• No results found

WAARNEEMBARE TENDENSE IN DIE KERK

Huidiglik is daar, veral wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk betref, verskeie tendense waarneembaar. Steyn (2006:661) bestempel dit as ‘n identiteitskrisis wat kulmineer in bewegings, tendense of mutasies.

Wethmar (2202:251) sê tereg dat daar nie slegs een gestalte van Gereformeerd-wees kan bestaan nie, naar dat in verskillende omstandighede verskillende variante van Gereformeerd-wees na vore tree.

Steyn (2006:661) toon aan dat daar waarskynlik vyf groot basiese bewegings in die NG Kerk geïdentifiseer sou kon word: ‘n rasionalistiese, ‘n charismatiese, ‘n tradisionalistiese, ‘n mistiese en ook ‘n sinkretistiese beweging. As die kern waarvandaan hierdie verskillende bewegings uitgroei beskou kan word as die tradisionele (onderskei van tradisionalisties), wat aanleding sou gee tot ‘n tradisionalistiese groepering, dan sou die charismatiese beweging ‘n tendens verteenwoordig wat teenoor en in reaksie teen ‘n rasionalistiese beweging verder terug beweeg na ‘n meer gevoelsmatige godsdiens. Dieselfde sou omgekeerd aangedui kon word.

Volgens Wethmar (2002:251) staan hierdie twee tendense teenoor mekaar en het ontwikkel uit enersyds, die spanning van die “verintellektualisering in die na- reformatoriese ortodoksie van die sewentiende eeu” en andersyds, uit die “veremosionalisering in die Piëtisme van die agtiende eeu”.

Soortgelyke tendense sou aangetoon kon word ten opsigte van die mistiese en sinkretistiese denkrigtings. By die mistiese tendens word aksent gelê op mistieke kommunikasie tussen God en die gelowige, veral op ‘n individualistiese wyse en dikwels met verskraling van die behoefte aan medegelowiges. Dit neig selfs weer na ‘n vorm van asketisisme.

Daarteenoor staan die sinkretistiese beweging wat weer hulle eie god en godsdienssiening konstrueer, veral uit elemente van ander godsdienste soos onder andere die Boeddhisme. Volgens Wethmar (2002:251) verteenwoordig dit ‘n radikale reduksie vanweë die invloede van die modsernisme en die postmodernisme.

4.17.1.TRADISIONALISTIESE SIRKEL

Die aanvanklike hoofstroom van die NG Kerk se denke, geloofsformulerings en liturgiese handelinge bly steeds voortbestaan in ‘n tradisionele kerngroep wat nadruk plaas op ‘n tradisionele vorm van gereformeerde identiteit. Hieruit ontwikkel ‘n soort oordrewe tradisionalisme. ‘n Houding van “ek beskerm my eie en daarom glo ek” word ingeneem.

• Die liturgie van die erediens het verval in leë rituele handelinge en die erediensbywoning is ritualisties met ‘n passiewe betrokkenheid van lidmate. Gevoelens word nie aangeraak nie en dit wil voorkom of die gang van die erediens geensins mense se harte aanraak of die koers van hulle lewe beïnvloed nie.

• Sakramente neem die nodige plek in en word deurgaans drie-maandeliks bedien, terwyl die nagmaal oorwegend belangriker geag word as die doop.

• Gebede kom oor die algemeen stereotiep voor.

• Groot klem word gelê op die normatiwiteit van die Bybel en dat dit die kanon vorm en ‘n sentrale plek in die erediens en kerklike bediening moet beklee.

• Die literêre vorm van die preek is steeds gegiet in die vorm van ‘n teologiese lesing wat dikwels min aanvoeling toon vir die eietydse lewenssituasie.

4.17.2. CHARISMATIESE BEWEGING

Vir ‘n geruime tyd reeds bestaan daar ‘n vervaging van die grenslyne tussen sekere NG gemeentes en lidmate, aan die een kant, en charismatiese groepe aan die ander kant. ‘n Charismatiese spiritualiteit het sy stempel duidelik begin afdruk in sekere kringe.

Hierdie charismatiese groepering ontwikkel grotendeels vanuit die neo-Pentakostalisme en as ‘n reaksie teen die tradisionalisme. Dit word ook gevoed vanuit Amerikaanse pragmatiese literatuur en gemeente-vorme en het steeds ook ‘n basis vanuit die vroeëre Suid-Afrikaanse kerkgeskiedenis van die Skotse piëtisme.

