• No results found

SELFREGULERING VANUIT ‘N KREATIWITEITSPERSPEKTIEF

3.3 WAT IS KREATIWITEIT?

3.3.1 Kreatiwiteit as individuele vermoë

Daar is konsensus dat kreatiwiteit neurobiologies gegrond is, en daarom is dit toenemend die onderwerp van studie in relatiewe nuwe velde soos kognitiewe neurowetenskappe en kognitiewe neurogenetika (Kaufman, Kornilov, Bristol, Tan, & Grigorenko, 2006). Die populêre idee dat kreatiwiteit slegs die domein van die

regterhemisfeer is, is wel bloot „n oorvereenvoudiging van laterale funksies en daarom word kreatiwiteit eerder algemeen aanvaar as „n funksie van hemisferies-assimetriese aktiwiteit (Kaufman et al., 2006). Dié gedagte kom daarop neer dat die neurale basis vir kreatiwiteit geleë is in die sekwensiële en interaktiewe skakeling van beide hemisfere, wat uiteindelik, volgens Root-Bernstein en Root-Bernstein (2004) „n proses van verskillende intuïtiewe vaardighede (naamlik observering, beelding, abstrahering,

patroonherkenning, patroonvorming, analoogvorming, dimensionele denke, modellering, spel, transformering, en sintesevorming) moontlik maak. Dit word aangevul deur

emosionele en proprioseptiewe sensasies soos empatisering en vereenselwiging, ook op „n sintuiglike vlak. Nelson en Rawlings (2007) bevind dat hierdie intuïtiewe

vaardighede nie impliseer dat vorige ondervinding en bestaande kognitiewe skemas buite rekening gelaat word nie, ten spyte van die oop en eksplorerende houding wat daarmee geassosieer word. Dit kom eerder voor asof die kennis wat opgedoen is tydens vorige ondervinding, die intuïtiewe prosesse bevorder.

Glaveanu (2010) dui aan dat kreatiwiteit egter nie met intelligensie verwar moet word nie, in ondersteuning van Eysenck (1994) wat aangevoer het dat intelligensie nie „n vereiste vir kreatiwiteit is nie en dat intelligente persone daarom nie noodwendig ook kreatief is nie. Glaveanu (2010) dui egter wel aan dat kreatiwiteit en intelligensie oorvleuel, en dat sekere navorsers meen dat die kreatiewe persoon eerder oor „n

ongewone kombinasie van verskillende intelligensies beskik, in plaas van oor „n enkele uitstaande intelligensie. Glaveneau (2010) dui voorts aan dat die algemeenste

persoonlikheidstrekke van kreatiewe persone getipeer kan word as toleransie vir onsekerheid, onafhanklikheid van oordeel, voorkeur vir kompleksiteit, „n sterk begeerte om te skep, intuïtiwiteit, oorspronklikheid en verbeeldingrykheid.

Amabile (1996, p. 94) se “Componential Model of Creativity” is een van die eerste modelle wat die rol van verskeie kognitiewe, persoonlike, motivering en sosiale invloede tydens die kreatiwiteitsproses erken. Hierdie komponente bestaan uit kreatiwiteit-

domein-relevante vaardighede, kreatiwiteit-relevante vaardighede en taakmotivering. Amabile en Hennesey (1992) verbind onder andere kreatiwiteit-relevante vaardighede met verskeie kognitiewe vaardighede wat met divergente denke verband hou, en postuleer dat die versterking van enige van hierdie komponente mense se kreatiwiteit in enige ander domein van kreatiwiteit, selfs die artistieke domein, sal verhoog. Hoë vlakke van intrinsieke motivering sal weer, volgens Amabile (1983), die ontwikkeling van domein-relevante en kreatiwiteit-relevante vaardighede stimuleer en op hierdie wyse kognitiewe en psigo-sosiale faktore integreer. Dit kom dus voor asof selfregulering, soos in die vorige hoofstuk (2.2) aangedui, as „n funksie van verskeie aspekte en ook in samehang met „n sosiaal-kognitiewe konteks, versoenbaar is met kreatiwiteit aangesien van die belangrikste selfreguleringskomponente ooreenstem met die

kreatiwiteitskomponente in Amabile se model.

