• No results found

DIE BELEWENIS VAN MANLIKE VERSORGERS VAN ALZHEIMER-PASIËNTE

3.2 ‘N MODEL VAN VERSORGERSTRES EN –COPING

3.2.1 AGTERGROND EN KONTEKS VAN DIE STRESPROSES

3.2.3.2 Sosiale ondersteuning

Volgens Mittelman et al. (1995) het enige intervensie wat sosiale ondersteuning versterk die potensiaal om sommige van die nadelige effekte wat versorging op die geestesgesondheid van versorgers het, te verlig. Hoe suksesvol versorgers cope met ontwrigting, soos byvoorbeeld gedragsprobleme en persoonlikheidsveranderinge, hang af van hulle beskikbare ondersteuningsraamwerk (Perel & Hopkins, 1998). Die sambreelterm sosiale ondersteuning kan onderverdeel word in informele en formele

ondersteuning (Schneider et al., 1999). Laasgenoemde twee sal vervolgens afsonderlik bespreek word.

(i) Informele ondersteuning

Informele ondersteuning verwys na die ondersteuning wat versorgers van familie en vriende ontvang (Schneider et al. 1999). Volgens Pratt, Wright en Schmall (1987) is ondersteuning van die uitgebreide familie geassosieer met laer vlakke van versorger- las. Coen et al. (1997) vermeld ook dat ‘n tekort aan informele sosiale ondersteuning ‘n belangrike voorspeller is van uitbranding onder versorgers. Die ondersteuning deur familie en vriende waarop die versorger kan staatmaak, word dus gesien as ‘n effektiewe copingstrategie (Gwyther, 1998). Familielede wat naby aan die persoon met Alzheimer se siekte woon, kan byvoorbeeld die versorger uithelp deur etes voor te berei, of herstelwerk in die huis te doen (Burns et al., 1996). Die familie wat ver woon, kan daarenteen behulpsaam wees met byvoorbeeld die hantering van die persoon se rekeninge, of aanbied om te betaal vir huishoudelike of ander bruikbare dienste om sodoende die versorging vir die versorger te vergemaklik (Burns et al., 1996).

Die hulp en ondersteuning wat voorsien word deur familie en vriende, is in die studie deur Schneider et al. (1999) gemeet aan die totale aantal ure per week waartydens hierdie tipe sorg ontvang is. In Schneider et al. (1999) se ondersoek het 52 % van die ondersoekgroep geen vorm van informele sorg ontvang nie. Vir die res was die totale hoeveelheid hulp van familie ontvang gemiddeld maar 5.3 uur per week, en hulp van bure en vriende het slegs 0.5 uur per week beloop. Die vlak van informele sorg was oor die algemeen dus baie laag. Hierdie bevindinge is ook deur Murray et al. (1999) bevestig. Volgens Cahill (2000) het verskeie navorsers daarna verwys dat manlike versorgers oor die algemeen meer informele ondersteuning ontvang in vergelyking met vroulike versorgers. Hierdie outeur het daarop gewys dat manlike versorgers hulp van hulle kinders, veral dogters, ontvang. Die manlike versorgers is egter baie sensitief om nie in te meng met hulle kinders se lewe nie en verwag dus nie die hulp en ondersteuning as vanselfsprekend nie (Cahill, 2000).

Die bydrae van troeteldiere tot die ondersteuningsraamwerk van ‘n versorger van ‘n persoon met Alzheimer se siekte, het in verskeie studies aandag geniet (Fritz, Farver, Hart & Kass, 1996). Hierdie studies het aangedui dat versorgers wat met troeteldiere assosieer gelukkig is, ‘n beter moreel ervaar en minder eensaam is, as dié sonder troeteldiere (Fritz et al., 1996). Daar was ‘n positiewe assosiasie tussen die interaksie met troeteldiere en die sielkundige gesondheid van versorgers van persone met Alzheimer se siekte, veral manlike versorgers (Fritz et al., 1996). ‘n Moontlike verklaring hiervoor is dat troeteldiere in die manlike versorger se omgewing moontlik primêr ‘n kameraadskaplike rol vervul, teenoor ‘n vroulike versorger wat ‘n troeteldier moontlik sien as ‘n addisionele bron van verantwoordelikheid, wat dan die meeste van die streswerende effekte wat ‘n kameraadskaplike dier mag voorsien, teenwerk (Fritz et al., 1996). Die diere kan ook potensieel ‘n aantal funksies vir die persone met Alzheimer se siekte self vervul (Draper, 2004). Hulle kan objekte van liefde, empatie en kommunikasie wees. Dit kan ook voordele vir die versorger inhou, soos onder andere dat die persoon se aandag gefokus bly op iets anders as die versorger (Draper, 2004).