Dit impliseer ‘n belangrike verskuiwing van die sentraliteit van die Skrif na die sentraliteit van die menslike en persoonlike ervaring. Vir alle praktiese doeleindes sou “charismaties” hier verstaan moet word as ‘n versamelterm vir meer gevoelsmatige spiritualiteite.

• Groter klem word geplaas op die emotiewe as op die kognitiewe. Emosie, ervaring en belewenis speel ‘n groot rol. Gebore uit die behoefte aan troos, terapie en aanvaarding vind mense met seer, vrees en bedreiging aanklank by hierdie soort bediening as ‘n ontvlugting en emosionele sekuriteit.

• Daar word grotendeels weggedoen met ‘n vaste vorm van die liturgie. Musiek staan in die sentrum en fokus van die erediensgebeure.

• Die preek sou eerder beskryf kon word as ‘n emosioneel-gelaaide motiverende praatjie as dat dit verantwoordelike Skrifuitleg is \wat op grondige eksegese gebaseer is.

• ‘n Nuwe soort wettisisme (moralisme) ontwikkel rondom bepaalde godsdienstige reëls en regulasies. Sonde-lyste word nie-amptelik opgestel.

• Sukses binne gemeente-verband word gemeet aan getalle en emosionele betrokkenheid en ekonomiese voorspoed.

• Die kerkmodel word gebaseer op ‘n Amerikaanse pragmatiese benadering.

• Klem word gelê op die outonomiteit van die plaaslike kerk as op die breër kerkverband en ‘n grootliks kongregasionalistiese kerkregeringstelsel word nagestreef.

• Die kleingroep word gedryf en elke individuele lidmaat moet by een of ander vorm van bediening ingeskakel word.

• Belydenisskrifte is nie eintlik meer relevant nie en ‘n nuwe belydenis word deur elke individu persoonlik gemaak.

4.17.3. RASIONALISTIESE KRING

Een van die nuwer bewegings in die NG Kerk is die sterker ontwikkeling in die rigting van die rasionalistiese of intellektuele. Dit ontwikkel grotendeels as teenvoeter vir die

tradisionele stroming wat as huigelary afgemaak word en die charismatiese stroming wat as emosionele manipulasie bestempel word.

• Die kognitiewe staan lynreg teenoor die emotiewe van die charismatiese beweging. As “kinders van die Aufklärung” word die mens toenemend gekonfronteer met inligting en insigte wat dit moeilik maak om die Bybel gladweg na te spreek. Baie van wat ons nou in die Bybel aantref, het gewoon weggeraak agter mense se intellektuele horizon (Van Zyl 2003:186). In hierdie nuwe vorm van gnostisisme word die menslike verstand, logika en rede tot die finale kriterium vir persoonlike geloof verhef. Historiese geloofsbakens soos die Bybel, belydenisskrifte en liturgiese praktyke word bevraagteken.

• Die Bybel moet histories verstaan word. Die kanon kan alleen deur historiese rekonstruksies hanteer word en groot klem word op veral historiese gedeeltes gelê. Die sentrum van hierdie denkrigting wentel rondom die werk van die “Jesus Seminar”.

• God het weliswaar nog “oorgebly” vir hierdie andersdenkendes. Daar kan egter hoogstens gepraat word van ‘n vorm van teologie, maar geensins van enige vorm van Christologie nie. ‘n Skuif het plaasgevind terug na ‘n monoteïsties-trinitariese Godsleer. Weinig het oorgebly van die Jesus van die kerk.

• Belydenisskrifte word gewoon aanvaar as ‘n destydse formulering van die kerk se sieninge binne ‘n bepaalde konteks. Geloof moet nou eietyds bely word deur elke individu en sover moontlik gestroop wees van kerklike leerstellings.

• Die eietydse tydsgees is normaalweg die outoritêre vertrekpunt vir wat aanvaarbaar is en nie die Bybel of die kerkleer nie. God moet op ‘n eietydse manier herontdek word. Volgens Spangenberg (2003:151-155) kom daar krake of skeure voor in die sogenaamde “meesterverhaal” van die Bybel.

• Die preek neig weer in die rigting van ‘n lesing. Gebede word tot God gerig met noukeurige vermyding van die naam van Jesus.

• Geen kerkgeboue word benodig nie. Die gedagte aan ‘n “huis van God” is afwesig. ‘n Lokaal word beskou as ‘n praktiese “ontmoetingsruimte”.

• Dié beweging vind veral verteenwoordiging by middeljariges, die sogenaamde generasie van die “boomers” (35 tot 55 jariges). Daar is ook verteenwoordiging by die groep van die “yuppies” en die sogenaamde intelligentsia.

