• No results found

2.4 SELFMUTILASIE EN VERWANTE TOESTANDE

2.4.4 Angsversteuringe en selfmutilasie

In aansluiting by post-traumatiese gedragsversteuringe, wat eintlik ʼn angsversteuring is (Turner, 2002:110), is daar ook ander angsversteuringe wat ʼn noue verband toon met selfmutilasie.

Volgens Turner (2002:110) vertoon die volgende angsversteuringe ʼn noue verband met die voorkoms van selfmutilasie:

 algemene angsversteuringe;

 paniekaanvalle; en

 obsessiewe-kompulsiewe versteuringe.

Vervolgens word elkeen van die angsversteuninge kortliks omskryf.

2.4.4.1 Algemene angsversteuringe en selfmutilasie

Die DSM-IV TM (1994:432-436) omskryf algemene angsversteuringe as ʼn uitermatige belewenis van angstigheid en bekommernis met die volgende gepaardgaande simptome: rusteloosheid, moegheid, swak konsentrasie, geïrriteerdheid, spierspanning en slaapversteurings.

Verskeie navorsers soos Turner (2002:100-101), Cutter et al. (2008) en Dougherty et al. (2009:22-27) het bevind dat algemene angsversteuringe aanleiding kan gee tot selfmutilasie. Ter ondersteuning van die vermelde bevindinge verwys Johnson (2003:10) na die navorsing van Ross en Heath (2002:67-77) wat bevind het dat hoë vlakke van angs teenwoordig is by selfmutileerders. In aansluiting by Ross en Heath (2002:67-77) is Turner (2002:52) ook van mening dat daar ʼn noue verband bestaan tussen algemene angsversteuringe en selfmutilasie. Sy merk byvoorbeeld op dat angs een van die emosies is wat die selfmutileerder die meeste van die tyd beleef voordat selfmutilasie plaasvind.

2.4.4.2 Paniekaanvalle en selfmutilasie

Die DSM-IV TM (1994:395) omskryf paniekaanvalle as ʼn periodieke belewing van intense vrees of ongemak, waartydens vier (of meer) van die volgende simptome skielik ontstaan en ʼn piek bereik binne tien minute. Die simptome manifesteer as palpitasies, sweet, bewing of rukking, „n sensasie van versmoring of asemtekort, ervaring van verstikking, borspyne, naarheid,

maagongemak, lighoofdigheid, gevoelens van depersonalisasie en

onwerklikheid, vrees vir beheerverlies, vrees vir doodgaan en koue en warm gloede.

In die DSM-IV TM (1994) se omskrywing van paniekaanvalle meld Connors (1996:197-206) en die National Institute of Mental Health (2001) verder dat die volgende verwante toestande saam met paniekaanvalle voorkom: eenvoudige fobies, sosiale fobies, depressie, obsessiewe-kompulsiewe gedragsversteuringe, alkohol- en dwelmmisbruik en selfmoordgeneigdheid. In die lig van bogenoemde beskrywing van die simptome en verwante toestande wat met paniekaanvalle geassosieer word, wil dit voorkom asof daar ʼn verband bestaan tussen selfmutilasie en paniekaanvalle. Enersyds omrede die selfmutileerder ook angs of paniek belewe voor en nadat hy/sy hom- /haarself mutileer en andersyds bestaan daar ʼn noue ooreenkoms met verwante toestande wat die paniekversteurde belewe, te wete: depressie,

obsessiewe-kompulsiewe gedrag, alkohol- en dwelmmisbruik en ʼn

geneigdheid tot selfmoord (Malon & Berardi, 1987:531-541; Davidson & Frey, 2007; Cutter et al., 2008; Cloutier et al., 2009:259-269; Dougherty et al., 2009:22-27).

2.4.4.3 Obsessiewe-kompulsiewe versteuringe en selfmutilasie

Uit die literatuur blyk dit dat daar ʼn noue verband tussen obsessiewe- kompulsiewe versteuringe en selfmutilasie bestaan (Yaryura-Tobias, 1977:317-326; Yariyura-Tobias, Neziroglu & Kaplan, 1995:33-38; Smith, 2005; Reed Gates, 2007; Giusti, Tavares, Miguel & Scivoletto, 2008:273-274). As toeligting tot die bogenoemde inleidende opmerking, wil die navorser vervolgens enersyds fokus op ʼn nadere omskrywing van obsessiewe-

kompulsiewe versteuringe, en andersyds ook let op die verband daarvan met selfmutilasie. Die DSM-IV TM (1994:422-423) omskryf die volgende ses diagnostiese kriteria vir obsessiewe-kompulsiewe versteuringe:

(1) herhalende, volhoudende denke, impulse of beelde wat inmeng met ʼn

persoon se daaglikse funksionering en angs en spanning veroorsaak.