(ii) Formele ondersteuning

Volgens Schneider et al. (1999) verwys formele ondersteuning na dienste wat voorsien word deur regerings- of vrywillige agentskappe. Dit lyk of versorgers al hoe meer geredelik na formele ondersteuning soek, veral hoe meer afhanklik die persoon van die versorger raak (Winslow, 1997). Voorbeelde hiervan sou die sorg wees wat voorsien word deur vrywillige organisasies en sou byvoorbeeld sekere vorme van die versorging van persoonlike higiëne, verpleging, die doen van wasgoed en inkopies insluit (Schneider et al. 1999). Volgens Cahill (2000) maak manlike versorgers meer gebruik van sodanige formele dienste as vroulike versorgers. Hoewel die beskikbaarheid van sulke dienste grootliks tussen verskillende lande wissel, is dit ten beste slegs vir relatief kort periodes per week beskikbaar. Manlike versorgers maak oor die algemeen meer gebruik van ‘praktiese’ ondersteuningsdienste (byvoorbeeld huishoudelike of wasserydienste), teenoor vroulike versorgers wie se distres baiekeer onderliggend is aan emosionele en sielkundige kwessies, sodat hulle dan ‘verbale’ ondersteuning van spesialiste (byvoorbeeld sielkundiges, psigiaters en maatskaplike werkers) meer van hulp vind (Collins & Jones, 1997).

‘n Belangrike aspek van intervensie vir versorgers is die beskikbaarheid van individuele terapeutiese dienste (Mittelman et al., 1995). Versorgers kan in sodanige sessies onder andere streshanteringsvaardighede aangeleer word en geleer word hoe om die persoon se probleemgedrag te hanteer, wat die versorger dan in staat stel om meer in beheer van hulle omgewing te wees (Coen et al., 1997; Mittelman et al., 1995; Winslow, 1997). Die belangrikheid dat versorgers ook na hulself moet omsien, kan ook in terapeutiese sessies beklemtoon word (Mittelman et al., 1995). Die vroeë identifisering en behandeling van depressie is byvoorbeeld baie belangrik (Knop et al., 1998). Versorgers kan ook in hierdie individuele terapiesessies aangemoedig word om ondersteuning te soek by lede van hulle sosiale netwerk, en veral by hulle families (Mittelman et al., 1995).

Groepwerk speel ook ‘n groot rol in die bied van ondersteuning aan versorgers en bestaan onder andere uit familieterapiesessies, wat onder meer die oplossing van konflik oor die versorging van die persoon hanteer (Mittelman et al., 1995). Ondersteuningsgroepe vir familielede kan hulle voorsien van inligting oor die siekte, emosionele en praktiese ondersteuning bied, en ‘n geleentheid bied om uitdrukking aan gevoelens te gee (Gwyther, 1998). ‘n Groot deel van hierdie intervensie word daarop gefokus om familielede bewus te maak van die impak van die versorging van die persoon met Alzheimer se siekte op die huweliksmaat wat as versorger optree (Tarrier et al., 2002).

Alzheimer-ondersteuningsgroepe wat gereeld ontmoet, bied ook ‘n groot bron van ondersteuning vir die versorger (Mittelman et al., 1995). Hierdie groepe kan daartoe bydra dat versorger besef dat hulle nie die enigste mens is wat probleme ervaar nie en dat daar ander mense is wat dieselfde probleme en frustrasies ervaar (Gwyther, 1998). Die las, uitbranding en gevoelens van isolasie wat versorgers ervaar, word ook in hierdie groepe aangespreek en pogings word aangewend om dit te verminder (Tarrier et al., 2002; Gwyther, 1998). Ondersteuningsgroepe wat met beide die versorger en die geaffekteerde huweliksmaat aan probleemoplossingsvaardighede werk, mag ook help om die huweliksverhouding te versterk of in stand te hou (Knop et al. 1998). Manlike versorgers neem oor die algemeen baie minder as vroulike versorgers aan ondersteuningsgroepe deel (Fromme et al., 2005; Cahill, 2000). Dit kan verband hou

met hulle sosiale rol, aangesien die deelname aan bogenoemde groepe volgens hulle gesien word as ‘n erkenning van swakheid en mislukking (Fromme et al., 2005). Daar is verskeie ander struikelblokke wat ook ‘n rol speel, onder andere mans se weerstand om hul persoonlike gevoelens te deel en ‘n behoefte om onafhanklik en sterk te bly en te lyk of hulle met die versorgingsrol cope (Cahill, 2000; Fromme et al., 2005). Hierdie outeurs het ook vermeld dat die veralgemeende opvatting onder manlike versorgers voorkom dat hulle voel hulle moet die verantwoordelikhede sonder enige hulp kan hanteer.

