• No results found

Faktore wat ‘n goeie Wiskunde-onderwyser tipeer 163 

HOOFSTUK 6  158 

6.2  BEVINDINGS EN GEVOLGTREKKINGS 159 

6.2.2  Faktore wat ‘n goeie Wiskunde-onderwyser tipeer 163 

In die bespreking wat volg is die bevindings rakende faktore wat ‘n goeie onderwyser tipeer kortliks toegelig soos verkry vanuit die literatuur (sien 3.2).

6.2.2.1 Kennis

Die kennis waaroor die onderwyser beskik, word in die literatuur as een van die belangrikste faktore beskou wat ‘n goeie Wiskunde-onderwyser tipeer (sien 3.2.1). Binne die konteks van onderwys is die konsepkennis deur navorsers verfyn en word daar verwys na algemene pedagogiese kennis (sien 3.2.1.1); inhoudskennis (sien 3.2.1.2); pedagogiese inhoudskennis (sien 3.2.1.3); en kurrikulumkennis (sien 3.2.1.4).

Die algemene pedagogiese inhoudskennis is nie inhoudelike kennis van ‘n vak soos byvoorbeeld Wiskunde nie. Dit sluit aspekte in soos onder andere lesbeplanning, motivering, algemene klaskamerbestuur en organisering en om te verstaan hoe leerders leer. Die bevindings uit die empiriese navorsing het die literatuur ondersteun deur die algemene pedagogiese kennis van die deelnemers wat ook sterk navore gekom het (sien 5.5.1.1).

Die tweede soort kennis wat volgens die literatuur ‘n goeie Wiskunde-onderwyser tipeer, was die inhoudskennis van die onderwyser (sien 3.2.1.2). Volgens die literatuur handel hierdie kennis oor die spesifieke vak wat die onderwyser aanbied. Om ‘n goeie Wiskunde-onderwyser te wees, moet die onderwyser oor goeie Wiskundekennis beskik. Die deelnemers aan hierdie studie se akademiese kennis van Wiskunde was goed aangesien drie deelnemers Wiskunde tot op tweedejaarsvlak voltooi het en een deelnemer tot op honeursvlak (sien Tabel 5.2).

Die derde soort kennis volgens die literatuur wat ‘n goeie Wiskunde-onderwyser tipeer, is pedagogiese inhoudskennis. Soos aangetoon in die literatuur (sien 3.2.1.3) is die pedagogiese inhoudskennis, die kennis waaroor die onderwyser beskik om die inhoud van die vak op ‘n effektiewe en verstaanbare manier aan die leerders oor te dra. Dit is dus goeie kennis oor die inhoud van die vak en goeie kennis oor die manier om die inhoud aan die leerders oor te dra. Die literatuur beskou hierdie soort kennis ook as ‘n

vaardigheid waaroor ‘n onderwyser moet beskik. Die literatuur noem dat daar nie baie onderwysers is wat oor hierdie kennis beskik nie, aangesien die inhoud of pedagogiese komponent ontbreek (sien 3.2.1.3). Die navorser het tydens die observasies waargeneem dat die onderwysers wat deel van die navorsing was, oor goeie pedagogiese inhoudskennis beskik ten opsigte van die Wiskunde wat hulle aangebied het (sien 5.5.1.1).

Die volgende kennistipe waaroor onderwysers moet beskik en wat volgens die literatuur van waarde is, is kurrikulumkennis. Die literatuur verwys na kurrikulumkennis as die kennis om te weet wat, wanneer geleer moet word. Die huidige kurrikulum in skole, naamlik die KABV is die derde kurrikulum wat sedert 1994 gevolg moet word. Die onderwyser moet dus kennis dra van hierdie veranderinge en op datum bly daarvan (sien 3.2.1.4).

Die navorser het self ervaring van die gedurige veranderinge wat binne die kurrikulum plaasvind. Sy ervaringe is dat, ten spyte van die totale kurrikulum wat gedurig verander, daar ook baie interne veranderinge binne ‘n sekere vakgebied, soos byvoorbeeld in Wiskunde, is. Dit is dus baie belangrik dat onderwysers moet tred hou met die veranderinge en moet weet wat en wanneer dit geleer moet word. ‘n Sprekende voorbeeld hiervan was die weglating van Linieêre Programmering in graad 11 en 12 vanaf 2014 en die byvoeging van Euklidiese Meetkunde. Die volume wat Linieêre Programmering in die kurrikulum beslaan het, is heelwat minder in vergelyking met die volume van Euklidiese Meetkunde wat dit vervang het. Dit het tot gevolg dat die volume van die kurrikulum meer word, maar die onderrigtyd in die klaskamer dieselfde bly.