(2) bogenoemde denke, impulse of beelde is nie blote gewone uitermatige

alledaagse bekommernisse oor probleme nie.

(3) die persoon probeer sodanige denke, impulse of beelde onderdruk of

neutraliseer deur ander denke of aksies aan te wend.

(4) die persoon is daarvan bewus dat die obsessiewe denke, impulse of

beelde ʼn produk is van sy/haar eie verbeelding en nie geanker is in realiteit nie.

Die kriteria vir kompulsiewe gedrag sluit die volgende in:

(1) Herhalende gedrag wat die persoon gedwing voel om uit te voer as

respons op ʼn obsessie of as gevolg van reëls wat rigied toegepas moet word.

(2) Die herhalende gedrag is gerig op die voorkoming of vermindering van

spanning of stres of die voorkoming van moontlike gevreesde gebeure of situasies. Hierdie gedrag is egter nie realisties verbind met dit wat die gedrag veronderstel om te neutraliseer of te voorkom nie, of is buitensporig van aard.

In aansluiting by bogenoemde diagnostiese kriteria van obsessiewe- kompulsiewe versteuringe soos aangedui deur die DSM-IV TM (1994:422- 423) vermeld Cutter et al. (2008) en Dougherty et al. (2009:22-27) dat die meeste persone wat as obsessief-kompulsief gediagnoseer word, obsessies sowel as kompulsies beleef, hoewel daar individue is wat slegs obsessies of kompulsies beleef. Genoemde outeurs onderskei verder tussen die simptome van obsessiewe denke en kompulsiewe handelinge wat met obsessiewe-

Simptome wat met obsessiewe denke verband hou sluit onder andere die

volgende in: vrees om deur kieme of vullis besmet te word of ʼn vrees om

iemand anders te besmet; vrees om jouself of andere te beseer; ingrypende seksuele of gewelddadige eksplisiete denke of beelde; buitengewone fokus op morele en religieuse idees; vrees dat jy iets mag verloor of vrees dat jy iets gaan nodig kry wat jy nie besit nie; orde en simmetrie; die idee dat alles reg georden moet wees; bygelowigheid; en die buitengewone fokus op dit wat beskou word as gelukkig of ongelukkig.

Simptome wat met kompulsiewe gedrag verband hou sluit onder meer die volgende in: buitengewone fokus op sekerheid, soos byvoorbeeld om seker te wees deure is gesluit, toerusting is afgeskakel; herhaaldelike besoeke aan geliefdes om seker te wees van hulle veiligheid; tel van voorwerpe, herhaling van sekere woorde of handelinge om angs te verminder; spandeer baie tyd aan was en skoonmaak; spesifieke ordening of rangskikking van dinge of gebeure; bid onophoudelik of herhaal rituele handelinge as gevolg van religieuse vrese; en die versameling van rommel soos ou koerante, tydskrifte en leë houers.

In aansluiting by bogenoemde diagnostiese kriteria en simptome van obsessiewe-kompulsiewe versteuringe, blyk dit dat kompulsiewe, impulsiewe en herhalende vorme van selfmutilasie ʼn noue verband toon met obsessiewe- kompulsiewe versteuringe. Voorbeelde van kompulsiewe selfmutilasie is onder andere die byt van die naels en die skending van die vel (dermatilomanie) (Stein, Simeon, Cohen & Hollander, 1995:28-34; Smith, 2005).

Verdere studies wat onderneem is om die verband tussen selfmutilasie en obsessiewe-kompulsiewe versteuringe te bepaal, is byvoorbeeld die van Yaryura-Tobias et al. (1995:33-38). In hulle studie met negentien vroulike pasiënte wat aan obsessiewe-kompulsiewe versteuring en selfmutilasie gely het, het hulle bevind dat die rede vir selfmutilasie by vroulike pasiënte geleë was in die verligting van spanning; en dat selfmutilasie aan hulle gevoelens van plesier en genoegdoening verskaf het. Verder het bogenoemde outeurs bevind dat selfmutilasie afneem sodra serotonienbehandeling toegepas word.

Vervolgens word die verband tussen impulskontrole versteuringe en selfmutilasie toegelig.