• No results found

2.4.3 “Queer”: ʼn tentatiewe omskrywing

4.3 Die romans as queer tekste

4.3.1 Ek stamel ek sterwe

4.3.1.1 Destabilisering van identiteitskategorieë

Die uitbeelding van Jude in Ek stamel is die duidelikste voorbeeld van die wyse waarop die roman heteronormatiewe identiteitskategorieë ontwrig. Die wyse waarop Jude uitgebeeld word bied weerstand teen ‟n gemaklike gelykstelling van geslag en gender. Dis reeds duidelik wanneer Konstant haar13 die eerste keer ontmoet en die klem geplaas word op haar as mens sonder enige vooropgestelde verwagting van haar geslag of selfs gender:

‟n Entjie voor my merk ek ’n persoon alleen op ‟n groot wit sofa sit. Langs die sofa is ‟n glasniertjie op ‟n sandsteen met ‟n glas witwyn daarop. Ek bly die mens dophou. Die wyn op die tafeltjie bly onaangeraak asof die persoon wil bewys dat selfs ‟n slukkie wyn onnodig is as kruk vir sulke isolasie te midde van al die gefuif en gebabbel.

Hoe lank kan jy ’n mens dophou sonder om gesien te word? Dis net ‟n kwessie van

tyd. Maar ten aansien van so ‟n teenwoordigheid! (Venter, 2005:46) (my kursivering)

In die eerste drie gevalle is die beskrywings van “‟n persoon” of “‟n mens” ‟n opvallende manier om ‟n beskrywing soos “‟n man” of “‟n vrou” sowel as persoonlike voornaamwoorde wat geslag aandui, te vermy. In die sin “Hoe lank kan jy ‟n mens dophou” sou die eweneens neutrale “iemand” egter taalkundig meer algemeen gewees het, maar deur die opvallende neutrale verwysing na “‟n mens” te herhaal, word die vorige vermyding van persoonlike voornaamwoorde beklemtoon.

In skynbare teenstelling hiermee skep Konstant se latere vraag “En wat, as ek mag vra, is jy van geslag?” (Venter, 2005:47) die indruk dat die gender-neutrale verwysings na Jude nie bloot ‟n vertelstrategie is nie, maar eerder omdat Jude se geslag regtig vir Konstant onduidelik is. Dat haar geslag wel nie belangrik is nie, is egter ook duidelik. Konstant wonder nie verder hieroor nie, maar antwoord dadelik sy eie vraag: “Dis onmoontlik om vas te stel: dubbelslagter, hartesmelter, djy‟s Djude, nè?” waar die klem weereens op Jude as mens geplaas word, en uitsluitsel oor haar geslag bly irrelevant. Eers ‟n bladsy later is daar ‟n verwysing wat moontlik uitsluitsel oor Jude se geslag kan gee:

Wat doen jy om jouself aan die lewe te hou, waar kom jy vandaan, waar woon jy, waar het jy skool gegaan, was jy op universiteit, het jy in die army afgetjop – ons hou die landswydbekende uitkenparade. (Venter, 2005:48)

13 Ten spyte van die polemiek oor Jude se biologiese geslag, verwys ek na Jude as “sy” om die roman se integriteit te behou. Ek wil egter nie daarmee beweer dat ek die finale antwoord het oor haar geslag nie, of selfs dat uitsluitsel hieroor belangrik is nie.

Die verwysing na die weermag – wat Jude as biologies manlik sou geëien het – word terloops genoem en afgemaak as bloot deel van ‟n “landswydbekende uitkenparade”, ‟n sosiale strategie om op ‟n oppervlakkige wyse mense te leer ken. As gevolg van die bewussynstroomtegniek waarin Konstant gebeure beskryf, is dit ook nie duidelik of hy hierdie vraag aan Jude stel, of sy dit aan hom stel, en of hulle dit aan mekaar stel nie.

