• No results found

Fortaliteitsvraelys / ‘Fortitude Questionnaire’ (FORQ) (Pretorius, 1998)

terminale siekte

NORMALE WEERSTANDSVLAK

5.2 DOEL VAN DIE STUDIE

5.4.6 Fortaliteitsvraelys / ‘Fortitude Questionnaire’ (FORQ) (Pretorius, 1998)

5.4.6.1 Rasionaal

Die konstruk ‘fortaliteit’ is reeds in diepte bespreek (sien afdeling 4.7.2). In kort verwys fortaliteit na die mate van sielkundige sterktes of innerlike krag waaroor ‘n persoon beskik ten einde hom of haar in staat te stel om spanning en stresvolle lewensgebeure te hanteer. Hierdie mate van innerlike ‘krag’ spruit volgens Pretorius (1998) uit drie dimensies, naamlik positiewe persepsies van die self, die gesin en die beskikbare ondersteuning van andere. Die vraelys is dus ontwikkel om die mate van fortaliteit waaroor ‘n individu beskik, te kwantifiseer (Pretorius, 1998).

5.4.6.2 Aard, administrasie en interpretasie

Hierdie vraelys bestaan uit 20 items, wat die drie domeine van fortaliteit dek, naamlik die beoordeling van die self (sewe items), die mate van ondersteuning deur die gesin (sewe items) en die mate van ondersteuning deur ander (ses items). ‘n Volledige en duidelike uiteensetting van die instruksies wat gevolg moet word, gaan die vraelys vooraf. Dit neem gemiddeld ongeveer 15 minute om die vraelys te voltooi, maar daar bestaan egter geen tydsbeperking nie. Die 20 stellings word beoordeel op ‘n gegradeerde vierpuntskaal wat wissel van ‘nie van toepassing’ tot ‘baie sterk van toepassing’. Slegs item 20 se puntetelling word geroteer weens die negatiewe formulering van die vraag. ‘n Totaaltelling word verkry deur die verskillende itemtellings te sommeer. Die strekwydte van die totaaltellings strek van 20 (‘n lae vlak van fortaliteit) tot 80 (‘n hoë vlak van fortaliteit). Lae vlakke van sielkundige sterkte word aangedui deur ‘n totaaltelling van 58 en laer, waar ‘n totaaltelling van 65 en meer weer aanduidend van hoë vlakke van sielkundige sterkte sou wees.

5.4.6.3 Betroubaarheid en geldigheid

Die betroubaarheid van die individuele subskale kan volgens Pretorius (1998) as bevredigend beskou word, aangesien dit gewissel het tussen 0.74 en 0.82. ‘n Subskaalbetroubaarheid van 0.74 vir taksering van die self, 0.82 vir taksering van die familie en 0.76 vir die taksering van die mate van ondersteuning is gerapporteer. Elkeen van die subskale en al die items dra betekenisvol by tot die totale betroubaarheid. Die betroubaarheid van die totale skaal (fortaliteit) is bereken deur middel van die alfa-koëffisiënt as 0.85 en kan volgens Pretorius (1998) as hoogs bevredigend beskou word.

Die geldigheid van hierdie meetinstrument is ook bevestig deur ondersoeke wat geloods is wat betref onderskeidelik die inhouds-, faktor-, voorspellings-, en samevallende geldigheid van die Fortaliteitsvraelys (Pretorius, 1998).

5.4.6.4 Motivering vir gebruik

Die drie dimensies van fortaliteit waaruit die vraelys bestaan, word as belangrik beskou vir die sielkundige welstand van die mens op talle terreine van sy of haar bestaan. Die vraelys word aangewend om te meet tot watter mate psigofortologiese faktore ‘n rol speel in die versorger se hantering van stressore. ‘n Goeie aanduiding van die sielkundige sterktes van die versorgers van persone met Alzheimer se siekte kan dus verkry word deur middel van ‘n kwantitatiewe bepaling van die drie dimensies van fortaliteit.

