• No results found

Die rol van die onderwyser as ‘n leier in die klaskamer 70 

3.2  FAKTORE TIPEREND TOT GOEIE WISKUNDE-ONDERWYSERS 43 

3.2.7  Die rol van die onderwyser as ‘n leier in die klaskamer 70 

Volgens Leithwood et al. (2004:8-9), Mendels (2012:59) en Okoroji et al. (2014:183) is daar drie basiese beginsels vir suksesvolle leierskap wat geld in enige organisasie of instelling. Dit word vervolgens bespreek.

3.2.7.1 Duidelike doelwitstelling

Leithwood et al. (2004:8) noem dat duidelike doelwitstelling gesien kan word as die grootste impak wat ‘n onderwyser as leier op sy leerders kan hê. Hierdie doelwitte kan gesien word as die pad wat gevolg moet word om ‘n visie vir elke leerder te stel en te ontwikkel. Mense word gemotiveer deur uitdagende, maar tog haalbare doelwitte. Deur self sulke duidelike doelwitte te hê, gee die onderwyser ‘n vorm van identiteit aan die leerders binne die konteks van die inhoud. Okoroji et al. (2014:184) het waargeneem dat leierskap ‘n proses is waarin een persoon ‘n ander persoon op so manier beinvloed dat sekere doelwitte gestel word en dit dan bereik word. Die onderwyser moet dus ook duidelike doelwitte in die Wiskundeklas stel sodat die leerders sal weet wat van hul verwag word en wat bereik moet word (Leithwood, et al. 2004:8).

3.2.7.2 Ontwikkeling van die individu

Leithwood et al. (2006:80) maak melding daarvan dat die vermoë om die individu wat in die organisasie werk tot sy/haar volle potensiaal te ontwikkel, ‘n teken van goeie leierskap is. Hierdie stelling is ook in die onderwys van toepassing, waar die onderwyser moet poog om die leerders in sy/haar klas tot sy/haar volle potensiaal te laat ontwikkel. Mendels (2012:56) noem dat hoe meer die skoolhoof of onderwyser sy/haar leierskapeienskappe laat deurfilter aan die leerders en personeel, hoe beter is dit nie net vir die individu nie, maar ook vir die fasilitering van onderrig en vir die skool. Die ontwikkeling van sulke potensiaal word beïnvloed deur direkte ervarings wat die leierkorps van ‘n organisasie met die personeel het. Bogenoemde beginsel geld net so vir die onderwyser in die Wiskundeklaskamer omdat die leerders ook beinvloed moet word deur die direkte ervarings van die onderwyser in die klas.

Die leerders moet so ontwikkel word sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik (Leithwood et al. 2004:9). Om hierdie potensiaal ten volle te kan ontwikkel, noem Okoroji et al. (2014:182) dat ‘n sekere gebeurtenis of krisis ‘n gewone persoon tot ‘n goeie leier kan laat ontwikkel. Dit is dus belangrik dat die individu aan sulke situasies blootgestel word. Mendels (2012:57) noem ook verder dat goeie leiers weet hoe om hul leerders/personeel die soort ondersteuning te gee wat nodig is sodat hulle kan

ontwikkel om hul volle potentiaal te bereik. Hierdie soort ondersteuning kan deur ‘n skoolhoof aan sy/haar personeel gegee word en ook deur ‘n onderwyser aan sy/haar leerders in die klaskamer.

3.2.7.3 Gehalte van onderrig

Volgens Leithwood et al. (2004:9) is die bydrae van ‘n skool tot onderrig grotendeels afhanklik van die bevoegdheid van die onderwysers en administrateurs, as individue en as ‘n eenheid in die skool. Leithwood et al. (2006:82) noem verder dat goeie opvoedkundige leiers ‘n sisteem of stelsel in plek het wat die prestasies van onderwysers, adminstrateurs en leerders volhoubaar maak. Mendels (2012:56) is dit eens en noem dat goeie leiers in die onderwys fokus op die kwaliteit van die onderrig en voortdurend nuwe strategieë en metodes, in samewerking met die ander kollegas, skep om die gehalte van onderrig te verbeter. Okoroji et al. (2014:187) is dit eens en noem dat dit van ‘n onderwyser, wat hul as leier ag, verwag word om goeie klaskameronderrig en kennis te demonstreer.

‘n Suksesvolle onderrigleier in die klaskamer, in die besonder dan die Wiskundeklaskamer, beskik oor die volgende karaktereienskappe (Leithwood et al. 2006:74):

 Persoonlikheid: ‘n Goeie leier moet emosioneel stabiel wees, oor goeie interpersoonlike vaardighede beskik, toeganklik, dinamies en oop wees vir nuwe ervarings.

 Motivering: Volgens Leithwood (2006:80) en Okoroji et al. (2014:186) se studies was daar baie bewyse dat ‘n goeie leier passievol oor hul werk is, toegewyd en hoogs gemotiveerd is. Hierdie motivering word ook oorgedra aan die leerders in die klas en kan dus ‘n invloed hê op die Wiskunde-prestasies.  Emosionele vaardighede: Hierdie vaardighede is die vermoë om die gevoelens, denke en gedrag van mense en die individu self te verstaan. Hierdie vaardigheid is belangrik om as leier in die klas die denke, gedrag en gevoelens van die leerders in die klas te verstaan.

 Waardes: ‘n Leier, en dus ook die onderwyser as onderrigleier, moet oor die volgende vier waardekategorië beskik:

 Basiese menslike waardes, soos vryheid, geluk en oorlewing.  Algemene morele waardes, soos regverdigheid, omgee en

waagmoed.

 Professionele waardes soos verantwoordelikheid, en om die moontlike nagevolge wat daar vir die leerders mag wees, in ag te neem.

 Sosiale en politiese waardes, soos deelname, omgee en lojaliteit.

Afgesien van die karaktereienskappe en waardes waaroor ‘n leier in die klaskamer moet beskik, is daar ook volgens Okoroji et al. (2014:183) sekere maniere hoe ‘n onderwyser sy/haar leierskap kan demonstreer, naamlik:

 deur deel te neem aan professionele onderwyserorganisasies;

 deur in ‘n posisie in die skool te wees wat hom/haar in staat stel om invloed uit te oefen;

 om onderrig die grootste prioriteit te maak;  om hoë verwagtinge van prestasie te stel;

 deur toe te sien dat die inhoud en onderrig van goeie gehalte is;  deur ‘n kultuur van deurlopende leer daar te stel;

 om verskillende tipe bronne vir onderrig te gebruik en dit meer effektief te maak;  om deel te neem aan besluitneming van die skool en om saam met spanne

binne die skool te werk om die skool te verbeter;

 om die leerders in hul klas se behoeftes te identifiseer en daarna te streef om dit te bevredig;

 om ‘n mentor te wees vir nuwe onderwysers; en

 om die fasiliteite en tegnologie van die skool te verbeter.

Die rol wat die onderwyser as leier in die skool speel, soos hierbo bespreek is, sal ongetwyfeld ‘n invloed hê op die leerders. Net soos elke onderwyser se leierskap verskillend is, net so is die benaderings wat elke onderwyser volg ook verskillend.