• Op etiese terrein word daarteen gewaak om nie in enige moralistiese denkwyse te verval nie.

4.17.4. MISTIESE BEWEGING

Invloede van die Calvinistiese en neo-Pentakostalistiese tradisies is merkbaar in die NG Kerk en so ook almeer modernistiese en postmodernistiese tendense (Steyn 2006:669). So tref ons dit hedendaags ook aan dat daar invloede merkbaar is vanuit meer ortodoks- georiënteerde groeperinge. Hierdie mistiese beweging vertoon ooreenkoms met ‘n asketiese spiritualiteit.

• Waar die kansel sentraal geplaas staan by die tradisionele beweging, die orkes by die gevoelsmatige of charismatiese, die menslike rede by die rasionalistiese, staan die kontemplatiewe sentraal by die mistiese beweging. Barnard (1981:210) verwys na die “somber verwondering” by die Oosterse kerk. Retraites, meditasie, gebed, simboliek, goeddeurdagte en vasgestelde liturgieë en eeue-oue himnes vorm die onderbou van hierdie beweging.

• Die liturgie en die liturgiese ruimte speel ‘n belangrike rol by hierdie beweging. Dis die fokuspunt van die nagmaal en van simbole soos veral kerse (Barnard 1981: 212-213). Musiek word nie deur orkes of instrument begelei nie, maar deur die menslike stem.

• Gebede het ‘n sentrale en uiters belangrike rol. Formule-gebede wat gesamentlik gebid word, word naas die individuele gebed deur die liturgie geplaas.

• Die plek van stilte in die erediens word beklemtoon. Daar moet eerder geluister word as wat daar gevra of gepraat word.

• Preke is grootliks meditatief van aard en daar word sterk gefokus op die innerlike opregtheid en die suiwerheid van die individu. Daar is “sakralisering” van die

erediens en die gemeente word “passiewe toeskouers wat moet sien en ervaar (Barnard 1981:213).

• Belydenisskrifte, kerkgeskiedenis en kerklike tradisie weeg swaar by hierdie groep.

• Hierdie beweging is teologies oorwegend monoteïsties en teosentries van aard. Waar die charismatiese groepering byvoorbeeld sterk fokus op die immanensie van God, lê die konsentrasiepunt by hierdie groep hoofsaaklik op die transendensie van God. Daar word sterk klem geplaas op God as die Almagtige en die vertikale verhouding tussen God en mens word uitgelig (Barnard 1981:210). • Op etiese terrein word aksent gelê op ‘n individuele vorm van etiek eerder as op

die sosiale etiek. ‘n Anderssoortige wettisisme funksioneer hier.

4.17.5. SINKRETISTIESE BEWEGING

Waar die charismatiese en die rasionalistiese bewegings in opposisie teenoor mekaar staan, posisioneer die sinkretistiese beweging homself weer sterk teenoor die mistieke beweging (Steyn 2006:671).

By die sinkretisme versmelt en vermeng verskeie aspekte uit talle godsdienste, filosofieë en ideologieë in een “nuwe” godsdiens wat “panteïsties plooibaar van aard is (Naudé 2004:166).

Die ondersteuningsbasis van hierdie groep is hoofsaaklik in die denkstruktuur van die postmoderne “millennium generasie” en die “yuppie-kultuur” geleë. Lidmate (predikante) se denke word gevoed vanuit ‘n beskouing van die wêreld as ‘n “global village”, die nuutste tegnologie en die kompleksiteit van sosiale vraagstukke.

• Daar bestaan geen nodigheid aan ‘n kerkgebou nie. Annis Nel (2003:26) wys daarop dat hier hoogstens gepraat kan word van ‘n mate van godsdiensbewussyn, maar weliswaar van geen fisiese geloofsgemeenskap nie. Die Here kan op vele ander maniere gedien word as om Sondag in die kerk te sit of deel te wees van

enige groep. Hierdie groep is grootliks naturiste en pendel met hulle geloofsbewussyn tussen die natuur en die internet.

• Daar word dikwels gesê en ook geglo dat daar maar net een God is met verskillende name in verskillende godsdienste. Nel (2003:142) skryf dat daar soms verwys word na God as “something there”.

• Elke “gelowige” tree op volgens ‘n sogenaamde “do-it-yourself” godsdienservaring en word ‘n spesialis in eie reg.

• Die Bybel word beskou as maar een uitdrukkingswyse van ‘n geloofsboek. Hiernaas staan ook die geloofsboeke van alle ander godsdienste op dieselfde vlak vir raadpleging (Nel 2003:120).

