• No results found

DIE BELEWENIS VAN MANLIKE VERSORGERS VAN ALZHEIMER-PASIËNTE

3.2 ‘N MODEL VAN VERSORGERSTRES EN –COPING

3.2.4 VERSORGER-UITKOMSTE

3.2.4.1 Negatiewe uitkomste

(i) Rou, verlies en dood

Die diagnose en verloop van Demensie van die Alzheimer-tipe is vir die huweliksmaat ‘n sosiale stressor wat die verlies van ‘n vertroueling en die verhouding met ‘n huweliksmaat, die verlies van ondersteuning van die versorger se vriende en familie, en die verlies van ‘n vorige lewenstyl beteken (Russo, Vitaliano, Brewer, Katon & Becker, 1995). Murray et al. (1999) sluit ook hierby aan deur te verwys na versorgers se ervaring van verlies, die gevoel dat die persoon met demensie besig is om weg te glip en hulle geheue, kommunikasie en persoonlikheid verloor. Versorgers beskryf hierdie persone soms as ‘verandering in ‘n ander persoon’ of as ‘nie langer daar nie’.

Versorgers sien dood as beide ‘n vrystelling van die veeleisende situasie en as ‘n gevreesde gebeurtenis (Martinson et al., 1993). Sommige versorgers erken hardop dat hulle die dood van hierdie persoon inwag, terwyl ander dit sien as die ergste gebeurtenis ooit. Die tipe verhouding wat tussen die versorger en hierdie persoon ontstaan het en die manier waarop die versorger die versorgingsrol vervul het, het ‘n invloed op die versorger se gevoelens oor die dood van die persoon met Alzheimer se siekte. Hoe meer die versorger se identiteit gedefinieer word deur die versorgingsrol, hoe groter die vrees vir die verlies van hierdie persoon (Martinson et al., 1993). Die versorger vrees dan die totale verlies van die verhouding waaruit hulle hele wêreld in daardie stadium bestaan.

Sommige versorgers voel verlig na die dood van ‘n persoon met Alzheimer se siekte. Dit is belangrik dat die versorger verseker word dat dit ‘n normale gevoel is, omdat versorgers in baie gevalle reeds lank voor die afsterwe van hierdie persoon begin om die verlies van ‘n geliefde te aanvaar (Burns et al., 1996). Ten spyte van die feit dat manlike versorgers minder stres rapporteer, wys vier dekades van epidemiologiese navorsing dat bedroefde mans ‘n groter risiko as vroue het vir afsterwe en ander nadelige gesondheidsuitkomste (Fromme et al., 2005). Die moontlikheid bestaan ook dat manlike versorgers ‘n hoër risiko vir sterfte het, selfs voor ‘n rouproses (Fromme et al., 2005).

Versorgers beskryf die waarneming van die disintegrasie van die persoonlikheid en intellek van ‘n familielid as ‘n ‘lewende rouproses’ (Kiecolt-Glaser et al., 1991). Potgieter (2000) beskryf ‘n unieke rouproses wat versorgers van persone met Alzheimer se siekte ervaar. Hierdie verlieservaring word deur Potgieter (2000) as ‘n dubbele rouproses beskryf. Die eerste rousiklus ontstaan by die aanvang van die neuropsigiatriese simptome en persoonlikheidsveranderinge van hierdie persoon, wat as baie traumaties deur die versorger beleef word. Die tweede rousiklus word ontketen deur die afsterwe van die persoon met Alzheimer se siekte. Die versorger het dikwels ‘n groot mate van betekenis gevind in die versorgingstaak, wat hom of haar nou ontneem word met die afsterwe van die persoon. Dit lei daartoe dat die versorger moet herbesin oor die betekenis van sy of haar eie bestaan. Hierdie dubbele verlies aan beheer en betekenis lei dikwels tot ernstige negatiewe gevolge vir die sielkundige welstand van die versorger. Die dubbele rouproses maak deel uit van die

belewenis van bykans al die persone wat huweliksmaats, gediagnoseer met Alzheimer se siekte, vir ‘n tydperk tuis versorg (Potgieter, 2000).

