• No results found

In Hoofstuk 1 is onder andere kortliks verwys na die toenemende problematiek van selfmutileerders op skool. In Hoofstuk 2 bespreek die navorser bogenoemde problematiek in meer diepte aan die hand van die volgende aspekte:

 ʼn Historiese oorsig oor selfmutilasie as leefwêreldlike verskynsel

 Konsepverklaringe oor selfmutilasie as leefwêreldlike verskynsel

 Die vorme van selfmutilasie

 Die oorsake van selfmutilasie

 Selfmutilasie en verwante toestande

 Identifiseerbare kenmerke van die selfmutileerder

 Die rol van die onderwyser in die hantering van selfmutilasie in inklusiewe

klaskamers

 Die Nasionale Strategie ten opsigte van die Sifting, Identifisering,

Assessering en Ondersteuning van leerders in inklusiewe onderwys

Die inligting wat met die literatuurstudie in hierdie hoofstuk verkry is, is gebruik is vir die opstel van die vraelys om te bepaal hoe kundig en vaardig onderwysers huidiglik is om selfmutileerders te identifiseer en basiese hulp te verleen. Aansluitend by bogenoemde inleidende opmerking oor die werkswyse wat in Hoofstuk 2 gevolg word, fokus die navorser ter wille van volledigheid, eerstens op ʼn historiese oorsig oor selfmutilasie as leefwêreldlike verskynsel.

2.1.1 ʼn Historiese oorsig oor selfmutilasie as leefwêreldlike verskynsel

Timofeyev et al. (2002) wys daarop dat voorbeelde van selfmutilasie reeds in die Bybelse geskiedenis voorgekom het, soos gevind word in Mattheus 5:29- 30 en Markus 9:43-47 (Bybel Naslaan, 2008:961 & 1011). Timofeyev et al. (2002) vermeld dat selfmutilasie ʼn erkende gebruik was onder Christene gedurende die elfde eeu.

Volgens Menminger (1938:218) was selfmutilasie in die tydperk voor die elfde eeu ook grootliks geassosieer met religieuse gebruike. Volgens Strong (1998:29) het Christene in hierdie periode na selfmutilasie verwys as

“selfpyniging van die vlees”, terwyl gevalle aangemeld is waar Christene

hulleself gekruisig of gemutileer het as deel van religieuse seremonies.

Volgens Timofeyev et al. (2002) is die eerste geval van selfmutilasie gedurende 1846 aangemeld nadat ʼn weduwee haar eie oë verwyder het as gevolg van skuldgevoelens wat sy ervaar het. ʼn Verdere bekende voorbeeld van selfmutilasie wat in die geskiedenis gedurende 1888 voorgekom het, is die van die begaafde kunstenaar Vincent van Gogh, wat sy eie oor gemutileer het na ʼn rusie met sy vriend Paul Gauguin (Timofeyev et al., 2002). Ander

gevalle van selfmutilasie wat vermeld word, is as ʼn vorm van neurotiese

gedrag beskou. Menminger (1938:224) meld byvoorbeeld dat daar vanuit ʼn psigoanalitiese perspektief gekyk is na voorvalle van selfmutilasie waar kastrasie van die genitalieë plaasgevind het. Timofeyev et al. (2002) wys daarop dat die eerste navorsing oor die voorkoms en rede vir selfmutilasie gedurende die begin van die twintigste eeu onderneem is. Hulle verwys onder andere na die bekende sielkundige Sigmund Freud, wat soos volg opgemerk het oor selfmutilasie as leefwêreldlike verskynsel in sy teorie oor Lewe en Dood:

“ ... the person withdraws from human connections and retreats into a narcissistic position, silently driving him or herself towards death”.

In aansluiting by die voorgaande opmerking van Timofeyev et al. (2002), het Menminger (1938:250) selfmutilasie as gedeeltelike selfmoord beskryf en

“ ... self-mutilation is actually a compromise formation to avert total annihilation, that is to say, suicide ...”

Volgens Strong (1998:32) het werklike insig oor selfmutilasie eers gedurende die afgelope sestig jaar na vore getree en het navorsers besef selfmutilasie is nie ʼn onderafdeling van byvoorbeeld histerie nie, maar ʼn manier waarop die selfmutileerder poog om in beheer van hom-/haarself te wees. Gedurende die 1960‟s is daar vir die eerste keer in navorsing gefokus op gemeenskaplike faktore onder selfmutileerders.

Timofeyev et al. (2002) merk aansluitend by bogenoemde opmerking op dat hedendaagse navorsing oor selfmutilasie geskoei is op die bevindinge en navorsingswyse van Pattison en Kahan (1983:867-872), wat selfmutilasie vir navorsingsdoeleindes in die volgende drie kategorieë verdeel het, naamlik:

 die graad van die selfmutilasie;

 die metode of wyse van selfmutilasie; en

 die herhaaldelike voorkoms van selfmutilasie by ʼn persoon.

Met bogenoemde kriteria in gedagte is daar gedurende 1990 omvattende navorsing oor selfmutilasie onderneem en is dit in 1996 gedokumenteer deur

Favazza en Rosenthal in hulle bekende werk: ―Bodies Under Siege‖ (in

Timofeyev et al., 2002).

Gedurende die negentigerjare en tydens die nuwe millennium is selfmutilasie toenemend vanuit verskeie vakwetenskappe nagevors, soos byvoorbeeld in Maatskaplike Werk en Sielkunde deur Stanley, Gameroff, Michaelsen en Mann (2001:427-431) sowel as Klonsky, Oltmans en Turkheimer (2003:1501- 1508).

Selfmutilasie het ook meer in die publieke oog gekom vanweë die feit dat bekende persone erken het dat hulle hulleself mutileer, soos byvoorbeeld Prinses Diana van Wallis, Angelina Jolie en Johnny Depp (Strong, 1998:19; Caperton, 2004:7; Shapiro, 2008:125).

Sedert die aanbreek van die nuwe millennium is daar ook in Suid-Afrika ʼn groter bewustheid oor die voorkoms van selfmutilasie. Die Afrikaanse Sondagkoerant, Rapport, het byvoorbeeld ʼn artikel gepubliseer met die opskrif “Selfskending onder tieners word bestempel as die nuwe heroïen van die

jeug” (Anon., 2006:14) terwyl selfmutilasie ook soms vermeld is in radio- en

TV-programme.

Ten spyte van bogenoemde navorsingsinisiatiewe en ʼn groter bewustheid van selfmutilasie as leefwêreldlike verskynsel word selfmutilasie steeds as ʼn onderafdeling van die grenslynpersoonlikheidsversteuring beskou in die Diagnostic Statistical Manual of Mental Disorders (DSM-IV TM) (1994:654), en bestaan daar tans weinig navorsing oorsee sowel as in Suid-Afrika oor die moontlike hulpverleningsrol wat die onderwyser kan vertolk om selfmutilasie te voorkom.

In aansluiting by die genoemde historiese bespreking en slotopmerkinge wil die navorser vervolgens aandag gee aan enkele konsepverklaringe oor selfmutilasie en daarna fokus op die verskil tussen selfmutilasie en selfmoord.