• No results found

Verwerping deur ouers se woorde, dade en aangewakerde skuldgevoelens

3.4 WAT IS VERWERPING?

3.4.3 Hoe geskied verwerping?

3.4.3.4 Verwerping deur ouers se woorde, dade en aangewakerde skuldgevoelens

Woorde kan kragtige positiewe faktore wees wat mense kan opbou, maar ewe verwoestend negatiewe wapens wees wat veral gebruik word om mense emosioneel te verwond, beheer, verneder en om mag uit te oefen (Coetzer, 2009:41). Indien negatiewe boodskappe dikwels en met nadruk herhaal word, filtreer dit tot in die diepste menswees van die persoon wat verwerp word (Kellmer Pringle, 1980:35). Woorde graveer boodskappe diep in die denke van diegene wat dit moet aanhoor. Sodanige boodskappe vorm dan die manier waarop persone hulleself waardeer. As die boodskappe negatief en afbrekend is, veroorsaak dit lewenslange emosionele skade (Jantz & McMurray, 2009:61-78; Leary, Twenge & Quinlivan, 2006:111- 119; Loh et al., 2011:2244; Peretti, 2002:133; verw. 2.7.4.1. iv).

Kinders wie se ouers hulle verbaal mishandel, is meestal fisies meer aggressief en antisosiaal ingestel teenoor ander kinders, en toon meer interpersoonlike probleme as diegene wat nie ʼn verbale aanslag moes beleef nie (Leary et al., 2006:111; Loh et al., 2011:2245). Adolessente beleef egter verbale mishandeling die felste. Juis diegene wat tuis bly, loop die ergste deur, soos adolessente wat nie in koshuise of by ander mense loseer nie (Loh et al., 2011:2245). Emosionele en verbale mishandeling in die kinderjare kan positief in verband gebring word met beide adolessente en volwasse vorms van psigopatie (Loh et al., 2011:2245).

Jong kinders vind dit nie (altyd) moontlik om te kan onderskei tussen ʼn grap, dreigement, geterg of die waarheid nie. Gevolglik neem hulle sarkasme en gespot op sigwaarde en dit laat hulle met ʼn gevoel van vernedering of vrees (Forward, 1989:97). Hierdie negatiewe en afbrekende boodskappe gaan soms gepaard met fisieke geweld en aanranding (De Kock 2006:57; Winton & Mara, 2001:87; verw. 2.7.4.1). Inligting wat uit die empiriese ondersoek bekom is (verw. 2.7.4.1), lewer afdoende bewys van die soort negatiewe boodskappe en kwetsende uitdrukkings waaraan persone blootgestel word wat verwerping beleef, byvoorbeeld:

 Ek het nie tyd vir jou nie.

 Jy is onnosel, pateties of lamsakkig.

 As jy minder stout is en nie so baie huil nie, kan ek dalk vir jou lief wees.

 Ek sê eerder vir mense ek het nie ʼn middelste kind nie, voordat ek eers meer te wete moet kom oor waarmee jy in die lewe besig is.

 As jy nie vir ʼn dokter nie leer, is jy niks.  Ek wens jy het liewer gesterf.

ʼn Kind se diepste emosies word verguis wanneer sy/haar individuele geaardheid en persoonlikheid deur neerhalende optrede aangeval word. Dit sluit in en om kinders vir hulle prestasies erkenning te gee nie, maar eerder ongunstig of neerhalend met ander te vergelyk (Elmer, 1985:68-69; Jantz & McMurray, 2009:11; verw. 2.7.4.1).

Indirekte verbale verwerping

Verwerping kan ook geskied waar geen woord geuiter word nie, en wanneer in stilte negatief met ʼn persoon gekommunikeer word. Niks word gesê nie, maar ʼn gevoel van onwelkom wees word juis deur die stilswye geprojekteer. Hierdie behandeling val binne die kategorie van verwerping waar nie ʼn woord geuiter en geen vinger gelig word nie (Coetzer, 2009:62). Dit veroorsaak verwarring met die gevolg dat kinders nie weet wat hulle verkeerd gedoen het en/of hulle welkom is of nie. Dit is ʼn behandeling wat iemand ervaar en van bewus is, maar nie kan bewys nie sodat hierdie gebeure in daardie een se psige weerklank vind. Die skade van sodanige emosionele mishandeling en verwaarlosing het gewoonlik langtermyngevolge vir die een wat verwerp word (Coetzer, 2009:63

).