(ii) Psigiatriese versteurings

Die eise wat die versorging van ‘n persoon met Alzheimer se siekte aan die versorger stel, kan ernstige newe-effekte op die geestesgesondheid van die versorger hê (Knop et al., 1998; Mittelman et al., 1995). Volgens Russo et al. (1995) is versorgers met ‘n geskiedenis van psigiatriese versteurings, soos byvoorbeeld depressie of angs, meer geneig om weer daarmee gediagnoseer te word nadat ‘n huweliksmaat met Alzheimer se siekte gediagnoseer is. ‘n Genetiese predisposisie, saam met die stres wat die versorger ervaar, kan ook bydra tot die diagnose van ‘n psigiatriese versteuring, byvoorbeeld depressie (Russo et al., 1995). Daar kom ook volgens Perel en Hopkins (1998) ‘n toename in depressie voor onder veral vroulike versorgers van persone met Alzheimer se siekte, asook ‘n toename in alkoholmisbruik. In ‘n studie gedoen deur Kosmala en Kloszewska (2004) is gevind dat vroulike versorgers van persone met Alzheimer se siekte hoër vlakke van stres, hopeloosheid, depressiewe sindrome en las rapporteer in vergelyking met manlike versorgers. Crespo et al. (2005) meld dat selfagting, versorgerlas en emosie-gefokusde coping betekenisvol verband hou met beide angs en depressie. Dit is egter moontlik om met intervensie op verskeie vlakke die geestesgesondheid van huweliksmaatversorgers met affektiewe versteurings te verbeter (Knop et al., 1998; Murray et al., 1997).

Een bevinding wat konstant in vergelykende studies met betrekking tot geslag na vore kom, is dat vroulike versorgers erger emosionele gesondheidsuitkomste ervaar as hulle manlike eweknieë (Robinson et al., 2001). Donaldson et al. (1998) sluit hierby aan deur die bevinding dat vroulike versorgers ‘n groter risikofaktor is vir sielkundige morbiditeit.

(iii) Fisieke gesondheid van versorger

Versorging word baie keer geassosieer met stres en las, en gebeur gereeld ten koste van die versorger se eie gesondheid (Burns et al., 1996; Gwyther, 1998, Perel & Hopkins, 1998). Versorgers van persone met demensie besoek algemene praktisyns

tot 50% meer en gebruik tot 86% meer voorgeskrewe medikasie in vergelyking met nie-versorgers (Donaldson et al., 1998). Versorgers het ‘n hoër prevalensie van fisieke simptome en swakker self-beoordeling van gesondheid as nie-versorgers. Geslag speel ‘n groot rol in die bepaling van versorgers se gesondheidstatusveranderlikes (Chiou, Chen & Wang, 2005). Vroulike versorgers rapporteer oor die algemeen swakker gesondheid en welstand as manlike versorgers (Chiou et al., 2005; Gwyther, 1998). Probleme met hoë bloeddruk en senuwees word onder andere meer deur vroulike versorgers as manlike versorgers gerapporteer (Chumbler, Grimm, Cody & Beck, 2003). Volgens Thomas et al. (2001) ly vroulike versorgers, wat ook die meerderheid van versorgers uitmaak, meer, veral wanneer hulle self in swak gesondheid verkeer. Slaapprobleme, angstigheid, gevoelens van isolasie, chroniese uitputting, hipertensie en kardiovaskulêre siektes, om maar ‘n paar te noem, is alles moontlike gevolge van die stres wat die versorger ervaar (Burns et al., 1996). Vroulike versorgers is meer kwesbaar in terme van hulle gesondheid, gebruik meer psigotropiese middels, en word meer gedwing om hulle eie behandeling uit te stel (Thomas et al., 2002). Hierdie outeur het daarna verwys dat die vroulike versorgers egter nie meer klagtes as manlike versorgers rapporteer nie, of langer tyd saam met die persoon bestee, of vir ‘n langer periode die persoon versorg nie.

Die versorgers bestee dikwels te veel tyd aan die versorgingstaak en verwaarloos hulle eie behoeftes om te rus, tyd vir ontspanning en oefening af te staan, ‘n goeie dieët te volg en gereelde gesondheidsorg te ontvang (Burns et al., 1996). Kiecolt- Glaser et al. (1991) het gevind dat versorgers ‘n groter afname in immuniteit toon in vergelyking met ‘n kontrolegroep, veral diegene wat min sosiale ondersteuning gehad het, en die wat baie ontwrig word deur die gedragsafwykings van die persone.

Gesondheidspraktisyne moet die rapportering van pyn en simptoomdistres deur manlike versorgers versigtig evalueer, terwyl hulle in gedagte hou dat mans geneig is om die ernstigheidsgraad van simptome laer te takseer as vroue (Fromme et al., 2005).