Konstant verwys eers agt bladsye ná hulle aanvanklike ontmoeting terloops na Jude as “sy” (Venter, 2005:54). Dit word sonder enige aankondiging of verduideliking gedoen en is geensins ‟n eksplisiete verklaring van haar biologiese geslag nie. Die wyse waarop Konstant na Jude verwys en haar beskryf, is dus ‟n aanduiding dat eerder as ‟n onmiddellike betekenisraamwerk, geslag toevallig is. Hierdeur word die mees algemene heteronormatiewe gelykstelling, naamlik dat geslag en gender ooreenkom, ook ontwrig. Die eerste keer wat Konstant vir Jude sien, dra sy ‟n “monnikekleed” (wat dui op ʼn manlike kledingstuk), maar beskryf dit ook as ‟n “rok”, wat met die vroulike gender geassosieer word (Venter, 2005:46). Later beskryf hy die inhoud van haar klerekas, met onder andere langbroeke, Skotse rompies, gebleikte onderklere, sakdoeke, serpe en doeke, sokkies en sykouse, sandale en stewels (Venter, 2005:59) – ‟n versameling kledingstukke wat as verteenwoordigend van beide genders beskou kan word. Die wyse waarop Jude uitgebeeld word bevestig dat gender, soos geslag, nie ‟n vasgestelde, stabiele essensie is nie: dit is ‟n effek van tekens wat herhaaldelik uitgevoer word, en bowendien kan die tekens wat Jude deur middel van haar kleredrag uitvoer, nie aan ‟n eenduidige genderkategorie gekoppel word nie. Die onmoontlikheid om Jude onomwonde as óf manlik óf vroulik, óf heteroseksueel óf homoseksueel te plaas, bevestig die idee dat queerheid nooit ʼn identiteit kan definieer nie, maar enige identiteit kan ontwrig. Jude se queer identiteit is ʼn strukturele posisie van teenstelling eerder as ʼn vasgestelde essensie.

Aangesien heteronormatiewe beskouings van identiteit ‟n normatiewe verhouding tussen geslag, gender en seksualiteit veronderstel – naamlik dat ‟n biologiese vrou ‟n vroulike sosiale identiteit uitdruk en aangetrokke is tot ‟n biologiese man wat ‟n manlike sosiale identiteit uitdruk – het die wyse waarop Jude geslag en gender kompliseer implikasies vir die beskouing van haar sowel as Konstant se seksualiteit. As Jude as biologies manlik gelees word, is sy homoseksueel; en as biologiese vrou ondermyn sy deur middel van haar seksualiteit die passiewe, monogame seksualiteit en lae seksdrang wat heteronormatief ‟n vroulike gender sou kenmerk (vgl. Sinfield, 1997:204,207). Verder berus spekulasies oor Konstant se seksualiteit grootliks op Jude se biologiese geslag. Die verband wat hier getrek word tussen Konstant se seksualiteit en sy verhouding met Jude, beklemtoon die wyse

identiteit, wat saamhang met die heteronormatiewe veronderstelling dat iemand óf heteroseksueel óf homoseksueel is. Konstant se minnaar is egter nie kategoriseerbaar in terme van geslag of gender nie, en gevolglik is Konstant se seksualiteit ook nie kategoriseerbaar nie. Sodoende word die heteronormatiewe betekenisraamwerk waarbinne seksualiteit gekoppel word aan die geslag en gender van iemand se keuse in minnaars gedestabiliseer.

Om Ek stamel se destabilisering van heteronormatiewe identiteitskategorieë en die veronderstelde normatiewe verhouding tussen hierdie kategorieë te illustreer, kan verwys word na Heyns (2006:18) se stelling in terme van Jude se geslag en seksualiteit: “his/her sexual behaviour is pretty clearly that of a gay male rather than a woman”. Jude se “seksuele gedrag” sluit terloopse, promiskue en soms selfs publieke seksuele ontmoetings in, wat tekenend is van gedrag wat tradisioneel as non-heteronormatief beskou word (Rubin, 2007:160).

Indien Jude ‟n gay man is, sal Konstant volgens heteronormatiewe logika noodwendig ook homoseksueel wees, selfs al neem hy nie ‟n gay identiteit aan nie. Konstant se optrede is egter teenstrydig met die optrede wat Jude sogenaamd kenmerk as ‟n “gay male”: anders as die veronderstelde gay manlike optrede van Jude, heg Konstant waarde aan getrouheid en monogamie, tradisioneel beskou as kenmerke van normatiewe heteroseksuele gedrag (vgl, Rubin, 2007:160). Indien optrede gelykstaan aan identiteit, soos Heyns redeneer, is Konstant volgens hierdie argument ʼn verhole heteroseksuele vrou. Die ontwrigting van identiteitskategorieë in Ek stamel destabiliseer dus nie net die kategorieë op sigself nie, maar ondermyn ook die heteronormatiewe logika wat veronderstel dat hierdie kategorieë in ʼn sekere verhouding tot mekaar staan, en aangesien heteronormatiewe identiteitskategorieë berus op signifikasie, word die hele proses van heteronormatiewe betekenisvorming ondergrawe.