5.5 NAVORSINGSONTWERP

Die ondersoek is tweeledig van aard, aangesien kwalitatiewe (wat die meeste gewig dra) asook kwantitatiewe data-ontledingsmetodes gebruik is.

Kwantitatiewe data is deur die voltooiing van vyf vraelyste (sien afdeling 5.4) bekom. Die resultate daarvan is met beskrywende statistiese tegnieke ontleed. Die enkele psigometriese toetse is afgeneem bloot ter toeligting van die kwalitatiewe resultate, en word nie vir inferensiële doeleindes aangewend nie. Die ondersoekgroep is te klein daarvoor.

In die kwalitatiewe gedeelte van die ondersoek is die data bekom deur semi- gestruktureerde indiepte-onderhoude wat gevoer is met die eggenoot van ‘n persoon met Alzheimer se siekte. Daar bestaan verskillende benaderings tot die ontleding van data in kwalitatiewe navorsing. Die ‘Begronde teorie’ soos beskryf deur Strauss en Corbin (1998) wat gerig is op ‘n oop fenomenologiese benadering is onder meer ‘n voorbeeld daarvan. Een van die sterkpunte van hierdie uitgangspunt is die ‘oop’ benadering sonder vooraf bepaalde stellinginnames of hipoteses. Die teorie word geformuleer vanuit die veldwerkervaringe en ‘n indiepte-ontleding van die data. Die probleem wat egter ontstaan, is hoe om die veld met ‘n werklike oop gemoed te ondersoek. Hermeneutika (Patton, 2002) is ‘n ander voorbeeld van hoe data benader kan word en neem weer die posisie in dat niks geïnterpreteer kan word sonder een of ander perspektief nie. Die eerste prioriteit van hierdie benadering is om hierdie perspektief vas te vang en die konteks van die mense wat bestudeer word, toe te lig en

te verduidelik. Die navorser se eie perspektief moet ook eksplisiet gemaak word, asook enige ander tradisie of perspektief wat in ag geneem word wanneer die bevindinge geïnterpreteer word. Oriënterende kwalitatiewe ontledingsbenadering (Patton, 2002) gaan een stap verder. Hierdie benadering vermy enige voorwendsel dat dit sonder vooroordeel is in die soeke na ‘begronde’ of ‘verryssende’ teorie. Die benadering begin met ‘n eksplisiete teoretiese of ideologiese perspektief wat bepaal watter konseptuele raamwerk die veldwerk en die interpretasie van die bevindinge sal rig.

Daar sal ‘n oriënterende kwalitatiewe ontledingsbenadering in hierdie studie gevolg word (Patton, 2002). Die benadering is daarop afgestem om die vergestalting van reeds bestaande teoretiese modelle in ‘n nuwe domein te ondersoek. Die psigofortologiese invalshoek en meer spesifiek Antonovsky se koherensiesin sal as teoretiese basis gebruik word, in navolging van die werk van Potgieter (2000). Die resultate sal dan vergelyk word met Potgieter (2000) se bevindinge rakende die sielkundige behoeftes van vroulike versorgers van persone met Alzheimer se siekte. Volgens Patton (2002) is hierdie oriënterende ontledingsbenadering daarop gemik om spesifieke manifestasies van reeds-vermoedelike algemene patrone te beskryf en verduidelik (sien Hoofstuk 6, afdeling 6.3 vir ‘n uitbreiding). Die fokus van die ondersoek word bepaal deur die raamwerk waarbinne daar gewerk word, daar word betekenis daaraan gegee en die bevindinge word geïnterpreteer vanuit die perspektief van daardie raamwerk. So ‘n ondersoek is gerig op bevestiging, verduideliking en toeligting eerder as ontdekking.

5.6 PROSEDURE

Soos reeds genoem, het hierdie studie van beide kwantitatiewe en kwalitatiewe metodes van ondersoek gebruik gemaak. Die prosedure wat tydens die toepassing van elk van hierdie metodes aangewend is, sal vervolgens afsonderlik bespreek word.