• No results found

SPIRITUALITEIT IN DIE MODERNE WêRELD

In ‘n gesekulariseerde wêreld bly die mens steeds ‘n geestelike wese. Die sogenaamde atlantiese mens is ook steeds ‘n kind van die Aufklärung. Hy stel ‘n haas onbegrensde vertroue in sy verstandelike vermoë. Daarby is hierdie selfde mens ook draer van die Christelike tradisie. Dit vorm nie in die eerste plek ‘n teologiese aanduiding nie, maar veel meer ‘n kultuur-historiese aanduiding (Aalders 1969:128).

By die besinning oor spiritualiteit in die moderne konteks onderskei Aalders die volgende twee aspekte:

• As poging tot vernuwing moet nadruk gelê word op ‘n aanpassing van bekende en beproefde vorme by die behoeftes van die tyd.

• Daarbenewens moet bereidwilligheid bestaan om ietwat te eksperimenteer. Vormgewing moet meer oop wees as gebonde.

6.11.1. ONTWIKKELING VAN NUWE VORME

Die mees opvallende eienskap van die moderne spiritualiteit is dat dit gefundeer is in ‘n nuwe selfbelewenis by die mens. In die besonder moet die kultuur-kritiese funksie opgemerk word.

6.11.2. NUWE SELFBESINNING

Na die Renaissance kry ons ‘n ongelooflike selfvertroue by die mens ten opsigte van eie vermoë (cognito). Die ratio word beskou as die vernaamste en die siel (innerlike) as ondergeskik daaraan. Die siel word beskou as onliggaamlik en onbevoeg om te funksioneer as denkkrag.

Die grondslag van die ware geloof is kennis van dié dinge wat vir die behoud van die mens noodsaaklik is. Descartes word die grondlegger van hierdie magtige Westerse rasionalisme.

Die kerk het haar ook oorgegee aan die rasionalisme. Dit was nou alleen die “obskures” en die “romantici” wat nog die wêreld meer poëties as noëties kon beleef.

Volgens Aalders (1969:130) is dit veral Soren Kierkegaard wat die volle konsekwensies van die rasionalisme in al sy gedaantes besef het. Om te weet (kennis) is ‘n manier van bestaan en leef. Die hele mens is egter betrokke en nie slegs sy/haar denkvermoëns nie.

Vir die besinning oor die spiritualiteit is hierdie ontwikkeling van onskatbare waarde. Hiermee kom nou ruimte ook vir Gods-kennis. By ‘n ek-middelpuntige ken van God kan God niks anders wees nie as ‘n blote objek. Die rasionalis praat en dink oor God soos wat hy oor enige ander voorwerp sou praat waarvan die eienskappe vasgestel kan word.

Kennis lê op die vlak van openbaarmaking. As kennis egter eensydig verkry word, dan neig dit om slegs ‘n halwe waarheid te word. Egte en totale en betroubare kennis weet ook van die ander kant (Gegenstand), die op “objektiverende waarneming beruste kennis” skep afstand. Die “subjektiverende kennis” van die hedendaagse denkers lei aan die ander kant tot toenadering (Aalders 1969:133).

6.11.3. NUWE SELF-HERKENNING VAN DIE MENS

Die moderne mens het weer begin om die onherleibaarheid en die oorspronklikheid van sy/haar innerlike lewe te ontdek(Aalders 1969:135). Ongelukkig kan dit ook weer ‘n “ek- middelpuntige” bewussyn genoem word. Die nadruk val weer eensydig op waarneming.

In die rasionalistiese psigologie word die siel van die mens vanuit ‘n “ego cogitans” beskou as ‘n voorwerp, ‘n ding met bepaalde eienskappe. Die hele innerlike lewe van die mens word vanuit hierdie hoek beskou.

Die diepte-psigologie beskou die siel egter weer as aanduiding van die innerlike mens en hierdie innerlike is nie maklik ontleedbaar en bereikbaar vir waarneming nie. Die innerlike van die psige is van ‘n ander orde.

