• No results found

FASES FAKTORE

2.5 DIE BEVORDERING VAN SELFREGULERING

Die tekortkoming wat hier aangeraak word en wat ook in hoofstuk een aangedui is, behels die vraag na hoe selfregulering effektief as psigologiese sterkte, spesifiek vanuit „n kreatiwiteitsperspektief, bevorder kan word, of op „n terapeutiese wyse oorgedra kan word. Boekaerts et al. (2005) beveel aan dat heelwat navorsing benodig word ten opsigte van metodes om individuele selfreguleringstrategieë aan te leer. Volgens Bandura (2005) fokus die meeste modelle van selfregulering hoofsaaklik daarop om welstandsgedrag te voorspel, maar hierdie modelle bied beperkte voorstelle oor hoe om dit te verander en te onderhou. Leventhal en Mora (2005) gebruik die voorbeeld van studies wat duidelik aandui dat doelwitgerigte gedrag gefasiliteer word deur outonome en selfgedetermineerde doelwitte, maar nie leidrade verskaf oor die prosesse wat betrokke is in die skep van „n outonome doelwit nie. Voorbeelde van bestaande

programme word in hoofstuk vyf meer spesifiek bespreek, veral die leemtes daarvan, as motivering vir die ontwikkeling van die kreatiewe skilderkunsprogram wat vir hierdie studie ontwikkel is.

Die bespreking tot dusver benader selfregulering as proaktiewe en buigsame sisteem waar mense as pro-aktiewe verhoudingsagente op „n selfdeterminerende wyse optree om doelwitte te bereik deur van interne en eksterne veranderlikes gebruik te maak. In wese is selfregulering dus gemik op aanpasbaarheid, voortdurende keuses, reflektering, en heraanpassing binne die konteks van veelvuldige moontlikhede. Hierdie buigsaamheid van selfregulering word veral deur „n indagtige ingesteldheid daarteen beskerm om deur vooropgelegde, diskriminerende gedagtes gekontamineer te word (Brown et al., 2007a). Daar vind gevolglik verhoogde selfgereguleerde funksionering plaas as gevolg van aaneenlopende sensitiwiteit vir die bestaan van verskillende

realiteite. Die wese van selfregulering kom om hierdie rede inherent dialekties voor. Die term dialekties word hier gebruik in sy oorspronklike vorm, afgelei uit klassieke filosofie, wat neerkom op „n vorm van redenering afgelei van argumente en teen-argumente, oftewel die stel van proposisies (tesis) en teen-proposisies (antitesis), met die oog daarop om „n sintese te bereik of kwalitatiewe veranderings in die gesprek teweeg te bring (Urmson, 1985). Hierdie benadering staan teenoor „n rigiede en struktuurgebonde sisteem waar die fokus val op wetmatighede.

Ten opsigte hiervan beskou Miller, Rathus en Linehan (2007) die dialektiese terapeutiese benadering as toepaslik om verandering te fasiliteer waar dit essensieel is om van inherente teenstrydighede in die proses gebruik te maak ten einde „n kontinue, dinamiese en holistiese raamwerk te skep, waarbinne verskillende realiteite, binne terapeutiese konteks, ondersoek kan word. Tydens hierdie dialektiese proses poog beide die pasiënt en die terapeut om nuwe betekenisse, binne ou betekenisse, te ontdek en beweeg sodoende nader na die essensie van die probleem (Miller et al., 2007). Karoly, Boekaerts en Maes (2005) dui vervolgens aan dat kliniese uitkomste gewoonlik bewegende teikens is, en daarom onderhewig is aan komplekse interne kragte en die invloed van veranderende omgewings. Dit kom dus voor of die oordrag van

selfregulering insigte en vaardighede (aan byvoorbeeld psigiatriese pasiënte) via die dialektiese proses kan plaasvind, soos later wel verder ondersoek sal word.

2.6 GEVOLGTREKKING

In hierdie literatuuroorsig is selfregulering as „n vaardigheid aangetoon wat gevorm word deur „n interaksie tussen neurologiese prosesse en omgewingsfaktore, waardeur „n persoon intensioneel agentskap neem vir eie gedrag. Die neem van agentskap stel „n

persoon in staat om doelwitte suksesvol te realiseer. Hierdie proses verloop oor drie fases, naamlik doelwitbeplanning, doelwituitvoering, en aanpassing, terwyl suksesvolle oorgang tussen fases – by implikasie effektiewe selfregulering – gefasiliteer word deur die gebruik van spesifieke selfregulerende faktore. Alhoewel die fases en faktore onderskeibaar is van mekaar, funksioneer dit as „n integrale, koherente sisteem om individue se vlak van psigologiese gesondheid te bevorder en te onderhou (Caprara & Cervone, 2003).

