• No results found

WAT BEHELS DIE EMOSIE VAN VREUGDE IN DIE OU TESTAMENT?

Daar is nie minder nie as 15 verskillende woorde in die Hebreeus wat die emosie van vreugde wil aandui en tot uitdrukking laat kom. Die gedagte van vreugde as deel van die godsdiensbeoefening word aangedui deur ‘n menigte van sinonieme terme waarvan die mees algemene sekerlik die woordjie “simchah” is (vgl 1 Samuel 18:6)( Koehler e.a.1958:986).

Behalwe daarvoor dat die begrip “vreugde” in die algemeen gebruik word daarvoor om die reaksie van die mens se gedagte op ‘n aangename gebeurtenis of ervaring aan te dui, kom “vreugde” as ‘n religieuse emosie ook dikwels voor in die Ou Testament. Godsdiens het te make met die aanraking van die diepste emosies insluitende dan die uitdrukking van diepgaande vreugde en blydskap. Vreugde word dan ook meermale uitgewys as die natuurlike voortvloeisel van ‘n innige verhouding met God (vgl Psalm 16:11).

God is met eens die bron (vgl Psalm 4:7; 51:12) sowel as die voorwerp van vreugde (vgl Jesaja 29:19). Baie aspekte van die goddelike karakter roep die emosie van vreugde na vore, byvoorbeeld sy versorging en nabyheid vgl Psalm 21); sy uitredding (vgl Habakuk 3:18); sy regverdige oordele (vgl Psalms 48 en 119); asook sy woorde van troos in donker tye (vgl Jeremia 15:15-16).

Vreugde word uitgedruk in die siel en liggaam van die mens. Vreugde kom tot uitdrukking in aanbidding (vgl 1 Kronieke 15:16) sowel as in die binnekamer (vgl Psalm 63:7).

Dit is duidelik dat die element van “vreugde” voortspruit uit ‘n teosentriese beskouing van die godsdiens. Vind ‘n verskuiwing plaas van teosentries na antroposentries, kom die vreugde-element onmiddellik daarmee in die gedrang.

5.13. EMOSIE VAN VREDE IN DIE OU TESTAMENT

‘n Doelbewuste keuse vir die drie emosies van berou, vreugde en vrede is gemaak. In die erediens verloop emosie grootliks in hierdie volgorde: Met die skuldbelydenis en verootmoediging gaan berou gepaard; met die genadeverkondiging en retensie ontstaan grootskaalse vreugde oor die verlossing en die heil van God in Jesus Christus. ‘n Gevoel van vrede en kalmte tree dan in wat uitloop op die motivering om, na afloop van die korporatiewe aanbidding in die huis van die Here, nou in die erediens van die lewe “coram Deo” te gaan lewe.

Die Hebreeuse woord vir vrede is sjalom. Die grondbetekenis van die woord het te make met die algemene welsyn van die mens. Wanneer die Ou Testamentiese mense bymekaar gekom het, het hulle mekaar begroet met hierdie woord en daarmee na mekaar se welstand verneem.

Die welstand het dan ook nie slegs die enkeling geraak nie, maar uitgekring om die hele volk en gemeenskap daarby in te sluit. Die resultaat sou dan wees gestabiliseerde verhoudinge op godsdienstige, politieke sowel as sosiale gebied. Selfs die tye waar die verhoudinge tussen Israel en sy buurvolke bestendig was word met die woordjie sjalom beskryf. Die volk bevind hulle in ‘n posisie waar gesaai kan word, geoes word, rustig gelewe kon word en op die wyse welvaart (sjalom) geniet.

So ‘n situasie berus op bestendige en hegte verhoudinge; op orde en bestendigheid

(1 Konings 5:26; Rigters 4:17). As die orde enigsins versteur raak kan daar geen sjalom meer wees nie. Die verhoudinge tussen mense onderling is dikwels ook vasgelê in ooreenkomste of, anders gesê, verbonde (Pop 1964:547).

