• No results found

2.4.1. WIE IS DIE BEELD?

In die loop van die geskiedenis was hieroor nogal heelwat meningsverskil. Dit was destyds redelik algemeen onder Israel se buurvolke dat die koning beskou is as die beeld

van God. Dit het dan ook beteken dat niemand iets aan die woorde van die koning kon verander nie, net so min as aan die woorde van God (König:1991:24).

Hierteenoor het die Griekse filosoof Plato weer geleer dat die hele wêreld ‘n beeld van God is en vol is van goddelike idees.

‘n Mens hoef egter nie onnodig verwar te word deur hierdie verskillende uitgangspunte nie. Daar is sterk genoeg getuienis dat die enkeling die beeld van God is. Daarom kan Jesus ook as enkeling in die Nuwe Testament die beeld van God genoem word, en is die beloftes en vermanings dat ons na die beeld van God vernuwe moet word en ‘soos’ God en Christus moet optree ook op die mens as enkeling en individu gerig. Dit is tog hier ook belangrik om te onthou dat, net soos by die gedagte dat die verbond ‘n korporatiewe verhouding impliseer, die Bybel die enkeling hoegenaamd ook nie los wil sien van die mense-gemeenskap nie. Die mens is ‘n verhoudingswese wat alleen in verhoudinge volledig mens kan word en wees. König beklemtoon in hierdie verband dat die mens net beeld kan wees in gemeenskap met ander mense.

Hierby sou dan aansluit dat die mens, as beeld van God, verteenwoordigend van God moet optree. God moet sigbaar gemaak word teenoor ander mense. Dit sou dan alleen moontlik wees in gemeenskaplike verbande.

2.4.2. WAT IS DIE BEELD?

Deur die loop van die geskiedenis is hierdie vraag op minstens twee maniere verstaan. Eerstens is gevra wat in die mens, watter deel van die mens, is die beeld van God. Daarnaas is ook gevra in watter sin is die mens ( die hele mens) die beeld van God of anders gestel: Wat is die inhoud van die beeld?

Die meeste teoloë het die beeld van God in die siel van die mens gaan soek. Die liggaam van die mens is as minderwaardig beskou. Die vroeë Griekse gedagtes oor die

onsterflikheid van die siel het hierdie gedagte, naamlik dat die beeld van God in die siel van die mens geleë sou wees verder versterk.

Daar was ook ‘n groep wat die beeld in die verstand van die mens gaan soek het. Meesal is die verstand nie teenoor die siel geplaas nie. Augustinus was selfs van mening dat die mens ‘n drieërlei beeld moet vertoon juis omdat God drie-enig is. Na aanleiding hiervan het hy die siel in drie funksies verdeel, naamlik die geheue, intellek en die wil.

Naas die siel en die verstand het ook die wil van die mens aan die beurt gekom, veral dan in die sin van wilsvryheid. Hierdie meer geestelike dele van die mens (siel, verstand, wil) is dan gewoonlik skerp teenoor die liggaam afgespeel, volgens König (1991:27).

‘n Meer moderne gedagte naamlik dat die mens inderdaad liggaamlik na die beeld van God geskape is, of dat die hele mens dan, ingeslote die liggaam, die beeld van God is, kan waarskynlik beskou word as ‘n polemiese reaksie teen die wyse waarop die menslike liggaam dan deur die loop van die eeue gedegradeer is.

Heyns argumenteer daarvoor dat die hele mens na die beeld van God geskape is en grond sy argumente op Genesis 1:26 (1981:124). Hy wys daarop dat die Skrif duidelik sê dat die ganse mens, siel en liggaam, die beeld van God vorm. Volgens Heyns wil dit egter nie enige liggaamlikheid aan God toedig nie.

König betwis hierdie bogenoemde argumente deur daarop te wys dat dit in die genoemde teksvers uitsluitlik gaan oor die mens se heerskappy oor die visse, voëls en diere. In dié opsig is die mens, volgens hierdie vers, God se verteenwoordiger (1991:29).

Heyns gaan voort deur daarop te wys dat die beeld van God daarin geleë sou wees dat die mens nou God se verteenwoordiger op aarde geword het (1981:125). Natuurlik sou dit vir geen oomblik kon beteken dat God afwesig is nie. God bly teenwoordig --- handelend teenwoordig, maar op onsigbare wyse. Deur die mens na sy beeld en gelykenis te skape, word God in en deur die mens sigbaar gemaak op aarde. Wie dan na hierdie mens kyk, sy

handelinge sien en hoor, kyk dan as’t ware DEUR die mens en kyk vas in en word herinner aan ‘n ander en groter werklikheid naamlik God.

As beeld van God het die mens nou ‘n status en ‘n bestemming in die wêreld. Uiteraard is dit nie ‘n statiese toestand nie, maar wel ‘n dinamiese proses. Die mens moet word wat hy reeds is. Volgens Heyns (1981:125) is die dringende vraag egter nou: Waarin, of hoe, is die mens nou God se sigbare verteenwoordiger op aarde?

Heyns kom tot die gevolgtrekking dat die hele mens, sowel in sy bestaanswyse as in sy handelswyse die beeld van God is. In wat hy is en in wat hy doen, bied hy ‘n uitsig op God (1981:126).

Bogenoemde tegniese uiteensetting is weliswaar vir die doeleindes van hierdie studie nie noodsaaklik nie, maar volledigheidshalwe wel nodig. Hieruit kom weereens die belangrike perspektief na vore dat die mens ‘n verhoudingswese is en vir die spiritualiteit van die mens is juis dit van kardinale belang.

Die argument is ook geldig dat as die mens dan God se verteenwoordiger is, as hierdie mens God moet sigbaar maak in die wêreld, dan sou dit juis ook moet gebeur tydens die momente van korporatiewe aanbidding. Nie alleen sal die wêreld daarvan kennis neem dat daar ‘n verlange by hierdie mens bestaan om saam met medemense in die huis van die Here te wees nie, maar die wêreld sal ook kan hoor hoedat hierdie mens in gemeenskap met ander mense die grootheid en die majesteit van die Almagtige God besing en Hom op hierdie wyse sigbaar maak.

Aangesien die hele mens beskou word as die beeld en verteenwoordiging van God, sou die afleiding daaruit gemaak kon word dat hierdie mens in dié opsig ook eiendom van God is. In Christus word hierdie mens dan ook, in die woorde van Paulus (2 Korintiërs 5:17), ‘n nuwe mens. Van hierdie ‘nuutheid’ moet daar sigbare sprake wees. Die vermaning om soos Christus op te tree kom dikwels in die Skrif voor. Om soos God op te tree beteken om God sigbaar te maak. Ons moet soos Hy vergewe; soos Hy heilig wees;

soos Hy barmhartig wees; soos Hy in die lig lewe, ja, selfs soos Hy volmaak wees. (Vgl. Kol 3:13; Ef.4:32; 1 Petr 1:15; Luk 6:36; 1 Joh 1:5-7; Mat 5:48).

En om soos Christus op te tree behels dat mense mekaar in die algemeen soos Christus moet liefhê; ons moet in die liefde lewe; ons moet ons rein hou soos Christus dit is; so regverdig wees soos Hy. Ons is ook gestuur soos Hy (Vgl. Joh 13:34; Ef 5:2,25; 1 Joh 3:3,7; Joh 20:21) (König:1991:33).

Op hierdie wyse word die mens aan Christus gelykvormig --- die ryker en voller beeld van God en eindelik die verheerlikte mens.