• No results found

4.6 DATAVERSAMELINGSINSTRUMENTE

4.6.2 Die ontwerp van die vraelys

4.6.2.2 Die struktuur van die vraelys

Met verwysing na die literatuur is die vraelys so ontwikkel dat dit enersyds onderwysers se kennis en vaardighede ten opsigte van die identifisering van selfmutilasie kon bepaal, en andersyds kon bepaal wat hulle houding is ten

opsigte van die moontlike implementering van ʼn opleidingsprogram vir die

ondersteuning van en basiese hulpverlening aan selfmutileerders in inklusiewe klaskamers.

Die navorser het een vraelys ontwerp wat in Afrikaans en Engels beskikbaar was. Beide vraelyste is van ʼn meegaande inligtingsbrief voorsien wat die doel van die vraelys aan die deelnemers verduidelik het. Die vraelys was verder onderverdeel in vyf afdelings (cf. Addendum D ).

Afdeling A: Biografiese Inligting en Opleiding as Onderwyser wat vir die statistiese ontleding gebruik is om doelwit vyf te bereik.

Afdeling B. Kennis aangaande leerders wat hulleself mutileer. Die sewe

geslote vrae wat in hierdie afdeling gevra is, was gerig op die onderwyser se kennis aangaande die konsep selfmutilasie en om hulle kennis rakende die verskeie vorme wat selfmutilasie aanneem, te bepaal. Verder is ook gepoog om vas te stel of die onderwysers al selfmutileerders in hulle klasse gehad het, en indien wel, hoeveel seuns/dogters betrokke was en op watter wyses die leerders hulleself gemutileer het. Met hierdie afdeling het die navorser beoog om doelwitte een en drie te bereik.

Afdeling C. Die redes/oorsake vir die identifisering van selfmutilasie,

asook die moontlike impak daarvan op onderrig en leer en emosionele en sosiale ontwikkeling, is in hierdie afdeling vasgestel. In hierdie afdeling wat uit twee geslote en twee oop vrae bestaan het, wou die navorser aan die onderwyser die geleentheid bied om sy eie mening of siening te opsigte van selfmutilasie weer te gee. Hierdie afdeling het gefokus op die bereiking van doelwitte een en twee.

Afdeling D. Hierdie afdeling het gefokus op onderwysers se menings

rakende die moontlike implementering van ʼn opleidingsprogram om onderwysers te bemagtig vir die bewusmaking en ondersteuning van leerders wat hulleself mutileer in inklusiewe klaskamers. Die afdeling het uit vier geslote en drie oop vrae onderskeidelik, bestaan. Verder het die navorser ook vasgestel oor watter kennis en vaardighede die onderwyser beskik om leerders wat sekere hindernisse ten opsigte van leer ervaar, te ondersteun, of hulle enersyds geleenthede skep om sodanige leerders te ondersteun, en andersyds of daar ondersteuningstrukture in inklusiewe onderwys bestaan vir basiese hulpverlening aan sodanige leerders, wat ook selfmutileerders insluit. Met die items in hierdie afdeling wou doelwitte een, vier en ses bereik word.

4.6.2.3 Die loodsondersoek

ʼn Steekproef van 50 onderwysers wat nie deel van die oorspronklike steekproef was nie, is geïdentifiseer vir die loodsondersoek uit Distrik D8 in Vanderbijlpark, om die kwaliteit en toepaslikheid van die vraelys vas te stel. Die uitkoms van die loodsondersoek was ʼn aanduiding of die vraelys ʼn betroubare en geldige instrument is. Die Statistiese Konsultasiediens van die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus is gebruik om die geldigheid en betroubaarheid van die dataversamelingsinstrument te bepaal. Die bevindinge van die loodsondersoek word in Hoofstuk 5 weergegee (cf. 5.2). Ten einde te verseker dat die vraelys aan die kriteria vir betroubaarheid voldoen het, moes die navorser homself vergewis van die statistiese prosedures waarvolgens betroubaarheid bepaal word. Die prosedures word in die volgende afdeling van nader toegelig.

4.6.2.4 Die betroubaarheid van die vraelys

Die betroubaarheid van ʼn instrument hou verband met die konsekwentheid van die metings, die presiesheid waarmee dit meet, asook die mate waarin foute in die meting teenwoordig is (Cohen & Swerdlik, 2002:666). Hoë betroubaarheid word verkry wanneer die instrument dieselfde resultaat sal lewer as die navorsing op dieselfde steekproef herhaal word (Maree & Pietersen, 2007a:147). Om aan hierdie vereistes te beantwoord is die Cronbach-Alpha-koëffisiënt en inter-itemkorrelasies gebruik.

