• No results found

2.6 DIE ROL VAN DIE ONDERWYSER IN DIE HANTERING VAN

2.6.2 Die gemeenskaps en pastorale rol van die onderwyser

Aansluitend by die voorafgaande omskrywinge aangaande die onderwyser se rol as implementeerder van inklusiewe onderwys, bepaal die Norme en Standaarde vir Opvoeders (in SA, 2000:reg. 3) dat die onderwyser benewens ses ander rolle, ook ʼn gemeenskaps- en pastorale rol het om te vertolk (SA., 1996:47).

Die navorser is bewus daarvan dat navorsers, soos onder andere Hoadley (2007:251-258), krities staan teenoor die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser. Om hierdie kritiek in perspektief te plaas sal die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser eerstens aan die orde gestel word, waarna die onderwyser se belewenis van inklusiewe onderwys, sowel as Hoadley (2007) se kritiek en dié van ander outeurs teenoor hierdie rol, nader belig sal word.

In aansluiting by die Norme en Standaarde vir Opvoeders (SA, 2000:reg. 3), word die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser onderverdeel in die volgende bevoegdhede: praktiese bevoegdhede, grondslagbevoegdhede en refleksiewe bevoegdhede. Die verskillende bevoegdhede van die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser sal vervolgens bespreek word in ooreenstemming met die Norme en Standaarde vir Opvoeders (SA, 2000:reg. 3).

Praktiese bevoegdhede

Onder praktiese bevoegdhede word die volgende veronderstel: Die

onderwyser moet, binne ʼn outentieke konteks, aantoon/aandui hoe om ʼn

verskeidenheid van moontlikhede vir aksie te oorweeg, om oorweegde besluite ten opsigte van die moontlikhede wat volg te neem, en om die gekose aksie uit te voer.

Onder andere word veronderstel dat onderwysers lewensvaardighede by leerders vestig; leiding aan leerders gee ten opsigte van werk- en studiemoontlikhede; reageer teenoor sosiale en opvoedkundige probleme soos geweld, dwelmmisbruik en mishandeling; en ondersteuning gee aan leerders wat sosiale en leerprobleme ondervind. Dit blyk uit die pas vermelde bevoegdhede dat die onderwyser ook ten opsigte van selfmutilasie, wat leer en sosiale probleme vir ‟n leerder kan meebring ‟n taak het om te vervul.

Grondslagbevoegdhede

Die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser ten opsigte van grondslagbevoegdhede veronderstel die volgende: Die onderwyser moet enersyds aantoon dat hy/sy oor die vermoë beskik om optrede en besluitneming te inkorporeer, en om andersyds aan te pas by veranderinge en om sy optrede te kan verklaar of te kan regverdig. In die konteks van die studie is dit veral belangrik dat die onderwyser kundig moet wees met betrekking tot hindernisse tot leer en oor die kennis beskik vir die oorkoming van hierdie hindernisse. Kundigheid ten opsigte van die beskikbaarheid van ondersteuningsdienste en hoe hierdie dienste aangewend kan word, is ook ‟n belangrike grondslagbevoegdheid waaroor die onderwyser moet beskik.

Refleksiewe bevoegdhede

Onder refleksiewe bevoegdhede word die onderwyser se bevoegdheid om optrede en besluitneming met begrip te integreer, asook die vermoë om aan te pas by veranderinge en om hulle optrede te kan verklaar, verstaan. Die refleksiewe bevoegdhede verwag van onderwysers om kundig te wees met betrekking tot die inskakeling van intervensie-strategieë om leerprobleme en ander probleme te voorkom. In aansluiting by hierdie bevoegdhede waaroor die onderwyser moet beskik, is die navorser van mening dat die onderwyser ʼn kardinale rol kan vertolk in die identifisering van en hulpverlening aan die selfmutileerder. ‟n Belangrike voorwaarde om hierdie rol te kan vertolk, is dat onderwysers opgelei moet wees om die selfmutileerder te kan identifiseer, en oor inligting moet beskik om basiese hulp en ondersteuning te kan verleen.

Shalem en Slonimsky (1999:2-30), Morrow (2005:56) en Hoadley (2007:254) is egter van mening dat die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser nie tradisioneel by hom/haar hoort nie, en hom/haar verhoed om toereikend te fokus op die kernfunksie van onderwys, te wete: onderrig en leer. Ter ondersteuning van haar standpunt dat addisionele rolle nie aan onderwysers toegedig moet word nie, opper Hoadley (2007:254-256) die volgende besware.