God het ook met sy volk Israel ‘n verbond gesluit (Genesis 17). Sjalom en verbond hoort gevolglik onlosmaaklik bymekaar. Sonder die verbondsverhouding, ook tussen God en mens, en sonder dat daar stip aan die bepalinge van die verbond voldoen word, kan daar geen sprake van sjalom wees nie.

5.13.1. GOD GEE SJALOM

Israel is vir sy welsyn totaal op die Here aangewese. Dit blyk mooi uit die oeroue belydenis van Gideon (Rigters 6:24): “Die Here gee rus!” (NAV). Duidelik kom die implikasie na vore dat as die volk in gehoorsaamheid en diensbaarheid voor die Here leef, dan skenk God aan hulle welvaart en welsyn (sjalom).

Daarom word sjalom oor Jerusalem ook van God afgebid (Psalm 122:6). Die heil wat God gee, bestaan in die sjalom. Sjalom word dus een van die sleutelbegrippe in die Ou Testamentiese heilsterminologie ( Pop 1964:548).

5.13.2. DIE PROFETE VERKONDIG SJALOM

Sowel die valse as die egte profete verkondig sjalom. Eersgenoemde doen dit sonder enige begronding (Jeremia 6:14; Esegiël 13:16). Daarom word hulle profesieë bestempel as leuens en bedrog. JHWH sal die teendeel van sjalom gee (Jeremia 16:5). Sjalom en sonde kan nie hand aan hand met mekaar loop nie.

Ten tye van die ballingskapsperiode vind ‘n wending plaas. Beide Jeremia en Esegiël verkondig nou aan die volk sjalom in hulle moeilike omstandighede (Jeremia 29 en Esegiël 34). Pop (1964:548) sowel as Sperna Weiland (1970: 72) wys daarop dat dit ontoereikend is om nou steeds nog die woordjie sjalom as vrede te vertaal en te verstaan omdat dit nou in hierdie konteks soveel as vreugde en hemelse heerlikheid begin aandui. ‘n Eskatologiese perspektief loop nou daarmee saam. Die vrede bestaan en tog is dit ook nog nie ‘n werklikheid nie.

Die Ou Testamentiese heilsverwagting is verwagting van die sjalom. Jesaja verbind hierdie vrede aan ‘n toekomstige Redder-Koning (Jesaja 9:5). Aan die vrede wat met hierdie komende Messiaanse ryk gepaard gaan sal daar geen einde wees nie.

5.13.3. SJALOM IS GEEN INNERLIKE VREDE NIE

Nêrens in die Ou Testament egter beteken die woord sjalom noodwendig innerlike vrede nie (Pop 1964:548). Steeds gaan dit oor ‘n toestand, ‘n toedrag van sake, wat die enkeling en veel meer nog so die volk, ervaar as ‘n polities-sosiaal-godsdienstige belewenis. Dit word veral in korporatiewe verband beleef.

Sjalom is grotendeels iets wat ervaar word as ‘n vrug op arbeid en toewyding aan die Here en as die resultaat van die wyse waarop mense tot mekaar in verhouding staan. Sjalom spruit primêr voort uit die verhouding waarin die volk teenoor God staan. Geregtigheid en vrede loop hand aan hand.

Sjalom is nie soseer, Ou Testamenties gesproke, ‘n gevoel nie, maar ‘n situasie. In hierdie situasie kan die gewone daaglikse lewe geleef word. Die Ou Testamentiese mens het die sjalom nie as iets tasbaars ervaar nie, maar dit tog wel beleef in sy hele eksistensie, na liggaam en siel. Derhalwe is die teenstelling van sjalom in die Ou Testament nie allereers oorlog nie, maar wel rampspoed, ongeluk, onvrede, ellende en in die uiterste geval, oorlog.

By die korporatiewe aanbidding van die gemeente van die Here Jesus is hierdie Ou Testamentiese perspektiewe ten opsigte van die vrede (sjalom) van kardinale belang. Die belewenis van innerlike vrede is ‘n gevoel (emosie) wat noodwendig voorspruit uit ‘n posisie van welsyn, welvaart en sekuriteit. Welvaart word hier nie geïnterpreteer as materieel nie, maar streng in die sin van ‘n openhartige en toegewyde verbondsverhouding met God.