Die Cronbach-Alpha-koëffisiënt is bereken om die interne konsekwentheid van die verskeie afdelings in die vraelys te bepaal. Die Cronbach-Alpha is ʼn betroubare koëffisiënt wat die mate waartoe items (soos byvoorbeeld voorkom in ʼn vraelys) betroubaar is tot mekaar, bereken (Akbaba, 2006:183). Die Cronbach-Alpha meet die konsekwentheid tussen individuele items in ʼn skaal (Simon, 2008). Sekaran (2000) wys daarop dat interne konsekwente betroubaarheid hoër word soos die Cronbach-Alpha nader aan 1 beweeg. In die meeste Sosiale Wetenskappe word ʼn Cronbach-Alpha-koëffisiënt van tussen 0.7 en 0.8 as aanvaarbaar beskou, wanneer daar gewerk word met ʼn groep items wat oorweeg moet word op ʼn skaal (soos in die geval van die

onderhawige studie), sommige gebruik egter 0.75 of 0.8, terwyl ander meer toegeeflik is en 0.60 aanvaar (Simon, 2008). Volgens Simon (2008) en

Garson (2008) is 0.60 toepaslik vir ʼn eerste verkennende studie rakende „n

onderwerp. Die data in Tabel 5.1 en 5.2 (cf. 5 2) dui aan dat die vraelys aan betroubaarheidskriteria voldoen het.

Inter-itemkorrelasies is ook bepaal vir die items wat in die verskeie afdelings van die vraelys voorgekom het. Inter-itemkorrelasies word gebruik om die betroubaarheid van die dataversamelingsinstrument te bepaal deur te skat hoe goed die items wat dieselfde konstruk reflekteer, dieselfde resultate weergee (Trochim, 2006). Volgens Clark en Watson (1995:316) is inter-

itemkorrelasies van tussen 0.15 en 0.5 ʼn aanvaarbare waarde. Die vraelys

wat deur die navorser in die betrokke studie gebruik is, het aan die vereistes beantwoord (cf. Tabel 5.3).

Aansluitend by bogenoemde omskrywinge is ook gefokus op kriteria om die geldigheid van die vraelys wat in die betrokke navorsing gebruik is, te verseker.

4.6.2.5 Die geldigheid van die vraelys

Geldigheid in die navorsing is verseker deur aan kriteria vir inhouds-, konstruk- en gesiggeldigheid te voldoen.

Inhoudsgeldigheid verwys na die mate waarin die instrument die hele

inhoud van die spesifieke konstruk wat dit omsluit volledig meet (Maree & Pietersen, 2007d:217). Inhoudsgeldigheid dui aan hoe goed die onderskeie dele van die inhoudsdomein wat in die vraelys ondersoek word, verteenwoordig is in toepaslike dele in die vraelys (Leedy & Ormrod, 2005:92). In hierdie betrokke navorsing was die inhoudsgeldigheid van die dataversamelingsinstrument ondersteun deur die feit dat die vraelys

gekonstrueer is volgens die essensiële komponente van die

inhoudsdomein, soos beklemtoon in die literatuur en in ooreenstemming met die doelstellings van die studie, naamlik die aard, kenmerke en redes/oorsake vir selfmutilasie; ondersteuningstrukture vir hulpverlening

aan leerderbehoeftes, insluitend selfmutilasie sowel as menings ten

opsigte van die implementering van ʼn opleidingsprogram vir die

bemagtiging van onderwysers vir die identifisering van en ondersteuning aan selfmutileerders in inklusiewe klaskamers.

 Aansluitend by bogenoemde omskrywing het die navorser, soos reeds

vermeld, ook gefokus op konstrukgeldigheid tydens die samestelling van die vraelys. Volgens Maree en Pietersen (2007c:217) is konstruk- geldigheid die tipe van geldigheid wat benodig word vir standaardisering, en gaan dit oor hoe toepaslik die konstruk wat deur die instrument gedek word, gemeet is deur verskillende groepe of verwante items. Volgens Leedy en Ormrod (2005:92) dui konstrukgeldigheid op die mate waartoe ʼn instrument ʼn kenmerk meet wat nie direk waargeneem kon word nie, maar na verwys moet word. Die navorser benodig die bewys dat die vraelysitems die bepaalde konstruk meet. Cronbach Alpha koëffisiënte wat bepaal is, het aangedui dat die vraelys wel die konstruk waarop dit gefokus het, gemeet het (cf. 5.2). Verder het die promotor en mede- studieleiers wat kenners van die vakgebied was, die vraelys gekontroleer vir konstrukgeldigheid, voordat dit gebruik is.

