• No results found

2.4.3 “Queer”: ʼn tentatiewe omskrywing

4.2 Kontekstualisering van die romans 1 Ek stamel ek sterwe

4.2.3 Het derde huwelijk

Het derde huwelijk verskyn in 2006 en is Tom Lanoye se sesde roman. Die verhaal word

vertel uit die oogpunt van Maarten Seebregs, ʼn selfgeïdentifiseerde “nicht” (ʼn gay man). Maarten is sieklik, alhoewel die oorsaak van sy siektetoestand nooit genoem word nie. Sy minnaar, Gaëtan, is jare vantevore oorlede aan ʼn ernstige, ongenoemde siekte. Maarten kry ʼn aanbod van ene Vandessel om teen vergoeding ʼn onwettige huwelik met Vandessel se verloofde, Tamara, aan te gaan sodat sy burgerskap kan verkry. Maarten stem in en die gebeure in die hede handel oor sy huwelik met Tamara, konflik tussen hom en Vandessel, asook Tamara se geheime liefde. Die vertelling van sy lewe saam met Tamara word afgewissel met herinneringe aan Gaëtan en hulle lewe saam. Maarten se toestand versleg en hy pleeg uiteindelik selfmoord deur met sy verswakte liggaam die see in te stap.

4.2.3.1 Ontvangs van Het derde huwelijk

Maarten is ʼn selfgeïdentifiseerde gay man, of soos hy na homself verwys, ʼn “nicht”, maar anders as Ek stamel en Shy hunters, sien Het derde huwelijk10 geheel en al af van die struktuur en plot van ʼn stereotipiese vigsroman (die “conventional coming-of-age, coming-to- terms, coming-out plots” waarna Kurth (2001) verwys; en die “before-and-after-fiction” wat Woods (1998:368) geïdentifiseer het).

Oor die algemeen is die temas van homoseksualiteit en vigs skynbaar ook nie van veel belang vir resensente nie. In ʼn resensie wat in De Groene Amsterdammer verskyn het, is Hart (2006) trouens die enigste resensent wat verwys na die moontlike geyktheid van temas soos vigs en homoseksualiteit, maar dan ook net binne die groter konteks van maatskaplike en politiese probleme:

[Bij Lanoye klinken] ook in dit boek in alle scènes maatschappelijke en politieke kwesties door. Aids, asielzoekers, consumentisme, emancipatie van homoseksuelen. Het speelt allemaal een rol en bij een slechte schrijver zou het allemaal om te gapen zo vervelend kunnen zijn. God, alweer een homo die het moeilijk heeft en negers worden onderdrukt. Maar juist door het spel van stem en tegenstem dat Lanoye vernuftig opvoert slaagt hij erin van zijn personages geen vertegenwoordigers te maken van moreel correcte meningen die het gelijk allemaal al van te voren aan hun kant hebben.

Die potensiaal vir geyktheid in Huwelijk gaan vir Hart dus nie oor die hantering van ʼn gay karakter of die vigstema nie – homoseksualiteit en vigs is maar net nóg polities-sosiale probleme soos soveel ander. Anders as met die ontvangs van Ek stamel en Shy hunters, word homoseksualiteit en vigs in Huwelijk dus nie uitgelig as die vernaamste temas wat die roman karakteriseer nie.

Die feit dat die roman nie self na vigs verwys nie, dra sekerlik by hiertoe. In ʼn onderhoud met Vankersschaever (2010) in De standaard oor die luisterdrama wat Tom Lanoye saam met Tom van Dyck vervaardig het as ʼn “audioverwerking” van Huwelijk, som Lanoye self die boek soos volg op: “In Huwelijk heb je Maarten Seebregs, een homoseksueel met aids die zijn laatste maanden ingaat.” Ten spyte hiervan is vigs nêrens in die roman ter sprake nie. Die siekte waaraan Maarten ly, word nie genoem nie, en anders as in Ek stamel word die simptome van vigs nie eens by hom beskryf sodat die ingeligte leser self die afleiding kan maak nie. Ten spyte hiervan is dit opvallend dat die aanname steeds onder resensente voorkom dat Maarten aan vigs ly en dat Gaëtan aan vigs oorlede is. Selfs al vermeld die roman self nie vigs nie, word dit steeds in ʼn mindere of meerdere mate binne die raamwerke van die vigsdiskoers gelees.

