• No results found

Postmodernisme is relatief ingewikkeld om te omskryf. Die tentakels daarvan is op baie plekke en op verskillende maniere ingeslaan. Ten grondslag van die postmodernistiese uitgangspunt lê die saak van “waarheid”. Vir die premodernis was die waarheid te vinde in die openbaring. By die modernisme vind ons dat waarheid allen te vinde kan wees by die rede en die wetenskap. Die postmodernistiese beskouing van die waarheid is dat dit geskep word.

Absolute waarheid is ‘n fabel. Dit is vir elke individu moontlik om sy/haar eie waarheid daar te stel; vir kulture en subkulture om ‘n eie waarheid te skep, maar dit is onmoontlik om ‘n universele waarheid te vind wat van toepassing sou kon wees op alle mense en omstandighede. So ‘n waarheid bestaan nie en hoef ook nie gesoek te word nie. Diegene wat aanspraak maak op die waarheid doen dit alleenlik om mag te verkry oor andere.

Volgens Kruger (www.inplainsite.org:3) verwerp die Postmodernisme, in teenstelling met die modernisme, enige aanduiding van absolute waarheid en dring daarop aan dat die enigste vorm van absoluutheid in die heelal die feit is dat daar geen absolutes is nie. Verdraagsaamheid is hier die hoogste deug en eksklusiwiteit die grootste ondeug.

Waarheid is nie gesetel in die werklikheid of in enige vorm van gesaghebbende teks nie, dit word gewoon gekonstrueer in die gedagte van die individu of dit kan ook sosiaal gekonstrueer word.

Groothuis (www.inplainsite.org:3) brei hierop uit deur by te voeg dat vir die postmoderne denker die idée van waarheid gedisintegreer het. Dit is nie langer kenbaar nie. Uiteindelik is die waarheid gewoon maar wat ons, as individue, daarvan wil maak.

Die kriteria wat deur die postmodernisme aangewend word waarvolgens die mens dan besluite sou kon neem en ‘n waardesisteem kon opbou, is gewoon dat dit wat werk as die gangbare aanvaar word.

• Wat laat my goed voel? • Wat los my probleem op? • Wat lyk vir my aantreklik?

Die interessante of skokkende hiervan is dat verreweg die meeste mense waarskynlik nog nooit enige postmoderne literatuur of standpunte onder oë gehad het nie, en tog tree hulle postmodernisties op.

Volgens die Barna Navorsingsgroep in Amerika (www.inplainsite.org:4) in 2001 het geloof in absolute waarheid gedraai rondom 38% van alle Amerikaners. Dit beteken dat nagenoeg twee uit elke drie persone die bestaan van absolute waarheid ontken het. Teen die einde van 2001, na die September terreur aanvalle in New York, het die persentasie gedaal tot slegs 22%. Ons leef dus nie slegs in ‘n postmoderne tyd nie; baie mense het reeds begin om postmodernisties te leef en te dink. Baie van hierdie mense maak steeds daarop aanspraak dat hulle Christene is.

Postmodernisme beteken verskillende dinge vir verskillende mense.

• Dit sou kon dui op ‘n uitgangspunt wat te koop loop met die gedagte van “wat pas by wat…”

• Dit beteken die werksaamheid van die verbeelding wat die verskil tussen skilder en beeldhou uitdaag; styl en genre, gallerye en strate. Dit veronderstel ‘n lisensie om te doen wat jou hart begeer en ‘n stuk advies om nie enigiets wat iemand ander doen in te ‘n ernstige lig te beskou nie.

• Dit verdeel die aandag in alle rigtings tegelyk sodat dit nie kan vashaak by een saak nie en dat die aandag nie lank genoeg op een plek gefokus kan wees om iets regtig van naderby te beskou nie.

• Dis soos ‘n inkopiesentrum wat oorloop van goedere waarvan die hoofgebruik die plesier van die koop daarvan sou wees.

• Dit dui op ‘n opvrolikende vryheid om enigiets op te volg en ‘n verstommende onsekerheid ten opsigte van wat werklik die moeite werd is om op te volg en waarvolgens dit gedoen kan word. ( Koopmans/Vosloo 2002:29)

Postmodernisme is al hierdie dinge en nog meer. Dit word die lewenshouding van diegene wat die obsessie ontwikkel het om oor hulleself te reflekteer. Hierdie houding van refleksie word gekenmerk deur “its all-deriding, all-eroding, all-dissolving destructiveness” (Koopmans en Vosloo: 2002:29).

4.3.1. KENMERKE VAN ‘N POSTMODERNE LEWENSHOUDING

Ietwat vereenvoudig sou dit as volg gestel kon word (2002:29-30):

• Daar is die verlies aan kultuuroptimisme en ‘n skeptisisme teenoor vooruitgang. • Waar moderne mense die waarde van onafhanklikheid beklemtoon het, sien ons in

‘n postmoderne lewenshouding ‘n klem op die verweefdheid van netwerke.