Aangesien die meerderheid versorgers vroulik is, is die ondersteunende dienste grootliks toegespits om aan hulle behoeftes te voldoen (Cahill, 2000; Fromme et al., 2005). Die volgende aspekte kan onder andere in gedagte gehou word, om te verseker dat manlike versorgers meer gebruik maak van beskikbare dienste (Fromme et al., 2005):

• Laat manlike versorgers aktief deelneem aan besluitneming van groepe en as leiers dien.

• Hou intervensies in ‘n omgewing wat manlike versorgers gemaklik sal vind. • Ontwerp intervensies om inligting te verskaf, eerder as om ‘n terapeutiese

formaat aan te neem.

• Laat die vaardighede om verhoudings te bou eerder deel wees van die intervensie, as die fokus.

Collins en Jones (1997) het ook vermeld dat ondersteuning toegespits moet wees op individuele versorgers se behoeftes en copingstyle. Verder moet die geslag van versorgers oorweeg word as ‘n belangrike veranderlike in die beplanning en evaluering van ondersteuningsdienste.

Klinici wat ervaring het van die hantering van die baie verskillende fasette wat betrokke is by die versorging van ‘n persoon met Alzheimer se siekte is in groot aanvraag (Fazio & Bartelt, 1999; Grossberg & Lake, 1998). Psigiaters en geneeskundiges speel onder andere ‘n waardevolle rol in die evaluasie en behandeling van hierdie persone, sowel as van hul versorgers. Hulle is gewoonlik ook bekend met hulpbronne in die gemeenskap wat die versorger en persoon met Alzheimer se siekte

kan bevoordeel. Dit sluit onder andere ondersteuningsgroepe, dagsorgdienste en verpleegsorgtehuise in (Fazio & Bartelt, 1999; Grossberg & Lake, 1998). Volgens Cahill (2000) en Thomas et al. (2002) moet mediese praktisyns en ander wat in hierdie area werk, meer aandag gee aan die oordra van voldoende inligting oor demensie en die hantering daarvan aan manlike versorgers, selfs in die vroeë stadiums.

Thomas et al. (2002) het onder andere ondersoek ingestel na wat versorgers graag in die toekoms in plek sou wou sien om dit vir hulle makliker te maak om persone met Alzheimer se siekte te versorg. Onder andere het voorstelle soos daghospitale of – sentrums, iemand om by die huis te help, finansiële ondersteuning, gespesialiseerde versorgingsinstitute, mediese vordering met behandeling en kognitiewe stimulasie na vore gekom. Dagsorgdienste vir volwassenes kan volgens die studie van Gaugler et al. (2003) potensieel effektief wees in die vermindering van versorgers se emosionele en sielkundige distres. Die versorgers wat in hierdie studie gebruik gemaak het van dagsorgdienste het minder gevoelens van uitputting en vermoeienis gerapporteer. Die rede hiervoor kan wees dat die eise wat die versorging aan die versorger stel ‘n paar ure per week verminder is en versorgers die kans gekry het om hulle onverdeelde aandag aan ander take te skenk, waarvoor hulle gewoonlik nie tyd gekry het nie (Gaugler et al., 2003).

Studies het gewys dat daar ‘n weerstandigheid onder versorgers bestaan om gebruik te maak van formele dienste, die grootste rede daarvoor is ‘n vrees vir die koste daaraan verbonde (Gwyther, 1998). Dit word dikwels slegs gebruik as ‘n laaste uitweg, om institusionalisering te vermy (Gwyther, 1998).

Manlike versorgers moet aangemoedig word om die geleenthede en voordele wat deur ondersteunende dienste verskaf word te gebruik, terwyl hulle daarna streef om versorging te bied aan ‘n eggenote (Fromme et al., 2005). Praktisyns en ander familielede moet bedag wees op waarskuwingstekens wat aandui dat ‘n manlike versorger in die nood is. Manlike versorgers moet die versorgingsrol kan onderneem sonder om die tradisionele vroulike weergawe te modelleer (Fromme et al., 2005).

3.2.3.3 Spiritualiteit

Pratt et al. (1987) het gevind dat spirituele ondersteuning vir baie versorgers onderskraging bied. Vir sommige versorgers mag spirituele ondersteuning help om betekenis te kry uit die geweldige verliese wat Demensie van die Alzheimer-tipe vergesel. Hierdie tipe ondersteuning, wat gebedsaksies insluit, kan dus ‘n belangrike ondersteuningsbron vir versorgers wees (Gwyther, 1998). Verskeie studies het gevind dat versorgers se sterk geloof hulle help om te cope met die versorgingslas. Geloof kan versorgers hoop gee vir die onbekende en veral vir die toekoms (Gwyther, 1998).