• No results found

2.5  FAKTORE WAT ONDERSTEUNEND IS TOT DIE DAARSTELLING VAN ‘N

2.5.6 Gebruik van humor 36 

Kosiczky (2013:17-18) verwys na verskeie betekenisse en definisies vir humor. Kosiczky is van mening dat humor beskryf kan word deurdat ‘n kognitiewe- affektiewe skuif geproduseer word. Ziyaeemehr en Kumar (2014:92) verwys na humor as:

“a multidisciplinary phenomenon that can be viewed from differing points of view depending on its specific context of use from social to psychological, from philosophical to physiological and from linguistic to a layperson”.

Verder definieër Deiter (2000:22) humor as enige iets wat snaaks, komies of aangrypend is. Hy vergelyk dit met skoonheid deur te verduidelik dat humor ook van die gehoor afhang. Dit kan slegs snaaks of komies wees as die gehoor (leerders in die klaskamer) so dink. Aboudan (2009:91) som bogenoemde definisies deur daarna te verwys dat humor ‘n eenvoudige humoristiese opmerking is wat spontaan in die kommunikasie van die onderrigproses voorkom. Hellman (in Kosiczky 2013:46) moedig humor in die klaskamer aan en meld dat daar plek is vir humor in enige klaskamer. Makewa et al. (2011:5) staaf die belangrikheid van humor in die klaskamer deur te noem dat verveeldheid een van die grootste sondes in onderrig- en-leer is.

Kosiczky (2013:22 & 46) dui daarop dat goeie humor, soos deur studente geȉdentifiseer, snaakse stories, opmerkings en grappe is. Sy noem ook dat indien humor toepaslik aangewend word, dit die potensiaal het om die menslikheid van die onderwyser te wys, illustrasies aan te toon, ‘n situasie te ontlont, leerders aan te moedig, angstigheid te verminder en om mense se denke voortdurend te vernuwe. Aboudan (2009:90) is dit eens en dui daarop dat humor verbind is tot positiewe klaskamerbestuur en dui daarop dat dit essensieel is vir suksesvolle onderrig-en- leer.

Aboudan (2009:96) noem ook dat humor ‘n integrale deel moet vorm van enige klaskameromgewing. Afgesien van ‘n positiewe klaskameromgewing, lewer humor ook ‘n groot bydrae tot die verbetering van die onderwyser-leerderverhouding (Salend 2010:289). Om by Salend aan te sluit, skryf Kosiczky (2013:44) dat humor die konneksie tussen die leerders en hul onderwysers versterk. Sy meld ook dat hierdie konneksie die positiewe band tussen mense versterk en dat humor ‘n integrale deel vorm van so ‘n suksesvolle band.

Makewa et al. (2011:3) en Kosiczky (2013:27) sluit by bogenoemde aan en noem dat die effek van humor in die klaskamer is om ‘n ontspanne atmosfeer te skep, die leerders gemaklik te laat voel, spanning te verlig, die menslikheid van die onderwyser te bevorder en dit ook help om die aandagspan van die leerders in die klas te verhoog. Dieter (2000:22-23) en Kosiczky (2013:24) is ook van mening dat humor in die klaskamer help om ‘n positiewe leeromgewing te skep en om die kommunikasiegapings tussen die leerders en die onderwyser te verminder. Afgesien daarvan dat die kommunikasiegapings verminder word, word die hele kommunikasieproses in die klaskamer verbeter. Die leerders het dan die vrymoedigheid om met die onderwysers te praat en om vrae te vra (Aboudan 2009:98; Deiter 2000:22; Kosiczky 2013:32; MacAdam 1985:327; Ziyaeemehr & Kumar 2014:92). Humor help ook om die vak, tesame met die materiaal, wat met humor aangebied word, beter te verstaan en makliker te onthou.

Volgens Deiter (2000:23) dra humor by tot klasbywoning en dit is ook ondersteunend tot die verbetering van leerderprestasie aangesien die leerders ontspanne en gemaklik in die klaskamer voel. In wese word begripsvorming daardeur versterk. Deiter (2000:23) stel ook dat humor die onderrig-en-leerproses vir die leerders prettig maak en dat hulle die onderrig-en-leer dus geniet. Hy staaf dit deur te noem dat die sukses van onderrig in die “hoe” lê en stel dat as humor ‘n bydrae kan lewer, dit toepaslik gebruik moey word in die klaskamer. In Kosiczky (2013:45) verduidelik sy dat humor ‘n belangrike kwaliteit is in die persoonlikheid van die onderwyser en dié se onderrigstrategieë. Sy het ook verder in haar studie tot die gevogtrekking gekom dat beter prestasies verbind word met ‘n humoristiese metode van instruksie, maar sy waarsku ook dat humor oordeelkundig gebruik moet word.

Sommige opvoeders is soms huiwerig om humor in die klaskamer te gebruik. Volgens Deiter (2000:20) is daar drie belangrike redes vir die gebrek aan humor in die klaskamer.

 Die opvoeders is nie opgelei om humor in die klas te gebruik nie en dit is nie deel van enige kurrikulum nie.

 Opvoeders glo dikwels dat hulle die vaardighede van ‘n komediant moet hê om humor in die klaskamer te kan gebruik.

 Baie opvoeders neem die onderrigproses baie ernstig op en meen dat hulle nie veronderstel is om vermakerig te wees nie.

Afgesien van die groot waarde wat humor in die klaskamer het, is daar ook gevare en sekere aspekte wat in ag geneem moet word indien die opvoeder van humor gebruik maak. Kosiczky (2013:34) reageer op bostaande stellings van Deiter deur daarna te verwys dat dit nie nodig vir opvoeders is om komediante te wees om humor in die klaskamer in te bring nie, maar waarsku ook teen die gebruik van te veel humor in die klaskamer. Indien humor oordoen word, verloor dit sy nuttigheidswaarde. Wanneer daar van humor in klaskamer gebruik gemaak word, moet daar gewaak word teen sarkasme.

Aboudan (2009:96) se studies het bevind dat humor beplan moet word en nie net lukraak gebruik moet word nie. Sy verduidelik haar bevindings deur daarna te verwys dat humor gebruik moet word as die geleentheid dit voordoen, maar dit moet ook nie oordoen word nie aangesien dit die effektiwiteit daarvan kan verloor. Ziyaeemehr en Kumar (2014:92) is dit eens en is van mening dat humor ook in sekere situasies ontoepaslik kan wees wat dan negatiewe gevolge sal hê soos ‘n ongemaklike leeromgewing; sommige leerders se motivering kan gedemp en die onderwyser se geloofwaardigheid kan ook gedemp word. MacAdam (1985:331) verduidelik egter dat die variasies in humor of die totale afwesigheid van humor geen meetbare effek het op die intelligensie van die opvoeder nie.

Uit die navorser se ervaring die afgelope jare as Wiskunde-onderwyser, blyk dit dat humor ‘n impak het om die atmosfeer in die klaskamer positief te hou. Die navorser is dit eens met al die skrywers (Deiter 2000; Kosiczky 2013; MacAdam 1985 & Makewa 2011) dat humor leerders laat ontspan en dat dit ‘n groot invloed het op die klaskameratmosfeer met die gevolg dat leerders se prestasies verbeter. Wiskunde as vak word dikwels gestereotipeer as ‘n moeilike vak en humor kan volgens voorafgaande bespreking help om ‘n positiewe houding onder leerders te vestig om klas by te woon en deel te neem.