Hierdie kennissoorte is ‘n belangrik faktor wat ‘n goeie Wiskunde-onderwyser tipeer en waaroor die onderwyser moet beskik om suksesvol in die klaskamer te kan wees. 6.2.2.2 Onderwyser-leerderverhouding

In die literatuur word die onderwyser-leerderverhouding as ‘n belangrike komponent beskou vir akademiese uitnemendheid. Hierdie verhouding is nie net binne die klaskamer belangrik nie, maar ook buite die klaskamer. Die literatuur stel dat ‘n goeie onderwyser-leerderverhouding professioneel, gemaklik en volwasse moet wees (sien 3.2.4). Die gevolg van ‘n goeie onderwyser-leerderverhouding is die positiewe impak wat dit op akademiese uitslae het (sien 5.5.1.2).

Die navorser is weens sy ervaring eens daarmee dat ‘n goeie onderwyser- leerderverhouding ‘n belangrike aspek is waaroor ‘n goeie onderwyser moet beskik. Hierdie soort verhouding was ook sigbaar tydens die navorser se empiriese navorsing (sien 5.2.1.1). Hierdie gesonde verhouding het tot gevolg dat die leerder nie die onderwyser wil teleurstel nie en dus hard werk om goeie punte te behaal.

6.2.2.3 Passie en toewyding

Verskeie studies het die belangrikheid van passie en toewyding in die onderwys beklemtoon (sien 3.2.2). Daar is tans baie uitdagings wat onderwysers moet oorkom, onder andere oorvol klaskamers, baie nasienwerk en onnodige administratiewe verpligtinge, om net ‘n paar te noem (sien 3.2.2). Hierdie soort uitdagings plaas baie druk op onderwysers maar dan is daar die passie en toewyding vir die beroep wat die onderwysers help om hierdie uitdagings te oorkom en die druk te hanteer. Bevindings uit die literatuur is ook deur die empiriese navorsing ondersteun waar bevind is dat die deelnemers met die passie en toewyding hul taak verrig (sien 5.5.1.3).

6.2.2.4 Die rol van die onderwyser as ‘n leier in die klaskamer

Afgesien van die leierkorps van die skool wat ‘n rol speel in die Wiskunde-prestasies van toppresterende skole, is elke onderwyser ook ‘n leier in sy/haar klaskamer. As leier in die klaskamer dra hy/sy by tot die suksesse van die leerders se uitslae. Die literatuur het drie kenmerke uitgewys wat van ‘n onderwyser, as leier in die klaskamer, verwag word, naamlik duidelike doelwitstelling, die gehalte van die onderrig en om die individu te ontwikkel (sien 3.2.7).

Duidelike doelwitstelling kom voor in die literatuur as een kenmerk van ‘n goeie leier in die klaskamer. Die literatuur verwys hierna dat ‘n goeie leier, in die geval van die studie die onderwyser, altyd duidelike doelwitte aan die leerders moet stel (sien 3.2.7.1). Duidelike doelwitstelling het ook na vore gekom in die empiriese studie en ondersteun die bevindings in die literatuur (sien 5.5.1.6.1).

Nóg ‘n kenmerk waarna die literatuur verwys as die onderwyser die rol van ‘n leier in die klaskamer wil aanneem, is die gehalte van die onderrig (sien 5.5.1.6.2). As leier van sy/haar eie klaskamer is die onderwyser verantwoordelik vir gehalte-onderrig in die klaskamer. Die literatuur verwys ook daarna dat dit die verantwoordelikheid van

die onderwyser is om te sorg dat die kwaliteit van onderrig van goeie gehalte is (sien 3.2.7.3).

Die derde kenmerk van die onderwyser as leier in die klaskamer is om die individu te ontwikkel om sy/haar volle potensiaal te bereik. Die literatuur stel dat ‘n goeie leier oor die vermoë beskik om ‘n individu tot sy/haar volle potensiaal te laat ontwikkel en voordurend te verbeter (sien 3.2.7.2). In die empiriese navorsing is gevind dat die leerders in die klaskamers ontwikkel is deur onder andere hul eie kennis te konstrueer deur hul bloot te stel aan probleme buite die kurrikulum (sien 5.5.1.6.3).

In die empiriese ondersoek is ook gevind dat die onderwysers in die klaskamer duidelike doelwitte stel, die leerder se volle potensiaal probeer ontwikkel en dat die onderrig in die klaskamer van goeie gehalte is (sien 5.5.1.6).

6.2.2.5 Gevolgtrekking

In die nastreef van die tweede sekondêre doelwit het die navorser tot die gevolgtrekking gekom dat die volgende faktore ‘n goeie Wiskunde-onderwyser tipeer.

 kennis;

 onderwyser-leerderverhouding;  passie en toewyding; en

 die rol van die onderwyser as leier in die klaskamer.

Die derde sekondêre navorsingsvraag word beantwoord uit die navorser se empiriese studie wat volgende bespreek word.