• No results found

BEVINDINGS MET BETREKKING TOT DIE DRIE DOELWITTE

SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKING EN AANBEVELINGS

7.2 BEVINDINGS MET BETREKKING TOT DIE DRIE DOELWITTE

7.2.1 Doelwit een: ‘n Verkenning van die teoretiese samehang tussen selfregulering en kreatiwiteit

Die spesifieke doel wat hier ter sprake was, was om die samehang tussen selfregulering en kreatiwiteit teoreties te verken. Die gevolgtrekkings van hoofstukke twee en drie word vervolgens geïntegreerd aangebied.

Daar is aangetoon dat selfregulering eerstens „n vaardigheid is wat ontwikkel deur middel van die interaksie tussen neurologiese prosesse en omgewingsfaktore, wat „n persoon in staat stel om agentskap van eie gedrag te neem en sodoende sinvolle doelwitte te realiseer. Dit is spesifiek gedefinieer as die vermoë om eie denke, emosies en gedrag te beheer (Posner et al., 2007) en wat gekenmerk word aan die uitvoerende, nie-outomatiese vermoë om gedrag buigbaar te beplan, te rig en te moniteer na gelang van veranderende omstandighede (Diaz & Fruhauf, 1991); wat verder sistematies, en in opeenvolgende fases plaasvind (Maes & Karoly, 2005). Hierdie fases, naamlik

doelwitbeplanning, doelwituitvoering, en aanpassing is onderskeibaar maar funksioneer volgens Caprara en Cervone (2003) as „n integrale, koherente sisteem.

Kreatiwiteit is voorts gekonseptualiseer as die vermoë om op „n vars en innoverende wyse toepaslike gedrag in elke fase van selfregulering te genereer; dit kan daarom bydra om doelwitbereiking en by implikasie, uiteindelik psigologiese welstand te bevorder. Op grond hiervan is daar met Benack et al. (1989) se definisie van kreatiwiteit as raamwerk, „n operasionele definisie vir kreatiwiteit as integrale deel van selfregulering voorgestel, wat naamlik aangedui is as die vermoë om nuwe, oorspronklike, maar ook toepaslike gedrag te genereer, te wysig en voortdurend aan te pas, op so „n wyse dat doelwitbereiking en psigologiese welstand bevorder word.

Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat die grondslag vir effektiewe

selfregulering reeds tydens die doelwitbeplanningsfase gelê word, wanneer dit belangrik is dat die individu intrinsiek gemotiveerd is en doelwitte met „n hoë mate van

selfeffektiwiteit kan ontwikkel en beplan. Daar is aangetoon dat kreatiwiteit waardevol tydens hierdie fase is omdat dit intrinsieke motivering en selfeffektiwiteit bevorder, deurdat dit aan die individu „n addisionele vaardigheid verskaf waarmee hy of sy rigiede

vasgelegde denkstyle kan verander, veral om opnuut te beplan en nuwe, toepaslike doelwitte met selfvertroue te kan visualiseer en te implementeer. Terselfdertyd skep kreatiwiteit „n mate van kollektiewe outonomie wat groepskohesie en sinergie bevorder deur sosiale interaksie en „n gevoel van samehorigheid.

Tydens die doelwitbereikingsproses is dit belangrik dat die individu sy of haar eie gedrag moniteer, goeie selfbeheer toepas en indagtig moet wees sodat doelwitte

effektief bereik kan word en wysigings ten opsigte van geantisipeerde diskrepansies vroegtydig en effektief gemaak kan word. Kreatiwiteit is veral hier belangrik omdat dit die individu toerus met beide rasionele en intuïtiewe prosesse waarmee gedrag gemoniteer kan word. Dit ondersteun voorts selfbeheer deur die vermoë om nuwe idees te

visualiseer wanneer die blokkering van doelwitte geantisipeer word, deur veral gedrag om te skakel na iets wat binne die konteks toepaslik en bruikbaar kan wees eerder as om noodwendig of outomaties gedrag te inhibeer. Kreatiwiteit bevorder veral ook

indagtigheid omdat dit „n persoon help om meer buigsaam en vernuwend te dink, en om „n oopheid te ontwikkel vir sinvolle en toepaslike alternatiewe.

Tydens die aanpassingsfase moet die individu diskrepansies tussen gestelde doelwitte en huidige gedrag hanteer deur veral „n toepaslike sintese tussen die wysiging van gedrag (assimilasie) en wysiging van doelwitte (akkommodasie) te vind en uit te oefen. Die gevolgtrekking is gemaak dat die kreatiewe persoon, in aansluiting by Langer (2005b, p. 97), bereid is om te aanvaar dat, “mistakes symbolize our willingness to be in the present”, en diskrepansies tussen doelwitte en uitkomste daarom nie as mislukkings beleef nie, maar eerder as uitdagings wat meer (kreatiewe) alternatiewe beskikbaar stel.

Die oorkoepelende gevolgtrekking kan dus gemaak word vanuit die

literatuuroorsig dat kreatiwiteit eerstens tydens elke fase van selfregulering „n bepalende rol kan speel, en tweedens dat dit „n belangrike, selfs onontbeerlike aspek van

selfregulering skyn te wees; veral in die geval van meer komplekse situasies, met skaars hulpbronne en moeilik bereikbare doelwitte.

