• No results found

3.4. DIE 1983-VERTALING VAN DIE BYBEL EN 2001-OMDIGTING

3.4.3 Direk en indirek Messiaans

In die besware teen die gebruik van die 1983-vertaling van die Bybel en die 2001-omdigting van die Psalms word skerp uitsprake gemaak wat deur die Sinode oorweeg moet word. In sy oorweging van die besware van Gereformeerde Kerk die Kandelaar word die stelling deur die Sinode gemaak dat: “die Messiaanse karakter van ʼn gedeelte is ʼn saak van interpretasie, ook waar dit by vertaling kom” (ACTA 1991:120). Hierdie uitspraak van die Sinode het aanleiding gegee tot nog ʼn beswaarskrif van die Gereformeerde kerk die Kandelaar waarin aangevoer word dat die uitspraak van Sinode 1991 impliseer dat die Messiaanse verkondiging van die Ou Testament omgekeer word asof dit eers later Messiaans sou word. Die Messiaanse karakter van die Ou Testament is volgens die beswaardes ’n Godgegewe openbaarde waarheid wat in besondere gevalle deur ons aanvaar moet word (ACTA 2003:119).

In die midde van die verskil tussen die besluite van die sinode en die beswaardes rakende die Messiaanse strekking moet besin word oor die gebruik van die terme “direk messiaans” en “indirek messiaans”. Wanneer die term “direk messiaans” gebruik word, het dit die bedoeling dat die betrokke gedeelte direk en uitsluitlik op Christus betrekking het terwyl die term “indirek Messiaans” daarop dui dat die betrokke gedeelte ʼn eerste vervulling in die Ou Testamentiese konteks het en dan weer ʼn tweede vervulling in Christus (Van Rooy, 2004:759-764). Die vraag of gedeeltes as direk of indirek Messiaans vertaal of berym moet word het egter geen eenvoudige antwoord nie. Van Rooy (2004:764) wys daarop dat daar onder Gereformeerde Skrifverklaarders groot verskil bestaan oor die Messiaanse strekking van die Ou Testament. Sommige sien gedeeltes as direk Messiaans, ander as indirek Messiaans. Voorbeeld hiervan is die verklaring van N.H. Ridderbos van Psalm 2, wat gesien word as ʼn indirekte Messiaanse Psalm (Ridderbos, 1962:77).

Van Rooy erken ook dat daar wel in die Ou Testamentiese wetenskap kommer kan bestaan ten opsigte waarvan die Ou Testament wel heenwys na die koms van die Messias al dan nie (Van Rooy, 2005:620). Vir sommige Ou Testamentici is die gedagte van ʼn Messias deel van die Christelike tradisie en nie van die Ou Testamentiese teks self nie. Die onafhanklikheid van die Ou Testament moet vooropgestel word omdat die Ou Testament nie direk en helder na Jesus Christus of die Nuwe Testament wys nie (Brueggemann, 1997:731). Die feit dat die

Christene oor die wêreld heen die belofte van Christus in die Ou Testament sien, is deel van die interpretasie-proses wat nie noodwendig verkeerd is nie, en self deur die Ou Testament toegelaat word, aangesien die boodskap van die Ou Testament meerstemmig is. Daarom moet die verband tussen die twee testamente gemaak word van die Nuwe na die Ou Testament en nie van die Ou Testament na die Nuwe Testament nie (Brueggemann, 1997:732). Hierdie siening van die Messiaanse aanduiding van die Ou Testament maak definitiewe skeiding tussen die twee testamente en tas inderwaarheid die eenheid van die Skrif aan.

Die vraag wat egter hier na vore kom, is of die keuse vir ʼn indirek Messiaanse vertolking van die Ou Testamentiese gedeeltes neerkom op ʼn veranderde Skrifbeskouing en die gereformeerde beginsel van die eenheid van die Skrif in gedrang bring. Vir Meijer (2002:9) en vir d’Assonville (2002:3) is die antwoord ʼn duidelike ja, terwyl van Rooy (2004:766) en Helberg (2006:594) van mening is, dat dit juis uit respek vir die eenheid van die Skrif en die eie aard van die Ou Testament is, dat die indirekte messiaanse benadering gevolg word. Helberg verwoord dit soos volg (2006:594).

