• No results found

Dit is nie heeltemal so eenvoudig om ‘n klinkklare definisie van die begrip spiritualiteit te formuleer nie. Juis omdat daar sake soos emosie en belewenis betrokke is, wil dit voorkom asof spiritualiteit vanuit ‘n verskeidenheid hoeke besien sou kon word en dat

daar derhalwe verskillende definisies sou kon wees wat almal korrek sou wees. Godsdienstige oortuiging, kultuur en agtergrond speel ‘n bepaalde rol in die formulering van ‘n definisie oor spiritualiteit.

Dit wil egter voorkom asof daar twee aspekte is waaroor daar redelike konsensus bestaan ten opsigte van die formulering van ‘n definisie.

• Daar het ‘n gewaarwording ontwikkel van verskillende vlakke van realiteite wat nie so onmiddellik waarneembaar is nie. Daar bestaan meer as wat met die oog gesien kan word.

• Daar het ‘n soeke begin ontwikkel na persoonlike integrasie in die lig van postmoderne kragte van fragmentasie en de-personifikasie.

Downey maak die stelling dat hierdie twee aspekte spirituele konstante vorm en dat beide essensiële komponente by enige benadering tot spiritualiteit is (1997:14).

Die term spiritualiteit word gebruik om die diepte-dimensie van menswees te beskryf. Die aksent word geplaas op spiritualiteit as ‘n konstitutiewe element van die menslike natuur en belewenis.

John Macquarrie verstaan spiritualiteit in dié sin dat dit direk gemoeid is met “ becoming a person in the fullest sense” ( 1972:40-47). Joann Wolski-Conn praat van spiritualiteit in terme van die vermoë by die mens tot self-transendensie (1986:3).

By Wakefield kom ‘n ander perspektief na vore, naamlik dat spiritualiteit te make het met die samestelling van die menslike natuur wat uitdrukking probeer vind in die grond of doel van eksistensie (1983:v).

Volgens Schneiders (Downey 1997:15), verwys spiritualiteit in die breedste sin van die woord na die ervaring van ‘n bewustelike strewe daarna om die mens se lewe te integreer,

nie in terme van isolasie an self-absorpsie nie, maar in self-transendensie na die hoogste denkbare waardes.

Campbell Johnson (2000:10) praat kernagtig daaroor as “ waking up to God and to life”. Hy gaan voort deur die lewe voor God en in sy teenwoordigheid te illustreer met aspekte soos:

• Om verwonderd te wees omtrent die misterie van God se liefde • Die Woord ingeskakel te kry in die mens se lewe

• Om te luister na God

• Om die grootste leuen en leuenaar (Satan) te weerstaan

• Om God te vergestalt in die gewone gang van elke dag se sake • Om God se teenwoordigheid in die lewe te erken

• En om gelowig en getrou te bly tot die einde toe

Henry Nouwen illustreer dit volgens die gedagte van ‘n lewensreis deur te sê dat die mens vanaf ‘n sogenaamde huis van vrees moet deurbeweeg na die huis van liefde

(1994:21). Hierdie beweging geskied langs spesifieke bane waarvolgens die vrees vir die lewe oorkom moet word deur ‘n gevoel van sekuriteit in die teenwoordigheid van God.

Kourie wil die hele problematiek rondom die verstaan van spiritualiteit vanuit ‘n totaal ander hoek benader. Sy bestempel dit as iets van “’n ander wêreld “ , ‘n ontsnapping uit hierdie wêreld (2000:11). Dit kom gevolglik neer op ‘n houding van wêreld-vermyding, ‘n anti-materialistiese manier van leef en dink. Dit impakteer dan ook op die hele lewe in holistiese sin van die woord. Dit bring veranderinge mee ten opsigte van die kognitiewe, affektiese sowel as konatiewe vlakke van die lewe (2000:13)

Christelike spiritualiteit sou dan gesentreer wees rondom die beleef en uitleef van ons lewe in en deur Jesus Christus ( Kourie 2000:14). Die Skrif, beide Ou en Nuwe Testament, vorm vir Kourie die basis van die Christelike spiritualiteit. Veral vanuit die Nuwe Testament beskou is dit duidelik dat Christus sy Gees aan sy navolgers gegee het en dit is hierdie Gees wat die Christen in die volle waarheid lei. Dit is die Gees wat die

mens lei en leer om geestelik (pneumatikos) te lewe. Paulus se leerstellings in die onderskeie Pauliniese briewe sentreer ook rondom die opgestane Christus en die gepaardgaande nuwe lewe deur die Gees. Die vrug van die Gees moet gesien kan word in die lewe van die gelowige. Vir Kourie is die hele saak van spiritualiteit ‘n baie praktiese saak (Kourie 2000:15). Om ‘n “geestelike mens” te word en wees is die essensie van spiritualiteit. Die Heilige Gees is die Een wat die mens van binne af verryk en bemagtig, met dien verstande dat hierdie mens, as gelowige, “oop” geraak het vir die Gees (2000:16).