• Waar kennis binne die modernisme as inherent goed beskou is, is daar ‘n groeiende agterdog teenoor kennis. Weens mens se ervaring van die misbruik van

kennis en kennisteorieë word daar dikwels gevra wie by die kennis baat. Daar is die gevoel dat kennis nie iets ‘suiwer’ is nie, maar nou verweef is met mag en ‘n magspel. Foucault sou die verweefdheid van mag en kennis deeglik uitwerk (Janse van Rensburg: 2002:19).

• Die modernisme se klem op die rede sou toenemend onder kritiek kom as ‘n te eng verstaan van rasionaliteit. ‘n Postmoderne lewenshouding sou ‘n breër verstaan van rasionaliteit bepleit, waarin die emosiers en die liggaamlike ‘n groter rol moet speel.

• Waar modernisme die klem op produksie laat val het, lyk dit of postmodernisme eerder deur reproduksie gestempel kan word. Dit gaan nie soseer oor die oorspronklikheid nie as oor die eklektiese gebruik van woorde en beelde.

• Waar die modernisme in die lig van die skouspelagtige sukses van die wetenskap objektiewe kennis as ideaal gestel het, is daar groeiende agterdog oor die subjek- objek-skeiding van die Verligting. Dit gaan meer oor geloofwaardige lewens as geabstraheerde waarhede.

Daar is ‘n verlies aan vertroue in die groot sisteme en omvattende stories. Dekonstruksie word die enigste vorm van konstruksie (Koopmans en Vosloo: 2002:30). Daar is die gevoel dat dit beter is om duursame voorwerpe te vervang met weggooibares. Daar is die verskriklike gevoel dat elke nuwe konstruksie waarskynlik tevergeefs sal wees. Al wat ‘n mens het is die hier en die nou.

4.3.2. SUBMODERNITEIT

In die praat van die oorgang van moderniteit na postmoderniteit moet nie vergeet word van die sogenaamde slagoffers van moderniteit wat leef in wat Bonhoeffer noem ‘submoderniteit’ (Koopmans en Vosloo: 2002:32).

Die suksesstorie van Eerste Wêreldlande is verweef met die lyding van sogenaamde Derde Wêreldlande. Die moderne era het dus sowel moderniteit as submoderniteit

meegebring. Daar moet dus nie te haastig gepraat word van oorgang van moderniteit na postmoderniteit toe nie.

4.3.3. GELYKTYDIGHEID VAN MODERNISME EN POSTMODERNISME

Een van die insigte wat deurkom as ‘n mens vanuit die Suid-Afrikaanse situasie dink oor die invloed van modernisme op ons lewe, is dat die prosesse hier grootliks verskil van dié in Europa ( Koopmans en Vosloo: 2002:33).

Dáár (Europa) het eeue verloop waarin die modernisme ‘n sekere impak op die samelewing gelaat het. Baie van die meer positiewe waardes van die Verligting --- byvoorbeeld die fokus op die vryheid van die individu, die klem op menswaardigheid en menseregte, ‘n demokratiese etos --- al hierdie dinge het oor ‘n redelike lang tydperk die Europese kultuur deursyfer. Dieselfde geld seker vir die skadukant van hierdie waardes. Die vraag is of ons in Suid-Afrika (weens die invloed van submoderniteit) nie ‘n gelyktydige afspeel van die prosesse van modernisme en postmodernisme beleef nie.

4.3.4. GLOBALISERING

Globalirering het die wêreld en die lewe as’t ware herskep. Die wêreld het skielik al hoe kleiner geword en in vele opsigte tot in ‘n mens se private leefwêreld ingekom; deur middel van die televisie tot in ‘n mens se sitkamer.

Globalisering het nie slegs te make met ekonomiese sisteme nie. Dit beïnvloed ook die lewe op politieke, tegnologiese en kulturele vlak. Dit raak beskouings oor die gesin, huwelik, en seksualiteit. Wat die godsdienstige dinge betref, kan die opbloei van neo- fundamentalisme en liberalisme en sekularisme nie losgemaak word van globaliseringsprosesse nie (Koopmans en Vosloo: 2002:35).

4.3.5. MORELE KRISIS?

Die bewering bestaan dat die beskrywing van die hedendaagse situasie met woorde soos “laatmodern” , “postmodern” of “globalisering” is eintlik ‘n tipe teologiese “so what?”. Christene word immers nie geroep om ‘n moderne of ‘n postmoderne teologie of etiek te hê nie, maar wel ‘n Christelike. Hierdie Christelike etiek moet egter nog steeds binne ‘n bepaalde konteks uitgeleef word.