Ouerverwerping binne die kringloop van mishandeling

Sommige individue ervaar dat hulle ouers hulle as verwikkelde, hoësorg (high maintanance), veeleisende kinders ervaar. Hulle moet dag na dag hoor, voel of ervaar dat hulle die lewe vir hulle ouers ondraaglik of onaangenaam maak. Kinders interpreteer hierdie ongunstige terugvoer as verwerping; hulle voel op ʼn manier onwelkom (Elmer, 1985:70; De Kock, 2006:50; verw. 2.7.4.1). Ouers kan hulleself die een of ander tyd aan emosionele mishandeling skuldig maak. Vir sommige ouers is die emosionele verwaarlosing van hulle kinders ʼn leefwyse. Dit kom na vore in ʼn bose kringloop van uitbarstings van frustrasies wat weer opgevolg word deur verskonings en liefdebetoning, en om daarna net weer uit te bars (Carl 1993:20-21; Jantz & McMurray, 2009:11).

Verwerping deur ouers as gevolg van verwagtings

Dit gebeur dat ouers soms onrealistiese of te veel verwagtings van ʼn kind kan koester. Uiteraard sou sodanige verwagtings inderwaarheid niks van eise of vereistes verskil nie. Kinders se geaardhede kan egter bots met dié van die ouers wat dit dan moeilik vind om

teenoor die kind toegeneë te wees. Dit is nie onnatuurlik dat mense in ʼn bepaalde liefdesverhouding bepaalde verwagtings sou koester nie (Potgieter, 2011:185). Tog kan onrealistiese verwagtings en oormatige druk van ouers af groter skade berokken. Dit kan uiteindelik die kind met ʼn gevoel laat dat hy/sy nikswerd is, indien daardie kind nie aan die verwagtings sou voldoen nie (Pieterse, 2006:45). Wanneer dit gebeur, word die kind in ʼn erge mate gekwes en diep seergemaak (vgl. Gen 4:5). So ʼn kind kan dit beleef en interpreteer as kwalik bedekte verwerping (Potgieter, 2011:185).

Voortrekkery/witbroodjies

Die witbroodjie (ouergunsteling) is die kind wat tot nadeel van die ander kinders voorgetrek word (Moharib, 2013:1497; Salmon et al., 2012:357). Ouers kan verskeie redes hê waarom hulle een kind bo ʼn ander sou kies. Onder hierdie redes geld die volgende:

 Koester ʼn sagte plek vir oudste of jongste kind.  Het voorkeur vir bepaalde geslag.

 Ouers is afhanklik van die kind se sorg.  Vind by die kind aanklank.

 Verwagtings tussen kinders verskil en hulle word volgens individuele standaarde geoordeel.

(Coetzer, 2009:59; Moharib, 2013:1499; Salmon, Shackelford & Michalski, 2012:357; Suitor, Gilligan, Johnson & Pillemer, 2013:581-582).

Dit is nie vreemd nie dat ouers wel ʼn voorkeur kan toon vir byvoordeel, die oudste of die jongste kind. Navorsing toon dat die jongste kind gewoonlik ʼn voorkeur by pa’s het (Kiracofe & Kiracofe, 1990:79; Salmon et al., 2012:357). Die middelste kind word dikwels as die “moeilike een” geëtiketteer, dus voel sulke kinders dikwels emosioneel verwerp omdat hulle nie met hulle ouers so ʼn besondere verhouding soos die oudste kind geniet nie (Louw et al., 1998:358). Wanneer een kind bo ʼn ander gekies word, toon kinders gevoelens van woede, aggressie, depressie asook ʼn reaksie van identiteitsverwarring (verw. 2.7.4.1). Daarteenoor ontwikkel die voorkeur-kind ʼn oorverantwoordelikheid vir die ouer (Harris & Howard, 1985:55; Kiracofe & Kiracofe, 1990:74, 79; Moharib, 2013:1505).

