• No results found

2.2 SELFMUTILASIE: KONSEPVERKLARINGE

2.2.2 Die vorme van selfmutilasie

By nadere beskouing van die bestaande literatuur blyk dit dat die meeste navorsers melding maak van die verskeie aanwysbare vorme wat selfmutilasie aanneem. Navorsers wat na die verskeie vorme van selfmutilasie verwys het, is onder andere: Favazza (in Strong, 1998:xi-xii); Simeon en Hollander (2001:1-15); Engelgau (2005) en Collins (2007:5). Ook Cutter, Jaffe en Segal (2008) en Dougherty, Mathias, Marsh-Richard, Prevette, Dawes, Hatzis en Palmes (2009:22-27) maak melding van die verskeie vorme wat selfmutilasie aanneem en verwoord die verskeie vorme wat selfmutilasie aanneem soos volg:

 die sny van die self;

 die brand van die self;

 krap van die vel; of die oopmaak van ou wonde;

 die breek van eie bene in die liggaam;

 stamp van die kop (meer teenwoordig by outistiese en psigotiese gedrag);

en

 oordadige tatoeëring of deursteking van die eie liggaam (byvoorbeeld

spelde) as dit geskied ter wille van pyn of stresverligting.

Aansluitend by bogenoemde beskrywing van die verskeie vorme wat selfmutilasie aanneem, sowel as die bevinding van Baywaters en Rolfe (2002) (cf. 1.1) het Engelgau (2005) in ʼn navorsingstudie in die VSA rakende die omvang van verskeie vorme van selfmutilasie by tieners, die volgende bevind:

 selfsnyding kom in 72% van alle gevalle voor;

 selfslaning kom in 30% van gevalle voor;

 uittrek van die hare (trigotillomanie) kom in 22% van gevalle voor;

 breek van die eie bene van die liggaam kom in 10% van gevalle voor; en

 selfbranding kom in 5% van gevalle voor.

Aansluitend by bogenoemde aanwysbare vorme wat selfmutilasie aanneem, het Collins (2007:5), Lukomski en Folmer (2004:91-93) asook Favazza (1996:225) selfmutilasie in die volgende vorme verdeel, naamlik ekstreme, stereotipe, matige, kompulsiewe en impulsiewe vorme van selfmutilasie. Elkeen van die vorme word nou kortliks van nader toegelig.

Ekstreme vorme van selfmutilasie

Hierdie wyse van selfmutilasie verwys na ekstreme vorme van selfmutilasie en sluit onder andere in die verwydering of amputering van ledemate, kastrasie of oogverwydering. Die vorm van selfmutilasie is lewensbedreigend en hou verband met psigotiese gedrag of dwelmmisbruik (Caperton, 2004:5-6; Collins, 2007:5; Wehmeyer, 2007:14).

Stereotipe selfmutilasie

Hierdie vorm van selfmutilasie verwys na herhaaldelike en soms rituele wyses van selfmutilasie, soos byvoorbeeld die stamp van die kop en slaan en byt van die eie liggaam. Volgens Clarke en Whittaker (1998:129-137) en Collins (2007:5) vertoon hierdie wyse van selfmutilasie ʼn noue verband met disfunksies soos outisme en psigotiese gedrag.

Matige vorme van selfmutilasie

Hierdie wyse van selfmutilasie is volgens Clarke en Whittaker (1998:129-137) die mees algemene vorm van selfmutilasie en begin gewoonlik tussen die ouderdom van 14 en 24 jaar (Nixon et al., 2008:306-312). Volgens Collins (2007:5) sluit hierdie vorm van selfmutilasie die volgende wyses van selfmutilasie in: selfsnyding; selfbranding; die stukkend maak of mutilering van die vel; die uittrek van hare (trigotillomanie); die breek van bene; slaan, stamping en die oopmaak van rowe. Favazza (in Strong (1998:xii) verdeel hierdie vorm van selfmutilasie in die volgende onderafdelings, te wete kompulsief en impulsief. Impulsiewe selfmutilasie kan episodies of herhalend van aard wees (Favazza in Strong, 1998:xii). Vervolgens sal bogenoemde matige vorme van selfmutilasie nader omskryf word:

Kompulsiewe selfmutilasie

Volgens Simeon en Hollander (2001:5) word hierdie vorm van selfmutilasie gekenmerk deur die herhalende aard daarvan en sluit dit byvoorbeeld die volgende handelinge of wyses van selfmutilasie in: die byt van naels; beskadiging van die vel en die uittrek van hare (trigotillomanie). Persone wat hulleself op hierdie wyse mutileer, voel gedwing om die handeling uit te voer, maar wens hulle kan die impuls weerstaan. Verhoogde angstigheid wat gevolg word deur verligting van spanning sodra die persoon hom-/haarself gemutileer het, is algemeen kenmerkend van kompulsiewe selfmutilerende gedrag en toon ʼn ooreenkoms met obsessiewe kompulsiewe gedrag. Volgens Kress en White (2003:490-495) ervaar sommige individue met

kompulsiewe selfmutilerende gedrag nie ʼn bewuste drang om hulleself te beseer nie.

