• No results found

2.4.3 “Queer”: ʼn tentatiewe omskrywing

3.4 Kettings van betekenaars

3.4.1 Die gebrek aan ʼn stabiele referent van vigs

Die signifikasie van vigs word geproblematiseer deur die feit dat vigs op sigself “onsigbaar” is. Wat wél sigbaar is, is die opportunistiese infeksies wat gebruik maak van die liggaam se verswakte immuunstelsel as gevolg van MIV-positiwiteit – ʼn status wat op sigself “onsigbaar” is, aangesien die aanwesigheid van MIV slegs bepaal word deur die aanwesigheid van teenliggaampies daarvoor. Vigs het dus geen referent nie, maar slegs die tekens van simptome van opportunistiese infeksies soos byvoorbeeld Karposi‟s sarcoma, wat skynbaar ʼn gevolg is van MIV, wat óók geen referent het nie en afhanklik is van die tekens van teenliggaampies (wat eintlik ook in ʼn mate “onsigbaar” is, aangesien daar op hierdie stadium van die siekte geen simptome is nie, en die MIV-toets nodig is om sero-positiwiteit te bepaal).

Susan Sontag (1991:113) beskryf vigs gevolglik as “more a product of definition or construction than even a very complex, multiform illness as cancer” en beskryf verder hierdie problematiek as volg:

The first major illness known by an acronym, the condition called AIDS does not have, as it were, natural borders. It is an illness whose identity is designed for purposes of investigation and with tabulation and surveillance by medical and other bureaucracies in view. Hence, the unselfconscious equating in the medical textbook of what is empirical with what pertains to surveillance... (Sontag, 1991:114)

Hierdie stelling suggereer dat die projeksie van ʼn kernreferent ʼn gevolg is van die behoefte aan iets “waarneembaars”, met ander woorde, die behoefte daaraan om ʼn sigbare teken te hê gaan gepaard met die aanname dat die teken ʼn referent het, en dat dit dui op ʼn vaste “identiteit”. In aansluiting hierby word MIV en vigs dikwels saamgesmelt tot “MIV/vigs”. Hierdie twee terme word gelyk gestel asof hulle een referent deel en bloot twee betekendes het ter wille van volledigheid. Dit veronderstel dat MIV en vigs in ʼn lineêre, kousale verband met mekaar staan, ʼn “linear narrative progressing ineluctably from a determinate beginning to a pre-determined end” (Edelman, 1993:10) – ʼn lineêre narratief van “seksuele misdryf = MIV = vigs = dood”, wat ʼn impak het op die aanname van “homoseksualiteit = dood” via die vergelyking van “homoseksualiteit = vigs = dood”.

Verder is die samesmelting van MIV as die veronderstelde aanduier van vigs met vigs as die effek of teken daarvan ook problematies. Edelman (1993:10) verwys na hierdie praktyk as “referential violence” wat hy omskryf as

a conflation that rhetorically identifies the effect with the medical indicator of the putative cause as if such referential violence could, paradoxically, reinforce the coherence of “AIDS” by achieving its totalization and its ideological compaction.

Dit is dan die kernprobleem van die signifikasie van vigs: dit is nie ʼn samehangende entiteit met ʼn eenvoudige betekenaar/betekende-tweeluik nie; nie as ʼn mediese toestand nie, en ook nie as ʼn kulturele verskynsel nie. Edelman (1993:9-10) dui die onsamehangendheid en ondefinieerbaarhid van vigs as ʼn mediese toestand aan deur te verwys na die voorgenome aanpassing van die definisie van vigs in 1991. Die voorgestelde definisie sou die amptelike klassifikasies van vigs sodanig verander het dat dit die aantal Amerikaners wat op daardie tydstip amptelik aan vigs gely het, sou verdubbel het. Teen die tyd van hierdie projek was daar reeds ʼn veertien-bladsy lange klassifikasie van vigs deur die regering, maar selfs “a '14-page definition' cannot secure the referential adequacy of “AIDS”” (Edelman, 1993:10). Die gebrek aan selfs ʼn stabiele mediese betekenaar bring mee, volgens Edelman (1993:9), dat vigs nooit as ʼn onderwerp van enige skrywes kan dien nie. ʼn Onderwerp of subjekposisie “engages an economy of reference” – iets wat vigs nie het nie:

“AIDS,” in the first place, and on the most literal level, lacks a coherent medical referent, remaining a signifier in search of the determinate condition or conditions it would signify. A diagnostic term describing the state in which the immune system – compromised through HIV infection – can no longer ward off certain officially designated opportunistic diseases, “AIDS” constitutes [an] unstable signifier even in the arena of medical discourse.

Enige skynbaar samehangende diskoers omtrent vigs is dus ʼn illusie wat noodwendig berus op “referential violence”, wat ʼn magdom ideologiese aannames insluit. Deur “AIDS” in aanhalingstekens te plaas, beklemtoon Edelman die feit dat wat ook al onder “vigs” verstaan word bloot ʼn diskoers is wat bestaan uit aanvegbare aansprake op kennis. Hy beklemtoon ook dat die woord, “AIDS”, ʼn naam is wat, as akroniem (“the first major illness known by an acronym” (Sontag, 1991:114)), voorgee om ʼn baie akkurate talige weergawe te wees van ʼn verskynsel in die werklikheid, terwyl daar eintlik geen vaste referent is wat korrespondeer met die skynbaar stabiele betekenaar nie.

Dit sluit aan by Epstein (1996:78) se bewering dat die benaming “MIV” (of dan “vigs”) die virus (of om meer akkuraat te wees: die effekte van die virus) gestabiliseer het tot ʼn enkelduidige objek van mediese kennis. Voor dit egter kon gebeur, moes die virus eers tot ʼn relatief stabiele kulturele entiteit gekonsolideer word – ʼn proses wat plaasgevind het deur dit

binne die konteks en raamwerke van reeds-bestaande kulturele diskoerse te plaas (Epstein, 1996:79). Hieruit kan afgelei word dat, voordat ʼn skynbaar stabiele betekenaar geskep kon word, daar eers die illusie moes wees van ʼn skynbaar stabiele betekende. ʼn Stabiele betekende is nodig om “betekenis” te verskaf wat ʼn stabiele betekenaar moontlik maak; en die stabiele betekenaar verseker dat die betekende as stabiel beskou word.

Patton (1990:119) beskryf hierdie illusie van stabiliteit in terme van ʼn medies-wetenskaplike diskoers wat voorgee om objektiewe kennis te genereer:

We argue that homosexuallity is fluid, socially constructed, historically contingent, but we say that AIDS and HIV antibody positivity are fixed, essential, objective. Because science can isolate a virus, AIDS and HIV are “real” states, not identities or roles to be negotiated.

Hierdie siening het verdere implikasies in die wyse waarop die identiteite wat met MIV/vigs geassosieer word, gekonstrueer word: alhoewel daar geargumenteer word dat homoseksualiteit ʼn sosiale en historiese konstruksie is, word die eienskappe van die konsep waarmee dit saamgesmelt word (MIV/vigs) daarop oorgedra. As “homoseksualiteit = vigs”, en “vigs = vasgestel, essensieel en objektief”, dan is die implisiete aanname dat “homoseksualiteit = vasgestel, essensieel en objektief”. Hierdie aanname vind direk neerslag in die wederkerende oordrag van betekenis wat in die hermedikalisering van homoseksualiteit bespreek is, ʼn medikalisering wat slegs deur aannames van essensialisme en stabiliteit van identiteit moontlik gemaak word.

Hierdie aannames van stabiliteit van identiteit, sowel as die illusie van stabiliteit van ʼn referent van vigs, is veral duidelik in die wyse waarop die liggaam aan vigs gelyk gestel word word binne die vigsdiskoers.