Ten opsigte van die algemene aard van kreatiwiteit dui Sternberg (2006) aan dat kreatiwiteit, onder andere,

domein-spesifieke en domein-algemene eienskappe toon, in die sin dat sekere algemene kreatiewe kenmerk oor domeine heen voorkom, maar dat spesifieke vermoëndhede vir spesifieke domeine benodig word

Wat domein-spesifieke en domein-algemene eienskappe betref, verskil navorsers in hul opvatting of kreatiwiteit verskillend manifesteer oor domeine heen, en daarom is almal nie met Sternberg hierbo eens nie. Lubart en Guignard (2004) beskou kreatiwiteit byvoorbeeld as domein-spesifiek, teenoor die aanhangers van „n algemeen-spesifiek benadering soos Bernstein en Bernstein (2004). Plucker en Beghetto (2004) meen verder, soos die uitgangspunt ook sal wees in hierdie studie, dat hierdie kwessie nie regtig saak maak nie, omdat die fokus op die kreatiewe proses moet wees, en nie net op die produk nie. Breedweg kan daar, op grond van hierdie verskillende benaderings, drie standpunte oor kreatiwiteit uitgelig word. Hoewel hierdie drie benaderings mekaar nie uitsluit nie en grootliks oorvleuel, lê elkeen op eiesoortige wyse klem op verskillende aspekte.

Kreatiwiteit as die generering van nuwe idees

Feldhusen en Goh (1995) dui aan dat die definisie van kreatiwiteit vir baie lank na Guilford se definisie in 1950 van kreatiwiteit eintlik relatief beperk was, en grotendeels ooreengestem het met die benadering wat gebruik is om intelligensie te definieer. Torrance (1988) verbreed hierdie benadering en definieer kreatiwiteit as „n stel

vermoëns, vaardighede, en motiverings wat in verband staan met probleemoplossing. Hierteenoor verwys Feldhusen en Goh (1995) na Albert (1990) se konsep dat die essensie van kreatiwiteit behels dat dit eerstens uitgedruk word deur besluite (en nie produkte nie); tweedens dat die medium waaruit kreatiewe gedrag onstaan binne die self geleë is; derdens dat kreatiewe gedrag hoogs intensioneel is; vierdens dat kreatiwiteit en

persoonlike identiteit sinoniem is, en laastens dat kreatiewe gedrag persone toelaat om op „n eie persoonlike optimale vlak in die samelewing te funksioneer, soos gebaseer op hul identiteit en vermoëns.

Die generering van nuwe idees word deur de Bono (1993) soos volg beskryf: die menslike brein funksioneer as „n self-organiserende sisteem deurdat inkomende inligting outomaties in voorkeur denkstyle gerangskik word. Hierdie voorkeur denkstyle word gebruik om inligting te herken, wat uiteindelik lei tot persepsiesvan die wêreld wat deur herhaling en daarom deur gewoonte vasgelê word. Kreatiewe denke vind plaas wanneer hierdie persepsies omgekeer word; „n proses wat op sy beurt tot „n verandering in die vasgelegde denkpatrone lei. Met kreatiewe denke word die simmetrie van die

onderliggende neurale patrone verbreek deur „n “sidetrack” in die patroon, wat aanvanklik as onlogies beskou kan word omdat dit nie inpas by die vasgelegde

denkstyle nie, maar uiteindelik sin maak wanneer dit die individu help om by „n oplossing vir „n bepaalde probleem uit te kom. Kreatiwiteit is daarom volgens de Bono (1995) eintlik „n onnatuurlike proses, omdat die omverwerping van patrone nie „n natuurlike proses vir die brein is nie. Volgens de Bono (1995) kan mens hierdie onnatuurlike manier om persepsies te verander, bereik deur wat hy noem „laterale denke‟ toe te pas. Laterale denke help die individu om die natuurlike wyse waarop die brein in vasgelegde patrone dink, te omseil. Voorbeelde hiervan sluit in die gebruik van doelbewuste

omkering van die waargenome volgorde om sodoende oplossings te benader vanaf „n nuwe invalshoek, en ook die generering van provokatiewe stellings waarop nuwe idees gebou word (de Bono, 1995) Kritiek teen de Bono se beskouing wys die vinger na die beweerde pragmatiese aard daarvan, omdat dit – ten spyte van die bydrae tot die ontwikkeling van idees oor kreatiwiteit, nie wetenskaplik gevalideer is nie (Sternberg, 1999). Myns insiens is hierdie benadering se beperking egter dat dit nie die waarde of

toepaslikheid van kreatiwiteit spesifiek aandui nie, en by implikasie dat enige vorm van nuwe denke of idees goed kan wees.

