• No results found

PSIGOFORTOLOGIE AS UITVLOEISEL VAN DIE KONSEP VAN SALUTOGENESE

terminale siekte

NORMALE WEERSTANDSVLAK

4.7 PSIGOFORTOLOGIE AS UITVLOEISEL VAN DIE KONSEP VAN SALUTOGENESE

4.7.1 Inleiding

Strümpfer (1995) het ‘n groot bydrae gemaak tot die salutogeniese denkrigting. Hy was van mening dat Antonovsky met die formulering van die konsep ‘salutogenese’ besig was met ‘n veel meer omvattende onderwerp as bloot die faktore wat fisieke gesondheid beïnvloed. Hy het verder geredeneer dat die paradigma beperk word indien gesondheid gebruik word as die eindpunt van die paradigma. Die teorie van salutogenese is deur Strümpfer (1995) uitgebrei sodat dit betrekking kan hê op die mens se totale funksionering, aangesien hy fisieke gesondheid slegs as een van die dimensies van welstand gesien het. Hy stel dan die meer omvattende term ‘fortigenese’ bekend om die klem te plaas op die oorsprong van sielkundige krag in die algemeen. Fortigenese is ‘n neologisme wat afgelei is van die Latynse stam fortis wat ‘sterk’ beteken en die Griekse stam genesis wat ‘oorsprong’ beteken. Strümpfer (1995) sien fortigenese as ‘n wyer konstruk as salutogenese om die interaksie tussen algemene weerstandshulpbronne en koherensiesin te verstaan. Die fokus is dus deur Strümpfer (1995) geskuif van die oorsprong van gesondheid (salutogenese) na die oorsprong van krag (fortigenese), om ‘n holistiese en breër fokus te verseker.

Gedurende die ontwikkeling van die konsep fortologie het Strümpfer (1995) nie die soeke na die oorsprong van gesondheid verwerp nie; hy het voortgebou op die konsepte soos ‘algemene weerstandshulpbronne’ en ‘koherensiesin’ soos ontwikkel

deur Antonovsky (1987). Hierdie konsepte is volgens Strümpfer (1995) nie net bepalend vir menslike gesondheid nie, maar kan ook veralgemeen word na ander health-ease/dis-ease-kontinuums. Voorbeelde hiervan is die eise wat aan persone gestel word wat byvoorbeeld aftrede in die gesig staar, werksverwante stres ervaar of ervaringe op die oorlogsveld. Strümpfer (1995) kom tot die gevolgtrekking dat fortigenese ‘n term is wat die paradigmaskuif vanaf patologie na optimale funksionering beter beskryf as salutogenese:

“Antonovsky could not help but point to the closely related origins of strength needed to be effective at other end-points of human functioning too. This total endeavour should be acknowledged: ‘fortigenesis’ is more embracing, more holistic, than ‘salutogenesis’” (p.82).

Navorsing oor ‘sielkundige welstand’ het in die afgelope jare plek gemaak vir die ontwikkeling van ‘n nuwe domein of sub-dissipline in sielkunde. Hierdie nuwe sub- dissipline word deur Wissing en Van Eeden (1997) ‘psigofortologie’ genoem (‘n uitbreiding van die term fortologie) en ‘positiewe sielkunde’ deur Seligman en Csikszentmihalyi (2000). Wat hierdie nuwe domein ook al in die toekoms genoem gaan word, die fokus is op sielkundige welstand.

Wissing en Van Eeden (1997) het die term ‘psigofortologie’ in verband gebring met die wetenskaplike studie van sielkundige kragte. Die outeurs het aangevoer “that in this domain not only the origins of psychological well-being should or will be studied, but also the nature, manifestations, and consequently ways to enhance psychological well-being and develop human capacities” (p.5). Psigofortologie fokus dus op die aard, manifesterings, patrone, oorspronge, dinamika en versterking van kragte op ‘n individuele, groeps- en gemeenskapsvlak (Wissing & Van Eeden, 1997).

