• No results found

Navorsingsontwerp, metode van ondersoek en verkenningsmedia

5.3 Oorsig oor die navorsingsontwerp

De Vos, Strydom, Fouché, Poggenpoel, Schurink en Schurink (2001:105) beskryf ‘n navorsingsontwerp as ‘n bloudruk waarvolgens ‘n studie uitgevoer word. Die navorsingsontwerp dui die plan en struktuur van die ondersoek aan en dit bepaal hoe die data ingesamel gaan word, asook hoe dit statisties verwerk gaan word sodat die navorsingsvrae beantwoord kan word.

5.3.1 Insameling van data

Die insameling van data het geskied in vier fases. In die eerste fase is ‘n vraelys ontwerp en uitgestuur aan onderwysers wat tans in die grondslagfase onderrig gee. Hierdie vraelys is uitgestuur na skole in Bloemfontein en omgewing. In die tweede fase van data-insameling is ‘n vraelys uitgestuur aan finalejaar-grondslagfase- onderwysstudente aan die Universiteit van die Vrystaat. In fase 3 is die Multisensoriese Leesprogram by vier primêre skole in die Heidedal omgewing geïmplementeer. Tydens fase vier is die ESSI as gestandaardiseerde verkenningsmedium gebruik om te bepaal watter effek die Multisensoriese Leesprogram op die leerders se leesvaardighede sou hê, indien enige. Eenrigting- en Faktoriale Variansieontledings (Anova) is gedoen met Scheffé-toetse en T-Toetse as

5.3.2 Betroubaarheid en geldigheid

Tydens die ontwerp van die vraelyste het die navorser probeer om van metodes gebruik te maak wat objektiwiteit verhoog om sodoende hoër vlakke van betroubaarheid en geldigheid te verseker (Mouton & Marais, 1990:92).

Betroubaarheid

Betroubaarheid is sinoniem met stabiliteit, konsekwentheid en voorspelbaarheid. Kerlinger (1986:405) verwys weer na geloofwaardigheid, toepaslikheid en konsekwentheid.

ƒ Geloofwaardigheid van inligting is wanneer ‘n beskrywing van so ‘n aard is dat enige persoon wat kennis besit van die verskynsel in staat sal wees om dit te identifiseer - in hierdie geval die onderwysers wat tans onderrig gee in die grondslagfase en ook die finalejaargrondslagfase-onderwysstudente.

ƒ Toepaslikheid verwys na die mate waartoe die bevindinge van pas is ten opsigte van verskillende groepe. In hierdie geval is ‘n vraelys ontwerp vir die onderwysers wat tans onderrig gee in die grondslagfase en is ‘n ander vraelys ontwerp vir die finalejaargrondslagfase-onderwysstudente.

ƒ Konsekwentheid impliseer dat min of meer dieselfde resultate verkry sal word sou die studie herhaal word met presies dieselfde proefpersone in dieselfde omstandighede.

Geldigheid

‘n Meetinstrument is geldig wanneer waardevolle en bruikbare gevolgtrekkings gemaak kan word uit die tellings verkry uit die vraelyste en verkenningsmedia (Byrne, 1996:40). ‘n Meetinstrument is dus geldig wanneer dit meet wat dit veronderstel is om te meet (Cotton, 1995:93). Geldigheid is ‘n noodsaaklike vereiste vir enige suksesvolle wetenskaplike studie (Zeller, 1997:822).

Daar kan onderskei word tussen vier vorme van geldigheid:

ƒ Inhoudsgeldigheid fokus op die mate waarin die inhoud van die items van ‘n meetinstrument ooreenstem met en verteenwoordigend is van die inhoud van die konsep wat dit veronderstel is om te meet (Zeller, 1997:824). Die inhoudsgeldigheid van die vraelyste is verseker deur van ‘n verteenwoordigende steekproef gebruik te maak.

