• No results found

3.5. DIE GEBRUIK VAN KELKIES BY DIE VIERING VAN DIE NAGMAAL

3.5.4. Die beker as teken?

In die sentrum van die debat oor die gebruik van kelkies by die viering van die nagmaal staan die vraag of die klem wat op die gebruik van die beker geplaas word nie aanleiding daartoe gee dat die beker as ʼn derde teken verhef word nie (Van Wyk 1990:256-257). Die aanvaarde skriftuurlike gegewe is dat daar slegs twee tekens in die Nagmaal verkondig word wat as wesentlik vir die viering van die Nagmaal beskou word. Die brood dien as teken van die liggaam van Christus en die wyn as teken van die bloed van Christus (ACTA 2000:400, Van Wyk 1990:255, vgl. ook Grove, 1994:597). Wie die klem op die beker laat val ten koste van die vrug van die wingerdstok, verhef die beker tot ʼn wesenselement van die Nagmaal, terwyl die gereformeerde belydenis in NGB art. 35 en Heidelbergse Kategismus net twee tekens vermeld naamlik brood en wyn.

Van Wyk (1991:255) waarsku teen die misbruik van die Skrif om ʼn geykte Nagmaalspraktyk te sanksioneer wanneer dit by die gebruik van die beker kom. Dit is nie oortuigend dat daar soveel klem op die beker gelê word aan die een kant nie maar afgewyk word van ander

Skrifgegewens rakende die Nagmaal aan die ander kant. Volgens van Wyk (1990:256) is die wesentlike sake die bediening van brood en wyn en vorm die sakramentele handelinge deel van die middelmatige sake waaroor daar verskil tussen kerke kan bestaan. Wesentlik is brood en wyn en die houer(s) waaruit die wyn gedrink word sakramenteel van aard.

Wanneer die jongste besluit oor die viering van die heilige Nagmaal nagegaan word, is dit duidelik dat die Sinode 2009 (ACTA, 2009:535-562) ook hierdie onderskeid tref. In antwoord op twee beswaarskrifte teen die prinsipiële raamwerk van Sinode 2000 bevestig die sinode dat die wesentlike sake die brood en die wyn is en dat die gebruik van drinkbekers deel van die sakramentele handelinge is. Wat hiermee saam weer bevestig word, is die feit dat die gebruik van (ʼn) gemeenskaplike drinkbeker(s) dien om die geestelike geloofseenheid in Christus te simboliseer. Daarom het die drinkbeker saam met die wyn as teken ʼn prominente plek en funksies (ACTA, 2009:247). Die beker word hierdeur wel nie op ʼn onskriftuurlike manier tot ʼn derde teken by die nagmaal verhef nie, maar die simboliese rol daarvan word beklemtoon. Die gemeenskaplike beker versterk die gemeenskaplike simbool wat wesentlik deel is van die viering van die Nagmaal.

3.5.5. Samevattend.

In die besluite rondom die viering van die nagmaal en in besonder die gebruik van gemeenskaplike drinkbekers of afsonderlike kelkies, het die verskillende sinodes met verantwoordelikheid met die Skrif omgegaan. Daar is deeglik ondersoek gedoen na die hermeneutiese implikasie van die indikatief en die imperatief en die sentrum en periferale sake rakende die viering van die Nagmaal. Op Skrifgronde is deeglik aandag gegee aan die wesentlike sake en die sakramentele handelinge wat die viering van die nagmaal raak, sonder om die sake te vermeng. Die noodsaaklikheid van die sakramentele handelinge om die wesentlike aard van die simbool navore te bring, blyk duidelik uit die besluite van Sinode 2000 en 2009 . In hierdie gedeelte word dit duidelik dat daar nie ʼn verskuiwing in die beskouing of die hantering van die Skrif na vore gekom het nie.

3.6. DIE PLEK VAN DIE VROU IN DIE KERK.

3.6.1. Inleidend.

Die saak van die vrou in die kerk, is seker die een saak wat die meeste omstredenheid en verskille in die GKSA veroorsaak het. Die besluite van die kerke wat in Sinode vergader is in die openbare pers gepubliseer en daar is ruim kommentaar gelewer op hierdie besluite. Dit was selfs ʼn besprekingspunt op verskeie radio-programme. In hoofstuk 2 het dit reeds duidelik geword dat daar rakende hierdie saak diepgaande verskille na vore kom en dat dit in hierdie saak by uitstek rondom die saak van Skrifbeskouing en hermeneutiek gaan. Hier gaan dit nie net oor die verstaan van sekere skrifgedeeltes nie, maar oor die manier hoe

hierdie gedeeltes verklaar word in die lig van die geheel van die Skrif enersyds, en die plek wat die historiese agtergrond van die Skrifdele in die verstaan daarvan speel andersyds. Hier gaan dit inderwaarheid nie net oor die vraagstuk of vroue in die besondere dienste van die kerk mag dien nie, maar oor die manier waarop die Skrif verstaan en hanteer word om ʼn antwoord op die vraagstuk te gee. Jordaan (1994:4) verwys in hierdie verband na die beswaarskrif van Klassis Boland aan die Nasionale Sinode 1994.

Die saak van die vrou in die kerk raak egter nie net die eksegetiese arbeid en verstaan van die Skrif nie, maar ook ander vlakke van die teologie. In die etiek raak hierdie vraagstuk die implikasie van gelykwaardigheid tussen mense, ook wat geslag betref (vgl. Vorster, 2007:248-277) en op pastorale gebied raak dit die roepingsbewustheid van vroue in diens van God se koninkryk. Vir die doel van hierdie studie word egter net op die skrifbeskoulike aspekte gefokus.

In hierdie afdeling van die studie word ondersoek gedoen na die Skrifbeskoulike aspekte wat na vore kom in die kwessie van die vrou in die kerk. Dit is noodsaaklik om te sien hoe die vraagstuk die kerke se standpunt raak oor die duidelikheid van die Skrif wat hierdie saak betref. Verder moet daar ook ondersoek gedoen word na die rol wat sosiohistoriese gegewens speel in die verklaring van bepaalde gedeeltes. In samehang hiermee moet aandag gegee word aan die openbaringshistoriese manier van Skrifverklaring en die implikasie daarvan op hierdie vraagstuk.