• No results found

SELFREGULERING VANUIT ‘N KREATIWITEITSPERSPEKTIEF

Oefening 4 Die kleurwiel

Met hierdie oefening maak die deelnemers kennis met die basiese beginsels van kleur wat omvat word in „n elementêre verduideliking van kleurteorie, waartydens die konsepte van die kleurwiel, primêre, sekondêre, tersiêre en analoë kleure verduidelik word.

Deelnemers voltooi hulle eie kleurwiel met primêre kleure as boustene, met die nodige verduideliking dat dit beteken dat hierdie kleure nie geskep kan word deur vermenging met ander kleure nie. Hierna word die drie sekondêre kleure geskep uit „n vermenging met primêre kleure. Laastens word die ses tersiêre kleure geskep uit „n vermenging met „n gepaste primêre en sekondêre kleur. Die deelnemers word geleer wat analoë kleure is en dat dit naas mekaar op die kleurwiel geleë is – en dat dié kleure as inherent harmonieus beskou word omdat hulle dieselfde liggolwe reflekteer.

Komplementêre kleure word vervolgens aangedui met die klem daarop dat hulle teenoor mekaar op die kleurwiel geleë is. Dit kom daarop neer dat enige twee komplementêre kleure al die kleure van die kleurspektrum sal bevat. Die deelnemers word daarop gewys dat die meng van „n kleur met sy komplementêre kleur die intensiteit daarvan verlaag. Dié kennis is essensieel om die interaksie tussen kleur ten opsigte van harmonie en kontras te verduidelik.

Laastens word die konsepte van tonale waardes en intensiteit verduidelik. Tonale waardes word verduidelik as die voorkoms van „n kleur in terme van lig en donker, terwyl intensiteit verwys na die mate van dofheid of helderheid wat „n kleur vertoon. Dit lei deelnemers tot bewustheid van die oneindige variëteite en subtiele skakerings wat kan voorkom. Die deelnemers leer ook van die probleem van kleur- en vormkonstantheid wat geneig is om met persone se observasie in te meng. Kleurkonstantheid verwys na wanneer die brein korrekte insette van die retina vertaal in kleure wat stereotiep aanvaar word, soos om na „n boomstam te kyk en slegs bruin te sien. Op sy beurt vind

vormkonstantheid plaas wanneer die insette van perspektief of die hoek waarteen gekyk word, geïnoreer word en die grootte of vorm steorotiep volgens „n vasgelegde vorm weergegee word. Al hierdie oefeninge word prakties deur die deelnemers toegepas tydens die sessie.

Dit wil voorkom of die aanleer van „n fokus op die moontlikhede wat die akkurate waarneming van kleur bied kan help om onderwerpe korrek te skilder, wat ook help om die waarde te ontdek daarvan om in die hede geanker te wees. Hierdie vaardighede help om „n sensitiwiteit vir situasionele konteks en verskillende perspektiewe te ontwikkel.

Hoe kleurbegrip selfregulering kan bevorder

Die fokusareas wat veral in hierdie gedeelte uitgelig word, hou verband met indagtigheid. Klem word geplaas op „n persoon se vermoë om akkuraat waar te neem, veral om dinge waar te neem vir wat hulle is en om verder ook die inwerking van hul eie vooropgelegde idees ten opsigte van die waarnemingsproses te verstaan. Kleur, nog meer as vorm, vereis akute waarneming en die uitbreiding van „n mens se perseptuele vaardighede – vermoëns wat deur indagtigheid gefasiliteer word. Deelnemers word gewys op die negatiewe rol wat geheue-assosiasies, kondisionering, en

selfgesentreerde neigings speel om hul beeld van die werklikheid te verwring. Die doel van hierdie gedeelte van die program is om indagtigheid op intensionele wyse aan te kweek ten einde „n ontvanklike gemoed te ontwikkel waarmee waarneming suiwer beleef en onpartydig geprosesseer kan word. Deelnemers word daarop gewys dat hul eie stereotipering van die werklikheid waarskynlik deur dieselfde beperkende

konseptualiserings beïnvloed word.

Die aanbieder fasiliteer die idee van indagtigheid tydens hierdie fase veral deur die volgende vrae te vra: In watter mate het ek „n indagtige benadering; met ander woorde, is ek gefokus op die hier en nou? Beleef ek daar sosiaal-gekonstrueerde en interne vooropgestelde struikelblokke wat my weerhou van die belewing van my kreatiewe self? Speel kultuur „n rol en is dit dalk nodig dat ek van bestaande verwysingsraamwerke

moet ontkoppel? Wat speel die belangrikste rol in my gedrag: bewustheid, of

selfrelevante kognisie en oordeel? Is ek geneig tot stereotipering? Maak ek aannames oor myself en ander mense? Moniteer ek my gedrag konstant om seker te maak dat dit in lyn is met my waardes en doelwitte? Misluk my doelwitte soms omdat ek nie genoeg selfbeheer toepas nie?

5.5.2.3 Afdeling 3: Skildertegniek

Dit is veral hier waar „n integrasie van die al die fokusareas beleef kan word. Edwards (2004) baseer haar onderrigmetode vir skilder ook op haar interpretasie van linker- en regterbreinaktiwiteite. Volgens haar berus die vermoë om werklik kreatief te kan skilder daarop dat „n persoon doelbewus sy of haar verbaal-analitiese

linkerbreinmodus moet kan afskakel, omdat dit geneig is om met die kreatiewe proses in te meng deur middel van beperkende neurologiese vasleggings. Sy erken egter dat aspekte van die linkermodus wel geaktiveer moet word tydens die skilderproses aangesien die beplanning, uitvoering en aanpassings aan „n skildery, veral betreffende kleuraspekte en vorm, „n kognitiewe en analitiese komponent behels waarsonder kreatiwiteit nie moontlik is nie. Soos reeds gestel, beoog hierdie studie nie enige kritiek of ondersteuning van die linker-regterbrein debat in kreatiwiteit nie, maar daar word in beginsel dieselfde benadering gevolg – alhoewel vanuit die oogpunt van selfregulerende begrippe en terminologie.