Transformasie in Christus word alleen maar ‘n effektiewe werklikheid deur die inwerking van die Heilige Gees. Vir Kourie is dit ook van wesenlike belang dat raakgesien sal word hoedat die Triniteit van God betrokke is by die tranformasie van die mens na konformasie met Christus (Kourie 2000:18).

Verskillende soorte spiritualiteit word aangetref volgens Kourie (2000:23). Sommige is meer ekstroversief terwyl ander weer kontemplatief sou wees en te make het met die innerlike mens. Almal kan egter net gewortel wees in die Woord van God en daarby gefundeer in ‘n trinitariese teologie.

Die feministiese spiritualiteit het die afgelope tyd enorm gegroei. Dit is in reaksie op ‘n hoofsaaklik oorheersende patriargale en hiërargiese patroon waar die spiritualiteit die prerogatief was van die manlike intellektueel (2000:25).

‘n Oplewing van die sogenaamde hesichastiese spiritualiteit in die ortodokse tradisie kom ook voor. Hesichasme beteken stil, rustig, en vrede (Kourie 2000:25).

Schaeffer vra ‘n indringende vraag, naamlik: What is the Christian life? (1972:15). Daarna gaan hy voort om daarop te wys dat egte spiritualiteit allereers beteken dat die mens Jesus Christus aanvaar as persoonlike Verlosser en Saligmaker. Hierna vind die wedergeboorte plaas en die verskillende stappe van die heilsorde volg. Schaeffer wil dan in sy betoog veral die saak van persoonlike heiliging beklemtoon (1972:17).

Ware spiritualiteit moet besien word as ‘n innerlike saak. Liefde is allereers ‘n interne aangeleentheid alvorens dit ekstern gedemonstreer word. Spiritualiteit behels dan:

• Nie om slegs wedergebore te wees en te weet ek gaan hemel toe nie

• Dit behels nie alleen om ontslae te raak van sekere taboe’s en ‘n makliker en losser lewe te begin leef nie

• Dis veral innerlik. Dis ‘n positiewe innerlike realiteit wat manifesteer in positiewe uiterlike resultate

Dit geskied ook nie in eie krag nie. Dit is die Heilige Gees wat hierdie nuwe dienswerk aan God moontlik maak. Daar is nou eintlik sprake van ‘n aktiewe passiwiteit by die gelowige (1972:69). Schaeffer verwys in hierdie verband na die voorbeeld van Maria by die geboorte van Jesus Christus. Sy het nie die geboorte veroorsaak nie (passief), maar wel haarself beskikbaar gestel vir God (aktief).

Die Heilige Gees open die weg om in die gewone lewe iets van die Bo-natuurlike te ervaar. God word ‘n realiteit. Dogma is goed, maar oomblik vir oomblik se belewenis is van meer belang (Schaeffer 1972:84). Dit moet egter ‘n oomblik-vir-oomblik ervaring in verhouding met die Drie-enige God wees.

• God word hierdie mens se Vader • Jesus Christus sy/haar Verlosser

• En die Heilige Gees is die daaglikse Leidsman

In die lig hiervan, só wil Schaeffer voortgaan (1972:131), behels spiritualiteit dan ook dat die mens in ‘n nuwe verhouding teenoor homself/haarself te staan kom. Dit beïnvloed ook die gedagte-lewe.

Spiritualiteit bied vir Schaeffer ook ‘n nuwe benadering ten opsigte van psigologiese probleme en omstandighede (1972:151). Die mens besef nou dat hy/sy self ‘n persoon in

eie reg is wat moet dink, handel, optree en voel. God is daar --- die oneindige- persoonlike God en die mens is ook daar, geskape volgens die beeld van God.

God praat en die mens moet antwoord. Die antwoorde kan nie geskied volgens ‘n patron van abstrakte handelinge nie, maar juis volgens konkrete handelinge. Dan word dit aanbidding.

Schaeffer wil ook die punt beklemtoon (Schaeffer 1972:162) dat spiritualiteit ‘n substansiële helingsproses impliseer, ten opsigte van sonde maar juis ook ten opsigte van ‘n totale nuwe lewensbenadering.

