• No results found

4.1 INLEIDING

In die lig van die ‘alomteenwoordige stressore’ soos Antonovsky (1979) dit noem, is daar ‘n voortdurende soeke na daardie faktore wat die mens staande hou en selfs laat floreer (Seligman & Csikszentmihalyi, 2000) ten spyte van die daaglikse ervaring van stres. Die studieveld van die positiewe sielkunde het in antwoord hierop ontstaan. Positiewe sielkunde het as studieveld die wetenskaplike bestudering van gewone menslike krag en sterktes betree (Sheldon & King, 2001). Daar is egter nog heelwat gapings in ons kennis oor die faktore wat lewenskwaliteit verbeter en patologie voorkom wanneer stressore dreig om die lewe sinloos te maak (Seligman & Csikszentmihalyi, 2000).

Die verhoogde bewustheid van stres en die nagevolge daarvan het outeurs soos Antonovsky (1979) ‘n besondere bydrae laat maak tot die ontwikkeling van ‘n begrip vir die individu se unieke reaksie op negatiewe lewenservaringe. Antonovsky (1979) formuleer dan ook die konstruk ‘salutogenese’ wat dui op die oorsprong van gesondheid. Hy het die waarneming gemaak dat elke individu op ‘n eiesoortige wyse in stresvolle omstandighede reageer en dat sommige persone in die gemeenskap selfs te midde van hierdie stressore floreer. Corby, Downing, Lindeman en Sanborn (1991) maak met betrekking tot die stres meegebring deur die versorging van ‘n huweliksmaat met Alzheimer se siekte, die volgende opmerking:

“...Alzheimer’s Disease and the related dementias affect individuals differently; symptoms, rates of progression, and impact differ from person to person. Similarly, the impact of the disease on the caregivers’ ability to manage under the physical, emotional and financial stress it brings differs dramatically.” (p.31)

Hooker, Monahan, Bowman, Frazier en Shifren (1998) sluit hierby aan met die volgende opmerking:

“A consistent theme in caregiving research is the attempt to understand why caregivers under similar circumstances show such great variability in their ability to adapt to the situation. Some cope well with overwhelming daily stress, whereas others do not…” (p.73)

Ten spyte van die feit dat die versorgers met geweldige stresvolle omstandighede gekonfronteer word, toon sommige van hulle relatief goeie aanpassing onder stresvolle omstandighede. Vanuit die perspektief van die salutogenese en die psigofortologie, wat dui op die wetenskap van dit wat gesonde sielkundige funksionering onderlê, is daar dan die uitdaging om ‘n verklaring of verklarings vir hierdie verskynsel te formuleer en dit vervolgens empiries te toets (Potgieter, 2003).

In hierdie hoofstuk sal stres en die gevolge daarvan ondersoek en bespreek word. Daar sal onder andere gekyk word na die tradisionele, sowel as huidige siening van stres. Die mens se hantering van hierdie verskynsel sal ook bespreek word. Onlangse verwikkelinge op die gebied van salutogenese sowel as psigofortologie sal ook bespreek word.

4.2 DIE ONTSTAAN EN ONTWIKKELING VAN GESONDHEIDSORG MODELLE

Uit die literatuur wil dit voorkom of die veld van die Sielkunde, soos die ander gesondheidsdissiplines, in die verlede grootliks oorheers is deur twee modelle van gesondheid, naamlik die tradisionele mediese model en die gesondheidsorgmodel. By die mediese model is daar veral gefokus op patologie en die behandeling daarvan deur middel van mediese intervensies soos psigofarmakologie. Hierdie mediese model het ‘n oorsaak-gevolgperspektief, wat aanvanklik ook oorgespoel het na die Sielkunde. Fundamentele vrae soos die volgende is gevra: ‘Hoekom word mense siek en hoekom ontwikkel hulle sekere siekte-entiteite?’ Die kennis is dan gebruik om eers ‘n siektetoestand by die pasiënt te diagnoseer, waarna behandeling gevolg het met die oog op herstel. Hierdie mediese model het veral op die volgende punte baie kritiek uitgelok (Thoresen & Eagleson, 1985):

• Dit soek voortdurend die enkele ‘beste behandeling’ wat die siektetoestand se oorsaak algeheel kan uitskakel, alhoewel chroniese siektetoestande dikwels ongeneesbaar is.