Die eerste beswaar wat Hoadley opper teenoor die implementering van addisionele rolle (soos byvoorbeeld die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser) is dat navorsing bewys het dat onderwysers tans reeds oorbelas is en sukkel om die drie kerntake van onderwys; onderrig, leer en bestuur, suksesvol uit te voer en daarom nie ʼn addisionele werklas sal kan hanteer nie (in Chisholm, Hoadley, Kivilu, Brookes, Prinsloo, Kgobe, Mosia, Narsee & Rule, 2005:60-127).

ʼn Tweede beswaar wat Hoadley (2007:254-256) opper teenoor addisionele rolle vir onderwysers is dat daar ontoereikende hulpbronne tot die beskikking van onderwysers is om addisionele take wat nie met onderrig en leer verband hou nie, uit te voer. Ter ondersteuning hiervan verwys Hoadley (2007:254- 256) na die navorsing van Chisholm et al. (2005:111-127) wat bevind het dat sestig persent van die onderwysers aan stres en spanning ly, en hulle navorsing het bevestig dat die addisionele rolle wat hulle moet vertolk verantwoordelik is vir die stres en spanning in hulle werk.

Aansluitend hierby en ter ondersteuning van Hoadley (2007:254-256) se mening merk Giese, Meintjies en Monson (2005:39-41) op dat hoewel die onderwyser en die skool enersyds uniek gesitueerd is om toereikend hulp te verleen aan leerders wat hindernisse tot leer ervaar, hulle andersyds nie oorbelas moet word met addisionele take nie. Volgens Giese et al. (2005:41- 42) behoort skole aangewend te word as instansies wat omgee vir leerders. As toevoeging tot die bogenoemde aanbeveling van Giese et al. (2005;41-42), is Hoadley (2007:254-256) van mening dat skole slegs as plekke van identifisering aangewend behoort te word om leerders wat hindernisse tot leer ervaar te identifiseer. Sy is verder van mening dat hulpverlening by sosiale

dienste tuishoort en nie by die onderwyser nie. Die navorser ondersteun hierdie siening, en beoog ook met die opleidingsprogram identifisering en slegs basiese ondersteuning en hulpverlening.

Oorkoepelend beskou, ontken Hoadley (2007:257-258) egter nie die feit dat

die onderwyser wel ʼn gemeenskaps- en pastorale rol behoort te vertolk nie.

Sy stel egter die volgende vereistes: die onderwyser-leerder verhouding moet verminder word wat individuele aandag aan die leerder wat hindernisse ten opsigte van leer ervaar sal verseker; die uitbreiding en ontwikkeling van koshuise by skole, om sodoende negatiewe invloede van die ouerhuise te voorkom; die aanstel van tydelike welsynwerkers by skole om om te sien na

die behoeftes van leerders wat hindernisse tot leer ervaar; ʼn deeglike

evaluering van hulpverleningsprogramme alvorens hulle geïmplementeer word (byvoorbeeld „n evaluering wat bepaal of leerders fisiek en emosioneel daarby sal baat en of die leerders en die gemeenskap daarvan gebruik kan maak); en die ontwikkeling van ʼn kultuur van omgee en ondersteuning in skole waar die aandag spesifiek gerig is op toereikende onderrig en leer. Bogenoemde aanbevelings van Hoadley (2007:257), waarvolgens die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser wel kan realiseer, word ondersteun deur die navorsingsbevindinge van Eloff en Kgwete (2007:351- 355). Hulle navorsing handel oor onderwysers se belewing van die implementering van inklusiewe onderwys in die Gert Sibande-streek van die Mpumalanga Onderwysdepartement. Eloff en Kgwete (2007:355) het bevind dat die volgende aspekte byvoorbeeld noodsaaklik is vir die suksesvolle implementering van inklusiewe onderwys en die gemeenskaps- en pastorale rol van die onderwyser:

 toereikende opleiding van die onderwyser in inklusiewe onderwys;

 kleiner klasse vir meer individuele aandag aan leerders; en

 genoegsame hulpbronne vir die implementering van inklusiewe onderwys

(soos byvoorbeeld onderwysers, ondersteuningspersoneel en fisiese hulpbronne).

Gesien teen die agtergrond van hulpverlening aan leerders wat hindernisse tot leer ervaar, het die Departement van Onderwys gedurende 2008 die Nasionale Strategie ten opsigte van Sifting, Identifisering, Assessering en Ondersteuning ontwikkel (Department of Education, 2008:12), waarvolgens onderwysers leerders wat hindernisse tot leer ervaar sif, identifiseer, assesseer en ondersteun in samewerking met die SGOS en DGOS. Bogenoemde dokument en die belangrike rol wat dit kan speel in die ontwikkeling en implementering van ʼn opleidingsprogram vir die ondersteuning van leerders wat hulleself mutileer in inklusiewe klaskamers, word vervolgens kortliks omskryf.

2.6.3 Die Nasionale Strategie ten opsigte van Sifting, Identifisering,