• No results found

2.4.3 “Queer”: ʼn tentatiewe omskrywing

4.4 Queer strategieë waarmee heteronormatiewe voorveronderstellings ondermyn word

4.4.4 Die gelykstelling van homoseksualiteit, vigs en dood

Uit bogenoemde besprekings kan daar reeds gesien word dat al drie die betrokke romans die heteronormatiewe gelykstelling “homoseksualiteit = siekte = vigs = dood” ontwrig deur óf sommige van die terme te verswyg, óf die kousale verband tussen die terme te verbreek. In

Ek stamel word die terme “siekte” en “dood” gegee, maar “vigs” word slegs geïmpliseer en

“homoseksualiteit” word geheel en al verswyg. Hierteenoor verbreek Shy hunters die kousale verband tussen hierdie terme deur die wyse waarop sommige sentrale karakters aan hul einde kom: Ruby (wat ook ʼn dwelmgebruiker is, en dus nie noodwendig die MI-virus deur homoseksuele gedrag opgedoen het nie) word vermoor, en Rose pleeg selfmoord as ʼn aksie van “performance art.” In teenstelling hiermee gee Huwelijk duidelik die terme “homoseksualiteit”, “siekte” en “dood” as gegewens, maar maak dit onmoontlik om “vigs” onomwonde aan enige van hierdie te koppel. Bowendien pleeg Maarten ook selfmoord, oënskynlik as gevolg van die drama omtrent die ontdekking van Tamara en Philip se verhouding en die aanval op Vandessel, eerder as gevolg van sy verslegtende gesondheid.

Deur sommige van die terme van die gelykstelling “homoseksualiteit = siekte = vigs = dood” duidelik te maak en ander te verswyg of weg te laat, word die leser gekonfronteer met die gelykstelling as geheel. In ‟n proses van gestalt voltooi die leser die gelykstelling na aanleiding van die terme wat gegee word, soos duidelik is in resensies van Ek stamel se beheptheid met Konstant se seksualiteit (en Jude se biologiese geslag as verwant hieraan) en resensente se terloopse aanname dat Gaëtan in Het derde huwelijk aan vigsverwante oorsake gesterf het. By nadere betragting word hierdie gelykstelling egter opgeroep net sodat dit ondermyn kan word, en die proses van ondermyning beklemtoon die wyse waarop ‟n heteronormatiewe vigsdiskoers betekenis genereer – homoseksuele gedrag word beskou as ‟n betekenaar van ‟n sekere identiteit, en hierdie identiteit word beskou as ‟n betekenaar van siekte. In ‟n wederkerende oordrag van betekenis word vigs gesien as ‟n teken van ‟n vaste non-heteronormatiewe identiteit wat noodwendig lei die dood. Die wyse waarop die gelykstelling “homoseksualiteit = siekte = vigs = dood” deur die romans opgerig en ondermyn word, bring die kunsmatigheid en onstabiliteit van heteronormatiewe signifikasie aan die lig.

4.5 Samevatting

Die drie gekose romans is voorbeelde van hoe literêre representasies van vigs, oftewel literêre werke wat gelees word as representasies van vigs, strategieë uit queer teorie kan gebruik om die voorveronderstellings van ʼn heteronormatiewe vigsdiskoers aan die lig te bring as onstabiel, onsamehangend en kunsmatig. Op hierdie wyses bied die romans weerstand teen ‟n heteronormatiewe vigsdiskoers deur die voorveronderstellings daarvan te ontwrig en te ondermyn.

Al drie romans lewer queer representasies van homoseksualiteit en vigs deur karakters voor te stel wat heteronormatiewe identiteitskategorieë in terme van geslag, gender en seksualiteit kompliseer. Die romans fokus ook op taal en die performatiewe funksie van taal ten einde ‟n heteronormatiewe proses van betekenisvorming op die voorgrond te plaas en te ontwrig.

