• No results found

3.4. DIE 1983-VERTALING VAN DIE BYBEL EN 2001-OMDIGTING

3.4.5. Die dinamies-ekwivalente vertaal metode

In die besware teen die gebruik van die 1983 vertaling van die Bybel word daar melding gemaak dat die gebruik van die dinamies-ekwivalente vertaalmetode aanleiding gee tot ʼn Skrifbeskoulike verskuiwing. Met dinamies-ekwivalente vertaling word bedoel dat die vertaling van ‘n betrokke gedeelte dieselfde effek op die hedendaagse leser het as wat dit op die eerste oorspronklike lesers gehad het, al verskil die bewoording en struktuur van die vertaling van die oorspronklike (Snyman, 2003:177, vgl. ook Van Bruggen, 1978:30). Dit gaan dus nie oor die letterlike weergee van ʼn betrokke gedeelte nie, maar ʼn weergawe van die betekenis van die oorspronklike. Helberg verduidelik hierdie definisie aan die hand van ʼn voorbeeld uit Job: “...Totius het by geleentheid gesê dat Job nie Afrikaans wil praat nie. Wanneer ons die Nuwe Vertaling ontvang het, sal wel blyk dat die nuwe vertalingsmetode Job minder daarop gesteld maak om Hebreeus te handhaaf en meer gewillig om Afrikaans te praat” (Helberg, 1983:5).

Die vertaalmetode gaan nie maar net oor die manier waarop die oorspronklike in die ontvanger-taal oorgeplaas word nie, maar dit neem die ontvanger-gemeenskap in ag en

poog daarom om die gedeelte in ʼn verstaanbare idioom vir daardie gemeenskap oor te plaas. Deur hierdie vertaalmetode word nie net die taal nie, maar ook die gebruiker van die taal in ag geneem (Van Bruggen, 1978:68). In kritiek op hierdie benadering wys Van Bruggen (1978:96) daarop dat daar in die vertaalmetode uitgegaan word van die standpunt dat daar ʼn kloof bestaan tussen die Bybelse openbaring en die hedendaagse leefwêreld van die Bybelleser. Hierdie kloof kan alleen oorbrug word as die teks geherinterpreteer word en daardie herinterpretasie in die vertaling gestalte neem.

Die raakvlak tussen die dinamies-ekwivalente vertaalmetode en Skrifbeskouing raak die duidelikheid van die Skrif. Dit wil voorkom of die dinamies-ekwivalente vertaalmetode van die standpunt uitgaan dat die Skrif onduidelik is en dat dit alleen maar deur die interpreterende werk van die vertalers duidelik en verstaanbaar vir die hedendaagse leser aangebied kan word. Helberg (1984:11) stel selfs dat hierdie “gekontroleerde interpretasie” veiliger is as wanneer ʼn leser ʼn letterlike vertaling lees en sy eie interpretasies van die teks maak. Teenoor die klein moontlikheid van verkeerde verklaring deur die vertalers staan die werklikheid van verkeerd verstaan deur die lesers in die geval van die meer letterlike vertaling.

Dit is duidelik dat die dinamies-ekwivalente vertaalmetode self problematies kan wees. Die feit is egter dat daar by enige vertaling ʼn mate van verklaring en interpretasie teenwoordig is. Tog erken die deputate dat die dinamies-ekwivalente vertaalmetode nie kan slaag om betekenis honderd persent weer te gee nie. Ten minste kan geen vertaling dit doen nie. In die hantering van die beswaarskrifte teen die gebruik van die 1983 vertaling word die leemtes van die dinamies-ekwivalente vertaalmetode erken en daar word selfs gelyk gegee dat die Skrifbeskoulike uitgangspunte van hierdie metode nie die toets van Skrif en belydenis self kan deurstaan nie, maar terselfdertyd wys die beswaardes nie waar hierdie afwykings in die teks van die 1983-vertaling na vore kom nie (ACTA, 2009:114-116). Die tergende vraag bly steeds of ʼn verskuiwing in Skrifbeskouing plaasgevind het toe die kerke hierdie vertaling wat op die lees van die dinamies-ekwivalente metode geskoei is, aanvaar het. Uit die beswaar wat voor die Sinode gedien het, is nie aangetoon dat die aanvaarding van die 1983-vertaling aanleiding gee tot ʼn vreemde Skrifbeskouing nie, alhoewel die leemtes van die bepaalde vertaalmetode aangetoon is. Feit is dat die leemtes van die vertaalmetode aanleiding gegee het tot die besluit om aan ʼn brontaal-georiënteerde vertaling van die Bybel te werk en in die toekoms beskikbaar sal word (Snyman, 2003:191).

3.4.6. Samevattend.

In hierdie afdeling is ondersoek gedoen of die gebruik van die 1983-vertaling van die Bybel en die 2001-omdigting dui op ʼn veranderde Skrifbeskouing wat in die GKSA posgevat het. Al

is Bybelvertaling en Psalmberyming twee selfstandige aspekte, is dit hier saam behandel, aangesien die besware op dieselfde Skrifbeskoulike gronde staan. Skrifbeskoulike aspekte wat geraak word is die eenheid van die Skrif soos dit in die aanduiding van Messiaanse gedeeltes gereflekteer word en die duidelikheid van die Skrif soos dit in die kwessie van gebruikte grondtekste en vertaalmetode gereflekteer word.

Uit die ondersoek aangaande die Messiaanse aanduidings in die Ou Testament het dit in die besluite van verskillende Sinodes duidelik geword dat die eenheid tussen die Ou en die Nuwe Testament deur die kerke steeds erken en bely word. Daar is inderdaad Ou Testamentici wat ʼn skeiding tussen die twee testamente bring deur aan te voer dat die Messiaanse duiding van ʼn Ou Testamentiese gedeelte slegs interpretasie van die Nuwe Testamentiese kerk is. Die GKSA gaan van die standpunt uit dat die hele Ou Testament gerig is op die koms van die Messias, maar dat daar dan onderskei word tussen direkte en indirekte Messiaanse gedeeltes. Gesprek oor hierdie onderskeid raak die eksegese van die bepaalde gedeeltes en kan nie net gereduseer word tot die gebruik van hoofletters al dan nie.

Wat Bybelvertaling betref, is aangetoon dat die gebruikte grondteks en die gebruikte vertaalmetode nie ʼn direkte effek op die beskouing van die duidelikheid van die Skrif het nie. Dat daar gedebatteer kan word oor watter grondteks die mees betroubare lesing bevat, staan vas. So staan die feit ook vas dat die dinamies-ekwivalente vertaalmetode nie die toets van die tyd kon deurstaan nie en daar weer terugbeweeg word na brontaal vertaling van die Bybel. Daar kan egter nie onteenseglik aangedui word dat die gebruik van die 1983-vertaling ʼn verskuiwing in die beskouing van die duidelikheid van die Skrif beteken nie.