• No results found

Die doel van hierdie hoofstuk is om ondersoek in te stel na die rol wat Skrifbeskouing in die verskille in die GKSA speel. Om hierdie ondersoek te doen, is eers gepoog om ʼn definisie van ʼn gereformeerde Skrifbeskouing op grond van die Skrif self en die belydenis te formuleer. Die volgende definisie kan gegee word:

ʼn beskouing van die Skrif wat erken dat die boeke van die Ou Testament en die Nuwe Testament in die Bybel die organies geïnspireerde Woord van God is waardeur Hy Homself, in so verre dit Hom behaag, sy wil en die weg tot saligheid deur Jesus Christus alleen aan sy kerk bekend maak. Alhoewel hierdie openbaring onderskei word in die boeke van die Ou Testament en die Nuwe Testament vorm dit ʼn eenheid in Jesus Christus wat die weg van saligheid, die reël van die geloof en die wil van God volkome, genoegsaam en duidelik aan sy kinders bekend maak (vgl. 3.2.8).

Uit hierdie definisie is kriteria saamgestel waaraan die besluite van sinodes getoets kon word.

Die volgende bevindings kan gemaak word:

 Erken die besluite die feit dat die Bybel die Woordopenbaring van God is? In al die geskilpunte word ten volle erken dat die Bybel die Woordopenbaring van God is.

 Neem die besluite die eenheid van die Skrif in ag?

Hierdie aspek is veral van belang in die debat rondom die Psalmomdigting en die 1983- vertaling van die Bybel. Daar is aangetoon dat die kerke die eenheid tussen die Ou

Testament en Nuwe Testament erken. Tog word die eie aard van die twee testamente ook erken en onderskei. In die debat rondom die Messiaanse duiding van die Ou Testament is hierdie benadering van groot belang. Die kerke erken die Messiaanse karakter van die hele Ou Testament, maar wil uit respek vir die teks dit nie met hoofletters aandui nie. Hier speel die debat rondom die direkte en indirekte messiaanse duiding ook ʼn belangrike rol.

 Word die duidelikheid van die Skrif aangaande die wil van God in die besluite sigbaar?

Die duidelikheid van die Skrif word in al die gevalle van die verskille erken. Hierdie aspek is veral belangrik in die debat oor die plek van die vrou in die kerk. Alhoewel daar verskil is in die gevolgtrekkings wat gemaak word, is dit nie te wyte aan die Skrif wat onduidelik is nie, maar aan die verskillende verstaanwyses van die eksegetiese gegewens. Dit dui ook op die gebrokenheid van die eksegeet en sy arbeid. Hierdie verskille kan die gevolg wees van die klem wat daar op die sosiohistoriese gegewens geplaas word. Die gevaar is aangetoon dat die tydgerigtheid van die Bybel hierin oorbeklemtoon kan word en dat dit gevolglik die verskil in eksegetiese bevindings kan veroorsaak.

 Word die organiese inspirasie van die Skrif deur die besluite gehonoreer? Die organiese inspirasie van die Skrif kom in geen een van die verskilpunte in gedrang nie.

 Word die volkomenheid en genoegsaamheid van die Skrif na vore gebring? Daar is ook geen verskil oor die genoegsaamheid en die volkomenheid van die Skrif nie. Hieruit is dit duidelik dat daar nie ʼn verskuiwing in die Skrifbeskouing van die GKSA in gesluip het nie. Die verskille wat bestaan kan terug herlei word na die verskil in eksegetiese bevindings. Die eksegetiese bevindings word egter nie net deur die Skrifbeskouing bepaal nie, maar uit ʼn verskeidenheid ander vertrekpunte. In die volgende hoofstuk word nader ondersoek gedoen na hierdie vertrekpunte of paradigmas.

HOOFSTUK 4

DIE INVLOED VAN PARADIGMASKUIWE IN DIE VERSKILLE

IN DIE GKSA

4.1. INLEIDING.

In die besluite wat aanleiding gee tot die verskille wat tans in die GKSA heers word die Skrifbeskoulike uitgangspunte en die hermeneutiese vertrekpunte wat onderliggend aan die besluite lê uitgebreid verantwoord. Hierdie vertrekpunte staan egter nie los van die tydsgees en leefwêreld van vandag nie. Die tydsgees dui op die denkraamwerk of paradigma waarbinne die wetenskap van die teologie beoefen word en waarbinne die kerk in die samelewing funksioneer.

ʼn Verskuiwing in die paradigma waarbinne die samelewing en die kerk funksioneer, het in die afgelope dekades onmiskenbaar geword (Smit & Vorster, 2000:515). Hierdie verskuiwing in paradigma is egter nie op georganiseerde manier deur ʼn individu geskep of deur ʼn groep beplan nie, maar groei eerder tot rypheid binne die konteks van ʼn veranderende samelewing as gevolg van verskeie sosiale en wetenskaplike faktore. Binne die konteks van hierdie veranderinge het die GKSA steeds op grond van die Skrif oor bepaalde sake besluit. Die vraag wat hieruit spruit is in watter mate die verskuiwing in paradigma wat in die samelewing en kerk plaasgevind het, in die besluite van die kerke neerslag vind al dan nie.

Om hierdie vraag te antwoord sal daar eers ondersoek gedoen word na paradigmaverskuiwings wat plaasgevind het. Daarna sal gepoog word om aan te toon in watter mate hierdie verskuiwings neerslag vind in die manier hoe die kerke die Skrif hanteer. Aandag moet ook gegee word aan die plek en geldigheid van die Gereformeerde belydenis as ʼn bepaalde denkraamwerk waaruit die Skrif benader word. Om aan hierdie doelstelling te beantwoord sal daar nie weer afsonderlik na die besluite van die sinodes gekyk word wat onderliggend aan die verskille in die GKSA is nie, maar daar sal gepoog word om tendense soos dit in die verskillende skrywes na vore kom, aan te toon.