4.7.2 Die konsep: Fortaliteit (‘Fortitude’)

Pretorius (1997) het ‘n teorie van fortaliteit ontwikkel as antwoord op die vraag wat duidelik na vore gekom het as die fokus van die fortologiese paradigma, naamlik: ‘Waar kom die krag vandaan?’ Navorsing was dus daarop gerig om te bepaal watter individuele en omgewingsfaktore ‘n beduidende rol speel rakende stresvermindering

of die effektiewe hantering daarvan. Pretorius (1998) het die mening uitgespreek dat die antwoord gevind kan word in die fortaliteit waaroor mense beskik. Fortaliteit handel oor die krag wat nodig is om stres suksesvol te hanteer. Hierdie krag spruit uit ‘n positiewe persepsie van die self, die familie en van die mate van ondersteuning wat hy of sy van ander ontvang (Pretorius, 1998). Die outeur het ook ‘n vraelys ontwikkel (The Fortitude Questionnaire) om die mate van fortaliteit waaroor ‘n individu beskik, te kwantifiseer. Om te meet tot watter mate psigofortologiese faktore ‘n rol speel in die versorgers se hantering van stressore, sal hierdie vraelys ook in die huidige studie aangewend word.

Pretorius (1998) het drie faktore, met behulp van ‘n proses van faktoranalise geïdentifiseer, wat volgens hom ‘n bydrae lewer tot die krag of sterkte wat die individu openbaar tydens periodes van stres. Folkman en Lazarus (1980) meld ook dat daar ‘n ingebore geneigdheid by die mens ontstaan om hom- of haarself en sy of haar omgewing gedurig te beoordeel en te takseer na aanleiding van sy of haar diverse ervaringe. Op grond hiervan sal daar ‘n vasgestelde patroon van oortuigings rakende die individu en sy of haar omgewing ontstaan. Dit wil dus voorkom asof die begrip van fortaliteit volgens Pretorius (1998) uit die volgende dimensies bestaan:

1. ‘n Positiewe beoordelende bewustheid van die self: Hierdie evaluerende bewushteid van die self sluit beide ‘n positiewe globale beoordeling van die self, sowel as meer spesifieke beoordeling van sake soos effektiwiteit tydens probleemoplossing en ander vorme van beheer en bevoegdheid in.

2. ‘n Positiewe beoordelende bewustheid van die gesinsomgewing: Hierdie dimensie verwys na die positiewe beoordeling van die gesin se ondersteuning. Dit sluit ook die bewustheid van konflik en kohesie tussen verskillende gesinslede en ‘n beoordeling van gesinswaardes in.

3. ‘n Positiewe beoordelende bewustheid van die ondersteuning van ander: Hierdie dimensie sluit die beoordeling van beide die kwantitatiewe (vlakke van ondersteuning) en kwalitatiewe (kwaliteit en tevredenheid) dimensies van ondersteuning in. Beoordeling van die effektiwiteit van die gebruik van hierdie ondersteuningsisteme word ook hierdeur geïmpliseer.

Fortaliteit kan dus formeel gedefinieer word as die krag om stres suksesvol te hanteer, en ten spyte van die teenwoordigheid van stres in ‘n toestand van welstand te verkeer

as gevolg van ‘n positiewe beoordeling van die self, van die familie en van die ondersteuning van ander (Pretorius, 1998). Fortaliteit kan nie bestudeer word deur een van die bogenoemde drie dimensies daarvan apart te beskou nie. Hierdie domeine kan uitsluitlik geskei en afsonderlik bestudeer word ten einde te bepaal hoe hulle interreageer en saamwerk om uiteindelik fortaliteit as breë konsep te vorm. Dit is dus duidelik dat diegene wat hulself, hul ondersteuning en hulle omgewing as positief ervaar, meer vertroue sal hê in hul vermoëns om stresvolle ervarings die hoof te bied.