• Die mens is rasioneel

• Maar hierdie mens is ook moreel • En hy/sy moet verantwoordelik handel

• Alles só in bewustheid van God se teenwoordigheid

Eindelik behels ware spiritualiteit vir Schaeffer (1972:170) die integrasie van die mens se totale persoonlikheid in die verhouding met God.

Ware spiritualiteit lei na die beoefening van korrekte verhoudings tussen mense onderling. Op grond van die mens se verhouding met God, tree hy/sy in verhouding met ander mense. Daar moet liefde en kommunikasie wees in die Christen-tot-Christen verhoudinge, individueel sowel as korporatief (Schaeffer 1972:198).

Rice plaas persoonlike spirituele ondervinding binne die konteks van ‘n vol Christelike lewe (1991:1). Die rede vir die hernieude belangstelling in spiritualiteit is die verlange na eerstehandse ondervinding en belewenis van God se teenwoordigheid in die lewe. Vir baie mense is die gewone en alledaagse godsdienstige handelinge en belewenisse nie voldoende nie. Hierdie mense soek na iets wat meer is as die gebruiklike formele godsdienstige byeenkomste.

Volgens Rice (1991:8) is die hart van die Christelike lewe die oortuigde bevestiging van ‘n “ervaringsgeloof” in dié God wat vir die mens omgee en wat vir hierdie mens sal bly omgee.

Die drang na persoonlike ervaring van God is niks nuut nie. Die mens is juis geskape om in verhouding met God te staan. Volgens Augustinus was daar van meet af aan ‘n onrustigheid in en by die mens wat soek daarna om rust e vind in God. Die begeerte om God te beleef lê gewortel in die gebeurtenisse van die lewe. Belewenis van God behels egter, volgens Rice (1991:23), dat sekere pre-konsepsies eenkant toe geskuif moet word. Rice verwys ook na Calvyn wat die stelling gemaak het dat om jouself te leer ken, beteken om God te leer ken en ook andersom.

Die mens is ‘n unieke wese en elke enkele mens verskil van die volgende. As voorbeeld hiervan verwys Rice (1991:28) na introverte en ekstroverte persoonlikhede. In dié opsig sou belewenis van God dan ook van mens tot mens verskil. Hoe die mens dan ook al God beleef en ervaar, dit word telkens ‘n lewensveranderende belewenis (1991:30).

Rice onderskei voorts verskillende soorte lewenservarings wat die spiritualiteit van die gelowige kan voed (1991:31-35):

• Bekeringservarings: Dit is radikale reöriëntasie en koersverandering in die lewe. Dit beteken nie slegs oorbeweeg van ongeloof na geloof nie, maar dikwels ook van ‘n tweedehandse geloof na ‘n eerstehandse geloof.

• Ekstatiese ervarings: Mense beskou dit as ‘n uitsonderlike en spesiale aanraking deur God. Ongelukkig, volgens Rice, lei dit maklik tot ‘n gevoel van meerderwaardigheid. Dit kom ook, as ‘n reël, meer voor in ‘n charismatiese omgewing.

• Visionêre en Gehoorervarings: Dit gebeur nie dikwels nie en kom gewoonlik in drome voor. Die gevaar bestaan dat mense hulle eie begeertes kan visualiseer en dan bestempel as ‘n besoek van God.

• Intuïtiewe ervarings: Kom redelik algemeen voor. Die persoon beleef ‘n innerlike aanvoeling ten opsigte van ‘n aangeleentheid in gegewe omstandighede. Dit kan ook soortgelyk wees aan kongruensie.

• Transendente ervarings: Dit gaan hier oor die aangryping deur die wonder van die lewe.

• Inkarnasie ervarings: Dit kom neer op die betoning van en ervaar van liefde onderling. God word daarby beleef as die Bron van alle dinge.

Rice wys samevattend daarop dat sodanige ervarings nie nagejaag behoort te word nie, omdat dit maklik aanleiding kan gee tot die fabrisering van ervarings. Elke ervaring en belewenis van God moet bydra tot die vrees en aanbidding van God (1991:37).

‘n Wisselterm vir spiritualiteit sou piëteit wees. Christelike piëteit is nie eksklusief beperk tot sekere groepe nie. Daar bestaan sekere vorme van piëteit wat die rasionele reflekteer en ander wat weer die emosionele (affektiewe) reflekteer. Hierdie piëteit is aksie-geörieënteerd en kom hoofsaaklik korporatief voor.

Rice wil ook daarvoor argumenteer dat piëteit passiewe vorms kan aanneem en dan in afsondering plaasvind (1991:47). Die hoofdoel moet egter bly en dit is om God te verheerlik.

