• No results found

Faktore ondersteunend tot die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-

HOOFSTUK 6  158 

6.2  BEVINDINGS EN GEVOLGTREKKINGS 159 

6.2.1  Faktore ondersteunend tot die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-

Die navorser het ‘n literatuurstudie geloods oor moontlike faktore (sien 2.5), wat ondersteunend kan wees tot die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing. 6.2.1.1 ‘n Positiewe leeromgewing

In die literatuur (sien 2.5.1) het dit sterk na vore gekom dat die daarstelling van ‘n positiewe leeromgewing baie belangrik is om ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing te skep. Die fisiese omgewing van die klaskamer (sien 2.5.1.1 & 5.5.2.1) en die onderwyser self (sien 3.2) dra grotendeels by tot die daarstelling van ‘n positiewe leeromgewing.

Die literatuur verwys na die fisiese omgewing as komponente, soos onder andere die ruimte in die klaskamer (sien 2.5.1.1.1), die visuele omgewing van die klaskamer (sien 2.5.1.1.2) en geboue en fasiliteite (sien 2.5.1.1.3). Nadat die navorser die literatuurstudies uitgevoer het, het die navorser belangrike bevindings rakende die fisiese omgewing van die klaskamer geȉdentifiseer (sien 2.5.1.1 en 5.5.2.1).

Volgens die literatuur verwys die ruimte in die klaskamer na onder andere die ruimte tussen die leerders se banke en die onderwysers se lessenaar, asook die ruimte wat voor en agter in die klaskamer is vir die leerders om vrylik te kan beweeg. Hierdie ruimte dra daartoe by dat die leerders gemaklik en veilig voel, wat ondersteunend is tot goeie Wiskunde-onderrig (sien 2.5.1.1.1). Daar was dus ‘n duidelike verwantskap

tussen die literatuur en die bevindings in die empiriese navorsing rakende die rol wat die ruimte in die klaskamer speel (sien 2.5.1.1.1 & 5.5.3.1).

Afgesien van die ruimte in die klaskamer, het die navorser uit die literatuurstudie gevind dat die visuele omgewing van die klaskamer ook ondersteunend kan wees tot die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing. Die literatuur verwys na die visuele omgewing van die klaskamer, na onder andere die kleur, lig en die persoonlike dokumentasie van die leerders (sien 2.5.1.1.2). Die leerders word gemotiveer om goed te doen as hulle sien dat die produk van hul persoonlike werk teen die mure verskyn. Nog ‘n aspek van die visuele omgewing waarna die literatuur verwys is die effek wat ventilasie en natuurlike lig wat in die klaskamer inkom op die leerders se prestasies kan hê (sien 2.5.1.1.2).

‘n Verdere faktor wat ‘n bydrae gelewer het tot die visuele omgewing van die klaskamer was die gehalte van die geboue en die fasiliteite van die skool. Die literatuur verwys daarna (sien 2.5.1.1.3) dat daar ‘n duidelike verwantskap is tussen die gehalte van die skoolgeboue en leerderprestasie. In die empiriese navorsing het dit ook duidelik na vore gekom dat die gehalte van die geboue en fasiliteite van goeie gehalte was (sien 5.5.2.1) en dus positief kon inwerk op leerders se prestasies in Wiskunde. Uit die navorser se ervaring as opvoeder is dit baie makliker vir leerders om te werk en presteer indien die klaskamers en geboue waarin hulle skoolgaan in ‘n netjiese en funksionele toestand is.

Die gevolgtrekking wat uit bostaande bevindings gemaak kan word is dat die ruimte in ‘n klaskamer, die visuele omgewing van ‘n klaskamer en die gehalte van die terrein, geboue en fasiliteite beslis bydra tot ‘n positiewe leeromgewing.

6.2.1.2 Die rol van leierskap in skole

In die literatuur is die rol van leiers in die skool en die belangrikheid daarvan bespreek (sien 2.6). Die rol van die skoolhoof is bespreek asook die invloed wat hy/sy in die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing het. Afgesien van die rol van die skoolhoof, is die rol van die adjunk- en departementshoof ook bespreek. Uit die literatuur het die navorser gevind dat die skoolhoof die persoon is wat primêr verantwoordelik is vir die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing, gevolg

deur die res van die leierkorps (sien 2.6). Die rol van die leiers in die skool is om strukture in plek te stel vir ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing (sien 2.6 & 5.5.2.2). Die leiers van die betrokke skole wat aan die studie deelgeneem het, was baie prominent om ‘n gunstige leeromgewing te skep vir doeltreffende Wiskunde-onderrig (sien 5.5.2.2).

