• No results found

Leesbenaderings in perspektief

3.2.2 Sintetiese benadering

3.2.2.4 Voor en nadele van die sintetiese benadering

Volgens die navorser lê die voordele van die sintetiese benadering daarin dat die leerder leer om gou selfstandig te lees en sukses met die bemeestering van die leesproses gee selfvertroue wat van kardinale belang is vir leerders, veral by aanvangslees. Die sintetiese benadering kan as instrument gebruik word om die betekenis van ‘n woord te bepaal. Leerders wat dus by ‘n woord vassteek en dit nie uit kontekstuele of ander leidrade kan aflei nie, is nie heeltemal gestrand nie, omdat die woord dan geklank kan word. Kennis van klanke stel die leerders in staat om hul eie woorde te bou en sinne te skryf (Turner, 1991:101) en die lees- en-skryfrigting word vroeg reeds vasgelê. Hierdie benadering hou die verdere voordeel in dat leerders baie beter kan spel as wanneer ander leesmetodes gebruik word.

In navorsing wat deur Jeynes en Littell (2000:21) gedoen is oor die effektiwiteit van verskillende benaderings is bevind dat leerders in die grondslagfase meer voordeel trek uit die sintetiese benadering as uit die psigolinguistiese benadering, veral leerders met ’n lae sosio-ekonomiese status. Manis, Doi en Bhadha (2000:325-334) beklemtoon die belangrikheid van fonologiese prosessering, juis omdat dit leesprobleme beperk. Op grond van hul navorsingsbevindinge pleit hulle dat elke leesprogram klank moet insluit.

Die nadele van die sintetiese benadering is dat die klem op die herkenning van woorde val en dan word daar nie altyd genoegsame aandag geskenk aan die inhoud nie. Die gewoonte om te klank kan maklik blywend raak en dit sal ‘n

direkte invloed uitoefen op die leerder se leesspoed omdat die leesspoed sal verminder en dit kan selfs ook leesbegrip ‘n nekslag toedien. Wat dus gebeur is dat die leerders op die letters konsentreer, wat hortende woord-vir-woord-lees tot gevolg het. Verder mag dit gebeur dat die oogspan nie voldoende ontwikkel nie, omdat lees nie vloeiend is nie. Daar word geweldig gekonsentreer op meganiese lees met die klem op korrektheid. Dit lei daartoe dat leesbegrip ingeboet word (Blachman, 1991:52).

Die sintetiese benadering veronderstel dat lees van laer vlakke van kognitiewe verwerking (letters en klanke) na hoër denkvlakke (betekenis) beweeg. Hierby word nie in ag geneem dat die hoër vlakke van denke by die lees van teks reeds vroeg die laer vlakke van kognitiewe verwerking beïnvloed nie (Roberts, 1992:132).

3.2.2.5 Gevolgtrekking

In navorsing wat bestudeer is, is twee gevalle gevind waar die psigolinguistiese benadering beter gevaar het as die sintetiese benadering, en agt waar die sintetiese benadering beter prestasie gelewer het as die psioglinguistiese benadering. Sulke resultate laat ‘n mens wonder waarom die sintetiese benadering nie meer benut word nie. Miskien word dit nie as baie pret beskou nie. Tog hoef dit nie so te wees nie. Indien die sintetiese benadering wel beter lesers oplewer, moet gepoog word om die positiewe aspekte van dié leesmetode ten volle te benut. Ons het geen ander keuse nie, omdat daar steeds baie kinders is wat nie leer lees nie, of wat nie na wense vorder nie.

Connelly, Johnston en Thompson (1998:103-124) rapporteer ‘n kruisnasionale studie waarin 41 leerders (vyf en ses jaar oud) in Skotland betrek is. Hierdie leerders is met behulp van die sintetiese benadering onderrig en afgepaar met ‘n groep van 41 leerders in Nieu-Seeland, wat met behulp van die psigolinguistiese

lank hulle reeds op skool was, woordeskatkennis, korttermyngeheue en woordleesvermoë. Alhoewel die leerders afgepaar is op grond van onder andere woordleesvermoë, het ‘n ondersoek na die tipes foute wat hulle tydens lees begaan het, aangetoon dat die leerders wat met behulp van die sintetiese benadering onderrig is, geneig was om fonologiese herkodering te gebruik wanneer hulle ‘n onbekende woord teengekom het, terwyl die leerders wat die psigolinguistiese leesbenadering gebruik het, onwillig was om onbekende woorde te probeer lees. Ander verskille was dat die leerders wat die psigolinguistiese benadering gevolg het, geneig was om werklikewoord-foute te maak, terwyl die leerders met ‘n sintetiese benadering weer geneig was om nie-woord-foute te maak.

Die verskillende tipes foute weerspieël die klemverskille tussen die sintetiese benadering en die psigolinguistiese benadering. In die klaskamers in Skotland, waar die sintetiese benadering tot leesonderrig gebruik is, is leerders geleer om moeilike woorde te probeer “klank”, terwyl die leerders in Nieu-Seeland geleer is om ‘n onbekende woord te herken deur te dink aan ‘n woord wat wel sin sou maak. ‘n Soortgelyke patroon ten opsigte van leesfoute het by die lees van teksgedeeltes voorgekom. In hierdie verband was ‘n verdere verskil tussen die twee groepe dat die groep met die psigolinguistiese benadering die teksgedeeltes vinniger gelees het. Die rede hiervoor was dat die groep met die sintetiese benadering bykomende tyd daaraan bestee het om onbekende woorde te probeer “klank”, terwyl die groep met die psigolinguistiese benadering meer geneig was om onbekende woorde oor te slaan. Daar was geen verskil tussen die twee groepe met betrekking tot die spel van bekende woorde nie, maar die groep met die sintetiese benadering het beter gevaar met die spel van nie- woorde met reëlmatige spelpatrone. ‘n Laaste interessante bevinding van die studie was dat die leerders met die sintetiese benadering naby aan hul ouderdomsnorme vir leesbegrip presteer het (een maand agter), terwyl die leerders van die psigolinguistiese benadering vyf maande agter was. Hierdie

bevinding is teenstrydig met die siening dat sintetiese benadering op vorm eerder as betekenis fokus.

Die gevolgtrekking waartoe die navorsers gekom het, was dat die leerders wat volgens verskillende benaderings onderrig is, verskillende maniere ontwikkel het om woorde te verwerk. Die groep leerders onderworpe aan die sintetiese benadering was meer geneig om staat te maak op hul fonologiese vasleggingsvermoëns wanneer hulle gelees het, terwyl die groep onderworpe aan die psigolinguistiese benadering meer gebruik gemaak het van hul ortografiese kennis wanneer hulle gelees het. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat kinders dieselfde vlakke van leesprestasie kan bereik deur verskillende onderrigmetodes. Die verskil tussen die twee benaderings is geleë in die onderskeie strategieë wat hul gebruik het. Die leerders wat met behulp van die sintetiese benadering onderrig is, kon woorde meer effektief “konfronteer” as die leerders van die psigolinguistiese benadering. Eersgenoemde het ook beter gevaar met die spel van onbekende, reëlmatige woorde. Die leerders met ‘n psigolinguistiese beandering het meer staatgemaak op hul ortografiese geheue vir woorde wanneer hulle gelees het en het vinniger gelees as die leerders met ‘n sintetiese benadering, maar hul begrip van die teks was minder volledig.