ƒ Konstrukgeldigheid raak twee vorme van navraag aan: Die validering van ‘n teorie en die validering van ‘n meetinstrument. In die validering van ‘n teorie soek die navorser bewyse ter ondersteuning van gehipotetiseerde konstrukverhoudinge tussen fasette van dieselfde konstruk en tussen verskillende konstrukte (Byrne 1996:43). Validering van ‘n meetinstrument behels dat die navorser empiriese bewyse vind dat die instrument wel die konstrukte meet wat dit veronderstel is om te meet (Zeller, 1997:825). Daarom kan ‘n navorser óf ‘n teorie valideer deur goeie meetinstrumente daar te stel óf ‘n meetinstrument valideer deur dit op ‘n gefundeerde teorie te baseer. Vir die doel van hierdie studie geld laasgenoemde.

ƒ Voorkomsgeldigheid is die mate waarin items van die vraelys die indruk by ‘n leser laat dat dit relevant is tot die veranderlike wat die toets veronderstel is om te meet. Voorkomsgeldigheid blyk uit ‘n visuele inspeksie van die items (Cotton, 1995:93). Ten opsigte van die voorkomsgeldigheid word vermeld dat al die items in die onderskeie vraelyste die respondente genoodsaak het om hulself te beoordeel ten opsigte van leesonderrig in die grondslagfase.

5.3.3 Etiese oorwegings

Etiese oorwegings by die opstel van ‘n navorsingsprojek tree op die voorgrond tydens drie stadia van ‘n navorsingsprojek, naamlik by die werwing van proefpersone, by die ingreep en/meting waaraan die proefpersone onderwerp sal word en die hantering van die resultate (Burnes & Grove, 1997:195). Etiese oorwegings sluit vertroulikheid

en anonimiteit, vermyding van benadeling van deelnemers, die vryheid om te onttrek en die versekering van die privaatheid van deelnemers in (Huysamen, 1993:184).

Toestemming

Die gebruiklike toestemmingsprosedures is gevolg en toestemming is verkry van die betrokke onderwysdepartement (sien Bylae 2), asook van individue betrokke by die eksperimentele navorsing (sien Bylaes 5 & 6). Die proses van toestemming behels dat deelnemers te alle tye ingelig moet word deur middel van akkurate en toepaslike inligting rakende die doel van die ondersoek, die prosedures wat gevolg gaan word, moontlike nadele en voordele van die ondersoek, asook die geloofwaardigheid van die navorser (De Vos et al., 2001:25).

Vertroulikheid/Anonimiteit

Vir die doel van hierdie navorsingstudie is die waardigheid van elke proefpersoon, hetsy tydens die voltooiing van die vraelyste, of tydens die ingreep gerespekteer, en is geen proefpersone se identiteit bekend gemaak nie (De Vos et al., 2001:306).

Die navorser het egter toestemming van al vier die skoolhoofde van die betrokke primêre skole in Heidedal ontvang om die skole se name te publiseer en bekend te maak in die navorsingstudie.

5.3.4 Veranderlikes

Die blootstelling/nie-blootstelling aan die Multisensoriese Leesprogram dien as onafhanklike veranderlike in die studie, terwyl die verbetering in leesvermoë as die afhanklike veranderlike dien. ‘n Voor- en natoets is gedoen op al die leerders van die eksperimentele groep sowel as die kontrolegroep. Vervolgens die afhanklike en onafhanklike veranderlikes soos vir hierdie studie geïdentifiseer:

Afhanklike veranderlike

Die afhanklike veranderlike in die studie was leerders se leesvermoë.

Onafhanklike Veranderlikes

Die onafhanklike veranderlikes is die Multisensoriese Leesprogram, leerders se geslag, ESSI, en die skool waar die leerders onderrig ontvang.

5.3.5 Hipoteseformulering

Die navorsing is gebaseer op die hipotese dat ʼn beduidende verskil in die leesvermoë

van Graad 3-leerders in die 4 Heidedalskole waargeneem kan word na onderwerping aan die Multisensoriese Leesprogram.