• Op etiese terrein is daar helaas nie meer duidelike etiese reëls nie, alhoewel die ekologiese etiek sterker beklemtoon word. Alles mag, sodat homoseksualiteit, voorhuwelikse seks, saamwoon en genadedood, om maar enkele aspekte uit te lig, eintlik geen probleem vorm nie.

4.18. PARADIGMASKUIWE?

Nie een van die bogenoemde bewegings of tendense sou werklik daarop kon aanspraak maak dat hulle ‘n paradigmaskuif verteenwoordig nie. Wat wel verontrustend is by elkeen is die groot mate van eensydigheid (eksklusivisme) wat voorkom. Nietemin sal die tipiese karaktereienskappe van al hierdie bewegings verdiskonteer moet word.

Predikante en lidmate van die kerk (NG Kerk?) sal moet leer om soos ‘n eg Nuwe Testamentiese kerk akkommoderend en insluitend te wees --- natuurlik binne die kernwaarhede van die Skrif. Du Toit (2000:114) pleit daarvoor dat daar binne die spirituele denkwêreld inklusief en holisties gedink moet word in die intellektuele raamwerk van die postmoderne tyd. Groter pluraliteit is nodig en ruimte moet vir mekaar geskep word. Mooi woorde, maar hoe dit gedoen word in die praktyk is ‘n totaal ander kwessie!

Daar behoort rekening gehou te word met die verskeidenheid van religieuse behoeftes van mense, soos dit gevorm word uit kondisionering deur die tradisie waarin ons grootword, maar ook deur die feit van verskillende persoonlikheidstipes wat vra om alternatiewe belewingskontekste (Du Toit 2000:171).

4.19. SAMEVATTEND

“If you have the Spirit without the Word, you blow up; if you have the Word without the Spirit, you dry up; if you have both the Spirit and the Word, you grow up!” (Van der Watt

2002:80).

In hierdie bogenoemde aanhaling lê ‘n groot stuk waarheid opgesluit. Hierdie stuk navorsing is daarop gemik om juis die belangrikheid en noodsaaklikheid van balans en perspektief uit te wys in die soeke van die mens (gelowige) om God as werklikheid in die persoonlike lewe te ken (rede) en te ervaar (emosie). Oorbeklemtoning of onderbeklemtoning van enige van die aspekte lei tot redusionisme en dra nie by tot die volwasse-wording van die mens in sy/haar persoonlike geloofslewe nie.

Dit is Louw (1998:198) wat tereg daarop wys dat gevoelens en emosies ‘n kardinale rol speel in die mens se persoonlikheid. Emosie en gevoel voorsien ook ‘n beter verstaan van die dinamiek tussen die “ek” en die “self”, en bevorder daarmee saam die begrip vir ander mense. Emosie is deel van die realiteit van menswees.

Die emosionele (affektiewe) en die denkproses (kognitiewe) beïnvloed mekaar oor en weer. Wanneer een van hierdie prosesse onderspeel of oorspeel word, beïnvloed dit die volwasse-wording van die mens in die geloof op ‘n negatiewe wyse.

Volwassenheid in die geloof is ook nie haalbaar wanneer die gelowige as individu probeer funksioneer nie, maar moet nagestreef word deur elke individu as deel van die groter geheel, of anders gesê, in die opbouing wat voortspruit as deel van die korporatiewe geheel.

Die noodsaaklikheid van korporatiewe aanbidding kan gevolglik nie genoegsaam beklemtoon word nie. Volwasse-wording in die geloof word veronderstel deur die gemeenskap van gelowiges (koinonia). Geestelik volwasse mense word gevorm deur wedersydse opbouing van mekaar rondom die Woord van God en die aanvaarding van verantwoordelikheid vir mekaar (Louw 1998:188).

Die postmodernistiese invloed op korporatiewe aanbidding is duidelik waarneembaar. Dit sal verreken moet word.

Schulze (1998:10) vra ‘n interessante vraag, naamlik: Hoe postmodern is die postmodernisme? Hy gaan dan voort om te probeer aantoon dat die postmodernisme reeds wortels vertoon in die vyfde eeu voor Christus in die opvattings van die Sofiste. Hy betoog ook daarvoor (1998:17) dat met die uitbreiding en verowering van die destydse wêreld deur Alexander die Grote (356-323 v.C) ‘n sogenaamde “global village” reeds ontstaan het. Dit lê nie binne die skopus van hierdie navorsing om waarde-oordele oor hierdie standpunte uit te spreek nie.