• Die proses van gesondheidsorg word ‘gedehumaniseer’ as gevolg van die oorspesialisering van gesondheidsorgwerkers en die oordrewe klem op ingewikkelde tegnologie.

• Slegs die fisieke faktore van die siektetoestand word in ag geneem, terwyl die sosiale, sielkundige en gedragsdimensies daarvan afgeskeep word.

• Dit vorm eerder ‘n model van siektesorg as gesondheidsorg.

Die gesondheidsorgmodel is deur baie gesien as die antwoord. Die gesondheidsorgmodel was inderdaad ‘n groot verbetering op die kliniese / mediese model, aangesien daar nou groter klem gelê is op die voorkoming, eerder as rehabilitasie en herstel van ernstige siektetoestande. Hierdie skuif van ‘n mediese model na ‘n gesondheidsorgmodel is dus gekenmerk deur die wegbeweeg van die eenvoudige ‘oorsaak-gevolgperspektief’ of diagnoseringsproses, na ‘n fokus op die vroeë identifisering van siektetoestande en risikofaktore wat moontlik tot hierdie siektetoestand kan lei. Meer klem word dus op voorkoming geplaas (Pretorius, 1998). Volgens Antonovsky (1979) wil die klinikus die siekte diagnoseer en behandel, terwyl die gesondheidsorgwerker wil voorkom dat mense ‘n siekte ontwikkel. Beide hierdie modelle is belangrike en nodige elemente van die totale gesondheidsorgsisteem, maar Antonovsky (1979) het kritiek gelewer op die feit dat beide hierdie modelle die konstruk ‘siekte’ as vertrekpunt gebruik. Dit het dus duidelik geword dat normale funksionering nie binne ‘n probleem-georiënteerde raamwerk alleen verstaan kan word nie. Seligman en Csikszentmihalyi (2000) het die volgende opmerking gemaak: “psychologists have scant knowledge of what makes life worth living” (p.5).

Hoewel daar dus vanuit die oogpunt van die psigofortologie reeds in die regte rigting beweeg is, word die fundamentele kwessie van gesondheid binne die gesondheidsorgmodel steeds geïgnoreer en word daar vasgesteek by ‘n siekte- oriëntasie. ‘Gesondheid’ word nog gedefinieer as die afwesigheid van siekte en sielkundige disfunksie, eerder as deur die teenwoordigheid van welsyn en positiewe of optimale sielkundige funksionering. Pretorius (1998) is van mening dat daar

konseptuele probleme ontstaan indien ‘n konstruk soos gesondheid gedefinieer word in terme van die afwesigheid van ‘n ander fenomeen, naamlik siekte of disfunksie. Volgens Pretorius (1998) kan ‘gesondheid’ dus nie gedefinieer word deur iets anders in die proses te ignoreer nie. Die siening dat gesondheid meer as die blote afwesigheid van patologie is, is in der waarheid niks nuuts nie. Daar het alreeds baie jare verloop sedert die Wêreldgesondheidsorganisasie (World Health Organization, 1964) gesondheid gedefinieer het as:

“a state of complete physical, mental and social well-being and not merely the absence of disease or infirmity.” (p.1)

Soos reeds in afdeling 4.1 genoem, is die waarneming gemaak dat sekere persone gebuk gaan onder stres, maar die vermoë openbaar om in sulke omstandighede tog te groei en selfs te floreer. Dit het vrae laat ontstaan rondom die oorsprong van gesondheid. Antonovsky (1979) het met die term ‘salutogenese’ vorendag gekom, wat verwys na die oorsprong van gesondheid of welstand (hierdie begrip word volledig bespreek in afdeling 4.5). In kontras met die belangstelling in patologie, naamlik in ‘wat kan verkeerd gaan’, was daar nou ‘n poging om te ontdek ‘wat kan reg gaan’. Vanuit die salutogene perspektief word daar dus gefokus op gesondheid en die handhawing en bevordering van welstand. Antonovsky (1987) het ‘n health ease/dis-ease-kontinuum gebruik ten einde sy konseptualisering van gesondheid en siekte te illustreer (sien Figuur 4.1).

‘Health-ease/dis-ease-kontinuum’

Toestand van

Totale welstand