Impulsiewe selfmutilasie

Impulsiewe selfmutilasie word deur Simeon en Hollander (2001:15) omskryf as “ … an almost automatic response on disturbing internal and external

stimuli, beginning in adolescence and persisting for decades”. Impulsiewe

selfmutilasie kan onderverdeel word in twee wyses van selfmutilasie: episodiese en herhalende selfmutilasie. Die verskil tussen episodiese en herhalende selfmutilasie is daarin geleë dat episodiese selfmutilasie slegs ʼn beperkte aantal kere in die persoon se lewe voorkom, terwyl herhalende selfmutilasie gereeld voorkom en byna verslawend is. Volgens Lukomski en Folmer (2004:91) is die wyses wat impulsiewe selfmutilasie aanneem onder andere: selfsnyding, selfbranding, die beskadiging van die vel met naalde, krap van die vel, selfslaning, die stukkend of oopmaak van ou wonde en die breek van bene. Die voorgenoemde outeurs merk verder op dat die selfmutilasie meesal op die gewrigte of voorarms voorkom, hoewel voorbeelde van selfmutilasie ook op die volgende dele van die liggaam verskyn: die gesig, genitalieë, heupe, bene, maag en borste. Selfsnyding is die mees algemeen voorkomende vorm van matige selfmutilasie en daarom

word soms in die literatuur na hierdie selfmutileerders verwys as “cutters”.

Opsommenderwys, kan bogenoemde vorme van selfmutilasie (soos weergegee deur Collins (2007:5) en Lukomski en Folmer (2004:91) in noue aansluiting by die sienings van Favazza (1989:137-145), Favazza in Strong (1998:xi-xii) en Simeon en Hollander (2001:1-15) soos volg skematies in Tabel 2.1 voorgestel word:

Tabel 2.1: Vorme van selfmutilasie

1. Ekstreme selfmutilasie

 Verwydering of amputering van ledemate,

kastrasie of oogverwydering;

 Is lewensbedreigend;

 Verband met: psigotiese gedrag of

dwelmmisbruik 2. Stereotipe

selfmutilasie

 Herhaaldelike en soms rituele wyses van

selfmutilasie bv.: o Stamp van die kop;

o Slaan en byt van die liggaam;

 Verband met: organiese disfunksie en

psigotiese gedrag 3. Matige vorme van

selfmutilasie

 Mees algemeen voorkomende vorm;

 Begin ± ouderdom van 14 tot 24 jaar;

 Wyses van selfmutilasie:

o Selfsnyding o Selfbranding

o Mutilering van die vel o Trigotillomanie

o Breek van bene o Oopmaak van rowe 3.1 Kompulsiewe

selfmutilasie

 Gekenmerk deur die herhalende aard daarvan

 Byt van naels, beskadiging van vel,

trigotillomanie

 Ervaar kompulsies om hulleself te mutileer

 Beleef hoë angsvlakke – verligting nadat hulle

hulleself gemutileer het

 Toon ooreenkoms met obsessiewe

3.1 Impulsiewe selfmutilasie

 Selfmutilasie vind feitlik outomaties plaas as

reaksie op eksterne stimuli bv. angs, aggressie

 Onderverdeel in:

o Episodies en herhalende selfmutilasie

o Episodies - kom slegs 'n beperkte aantal kere voor

o Herhalende selfmutilasie kom gereeld voor en is byna verslawend (dwelm)

 Wyses van selfmutilasie:

o Selfsnyding o Branding

o Beskadig vel met naalde o Krap van vel

o Selfslaning

o Oopkrap van ou wonde

 Voorkoms: o Gewrigte o Voorarm o Gesig o Genitalieë o Heupe o Bene o Maag en borste

Bogenoemde skematiese samevatting en die voorafgaande beskrywing van die verskeie vorme van selfmutilasie is deur die navorser ingebou omdat dit ʼn kernagtige verwysingsraamwerk vir die onderwyser kan word met die oog op die identifisering van selfmutileerders.

Samevattend beskou, is hierdie betrokke navorsing hoofsaaklik gerig op die identifisering van matige vorme van selfmutilasie (cf. 2.2.2), met ander woorde, kompulsiewe, impulsiewe, episodies en herhalende vorme van selfmutilasie. Hierdie vorme is gekies, omrede matige vorme van selfmutilasie die mees algemene vorm van selfmutilasie is waarmee die onderwyser in inklusiewe klaskamers in aanraking kan kom volgens Clarke en Whittaker, (1998:129-137).

Vervolgens sal die oorsake of redes vir selfmutilasie nader omskryf word, aangesien die identifisering van oorsake/redes belangrik is vir die hulpverleningsproses.