Kreatiwiteit as die generering van nuwe, maar ook toepaslike idees

„n Groot aantal teoretici en navorsers dui aan dat kreatiwiteit meer omvangryk is as net die generering van oorspronklike idees, en dat dit wat deur kreatiwiteit geskep word, ook waardevol en nuttig moet wees. Vernon (1989) glo byvoorbeeld dat konsensus bereik is dat kreatiwiteit die vermoë van „n persoon behels om idees, uitvindings, objekte, insigte ensovoorts te produseer, maar wat dan deur sogenaamde kenners as van hoë wetenskaplike, estetiese, sosiale of tegnologiese waarde beskou kan word. In aansluiting hierby definieer Amabile et al. (1996) kreatiwiteit as die skep van nuwe én bruikbare idees in enige domein, wat aansluit by Mackinnon (1962) se definisie wat kreatiwiteit omskryf as „n proses wat gekenmerk is, nie net aan oorspronklikheid nie, maar ook aan aanpasbaarheid en toepaslikheid. Benack et al. (1989, p. 203) se

beskrywing van die kreatiewe proses vat hierdie benadering baie goed saam, dat dit die volgende behels:

a reponse to ill-defined problems, involving the breaking away from existing ways of thinking, creating relations among dissociated and even contradictory elements, and resulting in novel and valuable products.

Hierdie siening van kreatiwiteit word ook ondersteun deur Torrance se definisie (in Houtz, 2003) as die vermoë om nuwe idees te modifieer en te hertoets om die

geldigheid en dus toepaslikheid daarvan te bepaal. Voorts dui Adam (1996) daarop dat ten spyte van baie maniere waarop kreatiwiteit in die literatuur definieer word, twee elemente deurlopend aan die basis van hierdie definisies lê, naamlik oorspronklikheid en

toepaslikheid. Uiteindelik, volgens De la Harpe (2006), kom de Bono se benadering (kyk vorige gedeelte) ook daarop neer dat kreatiwiteit in essensie die vermoë is om nuut (onlogies) en tegelykertyd rasioneel (logies) te dink, en dat de Bono baie duidelik aangevoer het dat kreatiwiteit meer is as net die generering van nuwe idees. Die integrasie tussen logiese, rasionele denke en oorspronklike, nuwe denke word ook reeds in Guilford (1959) se onderskeid tussen konvergente en divergente denke

aangetref. Konvergente denke dui op die intellektuele vermoë om vanuit „n aantal idees, die mees logiese en toepaslike idee te kies, terwyl divergente denke beskryf word as die intellektuele vermoë om oorspronklike, diverse en verruimende idees te genereer. Divergerende denke dui dus op die individu se vermoë om sy of haar wêreld beter te begryp deur oplossings te soek, asook die praktiese implementering daarvan in die vind van meer as een oplossing vir „n probleem, soos byvoorbeeld om meer as een

gebruikswaarde vir „n stuk tou te vind.

Hieruit is dit baie duidelik dat heelwat navorsers en teoretici kreatiwiteit nie slegs as die skep van kreatiwe idees beskou nie, maar dat hulle die voorwaarde stel dat daardie idees toepaslik, uitvoerbaar en nuttig moet kan wees.

Kreatiwiteit as sistematiese proses

Die klassieke benadering tot die kreatiewe proses meld vyf tipiese stappe, naamlik probleemkonseptualisering, inkubasie, illuminasie, verifiëring, en disseminasie (Ochse, 1990). Probleemkonseptualisering vind op sistematiese kognitiewe wyse plaas

(Sternberg, 2006) terwyl gebruik gemaak word van divergerende denke en „n dialektiese benadering (Benack et al, 1989; Rothenberg, 1990) om „n gepaste en kreatiewe

oplossing te vind vir „n geïdentifiseerde probleem. Inkubasie vind op „n bewustelike of onbewustelike vlak plaas, en geskied wanneer „n mens vir „n wyle die aandag verskuif

van die taak om nuwe insigte of oplossings toe te laat om na vore te tree. Tydens illuminasie onstaan intuïtiewe insigte wat met die probleem geassosieer is, en wat nie noodwendig die gevolg is van die logiese voorafgaande gedagtes nie (Weisberg, 2006), en op hierdie stadium begin die persoon beheer verkry oor die rigting waarbinne die kreatiewe proses gaan verloop. Verifiëring behels die nagaan van die kreatiewe strategie vir foute terwyl idees ook tydens hierdie stap uitgebrei en gewysig word. Tydens die finale stap, disseminasie, word die werk as‟t ware voorgelê vir evaluering binne die spesifieke veld of domein van die kreatiewe taak vir „n waarde-oordeel deur die status quo wat daar in beheer is (Runco, 2006).