...die ander psalms kan dus Messiaans in Nuwe-Testamentiese sin gelees word, maar die implikasie van die koms van Christus moet in Nuwe-Testamentiese lig bygedink en die psalm daarvolgens geïnterpreteer word. Vertaling en omdigting van die psalms kan dit nie uitdruk nie en daar moet by die Ou-Testamentiese teks gehou word. Die ingrypende betekenis van die vervulling deur Christus kan nie uitgedruk word deur bloot die messias met ’n hoofletter aan te dui nie.

Daar is dus in die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament ʼn eenheid wat in Christus te vind is, maar ook ʼn onderskeid wat gehandhaaf moet word. Die verhouding is openbaringshistories en draai om die koms van die persoon Jesus Christus (Helberg, 1983:100). Jesus is die vervulling van die voorafskaduwings van die Ou Testament en nie net die vervulling van iets nie.

In hierdie lig neem die Sinode van 2006 tog ʼn belangrike besluit in sake die messiaanse vertolking van die Psalms (ACTA, 2006:739). In die gesprekke het dit duidelik geword dat daar ʼn behoefte is om die Messiaanse duiding van Psalm 110 nog duideliker na vore te bring in ʼn nuwe beryming. Met hierdie besluit van die sinode word dit duidelik dat die GKSA self steeds die Messiaanse aanduiding van die Ou Testament erken en derhalwe ʼn Messiaanse beryming van Ps. 110 verlang. Die aanvaarding van die 2001 omdigting kan dus op hierdie gronde nie ʼn aanduiding wees dat daar ʼn verskuiwing in die beskouing van die eenheid van die Skrif gekom het nie. Om die agting vir die Messiaanse strekking van die Ou Testament duidelik te maak, besluit Sinode 2003 om die Messiaanse strekking van die Psalms deur voetnote onderaan die berymde Psalm aan te bring (ACTA, 2003:642). Of die gebruik van die voetnote werkbaar is al dan nie, val nie binne die ondersoekveld van hierdie studie nie,

maar dit maak duidelik dat GKSA die Messiaanse aard van die Ou Testament en die eenheid van die Skrif erken.

ʼn Laaste aspek wat aan die orde gestel moet word in die kwessie van die Messiaanse gedeeltes van die Ou Testament, veral met betrekking tot die beryming van die Psalms, is die kwessie van die eerste hoorder. In die beswaarskrif van A.H. Bogaards wat voor die sinode 2006 gedien het, word aangevoer dat die besluite van Sinode 2003 die beginsel om die teks om te dig soos die eerste hoorder dit verstaan het as enigste hermeneutiese sleutel verhef en sodoende nie die openbaringshistoriese aard van die Skrif in ag neem nie ( ACTA, 2003:657; ACTA, 2006:735).

Die eerste hoorders van sogenaamde koningspslams het verstaan dat die betrokke Psalms ten doel gehad het om as politieke Psalms die geloof van Israel in God direk aan die militêre voorspoed van die Dawid-dinastie te koppel (Burden, 1993:756). Die Christene van die Nuwe Testament sou dan later Christus as hierdie Messias herken. In hierdie benadering tot wat die eerste hoorders sou verstaan by die aanhoor van hierdie Psalm, word dit duidelik dat skeiding gemaak word tussen dit wat die Ou Testament verkondig het en wat die Nuwe Testamentiese Christene verstaan het. In ʼn studie oor die gebruik van Psalm 110 in die brief aan die Hebreërs dui Nel (2004:216) aan dat die verklaring van die Ou Testamentiese Messiaanse Psalms nie onafhanklik van die Nuwe Testament kan geskied nie, maar verg ʼn hermeneutiese wisselwerking tussen die twee testamente.