• No results found

Hierdie teorie, wat gebaseer is op die boublokke van die verwagtings-valensieteorie van motivering, word deur Hughes et al (2002:376) beskou as die gesofistikeerdste van die vier

3.7 Die leierskapsrol van 'n skoolhoof

Die tradisionele rol van die skoolhoof in 'n hoogs gesentraliseerde stelsel tot ongeveer die middel 1970's staan na die mening van Caldwell (2004:316) in skrille kontras met die rol in die hedendaagse gedesentraliseerde stelsel. Voorheen is min besluite deur die skoolhoof op skoolvlak geneem. Opvoeders is aan skole toegedeel volgens 'n formule en ook nie-opvoeders is so toegedeel, of die skool hulle nodig gehad het of nie. Die kurrikulum is sentraal bepaal en daar was 'n inspektoraat wat dit beheer het. Die plaaslike gemeenskap het min aandeel in besluitneming gehad. Geen fondse is na skole afgewentel nie. Markte het nie in skole bestaan nie, klasse was relatief groot en talle opvoeders was selfs nie eens daarvoor opgelei om dit te hanteer nie.

Sedert die begin van die 1970's het die veranderinge in die onderwys die rol van die skoolhoof dramaties bemvloed. Al bogenoemde het verander en die resultaat ten opsigte van die rol van die skoolhoof kan soos volg saamgevat word:

• Die werklading van die skoolhoof het verhoog.

• Die algemene werksbevrediging by skoolhoofde het gedaal

• Terwyl vertroue in die bereiking van doelwitte ten opsigte van die transformasie gemiddeld was, ervaar skoolhoofde 'n verlaging in die verkryging van hulpbronne en tevredenheid by opvoeders.

• Verreweg die meeste skoolhoofde verkies om nie terug te beweeg na die ou bedeling nie.

Hall en Southworth (2004:79) voeg hierby ook nog:

• 'n Intensivering van die werk wat die skoolhoof doen. • Meer onderhouds- en bestuurstake.

• Meer politiek en diplomasie omdat hulle as rolspelers meer met ouers en bestuurders netwerk en oorleg pleeg.

• 'n Groter openbare rol.

Die prosesse vir die keuring van personeel, ontwikkeling van personeel, die fokus van die kurrikulum op die behoeftes van die leerders en die beplanning van hulpbronverspreiding maak alles deel uit van 'n nuwe professionele kultuur vir skoolhoofde.

McMahon (2004:392) erken ook die sentrale belangrikheid van die skoolhoof as 'n agent van verandering. Eerstens moet die skoolhoof instem dat die verandering moet plaasvind, dan moet hy/sy metterdaad teenoor die personeel aantoon dat die verandering belangrik is en dan moet die skoolhoof self die nodige take ten uitvoer bring. Hallinger en Heck (1996:738) beskryf

die rol van die skoolhoof as een wat verander het van bestuurder na straatvlak-burokraat, na veranderingsagent, na instruksionele bestuurder, na onderrig-leier en uiteindelik na transformasie-leier. Waar die skoolstelsel beweeg het van 'n geslote stelsel na 'n meer oop stelsel, is die implikasies daarvan vir die leierskap by die skool ook duidelik. Die klem op die gesentraliseerde en voorskriftelike beheer het afgeneem en 'n sterker klem op deelnemende leierskap en gedesentraliseerde besluitneming is duidelik. Fullan (2003:26) wys egter daarop dat min skoolhoofde daarin slaag om as onderrig-leiers op te tree vanwee die verskeidenheid bestuurstake waaraan hulle daagliks hul tyd bestee. Aktiwiteite soos skedules, rapportering, hantering van ouers en ander rolspelers uit die gemeenskap en hantering van 'n verskeidenheid krisisse en spesiale situasies by die skool is onafwendbaar. Die feit dat die onvoorspelbaarheid van die skoolhoof se dag by die skool vereis dat hy/sy opgewasse en gereed daarvoor moet wees, laat Portin (2004:14) vra of alle skoolhoofde dieselfde kernrolle vervul, ongeag die soort skool waar hulle is. Indien hierdie rolle verskil, hoe verskil dit oor die spektrum van skole en maak die opleiding van skoolhoofde hiervoor voorsiening? Hy kom tot die gevolgtrekking dat, hoewel omstandighede by verskillende skole wyd uiteenlopend is, daar tog sewe kernrolle is wat hoofde vervul, naamlik: onderrigleiding, kulturele leiding,

bestuursleiding, mensehulpbronleiding, strategiese leiding, eksterne ontwikkelingsleiding en mikropolitiese leiding.

Volgens Wise (2003:132) word 'n individu se rol bepaal deur die mense oor wie hy/sy wettig invloed het. Dit beteken dat 'n skoolhoof verkillende rolle kan he wat gelyktydig deur hom/haar vervul word. Hierdie invloed kan direk of indirek wees, maar dit moet wettig of geldig wees en dit word onder andere bepaal deur die gesag aan die individu verleen of die hoeveelheid vakkennis waaroor hy/sy beskik. Hierdie situasie kan dus ook lei tot rolkonflik, veral waar die verskillende rolle wat vervul word, nie met mekaar versoenbaar is nie. Monitering van onderrig is 'n voorbeeld van so 'n rolkonflik. Opvoeders aanvaar dat skoolhoofde vir hierdie doel die nodige gesag het, maar bied weerstand teen die hele konsep van monitering van onderrig in die klas.

Die verantwoordelikhede wat voortspruit uit die rol van die skoolhoof soos hierbo bespreek, vorm die basis van sy/haar opvoedkundige leierskap - 'n verbintenis om toe te sien dat die skool aan sy doel beantwoord. Sergiovanni (2004b: 165) verwys in hierdie verband weer na die skoolhoof as toesighouer wat in loco parentis tot die leerders staan en moet toesien dat hulle belange gedien word. Skoolhoofde dien ook die belange van die ouers en beskerm die skool se doelwitte en strukture om hierdie doelwitte te bereik. In die lig van bogenoemde kan die volgende take opgenoem word:

Handhaaf vrede - bou aan eenstemmigheid ten opsigte van die skooldoelwitte, hoe die

skool moet funksioneer en die verwantskap tussen elkeen se rol en hul verantwoordelikhede.

Beklemtoon waardes - skakel die skool se waardesisteem om in uitvoerbare handelinge

en 'n stelsel wat die gedrag van elkeen sal rig in die strewe na die bereiking van die skooldoelwitte.

Motiveer - voorsien in die basiese psigologiese behoeftes van almal.

Los probleme op - mobiliseer almal om oplossings vir moeilike probleme aan te pak

deur eerstens te begryp wat die probleem is.

Bestuur - verseker daaglikse ondersteuning sodat die skool effektief en doelmatig

funksioneer.

Verduidelik - verstrek redes waarom persone gevra word om sekere take te verrig en

verduidelik hoedat dit verband hou met die groter geheel.

Bemagtig - verwyder die struikelblokke wat mense verhinder om hul werk uit te voer en

voorsien hulpbronne en ondersteuning aan hulle.

Stel voorbeeld - aanvaar verantwoordelikheid daarvoor om die hoofvolgeling van die

skool se waardes en doelwitte te wees deur gedagte, woord en daad.

Hou toesig - sien toe dat die skool aan sy doel beantwoord en wanneer dit nie gebeur

nie, vas te stel waarom nie en die nodige regstellings te maak.

'n Sleutelfaktor in die uitvoering van hierdie take is die vermoe van die skoolhoof om almal te mobiliseer om probleme wat mag opduik, op te los.