7.2.2 Doelwit twee: ‘n Verkenning van die empiriese samehang tussen selfregulering en kreatiwiteit

Die spesifieke doel hier ter sprake, soos aangetoon in hoofstuk vier, was om die samehang tussen selfregulering en kreatiwiteit in „n domein-spesifieke area van

kreatiwiteit, naamlik skilderkuns, te verken.

Die gevolgtrekking is gemaak dat die manier waarop die groep skilders selfregulering en kreatiwiteit beleef grootliks met die literatuuroorsig ooreenstem, maar dat dit sekere aspekte van die samehang duideliker beklemtoon en meer spesifieke inligting na vore bring. Dié gevolgtrekking is gebaseer op die bevinding dat kreatiwiteit en selfregulering, volgens die skilders se belewenis, op vyf duidelik onderskeibare maniere saamhang.

Eerstens reflekteer en verhoog kreatiwiteit intrinsieke motivering deurdat dit uitdrukking gee aan hulle skeppende self wat in lyn is met hulle waardes. Tweedens skakel kreatiwiteit onsekerheid en lae selfeffektiwiteit in iets positief om, veral deurdat dit indagtigheid fasiliteer wat die skilders in staat stel om oop te wees vir hoe dinge self ontvou en hulle toelaat om die onbekende te verken. Dit blyk dat kreatiwiteit „n observerende ego, wat „n persoon laat reageer op „n selfbelewenis sonder kritiek en met

groeiende vertroue, ontwikkel. Derdens bevorder kreatiwiteit aanpasbare selfbeheer, omdat kreatiwiteit vereis dat struikelblokke deur konstante monitering en herevaluering oorkom moet word. Vierdens bevorder kreatiwiteit indagtigheid - wat uiteindelik weer kreatiewe probleemoplossing toelaat en die vermindering van gewoontegedrag asook die fasilitering van selfbeheer en outonomiteit tot gevolg het. Laastens motiveer kreatiwiteit assimilasie, met ander woorde, volgehoue deursettingsvermoë om doelwitte te laat realiseer. Dit gebeur egter moontlik ten koste van „n sintese tussen assimilasie en akkommodasie, maar in die geval van die deelnemers in hierdie fase van die studie, het dit waarskynlik eerder beteken dat kreatiwiteit verhoed dat doelwitte prematuur opgegee word voordat beskikbare hulpbronne nie ten volle benut is nie.

Die oorkoepelende gevolgtrekking uit hoofstuk vier kan dus gemaak word dat die samehang tussen selfregulering en kreatiwiteit nie net teoreties nie, maar ook empiries ondersteun kan word. Dit is veral so omdat die skilders in hierdie fase van die studie baie duidelik die twee konsepte as interafhanklik in hulle eie werk beleef, en hierdie interafhanklikheid baie duidelik aan die hand van praktiese voorbeelde kon demonstreer. Hierdie gevolgtrekking het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die

skilderkunsprogram wat in hoofstuk vyf beskryf is.

7.2.3 Doelwit drie: Die evaluering van die skilderkunsprogram

Die spesifieke doel hier ter sprake, soos aangedui in hoofstuk ses, was om „n kreatiewe skilderkunsprogram waarvan die fokus die bevordering van selfregulering is te ontwikkel, toe te pas, en te evalueer spesifiek vir individue met gebrekkige

Daar is bevind dat die kreatiwiteitsprogram wat vir hierdie studie ontwikkel is, „n prakties betekenisvolle en positiewe verandering in outonomie, selfevaluering,

indagtigheid, en besluitneming, asook „n sigbare verandering in deursettingsvermoë, by die eksperimentele groep teweeggebring het. Hierdie veranderinge was tot drie weke na die program steeds volhoubaar. In teenstelling hiermee het slegs indagtigheid, met medium effek, by die kontrolegroep verbeter terwyl selfevaluering „n prakties

betekenisvolle terugval getoon het. Voorts was die verbetering in indagtigheid by die eksperimentele groep prakties betekenisvol beter as die ooreenstemmende groei in indagtigheid by die kontrolegroep, terwyl outonomie en besluitneming met medium effek beter was.

Indagtigheid het veral uitgestaan as die aspek van selfregulering waarin daar die meeste groei plaasgevind het in terme van beide binnegroep- en tussengroepverskille. Die gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word is dat die program veral die deelnemers in staat gestel het om suiwerder waar te neem en onpartydig te prosesseer – tipiese eienskappe geassosieer met kreatiewe indagtigheid wat Langer (2005a) ook beskryf as die vermoë om onbevooroordeeld waar te neem, wisselende kontekste en perspektiewe in ag te neem, en afstand te doen van vooropgelegde of geykte gedrags- en

denkpatrone.

Die verbetering in outonomiteit, selfevaluering, besluitneming, en in „n mindere mate deursettingsvermoë, bewys dat die program waardevolle potensiaal toon om belangrike aspekte tydens elke fase van selfregulering te verbeter. Hierdie bevinding ondersteun grotendeels die teoretiese en empiriese samehang tussen selfregulering en kreatiwiteit soos in die vorige hoofstukke aangetoon, en impliseer dat hierdie samehang relatief doeltreffend in die skilderkunsprogram, binne die teoretiese en praktiese