Die meeste resensente skenk egter nie veel aandag aan Maarten se siektetoestand of Gaëtan se sterfte nie – hulle onderskeie bydraes tot die verhaallyn en groter tematiek word eerder beklemtoon. Van de Voorde (2007) merk byvoorbeeld net op dat Gaëtan aan ʼn terminale siekte gesterf het; en Wybenga (2007) verwys slegs na Maarten as “[e]en bijna zestigjarige, doodzieke homofiel”. In die lig hiervan is dit des te meer opvallend dat sommige resensente wél die aanname maak dat Maarten aan vigs ly of dat Gaëtan daaraan gesterf het. Opmerkings hieroor word terloops gemaak as uitbreiding op ʼn karakterbeskrywing, of dien as illustrasie van ʼn onverwante standpunt.

In haar resensie in die oggendkoerant in die nrc.next, beskryf Etty (2006) Maarten gevolglik as ʼn “homoseksuele aids- of kankerpatiënt”. Sy bied geen motivering of verduideliking vir waarom sy hom as ʼn vigslyer beskou nie. Hierdie gebrek aan ‟n verduideliking is ook te sien in Hart (2006) se resensie waar hy verwys na Gaëtan se sterfte om sy opmerking oor Lanoye se skryfstyl te illustreer:

Lanoye is een meester van de schijnbeweging. Hij beschrijft allerlei verdrietige, pijnlijke en soms rechtstreeks moorddadige situaties zonder dat je het gevoel krijgt dat het allemaal heel erg is. Seebregs vriend is bijvoorbeeld kortgeleden aan de gevolgen van aids overleden. Lanoye geeft van de laatste verschrikkelijke dagen een nauwkeurig verslag, zo is hij wel,

maar hij zorgt er steeds voor dat ons de tranen niet in de ogen springen, het mag van deze zeer precies opererende schrijver nooit sentimenteel worden.

Bogenoemde voorbeelde dui daarop dat die gelykstelling tussen homoseksualiteit en vigs hier subtiel aanwesig is. Hierdie gelykstelling en aannames hoef nie eers gemotiveer te word nie, só skynbaar algemeen aanvaarbaar is die aanname dat ʼn gay man wat siek is, noodwendig siek is aan vigs.

Hierdie idee word bevestig in ʼn onderhoud wat Vervoort (2006) in die Belgiese Nieuwsblad met Lanoye gevoer het. Vervoort stel die volgende vraag: “Gaëtan, de levenspartner van Maarten, is gestorven aan een ziekte. Ook Maarten is ernstig ziek. Is het erg dat ik spontaan aan aids dacht?” Hierop antwoord Lanoye:

Helemaal niet, maar die term valt in het boek niet één keer. Het is ook niet echt belangrijk aan welke ziekte Gaëtan overleden is of Maarten lijdt. In Kartonnen dozen wordt de term homo, jannet, homoseksualiteit of, god beware me, homofilie nergens genoemd. Dat is ook geen thema of materiaal op zich. De gevolgen zijn belangrijk. De manier waarop mensen met hun seksualiteit in relatie met de andere omgaan.

Waar Venter doelbewus poog om vooroordeel teen homoseksualiteit en vigs te systap deur eksplisiete verwysings hierna in Ek stamel te vermy, dui Lanoye se beskouing eerder op ‟n poging tot ‟n naturalisering van hierdie temas. Volgens hom is homoseksualiteit of vigs, in teenstelling met heteronormatiewe beskouings hiervan, nie “vreemd” of “anders” genoeg om waardige literêre temas op sigself te wees nie. Venter erken dus die potensiaal van omstredenheid wat verwysings na homoseksualiteit en vigs besit, terwyl dit volgens Lanoye bloot nie belangrik is nie.

Alhoewel die resensente van Huwelijk dit ook nie as belangrik genoeg ag om veel bespreking daaraan te wy nie, is dit duidelik uit hulle aannames dat die roman steeds binne die vigsdiskoers geplaas word: die feit dat die siek protagonis gay is en sy gay minnaar ook na ʼn siekbed oorlede is, roep onmiddellik “vigs” op by ʼn leserspubliek wat in die gelykstelling “homoseksualiteit = vigs” glo.11 Ten spyte van die feit dat vigs nie by name genoem word of

selfs eksplisiet aangedui word nie, en ongeag die skrywer se uitsprake omtrent die roman, word die roman dus binne die raamwerk van die vigsdiskoers geplaas en gelees.

Die drie romans, Ek stamel, Shy hunters en Huwelijk tree op verskillende wyses in gesprek met die heersende vigsdiskoers. Ek stamel noem nooit vigs by die naam nie, alhoewel die beskrywing van Konstant se simptome duidelik dui op dié van vigs. In Shy hunters speel vigs ʼn onomwonde, onverbloemde en onapologetiese rol; en in Huwelijk, waar vigs glad nie eens direk geïmpliseer word nie, word dit ingelees na aanleiding van die merkers van homoseksualiteit.