Die romans bied verder ook ‟n queer lesing van die heteronormatiewe vigsdiskoers deur sekere queer strategieë op die diskoers toe te pas. Hierdie strategieë is kreatiewe toeëiening en hersignifikasie; toeëiening en teatralisasie asook onthulling of demistifikasie. Die romans bring ʼn raamwerk tot stand wat die gaping tussen teken en betekenaar beklemtoon, sowel as die oneindige uitstel van betekenis, en die onmoontlikheid om ʼn vaste verband tussen betekende en betekenaar te bepaal. In die lig hiervan word heteronormatiewe raamwerke vir vigs geaktiveer en gedemistifiseer om die ongeldigheid daarvan uit te wys; of bestaande raamwerke word ondermyn deur hersignifikasie, deur die terme van die raamwerk te verander of om te keer (byvoorbeeld deur die narratief van gay mans as monsters om te keer sodat die onskuldige slagoffers van vigs as ʼn monster voorgestel word). Hersignifikasie vind ook plaas deur nuwe raamwerke vir die verstaan van vigs te skep, waar die stigma wat daaraan gekoppel is, afgebreek word deur nuwe, meer positiewe metafore te skep.

Deur die klem te plaas op die simptome van vigsverwante infeksies – tekens wat volgens die heteronormatiewe vigsdiskoers dui op die betekenaar van vigs – word die heteronormatiewe aanname dat vigs ʼn stabiele referent het uitgewys as fiksie. Die fokus op tekens en die erkenning dat die verband tussen betekende en betekenaar in hierdie geval onstabiel is, maak die simptome los uit die ketting van betekenaars “homoseksualiteit = vigs = dood” en maak hersignifikasie moontlik, byvoorbeeld dat die blou kolle van Karposi‟s sarcoma maar soos “bloutong” is, of dat dit “bessies” is, ʼn positiewe metafoor. Die fokus op die tekens van simptome van vigsverwante infeksies plaas ook die proses van homografese op die

voorgrond. Homografese word ook beklemtoon deur die tematiek van letsels wat non- heteronormatiewe karakters as sodanig “merk”.

Verder word ook die gelykstelling van gedrag en identiteit ondermyn deur bestaande identiteitskategorieë te weier, te kompliseer, of in die geval van Huwelijk, gedrag te beskryf wat nie pas by die toegeëiende identiteitskategorie nie. Uiteindelik werk dit alles mee om die homofobiese gelykstelling “homoseksualiteit = vigs = dood” te ontwrig en as vals uit te wys.

HOOFSTUK 5

5.1 Samevatting

Die verband wat in die Westerse kultuur tussen homoseksualiteit en dood gesien word, is veral sigbaar in heteronormatiewe beskouings van vigs wat ʼn sekere kousale verband tussen homoseksualiteit en siekte veronderstel. Die gevolglike heteronormatiewe vigsdiskoers is sowel ʼn instrument van instandhouding as ʼn resultaat van kulturele aannames omtrent homoseksualiteit en vigs. Hierdie aannames word weerspieël in kulturele representasies van homoseksualiteit en vigs, soos byvoorbeeld in literêre werke.

As kulturele produkte tree literêre werke noodwendig op een of ander wyse in gesprek met sekere diskoerse, hetsy deur die wyse waarop dit ontvang word of deur doelbewuste pogings om diskoerse te bevestig of weerstand daarteen te bied. Sodoende kan sommige literêre werke beskou word as vergestaltings van ʼn queer lesing van ʼn heteronormatiewe diskoers wat die terme van die diskoers ondersoek, denaturaliseer en destabiliseer. Deur die kunsmatigheid en onderliggende teenstrydighede daarvan aan die lig te bring, verset hierdie literêre tekste hul teen die aannames van ʼn heteronormatiewe diskoers, en word die diskoers ondermyn.

In hierdie verhandeling is drie romans bespreek wat temas van non-heteronormatiewe seksualiteit en vigs aanraak en wat terselfdertyd queer lesings van ʼn heteronormatiewe vigsdiskoers bied. Ten einde hierdie bespreking te doen, is queer teorie as terrein ondersoek om dit tot so ʼn mate te begrens dat dit as effektiewe teoretiese instrument kon dien om die ondermynende werking van literêre werke te beskou. Na aanleiding van die bespreking van queer teorie is ʼn heteronormatiewe vigsdiskoers ondersoek, met die fokus op voorveronderstellings omtrent homoseksualiteit, vigs en dood. Uiteindelik is die romans bespreek ter illustrasie van hoe strategieë uit queer teorie op ʼn heteronormatiewe vigsdiskoers toegepas kan word, soos die romans dit uitbeeld.

5.2 Gevolgtrekkings