Aalders is van mening dat die diepte-psigologie aanduiding gee tot daadwerklike spirituele ontwikkeling. Die mens herken homself/haarself weer. Die mens is nie slegs ‘n statiese en reeds gedetermineerde stuk uiterlikheid nie. Hierdie mens leef en voel aangespreek en mag ook self antwoord. Die mens is besig om te ontwaak tot ‘n persoonlike geestelike lewe (1969:135-138).

6.11.4. SELFWAARDERING BY DIE MENS

Reeds in die 19e eeu begin ‘n golf van romantiese religiositeit die westerse wêreld oorspoel. Enkele voorbeelde is as volg:

• Die vloedgolf van spiritisme met sy eie spiritualiteit

• Verskeie groeperinge van esoteriese en okkultiese opvattings • ‘n Morbiede belangstelling in die astrologie

• Verdere talryke sekularistiese bewegings binne die geledere van die Christendom self

Die kerkhistorikus, Levis Browne (1931:407), noem dit alles “religious mysteria”. Dit is egter duidelik dat hier tekens begin ontstaan van ‘n sterk emosionele verskynsel.

Die kerk kan nie die kwetsende houding van die wetenskap weerstaan nie en ‘n duidelike teenkanting teen die kerk begin posvat. Die mens voel al meer op geestelike gebied deur die kerk in die steek gelaat. Daarom begin hierdie mens al meer gretiglik gryp na allerlei nuwe en selfs sensasionele dinge om die vakuum in sy/haar geestelike lewe te probeer vul. Die aanvaarde uitgangspunt was dat daar vir die ondeurgrondelike misterie van die lewe geen plek was nie.

Die geestelike emansipasie van die mens lei egter nou tot ‘n gevoel van eie-waarde waarin nie meer die natuur die mens beheers nie, maar die mens nou die natuur beheers. Die mens raak nou bevoeg daartoe om sake soos armoede, siekte, sukses en selfs die dood tegemoet te tree.

Hierdie sterk emosioneel-bepaalde en dikwels ook aggressief-ingestelde selfwaardering, het ‘n sterk invloed uitgeoefen op die deurbreek van ‘n nuwe vorm van spiritualiteit (Aalders 1969:139-143).

6.11.5. GEVOLGE VIR DIE KERKLIKE SPIRITUALITEIT

Vir ‘n lang tyd het die kerk onaangeroerd gebly deur hierdie nuwe ontwaking by die mens ten opsigte van selfwaardering en selfrealisering. Mettertyd kom daar wel ‘n verandering ten opsigte van hierdie konserwatiewe benadering. ‘n Herontdekking kom nou op dreef met die uitgangspunt van die sogenaamde “regulêre spirituele lewe”. Die Protestantse geestelike lewe begin himself loswoel van die ou vorme wat vir ‘n lang tyd die na-reformatoriese spiritualiteit bepaal het.

‘n Protestantse vroomheid begin na vore kom in ‘n vorm van individualisme en indifferentisme namate die kerk meer in die wêreld begin leef.

Teenoor hierdie individualisme begin nou weer nuwe moontlikhede van koinonia te voorskyn tree en teenoor die indifferentisme ontstaan skielik groter behoefte aan tug en dissipline.

Só tree daar oral nuwe vorme van diakonale lewensvervulling na vore. Dat met hierdie diensvaardige wending na die wêreld toe die konfessionele agtergrond van die spirituele gemeenskap op ‘n geheel nuwe vlak gestel word, word gou duidelik (1969:146-149).

Die Franse Dominikaan, Albert-Marie Besnard (1965:28), rangskik die karakteristieke tendense van die hedendaagse spiritualiteit onder drie belangrike hoofde:

• Dit is ‘n spiritualiteit wat himself wil loswikkel en ontwikkel vanuit die lewe soos dit is en in die wêreld soos wat dit is.

• Dit is ook ‘n spiritualiteit wat streef na ‘n werklike persoonlike ervaring. Dit hou dan ook die noodsaak in om ‘n eie identiteit te vind as ‘n geestelike wese.

• Dit is voorts ‘n spiritualiteit wat individualisme afwys en daarna streef om homself te ontwikkel in ‘n broederlike lewe en bestaan.