• No results found

5.11.1. BEROU

Janse van Rensburg stel die hipotese dat die Ou Testament inderdaad veel bied waarmee die gereformeerde liturgie by korporatiewe aanbidding verryk kan word (2005:445). Hy benader die erediens dan vanuit die gedagte van ‘n verbondsmatige ontmoetingsgebeure.

Aanbidding van God in beide die Ou en Nuwe Testament is sterk gewortel in die teenwoordigheid en die werklikheid van God. Rayburn (1980:51) bestempel dit dan ook as die grondslag van ware aanbidding.

Dit is juis dan ook hierdie oorweldigende teenwoordigheid van God wat daartoe moet lei dat die mens sou besef dat hy /sy ‘n sondige wese is.

Op ‘n heel besondere wyse het God se werk tot uitdrukking gekom in die verbond wat Hy met Israel gesluit het. Dit was nie op ‘n losse voet nie, maar ‘n blywende verbintenis tot in die verre toekoms. Die wonderlikste was dat God vir Israel God geword het en Israel sy volk kon wees.

Barnard sê (1981:68) die sleutel tot die verstaan van die Ou Testamentiese kultus God self is. Hy begin en neem telkens die inisiatief. Hy staan in alles sentraal. Hy loop sy volk tegemoet met die kragtigste woorde van selfopenbaring, naamlik: “Ek is die Here, jou God”. Daarmee eis Hy dan ook dat Israel geen ander gode voor sy aangesig mag hê nie.

Die probleem het egter telkens opgeduik dat Israel verbondsbreuk gepleeg het. Die verskillende Ou Testamentiese profete is byna almal daartoe geroep om te preek teen die goddeloosheid van hulle dag. Hulle woorde moes die immoraliteit, ongeregtigheid en pluralistiese vorms van aanbidding aanspreek. Die primêre doel van die profete se prediking was om opregte berou te ontlok by die volk en ‘n terugkeer daarna om God se volk te wees soos die verbondsooreenkoms dit bepaal het.

Met groot hartseer gooi Jeremia op ‘n stadium die handdoek in ten opsigte van die hardnekkigheid van die volk wat nie berou toon nie en, volgens Jeremia 29, verkondig hy aan hulle dat hulle God se oordeel sal beleef en moet aanvaar.

5.11.2. WAT BEHELS BEROU?

Om ‘n redelik akkurate idee te vorm van wat die begrip berou behels sou dit nodig wees om te kyk na die twee Hebreeuse woorde wat in hoofsaak gebruik word om die reaksie en handeling van berou uit te druk.

• Die Hebreeuse woord “nhm” dra verskillende betekenisse. Dit sou kon beteken om te “sug” en hiervandaan dan ook om te “kla” of te “rou” oor omstandighede en wanneer ‘n element van emosie bykom wat geïnspireer sou wees deur die begeerte om net die goeie by ‘n ander persoon te sien, het dit oorbeweeg in

deernis en medelye. Wanneer ernstige nadenke sou plaasvind ten opsigte van die eie persoon behels dit dat daar tot “inkeer” en “ander insigte” gekom word. Die woord is ook van toepassing op God self. God se optrede en handelswyse word uitgedruk deur die woord wanneer die Here berou kry oor straf en oordeel wat Hy oor sy volk uitgespreek het en op hulle laat neerkom het (vgl. Genesis 6:6 en Jona 3:10). Die woord “naham” word nagenoeg 40 keer in die Ou Testament gebruik om “berou” of “inkeer” aan te dui en ook so vertaal. ( Koehler e.a.1958:608). In byna al die gevalle is dit van toepassing op God self. God se hart is vol van hartseer oor die mens se ontrou. Die woord dui dan ook op die emosie by God wat Hom daartoe bring om op ‘n ander wyse met sy volk te begin omgaan.

• Die woord “shubh” word meer algemeen gebruik om die Skriftuurlike gedagte van opregte berou uit te druk. Dit word ook uitvoerig deur die verskillende profete gebruik en lê pertinente klem op die gedagte van ‘n radikale verandering ten opsigte van die houding van die mens teenoor sonde en teenoor God self. Dit impliseer ‘n bewustelike, morele afskeiding van die sonde en ‘n persoonlike beslissing om daarvan af te sien en in ‘n nuwe gemeenskap met God te tree. Of ook anders gesê, in die verbondsverhouding met God te bly staan en volk van God te wees. Dit word redelik ekstensief gebruik om die mens se aksie aan te dui weg van die sonde af en in die rigting van geregtigheid (Deut 4:30; Psalm 7:12). Dit word ook gebruik om spirituele verandering uit te wys soos wat God alleen dit kan bewerkstellig ( Koehler e.a.1958:951).

Dit is duidelik dat emosie ‘n pertinente rol speel. As Dawid, volgens Psalm 51, die omvang van sy sonde besef, besef hy tegelyk dat hy God leed aangedoen het en sy berou gryp hom diep in die hart aan.

Volgens Webster (2006:1) behels hierdie berou ‘n verandering van gedagte. Die woord impliseer ‘n “spyt wees” oor wat gebeur het of gedoen is. Dit dui op die regte gesindheid teenoor God asook teenoor die self. Daarbenewens dan ook die regte houding en verhouding teenoor ander mense.

5.11.3. PSIGOLOGIESE ELEMENTE

5.11.3.1. ‘N INTELLEKTUELE ELEMENT

Hierdie berou is daardie omkering van gedagte wat die sondaar lei om hom af te wend van sy/haar verkeerde manier van leef en doen. Dit affekteer voorts die totale spiritualiteit van hierdie persoon en dit sluit die hele persoonlikheid daarby in.

Die intellek moet funksioneer, die emosies moet geroer word en die wil moet gestimuleer word. Die intellektuele element word gemanifesteer vanuit die natuur van die mens, naamlik dat hy/sy ‘n intelligente wese is en geskape met vryheid van keuse, en vanuit die feit dat God ook rasionele diens aan Hom vereis. Die mens moet sonde as onaanvaarbaar beoordeel, die Wet van God as volmaak en homself sien as iemand wat te kort skiet aan die vereistes daarvan.

5.11.3.2. ‘N EMOSIONELE ELEMENT

Daar mag kennis en besef van sonde wees sonder om ‘n afkeer daarvan te ontwikkel en dit te beskou as onaanvaarbaar en aaklig en tot oneer van God en persoonlike

vernietiging. ‘n Emosionele element is nodig om werklike spyt en berou uit te druk. Hiervan is daar voldoende illustrasie in die Ou Testament waar berouvolle persone, as demonstrasie van spyt en berou, hulle klere geskeur het, as op hulle koppe uitgestrooi het en selfs op die ashoop gaan sit het. Gevoel of emosie is weliswaar nie gelykstaande aan berou nie, maar dit is tog ‘n sterk dryfveer tot opregte berou.

5.11.3.3. ‘N KONATIEWE ELEMENT

Die mees prominente element by die psigologie van berou is die wil. Hierdie aspek word veral uitgedruk deur die betekenisse van die woord “naham” wat dui op “wegdraai”. Waar die wil daartoe ontbreek, sal die aksie nie deurgevoer kan word nie.