• No results found

5.3. BINDING AAN BESLUITE OP GROND VAN DIE SKRIF

5.3.4. Wesentlike en middelmatige sake

Die feit dat daar verskille bestaan oor die bepaalde besluite wat op ‘n meerdere vergadering geneem is, impliseer alreeds dat almal nie dieselfde graad van belangrikheid aan die sake koppel nie. Om hierdie rede is dit noodsaaklik dat besin sal word oor sogenaamde middelmatige sake aan die een kant en wesentlike sake aan die ander kant. In die verskille

wat daar bestaan staan die vraagstuk na wat middelmatig is en wat wesentlik is in die brandpunt. Dit bepaal ook tot watter mate die verskille onderling onder mekaar verdra kan word. Die besinning oor wesentlike en middelmatige sake raak die Gereformeerde Skrifbeskouing wanneer bepaal moet word watter sake in die Bybel sentrale sake en watter periferale sake is.

Wesentlike sake is sake wat direk uit die Skrif kom (Howell, 2004:42). Hier gaan dit nie net oor dinge wat pertinent daar staan nie, maar ook sake wat op grond van direkte Skrifgegewens geldig uit die Skrif afgelei kan word. Dit is daardie sake wat die waarheid van die Woord en die geloof in God direk raak. Howell (2004:43) wys tereg daarop dat Skrifbeskouing ʼn kardinale rol speel om by dieselfde siening en verstaan van wesentlike sake uit te kom. Sinoniem met die wesentlike sake is wat deur Calvyn aangedui word as die essentialia wat sake is wat uit die Skrif afgelei kan word slegs as die afleidings die toets van die Skrif kan deurstaan. Dit is die sake wat die geloofsbelydenis raak of die sake wat die gebruike wat op die Skrif en die voorbeeld van die apostels gegrond is (Howell, 2004:44). Wesentlike sake is dus sake wat die gewete bind en dié wat die algemene belang raak en om onvermydelike en noodsaaklike redes van krag is. Dit kom daarop neer dat wesentlike sake die sake is wat op grond van gangbare eksegese uit die Skrif aangewys kan word. Teenoor die wesentlike, of essentialia staan die middelmatige sake. Dit is sake wat nie direk uit die Skrif of die belydenis af te lei is nie. Hierdie sake sluit gewoonlik onderlinge ordereëlings in. Uit die aard van die saak mag die gewetens van gelowiges nie in middelmatige sake gebind word nie. Tog bind besluite oor middelmatige sake gelowiges se optrede aangesien hulle vrywillig teenoor mekaar ooreengekom het om op ʼn bepaalde manier op te tree. Soos wat die Skrif bepaal watter sake wesentlik is, bepaal die Skrif ook watter sake middelmatig is. Die dinge wat in die Skrif op die periferie lê en nie in die sentrum van die evangelie verkondiging staan nie, behoort ook in die kerk as middelmatig geag te word. Middelmatige sake beteken egter nie dat dit sake van minder belang is nie (Howell:2004:48).

Dit hou noodwendig in dat daar besin moet word oor die vraag of die sake waaroor daar tans verskil in die kerke heers, as middelmatige sake getipeer kan word waarin kerke self kan besluit. Hierdie vraag kom veral voor by die kwessie van die gebruik van kelkies tydens die viering van die nagmaal. Soos reeds aangetoon in 3.5.4 (bl.75) is Van Wyk (1990:256) van mening dat die Skrif nie misbruik mag word om ʼn bepaalde manier van nagmaalgebruik te sanksioneer nie. In verband met middelmatige sake kom dit daarop neer dat ʼn middelmatige saak verhef word tot ʼn wesentlike saak. Dus word ʼn saak wat op die periferie van die Skrif lê, verhef tot ʼn kwessie wat in die middelpunt staan. Dieselfde kan gevra word van die beryming wat gesing word en die vertaling wat gelees word en wie in die besondere amp dien en of

verskillende bevolkingsgroepe lidmate van dieselfde gemeente kan wees. Is dit sake wat in die middelpunt staan of op die periferie van die openbaring van God?

Vanuit ʼn simplistiese hoek kan hierdie sake moontlik deur sommige geag word as middelmatig, maar tog is daar sekere aspekte wat wesentlik is wat in ag geneem moet word. In hierdie aspekte moet die implikasies van dit wat oor die gesag van die Skrif bely word, in ag geneem word. As voorbeeld kan genoem word dat die wesentlike aspekte in die debat oor die vrou in die amp nie gaan oor of vroue in die amp mag dien of nie, maar op watter manier die Skrif gebruik word om vroue tot die amp toe te laat of nie toe te laat nie. Net so gaan dit nie oor die vraag of daar uit ʼn kelkie of ʼn beker gedrink moet word tydens nagmaal nie, maar oor hoe besin ons oor periferale en middelpunt sake in die Skrif. By die besinning oor Bybelvertaling en Psalmberyming moet deurgedring word na die die aanwysing van die Messias in die vertaling en beryming van die Ou Testament. Smit (1984:106-110) skryf dat slegs God die mens se gewete deur sy Woord kan bind. Wanneer ons gewetens bind op grond van menslike oorlewering en middelmatige sake word die gelowiges aan die tirannie van mense uitgelewer. In dieselfde asem moet ook erken word dat die menslike vryheid slegs binne die grense van God se Woord ware vryheid is. In hierdie lig is dit van wesentlike belang dat besin sal word aan watter sake ons gebind is deur die voorskrif van God se Woord en in watter sake laat die Woord ons vryheid toe. Spoelstra (1989:467) wys daarop dat selfs Calvyn gemaan het om verdraagsaam met gebreke, selfs tot op die vlak van leerverskille, tot op ʼn bepaalde hoogte te wees, om skeuring of afskeiding in die gemeente te verhoed. Die vraag is wel hoe die “hoogte” van verdraagsaamheid bepaal word. Die bepaling en duidelike omskrywing van dit wat as wesentlik en middelmatig geag word kan as goeie hulpmiddel dien om die hoogte te bepaal. In die verskille wat tans in die GKSA heers is dit van net so groot belang om uitsluitsel hier oor te kry. Veral op die gebied van kerkreg en binding aan sinodebesluite.

Ten opsigte van die heersende verskille in die GKSA bied besinning oor middelmatige en wesentlike sake ʼn weg waarlangs verskille opgelos kan word. As sprekende voorbeeld kan hier die kwessie van die gebruik van kelkies tydens die viering van die Nagmaal dien. Wanneer ooreenstemming gevind kan word of die gebruik van die gemeenskaplike beker ‘n wesentlike (of middelmatige) saak is, kan spanning voorkom of opgelos word. Wanneer dit duidelik word dat dit wel ʼn wesentlike saak is weet kerke en lidmate dat dit so volgens die instelling van Christus gevier behoort te word. Indien dit duidelik is dat die gebruik van die beker ‘n middelmatige saak is, behoort lidmate verdraagsaam teenoor mekaar te wees te midde van die verskillende standpunte. In hierdie lig behoort die gesprek nie net te handel oor die die beker of kelkies nie, maar juis oor die belangrikheid of nie-belangrikheid van die gemeenskaplike drinkbeker. Hierdie benadering geld ook die ander verskille wat tans in die

GKSA verband heers. In plaas daarvan om te fokus op die mag en nie mag nie moet gepoog word om te besin waaroor daar wel verskillende praktyke toegelaat behoort te word en waarin is daar ‘n duidelike voorskrif vanuit die Skrif af te lei is.