iOuerverwerping op grond van geslag

Volgens Hank en Kohler (2000) is “parents’ gender preferences for children … embedded in cultural and religious traditions and community norms, shaping individual attitudes and behaviour”. Daar is wel bepaalde aannames dat manlike nasate byvoorbeeld ʼn groter ekonomiese bydrae as dogters kan lewer, in die landbou asook om in ʼn primitiewe sosiale

sekuriteitssisteem te voorsien (Hank & Kohler, 2000; verw. 2.7.4.1). Voorts bestaan daar ʼn voorkeur vir seuns omdat hulle bepaalde geslagsrolle vervul. Sodoende word hoofskap in ʼn patriliniêre gemeenskap (waar die manlike geslagslyn deur geslagte voorbestaan) verseker. In sommige gemeenskappe word selfs sover gegaan dat wanneer die minimum hoeveelheid manlike nasate gebore is, die aanwas van verdere kinders beperk word (Hank & Kohler, 2000).

In sekere gevalle het ma’s weer ʼn voorkeur vir dogters, en pa’s vir seuns (Moharib, 2013:1499; vgl. Weber & Custer, 2005:55-71). Gevolglik hou die ouer die kind wat nie voorkeur geniet nie, op ʼn afstand. Wanneer afstand en identiteit gevoed word met weerstand en van die samebindingsfaktor in saamwees losgemaak word, ontwikkel ʼn klimaat van verwerping wat die ontwikkelende kind nie anders as vyandig sou kon interpreteer nie (Louw, 2005:78). Die volgende boodskap van verwerping word gekommunikeer: Weens my geslag stel Ma of Pa nie regtig in my belang nie; hulle wil my nie regtig hê nie; ek is ongewens, ʼn las en geen vreugde vir my ouer/s nie (Louw, 2005:78).

Ouerverwerping deur psigiese mishandeling en emosionele verwaarlosing

Mense het ʼn emosionele en ʼn psigiese lewe en ontwikkel ook so. Hoewel hierdie begrippe nóú verwant is, maak dit dikwels op mekaar inbreuk, maar kan onderling afhanklik wees. Tog is dit nie sinonieme nie (O’Hagan, 2006:42). Emosionele mishandeling kom voor as isolasie, vernedering, verwerping en openbare vernedering (Elliot et al., 2002:3-6, 13-14; Sosteric, 2012:1-2). Psigiese mishandeling gaan gewoonlik gepaard met ʼn intense belewenis dat die kind te nagekom, verneder, hulpeloos oor die toekoms en magteloosheid is. Hierdeur word die jong kind beroof van ontwikkeling in sy/haar vertroue, asook van die vermoë om emosie/s te kan verbaliseer (Briere, 1992a:25-26; Pieterse 2006:3).

Psigiese mishandeling vind meestal plaas deurdat kinders herhaaldelik boodskappe ontvang dat hulle waardeloos en ongewens is, slegs waarde het wanneer hulle aan die behoeftes van ander voldoen; ʼn fout en nie goed genoeg is nie (Hamarman, Pope & Czaja, 2002:304; Trickett, Mennen, Kim & Sang, 2009:1). Dit behels ʼn vorm van emosionele mishandeling wanneer ouers daarop aandring dat ʼn kind fisiek “siek” is, maar wat met alle mediese bewyse strydig is (die sg. Munchausen syndrome) (Daro, 1988:35; Doyle, 1997:337; Winton & Mara, 2001:92). Om dan gedurig as “siek” of “sieklik” bestempel te word, terwyl iemand niks makeer nie, kan daardie een ook laat voel hy/sy is in die pad.

Daar kan ʼn wye spektrum emosies en gedrag voorkom by persone wat emosionele mishandeling ervaar het of steeds beleef. Hieronder geld: woede, ontoegeeflikheid en ʼn afsydigheid teenoor die versorger, gebrek aan kreatiwiteit, volharding en entoesiasme, depressie, gebrek aan emosionele gehegtheid met die ouer of versorger, lae kognitiewe

vermoë en opvoedkundige prestasie, aggressie, misdaad en swak sosiale vaardighede (Denton, 2010:210-211, 229; Leary et al., 2006:111, 113-116; Sosteric, 2012:1-2).