Die grondslag vir effektiewe selfregulering word reeds tydens die

doelwitbeplanningsfase gelê. Eerstens is aangetoon hoe intrinsieke motivering soos veral uit Selfdetermineringsteorie verleen is, krities belangrik vir selfregulering is en gedryf word deur „n integrasie van die behoeftes aan outonomiteit, bekwaamheid, en verwantskap. Tweedens is aangetoon dat selfeffektiwiteit – „n persoon se persepsie van hoe effektief die doel uitgevoer kan word, bepaal watter aktiwiteite of doelwitte verkies word. Positiewe aannames fasiliteer positiewe terugvoeringslusse om bestaande effektiwiteit te optimaliseer en uit te brei.

Tydens die doelwituitvoeringsfase is daar ten minste drie breë faktore wat effektiewe selfregulering bepaal. Monitering word gebruik om huidige gedrag met persoonlike doelwitte en standaarde te vergelyk, sodat terugvoer verleen word ten opsigte van die mate waarin doelwitte bereik word en of meganismes benodig word om diskrepansieverminderend op te tree. Selfbeheer ondersteun op sy beurt doelgerigte gedrag deur bewuste beheer oor impulse te neem, weerstand teen versoekinge te bied, doelwitte en voornemens te visualiseer, en vooruit te beplan. Laastens dui indagtigheid op „n bewustheid van wat tans plaasvind, en word gekenmerk aan „n oop en ontvanklike prosessering van interne en eksterne gebeure, sonder die inhiberende effek van ego-

investering, geassosieerde intrusiewe gedagtes en vooropgenome idees. Dit fasiliteer „n verhoogde sensitiwiteit vir die mens se omgewing en meer ontvanklikheid vir ander perspektiewe wat meer ruimte laat vir veelvoudige keuses, geïntegreerde optrede en selfregulering in die algemeen.

Tydens die laaste fase, naamlik aanpassing (wat ook as die fase van

diskrepansiebestuur beskou word) moet die interne konflik tussen doelwitte en die haalbaarheid daarvan, hanteer word. Hoewel daar verskeie maniere is waarop individue reageer op diskrepansies tussen gestelde doelwitte en uitkoms van huidige gedrag, is daar volgens Brandtstadter en Rothermund (2002) se dubbelproses-raamwerk twee hoofmodusse van wysiging: Assimilasie dui eerstens op die behoud van gestelde doelwitte en die wysiging van eie gedrag en/of konteks, terwyl akkommodasie die aanpassing van gestelde doelwitte op grond van beskikbare kapasiteit behels. Uiteindelik impliseer effektiewe selfregulering „n sintese wat bereik word wanneer bogenoemde modusse mekaar komplementeer en terselfdertyd geaktiveer word in situasies waar meer haalbare doelwitte bedink moet word omdat hulpbronuitputting bereik is. Dit behels die sensitiwiteit om te bepaal wanneer sekere doelwitte laat vaar sal moet word ten gunste van ander, meer waardevolle en sinvolle doelwitte.

Selfregulering is „n krities-belangrike vaardigheid vir die ontwikkeling en

handhawing van psigologiese welstand, omdat „n milieu van keuses, konsekwentheid en kontinuïteit binne goed geïntegreerde doelwithïerargieë geskep word. Selfregulering verhoog identiteitsontwikkeling en selfverwesenliking deur die skep van „n gevoel van kontinuïteit in „n persoon se lewe (Hofer et al., 2011). Daar is ook aangetoon dat „n negatiewe welstandsgedrag meestal toegeskryf kan word aan „n gebrek aan

Ten laaste is daar is aangetoon dat daar „n behoefte is aan navorsing oor metodes om individuele selfreguleringstrategieë aan te leer (Maes & Karoly, 2005), en dat

praktiese en/of terapeutiese wyses om hierdie selfregulering vaardighede by mense te weeg te bring steeds kortkom. Volgens Bandura (2005) fokus die meeste

selfreguleringsmodelle hoofsaaklik daarop om welstandsgedrag te voorspel, maar bied beperkte voorstelle oor hoe om dit te verander en te onderhou. Uit die navorsing van Miller, Rathus en Linehan (2007) is daar egter aanduidings dat die dialektiese

terapeutiese benadering waarskynlik toegang verleen tot die oordrag van selfreguleringsvaardighde.