In die hart van die Reformasie lê dat die verstaan van die Christelike lewe korporatief gesien word. Mense word nie slegs as individue gered nie, maar ook in gemeente- verband. Spiritualiteit begin egter privaat en lei dan na die openbaarmaking daarvan in die groep. Die balans tussen privaat en korporatief is ‘n sensitiewe saak. Private aanbidding moet gebalanseer word deur openbare aanbidding en laasgenoemde moet weer deur eersgenoemde gestimuleer word (Rice 1991:54). Die gelowige wat nooit in privaatheid sy Bybel lees nie moet in die groep geïnspireer word om dit te doen.

Sentimentaliteit is oordrewe emosie. Emosie as sodanig kan nie ‘n betroubare riglyn wees vir die Christelike lewe nie. Dit kan selfs ‘n heel moderne gestalte aannneem, naamlik

narcissisme. Die kop het die hart nodig en omgekeerd. Daar moet eenheid wees tussen kop en hart; die balans tussen kop en hart is essensieel (Rice 1991:57).

Egte gereformeerde piëteit sal die volgende eienskappe moet vertoon (1991:67):

• Dit sal die korporatiewe en die private toewyding moet balanseer sodat die gemeenskap van die gelowiges deur albei kan baat vind.

• Dit sal emosie met rede balanseer sodat dit nie sentimenteel word nie, maar eg gelowig bly.

• Dit sal die begeerte om stil te wees met God balanseer met die begeerte om die geloof tot diens van ander uit te leef.

• Dit sal ‘n dankbare aanvaarding van al God se goeie gawes balanseer met versigtige rentmeesterskap. Dit sal die dissipline van matigheid bevorder.

• Dit sal die korporatiewe en persoonlike aspekte van gebed bevorder (Rice 1991:84). Gebed is immers ook ‘n saak van rede en emosie.

Die mens kan nie hedendaags Christen wees in isolasie nie. Ons leef weliswaar in ‘n tyd van individualisme en daarom is ‘n herinnering aan die nood en bepaalde omstandighede van ‘n mede-Christen in die saamwees van gelowiges ‘n noodsaaklike korrektief (1991:121).

Vir Rice is dit belangrik dat selfdissipline in die Christelike lewe nie ‘n luuksheid is nie, maar ‘n noodsaaklikheid (1991:186). Dissipline in korporatiewe aanbidding is ononderhandelbaar. Dit skep ‘n ritme in die mens se lewe en deelname aan gemeentelike aktiwiteite. Dit lei daartoe dat die mens meer geneig raak daartoe om te gee as om te ontvang en ook meer getrou raak ten opsigte van dankbaarheid wat onder andere tot gestalte moet kom in ‘n dankoffer (1991:193).

As karakteristiek van die gereformeerde spiritualiteit noem Graafland sowel die innerlike heilservaring van die hart in die ontmoeting met God, asook die hele manier van leef deur die gereformeerde mens as ‘n manier van bestaan voor die aangesig van God. Hy

omskryf dit as ‘n lewe uit die erfgoed van die Reformasie, soos dit bepaal word deur die “sola Scriptura, sola gratia en die sola fide” (1990:99).

Louise Kretzschmar staan ‘n geïntegreerde spiritualiteit voor. Sy wil ‘n kombinasie sien tussen spiritualiteit, die lewe en daarby moraliteit (2000:37). Dit vorm ‘n spiritualiteit waar dit wat die mens is en dit wat hy/sy doen intiem verweef geraak het. In ander woorde gesê waar die reinheid en die volwassenheid gekombineer word. Sterk klem word gelê op die Bybel sowel as op aktiewe gehoorsaamheid daaraan en ‘n gepaardgaande lewe van heiligmaking.

Kretzshmar (2000:40) sê dat spiritualiteit ‘n holistiese verstaan van die evangelie impliseer wat ‘n geïntegreerde, persoonlike, korporatiewe sowel as ‘n Bybelse spiritualiteit inkorporeer. God beoog om die individuele mens te red sowel as kerkgemeenskappe en dié redding het implikasies vir al die sfere van die lewe. Geïntegreerde spiritualiteit is nie individualisties van aard nie. Enkele gevolge van so ‘n geïntegreerde spiritualiteit word uitgewys:

• Die eerste gevolg is ‘n doelbewuste kombinasie van spiritualiteit en moraliteit. • ‘n Tweede gevolg is dat dit lei na verhoogde motivering en affekteer die

bemagtiging van persone binne die kerk op die vlak van gawes en talente.