Die punt wat Schulze (1998:22) egter wil maak is belangrik en dit naamlik dat die invloed van die postmodernisme nie oorskat moet word nie. Die frekwensie waarmee daar met die postmodernisme omgegaan word, dui egter, volgens Schulze, op ‘n “verkoopsdruk” van die term omdat dit nou inherent waardevol moet wees.

Uit die uiteensetting van tendense hierbo gedoen, blyk dit egter baie duidelik dat die postmodernistiese invloed in vele opsigte merkbaar is en ook ‘n negatiewe sowel as positiewe uitwerking op korporatiewe aanbidding kan uitoefen.

As oorkoepelende doelwit van hierdie studie is in die inleidende hoofstuk gestel dat ‘n weg gevind moet word waarlangs die mens begelei kan word tot ‘n groter en sterker werklikheidsbesef van God in sy/haar lewe wat in dieselfde proses dan ook sou kon lei tot meer gemotiveerde en toegewyde dienslewering, gehoorsaamheid en betrokkenheid

by die koninkryk van God. Hierdie drie aspekte moet gestimuleer word vanuit die geleentheid van korporatiewe aanbidding. Die mens as eenheidswese moet bereik word. Dit is daarom onvermydelik dat van die insigte van die postmodernisme kennis geneem sal moet word. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat met alles akkoord gegaan kan word en die verskuilde gevare daarvan misgekyk word nie.

Is die mens van die 21ste eeu modernisties of postmodernisties (Janse van Rensburg 2002:40)? Die postmoderne mens word geprofileer volgens verskillende kategorieë(2002:46-54):

Hierdie mens is onseker. Die gevoel van hopeloosheid en verlies aan singewing wat deur die postmodernisme geskep is, beklemtoon die nutteloosheid van alles. Hierdie wesenlike behoefte aan lewensin bied aan die prediking ‘n uitstekende geleentheid om die mens in sy diepste nood aan te spreek.

Die postmoderne mens is vitaal. Uit hoofde van ‘n obsessie met die lewe is hierdie mens se musiek hard en polsend, die kuns uitdagend en die lewenspel opwindend-gevaarlik. Hierdie vitale ingesteldheid word ook op die erediens en die prediking oorgedra. Die erediens moet beleef en ervaar word en die prediking moet lewendig wees met deelname as ‘n vereiste.

Dié mens is krities. Alles word bevraagteken. Omdat die werklikheid gerelativeer is, word alles, ook die prediking, met ‘n knippie sout geneem.

Die postmoderne mens is globalisties-holisties en tegelyk kontekstueel-individualisties ingestel. Die kommunikasiemedia stel die mens bloot aan wat in die res van die wêreld gebeur en hoe ander mense lewe. Hierdeur ontstaan maklik obsessies om ook só te lewe. Tegelyk het ‘n sterk individualisme begin posvat wat meebring dat gesagstrukture bevraagteken word en dat die prediking meermale as te preskriptief ervaar word.

Die postmoderne mens is heelbrein-georiënteerd. Daar bestaan steeds sterk verwagtinge ten opsigte van ‘n linkerbrein-georiënteerdheid by die prediking. Almeer kom dit egter ook na vore dat daar ‘n behoefte aan kreatiwiteit by die prediking ontstaan deur ‘n regterbrein-georiënteerdheid by die mens. Nel (2001:92-93) verbind kreatiwiteit aan openheid en onderskeidingsvermoë.

Die behoefte aan kreatiwiteit lei tot ‘n ander behoefte en dit is visueel-aanskoulike aanbiedings in die erediens. Hieruit vloei voort, volgens die regterbrein-oriëntering, dat daar nou ‘n sterk behoefte is aan belewenis in die erediens.

Die postmoderne mens is ook seksueel-ongebonde. Die opkoms van die feminisme en die al groter wordende stryd om die regte van die homoseksueel-georiënteerde mense kan direk gewyt word aan die postmodernisme.

Tereg merk Janse van Rensburg (2002:56) op dat die prediking in die postmoderne tyd, wat inhoud en styl, vormgewing en kommunikasie betref, met hierdie kenmerke rekening sal moet hou.

HOOFSTUK 5

EMOSIE EN DIE BYBEL

“ Emotions are an ignored reality in much of the Evangelical Church, but it is not so in the Bible. Within the Bible’s pages the Trinity manifests a rich emotionality. Within the New Testament the Person of the Holy Spirit not only manifests rich emotion Himself, but is given to the believer to profoundly influence her or his emotional life. As we co- operate with the Spirit and sound spiritual principles, we shall experience an increasingly rich emotional life. The health of our emotions is a critical category of our spiritual life.” (David Eckman)