6.2.1.3 Positiewe versterking

Die literatuur het in verskeie studies beklemtoon dat dit belangrik is om leerders te prys (sien 2.5.2). Die literatuur het verder melding daarvan gemaak dat die leerders wat geprys word vir goeie dade wat hulle in die klaskamer doen, daarna neig is om beter te presteer. In die literatuur het dit ook na vore gekom dat indien die onderwyser die leerders positief versterk en aanmoedig in die klaskamer, dit ondersteunend is tot die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing. Die leerders beleef dat hul pogings en goeie werk in die klaskamer nie ongesiens verbygaan nie en is dan nie huiwerig om kanse te waag of foute te maak nie. Hierdie soort versterking was ook teenwoordig tydens die navorser se empiriese navorsing (sien 5.5.1.9). Leerders se selfbeeld en selfvertroue in die klaskamer moet te alle tye uitgebou en versterk word om hul Wiskunde-prestasies vol te hou of te verbeter.

6.2.1.4 Terugvoering in die klaskamer

In die literatuur word daar gemeld dat net soos om leerders te prys, is terugvoering ‘n eenvoudige, maar tog ‘n kragtige manier om leer te bevorder, prestasie van leerders te verhoog en ‘n gevoel van kompeterendheid binne die individu self aan te moedig (sien 2.5.5). Terugvoering in die klaskamer kan as tweerigtingkommunikasie tussen die onderwyser en die leerders beskou word. Hierdie terugvoering kan verbaal, sowel as nie-verbaal wees. Die verbale terugvoering vind daagliks in die klaskamer plaas wanneer leerders ‘n vraag vra of ‘n vraag moet beantwoord of wanneer daar ‘n informele gesprek tussen die onderwyser en leerder plaasvind. Die literatuur verwys na nie-verbale terugvoering as die assessering van formele toetse, opdragte, take of eksamens (sien 2.5.5).

Goeie gehalte terugvoering kan leerders ook help om betekenisvol om te gaan met die foute wat hulle in Wiskunde begaan het, met die gevolg dat leer en konseptualisering bevorder word.

Tydens die empiriese navorsing was die verbale terugvoering in die klaskamer baie goed tussen die onderwyser en die leerders (sien 5.5.1.8) en dit word ondersteun deur die bevindings wat uit die literatuur verkry is (sien 2.5.5). Dus kan goeie terugvoering, verbaal of nie-verbaal, ‘n bydraende faktor wees of ‘n kragtige leeromgewing te skep. 6.2.1.5 Humor in die klaskamer

Die literatuur verwys na ander studies wat gevind het dat humor in die klaskamer ‘n positiewe atmosfeer in die klaskamer kan bewerkstellig en belangrik is vir gehalte- onderrig (sien 2.5.6). Aboudan (2009:96) het dit bevestig deur te noem dat humor ‘n belangrike deel is van enige klaskameromgewing. Die humor in die klaskamer skep ‘n gemaklike atmosfeer waarbinne die leerders ontspanne voel en goed kan presteer. Die leerders, sowel as die leerders se sin vir humor kan in die klaskamer ‘n waardevolle bydrae lewer wat ondersteunend is tot die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing. Die deelnemers se goeie sin vir humor was ook bydraend tot die deelnemers se kragtige leeromgewing in hul klaskamers (sien 5.5.1.10) tydens die empiriese navorsing.

6.2.1.6 Gevolgtrekking

In die proses om die primêre navorsingsvraag te beantwoord het die navorser eers ondersoek ingestel om die eerste sekondêre navorsingsvraag te beantwoord. Die eerste sekondêre navorsingsvraag het gehandel oor die faktore wat ondersteunend was tot die daarstelling van ‘n kragtige Wiskunde-leeromgewing. Die gevolgtrekking wat gemaak is, is dat uit die literatuur die volgende faktore ondersteunend kan wees vir die daarstelling van ‘n kragtige leeromgewing.

 ‘n positiewe leeromgewing  die rol van leierskap in skole  positiewe versterking

 terugvoer in die klaskamer en  humor in die klaskamer.

Die teenwoordigheid van hierdie faktore is ook beaam vanuit die empiriese navorsing soos in die voorafgaande bespreking aangedui.

Die tweede sekondêre navorsingsvraag handel oor die faktore wat ‘n goeie onderwyser tipeer en word volgende bespreek.