• ‘n Derde gevolg sou dan wees die integrasie van doen en wees wat kan lei tot vernuwing en verhoogde diensbaarheid (2000:50)

LD Hulley (2000:55) vra die vraag of spiritualiteit en etiek enigsins bymekaar pas. Die mens leef immers in verhouding tot God asook die gemeenskap waarvan hy/sy deel is. Die verhouding met God moet op die hoogs moontlike vlak wees ten einde dan die gemeenskap waarvan hierdie mens deel is, te kan dien.

Die mens moet dan rasioneel die pad van aksie bedink wat hy/sy van plan is om te volg as vorm van gehoorsaamheid aan God. Hulley stip ‘n paar aspekte aan waarvolgens die

genoemde verhouding met God en die gepaardgaande dienswerk tot uiting kan en moet kom (2000:59-61):

• Allereers aanbidding --- Hulley beskou dit as ‘n praktyk wat grootliks die mens se toewyding aan God reflekteer. Aanbidding is nie die plek of oomblik waar hierdie mens wegvlug uit die wêreld uit nie, maar waar hy/sy kom tot ontdekking en aanvaarding van sy/haar rol in die wêreld (2000:59).

• Vervolgens raak dit ook die saak van gebed. Vir geruime tyd is geen verband gesien tussen gebed en die etiek nie. Dit moet egter vanselfsprekend wees dat gebede intersessie sowel as konfessie sou akkomodeer.

• Die mens behoort te lewe in reaksie op die Woord van God waardeur hy/sy aangespreek staan.

Om spiritualiteit te skei van moraliteit is nie alleen on-Bybels nie, maar ook onlogies. Die mens kan nie Christen wees en nie terselfdertyd gebed met gehoorsaamheid en liefde kombineer nie. Aanbidding mag nie geskei word van ‘n verantwoordelike lewe as uitdrukking van gehoorsaamheid aan God en liefde vir die medemens nie ( Hulley 2000:64).

Susan Rakoczy wil die hele aangeleentheid vanuit ‘n streng feministiese hoek benader. Volgens haar sou ‘n Christelik-feministiese spiritualiteit binne Suid-Afrikaanse konteks neerkom op ‘n benadering tot die lewe wat soek na God en God dan vind in alle omstandighede van die lewe (2000:70). Die Christelike tradisie skyn vol te wees van standpunte wat die volle menslikheid van die vrou bevraagteken en wat die man as norm vir menswees aanvaar (2000:72).

Rakoczy gaan voort om Christelik-feministiese spiritualiteit te omskryf aan die hand van die volgende eienskappe (2000:71):

• Ervaring of belewenis

• Liggaamlikheid (van die vrou) • ‘n Passie vir alle mede-skepsels

• Verwerping van alle godsdienstige rites wat primêr abstrak en inklusief blyk te wees

• Dit is verbonde aan die intrinsieke verhouding tussen persoonlike en sosiale transformasie.

Die sogenaamde androgene model verwaarloos die Bybelse gedagte dat ‘n gemeenskap van persone (man en vrou) na die beeld van God geskape is. Dit hou nadelige gevolge in vir die spiritualiteit van die vrou.

‘n Negatiewe erfenis vanaf Griekse kant is die teenstelling tussen kognitief en affektief omdat dit onderskeidelik met man en vrou geassosieer word. Die stelling word gemaak: Mans dink en vroue voel. In die opsig word die kwessie van gevoel (affektiewe) verdag gemaak en suspisieus voorgestel (Rakoczy 2000:75) Die rede en die gevoel moet naas mekaar staan in die menslike ervaring en belewenis. Klem moet gelê word op ‘n relasionele antropologie. Sy maak die samevattende opmerking dat Christelik- feministiese spiritualiteit streef na ‘n nuwe heel-wees in Jesus Christus. Die mens kan nie groei tot geestelike volwassenheid en heelheid sonder ander mense se liefde en ondersteuning nie. In Christus is mense verbonde aan mekaar (Rakoczy 2000:76).

Waaijman benader die saak weer van ‘n ander kant deur te sê die wese van die mens se bestaan word direk deur sy spiritualiteit geraak. In die mens se daaglikse lewe is spiritualiteit altyd latent aanwesig as ‘n sterk krag op die agtergrond, ‘n oriëntasie-punt, ‘n bron van inspirasie (2002:1).

Waaijman praat ook van ‘n sogenaamde antropogenese, dit wil sê dat die begin van die lewe nie slegs ‘n misterieuse gebeurtenis is nie, daar is ook sprake van ‘n transisie