• No results found

4.2.1. Die verandering in denkraamwerk.

ʼn Paradigma word deur Kuhn, wat die term vir die eerste keer in wetenskapsbeoefening gebruik het, as universele wetenskaplike prestasies wat vir ʼn tyd lank ʼn model daarstel om oplossings aan ʼn gemeenskap wetenskaplikes te lewer, gedefinieer. (Kuhn, 1970:viii). Op grond hiervan impliseer ʼn paradigma dus die werklikheidsbeskouing wat die wetenskaplike se uitgangspunte en benadering tot die veld van ondersoek bepaal (Vorster, 1999:101). Hierdie benadering is egter nie net beperk tot die natuurwetenskappe nie maar vind ook neerslag in die beoefening van die teologie, veral met betrekking tot die hermeneutiek en Skrifverstaan. Die benadering van paradigmaskuiwe word ook met vrug in die ekklesiologie en missiologie aangewend.

Vorster (1999:101) wys daarop dat die benadering van verskillende paradigmas ook nie ongekwalifiseerd in die teologie toegepas kan word nie. Die prinsiepes wat self deur Kuhn en sy volgelinge aangebied word, moet in die teologie ook verreken word. Die teoloog benader sy studieveld nie objektief, onbelas en neutraal nie. Met betrekking tot die hermeneutiek is dit dus noodsaaklik dat die lewensbeskoulike vertrekpunte van ʼn bepaalde historiese tydvak duidelik gestel word.

Die verskuiwing van denkraamwerk of paradigma vind plaas wanneer bepaalde vertrekpunte nie meer antwoorde bied op bestaande realiteite nie (Kuhn, 1970:111). Die navorser begin nuwe terreine ontgin, dan vind hy nuwe sleutels om ʼn nuwe werklikheid te ontgin. Hierdie verskuiwings kan in drie kategorieë ingedeel word, naamlik makro- meso- en mikroverskuiwings. Makroverskuiwings vind plaas wanneer ʼn verandering in wyse van denke plaasvind. Verskuiwing op mesovlak vind plaas wanneer die denkrigtings wat uit die denkwyse groei verander en die verskuiwing op mikrovlak raak die verskillende tradisies wat uit die denkrigtings na vore kom (Vorster, 1999:102). Hierdie verskillende vlakke van verskuiwing vind ook op verskillende maniere plaas. Verskuiwings op mikrovlak vind gereeld en selfs deurlopend plaas terwyl verandering van denkrigting minder gereeld plaasvind en die op makrovlak die mens in sy totaliteit raak en derhalwe selde plaasvind. Met hierdie verskillende vlakke van paradigmaverskuiwings in gedagte, is dit vanselfsprekend dat die invloed daarvan op die samelewing in mindere of meerdere mate sigbaar sal wees. ʼn Verskuiwing in denkraamwerk op makrovlak sal noodwendig meer ingrypende gevolge vir die samelewing en daarom ook vir die kerk hê as wat ʼn verskuiwing op mikrovlak sal hê. Om hierdie rede is dit nodig om vas te stel op watter vlak verskuiwinge ten opsigte van die verstaan van die Skrif in die GKSA plaasgevind het.

4.2.2. Die verskuiwing na die postmodernisme.

In die geesteswetenskappe word daar aanvaar dat daar aan die einde van die twintigste eeu ʼn verskuiwing op makrovlak plaas gevind het. Hierdie verskuiwing kan getipeer word as ʼn verskuiwing van die modernisme na die postmodernisme. Die verskuiwing werk vanuit die grondmotief dat die geskiedenis in verskillende tye van leefwêreld en denkraamwerk ingedeel kan word. Die tye word genoem die premodernisme, modernisme en postmodernisme (Vorster, 1999:103). Opsommenderwys kan hierdie verskillende tydperke soos volg weergegee word.

 Die premodernisme se grondmotief was die gedagte dat alles beheer word deur die metafisiese. Die rede (denke van die mens) is beheers deur die religieuse. In hierdie tyd is godsdiens hoog geag, die mens- en kultuurbeskouing was pessimisties en die lewenstyl was gerig op basiese dinge soos kos , bestaan en voortbestaan. Hierdie lewenswyse is beheer deur die metafisiese en die godsdiens. Dit het veroorsaak dat die samelewing kerksentries geleef en gedink het. Dit het aanleiding gegee tot die oorheersing deur die pous en die Rooms Katolieke kerk.

 Met die aanbreek van die Renaissance het ʼn verskuiwing op makrovlak plaasgevind toe die dominansie van die metafisiese geleidelik bevraagteken is. Hierdie bevraagtekening het uitgemond in die Verligting, toe die rede (denke) die grondmotief vir die mens se bestaan geword het. Waar die premodernisme ʼn pessimistiese beskouing van die mens en sy vermoë gehad het, was dit in die modernisme die teenoorgestelde. Die mens is gesien as die bepaler van sy eie bestemming. Die klem op die mens het veroorsaak dat die klem gaandeweg verskuif het van die godsdiens en die kerk na die mens se eie belang. Leerstellings is verwerp of met nuwe inhoud gevul. In hierdie tyd is die Skrif onderwerp aan Skrifkritiek en is die gesag van die Bybel as Woord van God gaandeweg ontken. Die historiese kritiek as hermeneutiese metode en eksegese het in hierdie tydperk geweldig veld gewen met sekularisme as die noodwendige gevolg daarvan (Kaiser en Silva, 1994:32-33).

 Die bevrydingstryd en die skok van twee wêreldoorloë het veroorsaak dat ʼn derde paradigma verskuiwing plaasgevind het. Die denkraamwerk wat die mens en sy rede in die sentrum geplaas het, moes ruimte maak vir ʼn denkraamwerk waarin kultuur, godsdiens en gemeenskap in die sentrum geplaas word. Die individualisme van die modernisme het hiermee tot ʼn einde gekom en plek gemaak vir die opkoms van die postmodernisme. Die postmodernisme het hom verset teen die mag van die rede, wetenskap en tegnologie en die groot super sosiale strukture wat dit tot gevolg gehad het. Die eg menslike soos ervaring, menslikheid, verskeidenheid en relatiwiteit van

die waarheid word op die voorgrond gestel. Die gevolg hiervan is dat die postmoderne tydgees gekenmerk word deur negatiwiteit. Alles wat seker was is nou onseker en die mens se eie ervaring word die bepaler van die werklikheid. (vgl. Steenekamp & Van Aarde, 1991:475).

Die verskuiwings wat plaasgevind het kan soos volg saamgevat word (Vorster 1999:103): In die premoderniteit het die geloof in die afhanklikheid van die metafisiese die lewe van die mense beheer. In die moderniteit gaan dit om die dominansie van die menslike rede met sy gevolglike wetenskaplike, tegnologiese en makro-sosiale stelsels. Hierteenoor wil die postmoderniteit uitgaan van die dominansie van die menslike ervaring.

Uit die aard van makroparadigmaverskuiwings is dit noodwendig so dat die kerk nie daardeur onaangeraak gelaat word nie. Die verskuiwing van die premodernisme na modernisme het groot teologiese gevolge gehad, net soos die verskuiwing van modernisme na postmodernisme vandag het. Dit lê op die weg van hierdie studie om ondersoek te doen in watter mate hierdie verskuiwing die kerke geraak het in besluite wat geneem is.