Die vraelys het ook beantwoord aan die kriteria vir gesiggeldigheid,

omrede die instrument gemeet het wat die navorser wou gehad het dit moes meet (Leedy & Ormrod, 2005:92). Die verskeie afdelings in die vraelys was daarop gerig om in ooreenstemming met die doelstellings van die studie, onderwysers se kennis en vaardighede ten opsigte van die identifisering van selfmutilasie te bepaal en om vas te stel of hulle ten gunste was van die implementering van ʼn opleidingsprogram vir die bemagtiging van onderwysers vir die identifisering van en ondersteuning en basiese hulpverlening aan selfmutileerders in inklusiewe klaskamers. Die vraelys het dus voldoen aan die betroubaarheids- en geldigheidskriteria en het genoegsaam die aard van die konstruk gedek om sodoende te verhoed dat verkeerde afleidings gemaak word (McMillan & Schumacher, 2006:141).

Vervolgens fokus die navorser op ‟n nadere omskrywing van die deelnemers aan die studie.

4.7 POPULASIE EN STEEKPROEF

Welman et al. (2005:52) en Freedman en Taub (2006:33) omskryf ʼn populasie as ʼn totale versameling van eenhede/mense, in die geval van die studie, alle onderwysers in Suid-Afrika wat in inklusiewe klaskamers onderrig gee, waaroor die navorser ʼn gevolgtrekking wil maak. Op grond van tyd, logistiese en finansiële redes, kan ʼn totale populasie selde in ‟n studie gebruik word, en word ʼn steekproef van die populasie geneem om ʼn navorsingsprobleem te ondersoek. Freedman en Taub (2006:119), McMillan en Schumacher (2006:119) en Maree en Pietersen (2007c:172) onderskei tussen die volgende vorme van steekproeftrekking:

 onwaarskynlike selektering; en

 waarskynlike selektering.

Vervolgens sal hierdie twee wyses van selekterings van steekproewe kortliks nader omskryf word, en die navorser se keuse vir die selektering van die steekproef gemotiveer word.

In aansluiting by Whitley (2002:394), Leedy en Ormrod (2005:199-2006) en Freedman en Taub (2006:16-17) bestaan onwaarskynlike selektering uit deelnemers van wie die navorser dit maklik vind om inligting te bekom. Deelnemers word geselekteer as navorsingsdeelnemers en nie omrede hulle verteenwoordigend is van die populasie nie, maar omrede dit vir die navorser maklik is om die beoogde data vanaf die geselekteerde deelnemers te verkry (onderwysers – studiepopulasie). Vir die doeleindes van die betrokke studie het die navorser eerstens gebruik gemaak van ʼn doelgerigte en gerieflikheidsteekproef.

In hierdie studie het die navorser se studiepopulasie bestaan uit Hoërskole in

die D2- en D12-distrikte van die Gauteng Departement van Onderwys. ʼn

het die studiepopulasie gevorm. Hierdie twee distrikte is as die studiepopulasie gekies omrede die navorser uit die aard van sy werk as Sielkundige in hierdie areas, goeie kontak met skoolhoofde in hierdie twee distrikte het, en dus maklike toegang tot die skole kon verkry. Daar is doelgerig hoofsaaklik op Hoërskoolonderwysers gefokus, aangesien die literatuur aangedui het dat die meerderheid selfmutileerders onder andere tussen 11 en 15 jaar oud kan wees (cf. 1.1). Die besluit om van ʼn doelgerigte steekproefneming gebruik te maak het op die navorser se oordeel berus, omrede hy van mening was dat hy die verlangde inligting rakende die navorsingsprobleem by die onderwysers in die betrokke skole sou kry.

Van die nagenoeg 43 onderwysers wat daar in elke skool was, is daar met behulp van waarskynlike, willekeurige steekproefneming 20 onderwysers in elke skool geselekteer om aan die studie deel te neem met behulp van ‟n tabel met willekeurige nommers (Leedy & Ormrod, 2005). Volgens Freedman en Taub (2006:14) verwys waarskynlike selektering na ʼn wyse van selektering wanneer enige persoon in die populasie ʼn kans staan om geselekteer te kan word vir navorsing. ʼn Totaal van 320 onderwysers is willekeurig vanuit die agt Oud-Model C- skole (n = 160) en agt Township-skole (n = 160) getrek om aan die navorsing deelgeneem. Een van die Township-skole se onderwysers se vraelys was onvolledig voltooi, en is aan die studie onttrek, wat meegebring het dat 159 Townhip-skool onderwysers aan die studie deelgeneem het. Die onderwysers was onderskeidelik manlik en vroulik, blank en nie-blank, en Afrikaans- en Engelssprekend met verskillende jare dienservaring en kwalifikasies.

Met voorgaande omskrywinge rakende die deelnemers aan die studie wil die navorser volstaan, en vervolgens fokus op die analise en interpretasie van die data.