• No results found

4.3. POSTMODERNISME EN DEKONSTRUKSIE

4.3.5. Die paradigma van die grammaties-historiese eksegese

Die debat oor die metode van eksegese is tot onlangs nog in die geledere van die Gereformeerde Kerke gevoer. In hierdie debat speel die rol van die leser in die proses van verstaan ʼn beduidende rol. In ʼn diskussie rondom evolusie merk Van Deventer (2008:31) op dat die grammaties-historiese metode van eksegese vasgevang sit in ʼn bepaalde tradisie waarin ander kritiese benaderings tot die verstaan van die Skrif nie genoegsaam verreken word nie. Dit kom daarop neer dat die Gereformeerde kerke nog nie die verskuiwing in die paradigma van die teks na die rol van die leser gemaak het nie. Volgens hom bied die kritiese benaderings beter verklarings vir die vrae waarmee vandag geworstel word as die tradisionele grammaties-historiese metode. Hoe langer die GKSA sy oë vir die kritiese benaderings van die teologiese wetenskap gaan sluit, hoe meer hang die swaard van ʼn sektariese instelling oor die spreekwoordelike kop van die kerk.

In reaksie op hierdie artikel wys Jordaan et al (2008:29) daarop dat die grammaties- historiese benadering ongetwyfeld die mees omvattende benadering vir die verstaan van die Bybel is. Volgens hierdie benadering moet die leser deeglik kennis neem van dit wat daar geskrywe staan, enersyds en andersyds aandag gee aan die tyd en omstandighede waarop daardie woorde gerig is. Op grond van die omvattendheid van hierdie metode kan die ander resultate wat binne die kritiese benaderings verkry word steeds binne die grammaties- historiese benadering verreken word.

Die omvattendheid van die grammaties-historiese metode van eksegese word in ʼn volgende publikasie van die Kerkblad weer eens bevraagteken deur Van Deventer en deur Snyman (2008b:30,31). Van Deventer wys daarop dat die ontstaansgeskiedenis van die grammaties- historiese benadering nie genoegsaam in die Gereformeerde Kerke verreken word nie en dat daar derhalwe nie kennis geneem word van die beperkinge wat hierdie benadering het nie. Volgens hom is die kosmetiese veranderinge wat Jordaan et al voorstel, nie genoegsaam om

die tekortkominge en die apologetiese aard van die metode te kenter nie. Die pleidooi word gemaak dat daar meer krities gekyk sal word na die metode wat gebruik word om die Bybelteks te ontsluit, in hierdie geval die grammaties-historiese metode, en die bevindinge van die literatuurwetenskappe in die proses van eksegese meer konsekwent aan te wend. Snyman (2008:31) wys ook op die beperkinge van die grammaties-historiese metode, maar stel voor dat die rol van die leser meer verdiskonteer word. Dit sluit nou aan by die benadering wat al in 1992 deur hom voorgestel is. Hy gebruik hier ook die besluite rakende die vrou in die besondere dienste as voorbeeld om die gebrek van die eksegetiese metode aan te dui. Die grammaties-historiese metode van eksegese help volgens hom nie die GKSA om die lees-probleem rakende die vrou in die amp op te los nie. Hy sien dat daar twee strome rakende hierdie saak teenwoordig is. Daar is die groep vir wie die sosiale orde van vandag nie meer rym met die patriargale verlede van die Bybel nie. Die raamwerk waarin vroue vandag leef, staan vreemd teenoor die veronderstelde sosiale orde wat in die “religieuse teks” na vore kom (Snyman, 2008:31). Die ander groep wat hulle beroep op die bestaande eksegetiese metode, neem nog die patriargale verlede van die teks as die norm. In hierdie groep word die omstandigheide waarin die lesers leef, nie genoegsaam in ag geneem nie. Dit bring noodwendig stryd tussen hierdie twee groepe. Snyman stel ʼn omvattende manier van Bybellees voor in die volgende woorde.

“ʼn Omvattende Bybellees behels eerder ʼn nougesette lees (close reading) van die Bybelteks ten einde die wêreld van die teks te verstaan, ʼn historiese lees van die teks ten einde te kyk in watter mate die teks na historiese gebeure verwys, ʼn ontleding van die wêreld van teksproduksie om agter te kom watter invloede werksaam was toe die skrywer geskryf het , ʼn ontleding van die wêreld van die eerste lesers om agter te kom in watter situasie die teks moes inspreek en les bes ʼn ontleding van die wêreld van die huidige lesers om te verstaan watter faktore bedrywig is in die huidige lesers se lewe ten einde te bepaal watter resonans met die antieke Bybelteks gevind kan word”

Hierdie omvattende benadering van Snyman impliseer dat daar ʼn paradigmaverskuiwing in die eksegetiese metode in die GKSA noodsaaklik is. Die verskuiwing wat moet plaasvind moet nader na die postmoderne denkraamwerk beweeg waar daar nie meer soveel aandag gegee word aan die sogenaamde “book religion” nie en waar die leser se eie ervaring bepaal watter resonans met die Bybelteks gevind kan word. Die leser ken dus ook bepaalde betekenis aan die teks wat hy lees toe.

Kruger (2009:32) wys in reaksie op hierdie omvattende benadering op die gevaar dat die ongekwalifiseerde klem op die leser daartoe kan bydra dat nuwe betekenis wat teen die grein van die bepaalde teks ingaan, aan die teks toegdig kan word. Die leser kan nie iets anders aflei as wat die Skrywer bedoel het nie. Die klem op die leser kan daartoe aanleiding gee dat die Bybel met suspisie gelees word en nie reg laat geskied aan die feit dat die Bybel die

openbaring van God aan mense deur mense is nie. Die benadering van Snyman loop die gevaar dat die openbaringskarakter soos dit bely word nie tot sy reg kom nie. Wat die laaste besluit van die GKSA oor die plek van die vrou in die kerk betref, is dit duidelik dat daar nie van die metode van die grammaties-historiese eksegese afgewyk word nie.