dat:

[C]reativity is not a blessing some few are born with or receive from above. Our creative nature is an integral part of our daily lives, expressed through our culture, our language, and even our most mundane activities.

Selfregulering sonder kreatiwiteit hoef egter nie altyd problematies te wees nie. Baie doelwitte is eenvoudig en kan met die minimum hulpbronne suksesvol uitgevoer word. In komplekse situasies, en wanneer meervoudige doelwitte gelyktydig uitgevoer word, is kreatiwiteit egter nie net „n voordeel nie, maar is dit dikwels ook essensieel om toepaslike doelwitte te skep en probleme op te los. Kreatiwiteit is dus „n vaardigheid wat enersyds as „n alledaagse hulpmiddel gebruik kan word om optimaal te fuksioneer, en andersyds individue ondersteun en waarskynlik ook motiveer om selfregulerende vaardighede in hul alledaagse lewe toe te pas. „n Mens sou dus die afleiding kan maak dat die bevordering van „n persoon se kreatiewe vermoëns en ingesteldheid by

implikasie ook „n persoon se kapasiteit vir selfregulerende gedrag positief sal beïnvloed. Hierdie aanname word in die volgende hoofstuk empiries ondersoek.

HOOFSTUK 4