• No results found

terminale siekte

NORMALE WEERSTANDSVLAK

4.8 VERWANTE KONSEPTE VAN FORTOLOGIESE DENKE

4.8.1 Welstand / geluk

Volgens navorsing lyk dit of welstand die primêre as is waarom die Positiewe Sielkunde draai (Strümpfer, 2001). Dit lyk nie of daar slegs een definisie of raamwerk vir die konstruk sielkundige welstand bestaan nie (Wissing & Van Eeden, 1997, 2002). In ‘n studie wat Wissing en Van Eeden gedoen het, is daar betekenisvolle verskille gevind tussen die tellings van subgroepe met betrekking tot sielkundige welstand. Dit is heel moontlik ‘n aanduiding dat veranderlikes soos geslag, ouderdom en etniese/kulturele kontekste die manifestering van sielkundige welstand beïnvloed (Wissing & Van Eeden, 2002). Dit stem ooreen met die opinies van ander navorsers soos onder andere Antonovsky (1979). Die dinamika en manifesterings van hierdie verskille moet egter verder ondersoek word (Wissing & Van Eeden, 2002).

Navorsing oor sielkundige welstand geniet meer en meer aandag, soos navorsers probeer om te verstaan waarom die meerderheid van mense floreer ten spyte van moeilikhede en probleme (Sheldon & King, 2001). Antonovsky (1987) het onder andere aangetoon dat ‘n sterk koherensiesin direk tot sielkundige welstand sal bydra. Die verband tussen koherensiesin en sielkundige welstand is volgens Antonovsky (1987) wederkerig. ‘n Goeie koherensiesin dra by tot gesondheid, terwyl gesondheid

weer ‘n positiewe impak op ‘n persoon se funksionering en welstand het. Die term sielkundige welstand hou volgens Wissing en Van Eeden (1994) verband met ‘n sterk koherensiesin, wat hulle definieer as ‘n siening of houding dat die lewe hanteerbaar, verstaanbaar en betekenisvol is. Die uitvloeisel van so ‘n siening is dat ‘n persoon met ‘n hoë koherensiesin buigsaam is en op wyses dink wat noodsaaklik is vir probleemoplossing in die daaglikse lewe. Adams, Bezner en Steinhardt (1997) maak die volgende opmerking: “Psychological wellness is defined as a general perception that one will experience positive outcomes to the events and circumstances of life” (p.210). Volgens Wissing en Van Eeden (1997) het die konstruk van sielkundige welstand egter nog veel meer aandag nodig. Roothman, Kirsten en Wissing (2003) is van mening dat dit ook belangrik is om bewus te raak van hoe geslagsverskille tussen mans en vroue manifesteer ten opsigte van sielkundige welstand. Dit kan byvoorbeeld verbeterde benaderings tot psigoterapie in die hand werk soos toenemende kennis rondom die kliënt se ervaring van die wêreld lei tot ‘n beter begrip vir die kliënt. Alle mense is gelyk, maar nie dieselfde nie. Daarom kan meer kennis rondom geslagsverskille sorg vir groter geleenthede vir self-aktualisering en die verdere bevordering van sielkundige welstand in beide mans en vroue (Roothman et al., 2003).

Daar word ‘n belangrike onderskeid getref tussen twee onderskeie wyses waarop welstand benader word. Dit word gemeet deur twee diverse standaarde, en word alreeds so gemeet vanaf klassieke Griekse tye (Ryan & Deci, 2001; Strümpfer, 2001). Hierdie onderskeid is gebaseer op die verskil in die betekenis wat aan welstand geheg word en kan soos volg omskryf word:

• Die eerste benadering is een van hedoniese genot (Grieks: hedone = plesier). Hedonisme fokus op geluk en verteenwoordig die siening dat welstand meegebring word deur die ervaring van genot en vermyding van pyn (Ryan & Deci, 2001). Die vergelyking van welstand met hedoniese genot of geluk, het reeds ‘n lang geskiedenis. Aristippus, ‘n Griekse filosoof van vier eeue v.C., het vir mense geleer dat die doel van die lewe die ervaring van maksimale genot is en dat geluk bestaan uit die totaliteit van ‘n mens se hedoniese oomblikke (Ryan & Deci, 2001). Die hedoniese siening fokus op subjektiewe welstand, wat gereeld gelyk gestel word aan geluk en formeel gedefinieer

word as meer positiewe affek, minder negatiewe affek en groter lewenstevredenheid (Ryan & Deci, 2001). Volgens Ryan en Deci (2001) is hierdie welstand of geluk die gevoel wat gepaard gaan met ‘n persoon se belewing van positiewe affek wanneer sy of haar behoeftes, hetsy fisiek, intellektueel of soiaal, bevredig word. Dit lyk egter of hierdie tipe geluk van verbygaande aard is, want soos mense se vaardighede verbeter, hulle meer besittings verkry en verhoog word deur wat hulle bereik, pas die mens aan by dit wat vroeër plesier verskaf het en soek dus voortdurend nuwe vlakke van stimulasie om sodoende ou vlakke van plesierervaring in stand te hou.

• Die tweede benadering verwys na eudemonisme (Grieks: eu- = goed, daimon = innerlike gees). Eudemonisme verteenwoordig ‘n meer permanente vorm van welstand of geluk, maar ook een waaraan die houer daarvan aktief moet werk. Die konsep het gekom van Aristoteles en hy het beklemtoon dat ware geluk gevind word in die “expression of virtue – that is, in doing what is worth doing” (Ryan & Deci, 2001, p.145). Die term eudemonisme is waardevol aangesien dit onderskeid tref tussen welstand en geluk. Eudemoniese teorieë hou voor dat nie alle plesierervaringe noodwendig sal lei tot welstand nie. Hierdie siening fokus op sielkundige welstand wat in breë terme gedefinieer word in terme van ‘n volledig funksionerende persoon. In onlangse werke oor eudemonisme is ‘n aantal faktore geïdentifiseer, wat beskou word as bydraend daartoe (Ryan & Deci, 2001). Hieronder tel byvoorbeeld die vind van lewensbetekenis, selfaanvaarding, outonomie, ‘n gevoel van beheer oor die lewe en persoonlike bevoegdheid, om maar ‘n paar te noem.

Volgens ‘n aantal navorsers word welstand die beste beskryf as ‘n multidimensionele fenomeen waar aspekte van beide hedonisme en eudemonisme ‘n belangrike rol speel (Ryan & Deci, 2001). Globaal gesproke lyk dit of koherensiesin, lewenstevredenheid en affek-balans goeie indikatore is van algemene sielkundige welstand (Wissing & Van Eeden, 2002). Dit wys ook dat konseptualiserings van sielkundige welstand van hedoniese en eudemoniese perspektiewe mekaar komplementeer en in baie opsigte oorvleuel, ten spyte van die verskille (Wissing & Van Eeden, 2002).